Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan - Страница 5

2

Оглавление

Lantini voel nie baie gelukkig nie. Hy kon baie meer as ’n duisend dukate vir net die meisie alleen gekry het, maar hy kan maar nie sy vrees vir die graaf afskud nie. Dis nie die soort man met wie hy graag kragte meet nie. Die vuishou wat De la Fontaine hom gegee het, bewys net die man se onvoorspelbaarheid. Hy sal maar net hierdie reis as ’n minder winsgewende een moet afskryf.

De la Fontaine wag hom op die dek van die skip in.

“Stuur die vyf slawe wat ek gekoop het land toe. Die blanke meisie neem jy na jou kajuit.”

Lantini kyk onseker na die graaf. Wat voer die man dan nou in die mou? Met ’n ligte skouerophaling draai hy dan om om die graaf se bevele aan sy manskappe oor te dra.

Intussen staan Leia met gloeiende oë na die donker trap en kyk. Sonder dat sy dit so wou hê, het die groot, forse man ’n indruk op haar gemaak. Dit verander egter niks aan die feit dat sy hom met dieselfde haat bejeën as wat sy voel teenoor enigeen van sy ras nie. Sy kan ook nie glo dat die man se besoek aan die vuil ruim enigiets goeds kan inhou nie.

’n Paar matrose kom met die trap af en begin weer enkele gevangenes losmaak. Dit ontgaan Leia nie dat hierdie vyf mense nie sterk en gesond is soos dié wat vroeër weggeneem is nie.

Die verwagtende vrou begin huil en pleit, maar die matrose steur hulle nie aan haar nie. Die ou man en die ander drie laat gedwee toe dat hulle weggelei word. Niks kan hulle meer verbaas nie en niks kan hulle meer skrikmaak nie. Hulle het die ergste ervaar wat moontlik is.

Die stilte sak weer oor die groep in die ruim toe. Leia besef skielik met ’n kloppende hart dat die vreemde, blanke man se besoek verband hou met die verwydering van die paar gevangenes. Haar oë soek dié van Teka hier by haar, en sy weet dat die meisie haar vrees deel. Daar bestaan geen woorde waarmee hulle mekaar kan troos nie.

Die luik gaan weer oop, en hierdie keer kom twee matrose reguit na Leia gestap. Sy skuif verskrik agteruit tot teen die wand van die skip. Dis die einde, dink sy paniekbevange. Hier is waar alles gaan eindig, en ek is nog nie daarvoor gereed nie. Ek haat die groot man wat hier was! Ek haat die mans met hul wit velle wat my in hierdie ellende gedompel het!

“Los my!” gil sy en gryp na Teka. Hulle klou mekaar soos drenkelinge vas. “Ek wil nie gaan nie! Los my!”

Die matrose kyk na mekaar en dan terug na Leia wat met wydgerekte oë na hulle staar. “ ’n Mens sou dink dat hulle teen hierdie tyd genoeg gehad het van dié stink hool,” sê die een gevoelloos en ruk Leia van Teka af weg.

“Nee!” gil Teka en probeer Leia bereik. Die ander matroos klap haar hard deur die gesig en sy val terug tot waar sy snikkend op die vuil vloer bly lê.

Leia spartel om uit hul greep te kom, maar die weke lange reis en die min kos begin sy tol eis. Sy het te min krag om haar werklik nog te kan verset.

“Teka!” kerm sy toe hulle haar teen die trap uit sleep-dra. “Teka! Help my, Teka!”

Maar Teka kan nie orent kom nie. Sy is uitgeteer en kragteloos. Die blink trane op haar wange en die verskriklike verdriet in haar donker oë sal Leia nog lank bybly.

Dit is asof daar iets in Leia doodgaan. Die laaste ligpunt het uit haar lewe verdwyn. Sy is nou alleen met haar groot verlange en diep hartseer. Teka is nie meer by haar om haar vrese en verlange te deel nie. Dit lê alles nou in haarself opgesluit.

De la Fontaine wag haar in Lantini se kajuit in. Sy kom verskrik en bewerig soos ’n vasgekeerde wildsbokkie binne en bly by die deur staan. Sy blik gly oor haar skamele klere en met ’n skok besef hy dat hy hom die eerste keer deeglik misgis het. Sy is nie net ’n gewone, ongelukkige meisie nie, maar duidelik deel van die swart mense in die ruim. Daar is niks in haar wat hom hoegenaamd aan die beskawing herinner nie. Die raaisel van haar teenwoordigheid op ’n slawe­skip verdiep. Hoe het sy hier gekom en waar kom sy werklik vandaan? Dalk kan sy niks meer onthou nie. Dalk weet sy self nie meer nie.

Hy laat sy blik sak en dink ’n oomblik lank diep na. Só kan hy haar nie aan wal neem nie. Hy sal moet sorg dat sy iets kry om aan te trek.

Leia staar na die man. Die blanke mans met wie sy te doen gekry het, lyk anders as dié een. Teen hierdie tyd ken sy al die reguit neuse en dun lippe van die blankes, maar die man bly anders. Sy neus is fyner en skerper, sy gesig sterk asof dit uit ’n ruwe klip gebeitel is. Sy oë is ’n helder groen soos die fyn lenteblommetjies van die wilgers. Ook sy klere is anders. Intuïtief weet sy dat hy ’n baie belangrike man moet wees. Maar dis wat hy met haar beoog wat haar op die oomblik die meeste bekommer. Hoekom is sy alleen saam met hom hier?

De la Fontaine kyk op en merk dat sy hom die hele tyd fyn dopgehou het. ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. Wat sou daar in haar gedagtes omgaan? wonder hy.

“Kan jy nog jou moedertaal praat?” vra hy dan.

Leia hou haar kop skuins en frons diep. Sy het die effense glimlag gesien en op ’n vreemde manier het dit haar gerusgestel. ’n Gesigsuitdrukking het nie woorde nodig om dit te verduidelik nie. ’n Glimlag is iets vriendeliks. Wat hy egter vra, weet sy nie.

De la Fontaine sug. Sy is so rou soos enige van die ander slawe. Daar is geen sin in om hierdie gesprek verder te probeer voer nie. Die beste sal wees om haar in die nedersetting te kry en môre douvoordag na La Liberté te neem. Daar kan hy weer die probleem behoorlik in oënskou neem.

Sy glimlag laat Leia ietwat ontspan. Miskien is haar lot nie werklik so erg as wat sy gemeen het nie. Sy is egter nog steeds agterdogtig, en toe hy nader kom om sy mantel om haar skouers te hang, staan sy verskrik terug. Haar hele liggaam bewe van vrees.

De la Fontaine besef dat sy probleem al hoe groter word. Sy wantrou hom en daar is geen manier waarop hy haar kan gerusstel nie. Oënskynlik het sy geen benul van wat met haar gebeur nie. Sy weet nie wat daar op haar wag nie.

“Ek gaan jou geen leed aandoen nie,” sê hy paaiend in sy diep stem. “Al wat ek wil hê, is dat jy hierdie mantel om jou moet hang. Jy kan nie so naak in die nedersetting verskyn nie.”

Leia sluk hard. As sy maar net kon verstaan wat hy van haar verwag, maar sy ken nie sy taal nie. Sy is bang vir die mantel. Dit is groot en swart en wat sal gebeur as sy dit om haar skouers hang? Is dit dalk die een of ander makabere ritueel waarmee hy besig is?

De la Fontaine kan nie langer tyd verspil nie. Hy sal haar net so aan wal moet neem en hoop dat daar nie te veel mense is wat hom sien nie. Dit sal die skindertonge tot in die Wamakersvallei laat gons.

Hy maak die deur oop en roep na Lantini.

Die kaptein kom onseker binne. “Wou dit toe nie werk nie, signore?” wil hy vermakerig weet.

De la Fontaine se gesig verdonker. “Jy is en bly ’n vark, Lantini. Kry ’n platboomskuit gereed. Ek gaan haar net so nedersetting toe neem.”

Lantini lag. “Ek sal graag die klomp se gesigte wil sien! U moet aan u reputasie dink, signore!”

“Trap!” brul die graaf woedend.

Lantini maak homself haastig uit die voete. Die graaf De la Fontaine is in ’n liederlike bui, besluit hy. Hy moes liewer nooit die man toestemming gegee het om aan boord te kom nie. Nou is dit te laat vir trane. Op sy eie skip word hy soos ’n hierjy rondgejaag, en as dit nie genoeg is om ’n kaptein met selfrespek tot raserny te dryf nie, dan wonder hy wat is.

Dis met verligting dat Lantini die graaf en die meisie sien vertrek. Hy het nou wel nie veel vir haar gekry nie, maar hy moet seker dankbaar wees dat die graaf hom nie te lyf gegaan het nie.

In die skuit klou Leia krampagtig aan die kant vas. Tot nou toe het sy nog geen woord gesê nie. Dit is byna asof haar tong in haar mond vasgegroei het. Haar gedagtes bly ’n warboel van vrees en onsekerheid. Sy kan die angs nie meer beheer nie. As sy net geweet het wat haar uiteindelike lot gaan wees, sou sy nie so bang wees nie.

Sy word na die ander vyf slawe geneem waar sy die nag sal deurbring. Hulle sit saam in ’n klein kamertjie waar daar strooimatrasse en ruwe komberse op die vloer lê. Ook in die ander se oë is daar naakte vrees, en Leia voel nie meer alleen nie.

Vir aandete word ’n pot bredie en gekookte aartappels op die vloer tussen hulle neergesit. Die slawe kyk wantrouig na die potte en dan na mekaar. Dis egter die knaende honger in hul ingewande wat uiteindelik die oorhand kry, en hulle val gulsig aan die kos weg.

Soos vir die ander, word die nag vir Leia ’n lang, uitgerekte tyd van wag en wonder. Daar is niks waarmee die tyd verkort kan word nie. Meer en meer gedagtes maal in haar kop. Dis pynlike gedagtes vol hartseer en verlange. Toe die son eindelik sy kop oor die oosterkim steek, sit hulle nog net so met wydgerekte oë en wag. Dis net die slavin met die ongebore baba wat huil oor die nuwe dag.

Die lang reis na La Liberté is vermoeiend. Leia en die ander vyf slawe ry agterop ’n perdekar omdat sy geweier het om in die koets te klim. Sy het die rytuig met sy klein vensters en halfskemer binnekant nie vertrou nie. Nou sit sy afgetrokke na die omgewing en kyk en wonder wat van Teka geword het.

Teen hierdie tyd het dit ook vir haar duidelik geword dat hulle nie om die lewe gebring gaan word nie. Die groot man met die ernstige oë beplan iets anders met hulle.

Nuuskierigheid maak gedeeltelik plek vir vrees toe hulle die landgoed bereik. Hulle kan nie die netjiese rye druiwestokke begryp nie en ook nie die groot, deftige herehuis nie. Alles is vreemd vir hulle soos wat die huise in die Kaap vreemd was. Dis iets wat hulle nie ken nie, en hulle weet nie wat om verder te verwag nie.

Soos ’n verskrikte klompie hoenders bondel hulle saam en staar met wydgerekte oë na alles om hulle. Hulle staan onder ’n groot akkerboom wat naby ’n netjiese ry geboutjies is. Die vreemdheid van alles is oorweldigend, en hulle swyg terwyl hulle op verdere gebeure wag.

Eindelik daag die graaf op met ’n swart slaaf aan sy sy. Hy het skynbaar die slaaf reeds oor Leia se teenwoordigheid ingelig, want dié lyk geensins verbaas om haar tussen die ander te sien nie.

“Ek groet julle,” sê hy en Leia ruk om. Hy praat haar taal en ’n eindelose vreugde spring in haar hart op. Sy glimlag met hom, haar tande wit en skitterend soos pêrels in die middagson.

“Ons groet jou,” antwoord Leia in haar effense hees stem.

Die graaf glimlag stadig. Die kanse was skraal dat sy Bako sou verstaan, maar hy is nie teleurgestel nie. Nou kan hy ten minste met haar kommunikeer. Hy sê iets aan Bako, die slaaf aan sy sy, en dié vertaal dit dadelik.

“Die meester sê dat hy julle gekoop het en dat julle nou hier sal bly om vir hom te werk.”

Die glimlag verdwyn van Leia se gesig. Verkoop? Soos ’n mens ’n karos of assegaai van ’n ander ruil? Is hulle dan nie mense nie?

“Ek behoort aan niemand nie,” sê sy woedend. “Ek is vry gebore en ek sal vry bly!”

Bako sluk hard en vertaal dan wat sy gesê het.

Die graaf se oë trek op skrefies. Die feit dat sy blank is, is al ’n groot genoeg probleem. As sy nou nog ’n opstand onder die slawe gaan veroorsaak, gaan dit hom baie moeilikheid in die sak bring. Hy besluit om haar woede vir eers te ignoreer en verduidelik aan Bako wat hy van die nuwe slawe verwag voordat hy omdraai en wegstap.

Leia kyk hom met gloeiende oë agterna. Ek het nie eens ’n keuse in hierdie saak gehad nie, dink sy wrewelig. Ek is nie gevra of ek dit wil doen nie … ek is gevang en hierheen gebring sonder dat iemand ooit gedink het dat ek dit anders sou wou hê.

Bako neem eers die ander vyf slawe na hul woonplekke en dan kom hy terug na Leia.

“Jy sal ’n huisie vir jouself hê,” sê hy paaiend.

Sy draai vinnig na hom. “Ek bly nie hier nie!”

Hy byt op sy onderlip. “Wag liewer tot môre voordat jy besluit. As ’n slaaf wegloop, word hy swaar gestraf.”

“Slaaf?”

“Dit is wat ek en jy nou is.” Hy glimlag skielik. “Ek is Bako.” Leia aarsel.

“My naam is Leia.” Sy kyk om haar rond. “Ek haat hierdie plek en ek haat daardie man wat my gekoop het. Hy het nie die reg gehad om dit te doen nie.”

Bako haal sy skouers op. “Jy kan jouself gelukkig ag. By die graaf De la Fontaine sal jy goed behandel word. Hy is ’n goeie man, maar jy moet hom nie kwaad maak nie.”

“Dit kan my nie skeel of ek hom kwaad maak nie. In my tuisland …” en sy haal diep asem asof sy die herinnering nie graag wil terugroep nie, “was ek gelukkig. Daar het niemand my besit nie.”

Bako se gesig versomber. “Ons vaderlande is ver van ons af, Leia. Ons kan nie terugkeer nie.” Hy kyk skuins na die meisie. “Jou vel is blank en dalk sal jy ’n beter lot as dié van ’n slaaf te beurt val.”

Haar blou oë is skielik koud. “My lot interesseer my nie meer nie. Ek sal net leef vir die dag dat ek daardie man kan doodmaak.”

Bako se kop ruk op, maar hy sê niks. Hy besef maar te goed dat dit niks sal help om met haar te probeer praat nie. Op die oomblik is sy nog te verward om alles om haar in te neem. Hy kan nog sy eie vrese en verwarring onthou die dag toe hy hier aangekom het. Nou is hy amper gelukkig … amper, maar nog nie heeltemal nie.

Leia het tyd nodig, baie tyd, om aan alles gewoond te raak. Hy sal haar leer om Frans te praat en miskien, wie weet, gee die graaf haar eendag haar vryheid terug. Sy is die enigste blanke slavin waarvan hy weet in die Kaap, en hy glo nie die graaf sal haar baie lank as sy werker kan behou nie.

Intussen sal hy haar moet probeer paai en op ’n manier gelukkig hou. As blanke slavin gaan sy ’n baie eensame tyd hier tegemoet. Die ander sal haar nie as een van hulle aanvaar nie, en sy pas ook nie in by die graaf se kringe nie. Sy is ’n uitgeworpene, iemand wat deur wrede omstandighede na die buitekringe verban is soos ’n melaatse …

Leia se huisie is eenvoudig, maar teen wat sy gewoond was, is dit ’n paleis. Bako was reg, ná die eerste nag voel sy ’n bietjie beter, maar haar haat jeens De la Fontaine het nog nie verminder nie. Daar word egter nie van haar en die ander nuwe slawe verwag om dadelik in te val met werk nie. Hulle is nog te swak ná die lang, vermoeiende reis en die ondervoeding. Daar is dus vir haar ’n week waarin sy kan ronddwaal en haar nuwe omgewing verken.

Ná baie rusies en frustrasies het Leia uiteindelik ingestem om ’n jurk te dra wat darem die nodigste sal bedek. Die ou gravin het botweg geweier dat sy so halfnaak op die landgoed rondloop.

Baie teësinnig het Leia die kledingstuk aanvaar en dit aangetrek. Die sagte gevoel van die materiaal teen haar vel was aangenaam, en sy was tevrede. Omdat die jurk nie haar hals bedek nie, het sy die hangertjie in haar hut versteek. Dis vir haar ’n kosbare besitting en sy is bang dat die graaf dit van haar sal wegneem as hy dit sien. Dis beter dat niemand daarvan weet nie.

Terwyl sy na haar hut terugstap, sien sy twee vroue op die grasperk voor die herehuis. Die een is al redelik bejaard en die ander is nog jonk en vol lewenslus.

Leia lei af dat die ouer een die graaf se moeder moet wees, maar wie die jonger een is, weet sy nie. Dalk het hy ’n suster. Sy het vergeet om vir Bako te vra.

’n Lang ruk staan sy en staar na die twee vroue wat sorgeloos lag en gesels. Dis die jonger een wat haar aandag gevange hou. Die meisie het ’n bleek, vlekkelose gelaat met bloesende wange. Haar swierige klere is iets wat Leia nooit in haar wildste drome sou kon optower nie. En tog is dit asof daar iets vaagweg bekends aan die meisie is, byna asof sy die toneeltjie al iewers gesien het. Maar Leia weet dat dit onmoontlik is. Sy kan niks van haar lewe onthou voor sy by die inboorlinge gaan bly het nie. Daardie deel van haar lewe is uit haar verstand gewis. Sy het net die hangertjie, en dit het niks met hierdie pragtige meisie te doen nie.

Die aand sit sy en Bako langs mekaar by die vuurtjie en gesels. Hulle praat oor hul vaderlande wat hulle agtergelaat het, en is verras om uit te vind dat hulle van dieselfde land kom. Hulle gesels oor mense wat Bako geken het, en die heimwee kruip weer in sy oë. Hy wou alles vergeet, maar hy besef dat dit nooit sal kan gebeur nie.

Een van die slawe sit en tokkel op ’n snaarinstrument. Hy hou sy kop half skuins oor sy instrument en speel ’n weemoedige liedjie wat hy eens op ’n tyd dikwels gesing het.

Leia neurie saam. Sy sluit haar oë en vir ’n oomblik vergeet sy van alles om haar. Sy is weer by die vuurtjie voor haar hut in haar vaderland. Tembisa buk oor die vuur en Teka sit rustig en brei aan ’n stukkie vel. Die musiek borrel in Leia op en die melodie kom ongedwonge oor haar lippe. Dis ’n sagte lied wat vertel van geluk en liefde. Dis ’n mooi lied met ’n vreemde ritme en haar ietwat hees stem verleen ’n besonderse bekoring daaraan.

Die deuntjie draal deur die stil nag. Die ander slawe luister in stilte. Dis die lied van ’n jong meisie wat haar minnaar gevind het en dit roer aan hul harte. Dis ’n stukkie van die wêreld wat hulle verlaat het, en as hulle hul oë toemaak, dan is dit asof hulle terug is tussen al die bekende dinge.

Leia sing om haar eie hartseer te vergeet. Sy sing om ’n druppel van die geluk van die lied in haar eie lewe in te bring, maar toe sy die laaste noot huiwerend in die lug laat hang, breek die droom soos ’n seepbel. Die lied was ’n tydelike ontvlugting … dis die werklikheid wat saak maak.

In die herehuis draai die graaf van die venster af weg. Hy het die lied gehoor en dit het hom ontstel. Al kon hy haar nie sien nie, weet hy dat dit die wit slavin was wat gesing het. Die ryk weelde van haar stem was roerend mooi en noudat die lied verby is, is dit asof daar ’n leemte in die donker nag gelaat is.

Die bejaarde man oorkant hom kyk op.

“Sy het besonderse talente, senor.”

Die graaf se gesig verhard. “Selfs met haar talente sal sy nêrens inpas nie, monsieur. Ek het haar van Lantini probeer red, maar het ek nou juis ’n goeie daad gedoen?”

“ ’n Erger lot kon haar te beurt geval het.”

De la Fontaine skud sy kop. “Sy is ’n uitgeworpene, en ek kan daar niks aan doen nie.” Hy kyk na die ander man. “Ek wonder of u besef, monsieur Mendoza, dat daar iewers ’n moeder is wie se kind Leia was. Leia is nie tussen die inboorlinge gebore nie.”

Mendoza frons. “Dis tog moontlik, en jy weet dit. Baie van die swart vroue langs die kus van Afrika word deur die blanke matrose misbruik. Dis tog net moontlik dat jou Leia die gevolge van so iets kon wees.”

Die graaf skud sy kop heftig. “Dit kan ek vir geen oomblik glo nie. U mag vir my lag, maar dis amper asof daar iets adelliks in haar is. Selfs in haar uiters vernederende posisie is sy nog trots en uitdagend.”

Mendoza lag opgewek. “Jou verbeelding hardloop met jou weg, Jacques! As jy mý eerlike opinie wil hê, dink ek jy het vir jouself ’n hele klomp moeilikheid gekoop.” Hy kyk deur vernoude oë na die jonger man. “Jy moet minder aandag aan jou wit slavin gee en meer aan senorita De Boudelaire. Ek glo nie sy sal daarvan hou om jou aandag met ’n slavin te deel nie.”

De la Fontaine haal sy skouers op. “Beatrice is ’n baie nugter soort mens, monsieur. Sy stel self baie belang in Leia se herkoms.”

Mendoza skud sy kop stadig. “Die moeilikheid met nugter mense is dat hulle die belangrike dinge totaal miskyk. Julle loop nou al ’n lang pad saam, en nog is daar geen sprake van trou nie. Jy is al oor die dertig, as ek dit nie mis het nie. Jy word nie jonger nie, Jacques, en wanneer gaan daar nou uiteindelik ’n erfgenaam vir La Liberté wees?”

Die graaf haal sy skouers traak-my-nie-agtig op. “Dit sal kom, monsieur, dit sal kom.”

Mendoza snork hardop. “En wanneer, as ek mag vra? Ek word self nie jonger nie en ek sal darem nog die outjie wil sien aan wie ek my fortuin gaan bemaak.”

Die graaf glimlag effens. “Die outjie van wie u praat, monsieur, gaan oënskynlik gruwelik bederf word.”

“Gun ’n ou man tog sy plesiertjies, Jacques!” roep Mendoza uit. “Ek het geen kind of kraai meer nie, en jy was nog altyd vir my soos ’n eie seun … veral nadat Roberto verdwyn het.” Sy stem slaan deur, en hy haal diep asem voordat hy voortgaan: “Jy was toe maar ’n knaap van vyftien en so voortvarend as wat die jeug maar kan wees.”

“Het ek dan verander?” wil die graaf geamuseerd weet.

Die ou man aarsel. “Ja, jy het verander, Jacques. Ek is selfs partykeer bang vir jou. Jy het ’n harde man geword, maar miskien is dit juis die rede waarom jy so suksesvol is.” Hy sug effens. “Net soms verlang ek terug na die ou Jacques wat met blink oë die meisietjies die hof gemaak het.” Hy lag sag. “Ek kan jou beswaarlik nog in so ’n situasie indink.”

Die graaf gaan weer by die venster staan. “Ons word almal ouer en wyser, monsieur.”

“En ook kouer en moeiliker om te bereik,” voeg die ou man by. “Soms dink ek jou verhouding met senorina De Boudelaire is net ’n koelbloedige saketransaksie. Niks sal my groter genot verskaf as dat jy weer halsoorkop verlief raak op ’n meisie nie.”

Die graaf draai vinnig om en bars dan uit van die lag.

“Dit is hoogs onwaarskynlik, monsieur! My hart het ek behoorlik onder beheer. Dis die een deel van ’n mens se samestelling wat hom gedurig aan verraad skuldig maak.”

Mendoza staan op. “Dis jou hart wat jou menslik maak. As jy hom verontagsaam, verander jy in klip.” Hy staan deur se kant toe. “Ek gaan nou slaap. Dink maar na oor wat jy gesê het, Jacques. ’n Mens kan jou hart nie vir altyd ignoreer nie. Soos jy gesê het, hy maak hom dikwels skuldig aan verraad en hy het uiters geslepe metodes om uit ballingskap te ontsnap.”

Nadat Mendoza uit is, bly die graaf nog lank nadenkend staan. Sewe jaar gelede het hy gesweer dat hy sy hart nooit weer aan ’n vrou sal gee nie. Adelaide het hom seergemaak en verneder en hy het selfs vroue begin haat vir hul lis en nydigheid. Hy het koud teenoor hulle begin staan, maar dis tog asof daar nog altyd iets gehaper het. Hoe meer hy die gemis gevoel het, hoe kouer het hy geword. Dit is net een van daardie dinge wat hy nie kon verhelp nie. Beatrice begryp hom en sy aanvaar hom so. Sy verwag niks meer van hom as wat hy haar kan bied nie. Wie weet, miskien sal hy haar eendag leer liefkry en sal daardie vergete verlange gestil kan word.

Leia laat gedwee toe dat Bako haar leer hoe om die bossies tussen die wingerde uit te skoffel. Geduld, weet sy, is een ding wat sy nou sal moet hê. Sy sal nie hier weggaan voordat sy die man wat haar gekoop het, vermoor het nie. Dis die spil waarom haar hele bestaan nou draai. Sy dink aan niks anders nie en sien ook niks anders raak nie. Sy haat De la Fontaine met dieselfde intensiteit as waarmee sy na haar vaderland terugverlang.

Bako voel onrustig oor Leia se bedeesdheid. Intuïtief weet hy dat daar iewers ’n skroef los is, maar hy vra haar nie uit nie. Dalk is hy bang om die antwoord te hoor.

Leia is egter ook ’n geduldige en toegewyde leerling. Sy het haarself dit ten doel gestel om die graaf se taal te kan praat, en dit het Bako aangenaam verras. Wat hy egter nie weet nie, is dat Leia slegs die taal wil leer ingeval sy dit mag nodig kry die dag as sy die graaf wil vermoor. Sy wil hom kan vertel waarom sy dit doen. Sy wil hê hy moet weet hoe sý voel oor die feit dat sy soos ’n stuk vel verkoop en nou sy besitting is soos wat die huis en die grond sy besittings is.

Dit grief haar dat die slawe op die landgoed se aanwas getel word soos dit met die perde of beeste gedoen word. Elke nuwe siel beteken wins, en elkeen wat sterf, beteken verlies. Kinders word van hul ouers af weggeneem en aan ander eienaars verkoop.

Soggens vroeg gaan hulle die wingerde in, elkeen met sy of haar skoffel en teen die middaguur word hulle werk onderbreek sodat hulle iets kan eet. Dan val hulle weer in om teen sononder die werk te staak en na hul huisies terug te keer.

Leia luister afgetrokke na die geselsery van die ander slawe. Hulle klets oor alledaagse dingetjies en sy verwonder haar daaroor dat niemand oënskynlik enige wrok teen hul meester koester nie. Hoe kan mense daarmee tevrede wees om dag ná dag hier gebukkend in die son te staan en skoffel vir die res van hul lewens? Het hulle dan nie drome of ideale waarna hulle strewe nie?

Al haar aandag is ook nie gedurig by haar werk nie, en sy raak gou-gou agter by die ander. Niemand kom dit skynbaar agter nie, want hulle werk al geselsend verder van haar af weg. Die man wat oor hulle aangestel is, het ’n paar keer met Leia oor haar traagheid gepraat, maar sy het haar nie aan sy vermanings gesteur nie.

De la Fontaine besoek dikwels die wingerde om te sien hoe die druiwe vorder. Die vrugte moet op presies die regte tyd gepluk word om ’n spesifieke smaak in die wyn te verseker. Dus is dit geen aardigheid toe hy en Beatrice de Boudelaire, wat hom dikwels vergesel, nou skielik hulle opwagting maak nie.

Die graaf merk onmiddellik Leia se agterstand en byt op sy tande. Is dit nou die begin van doelbewuste uittarting? wonder hy en roep Bako nader. “Bring Leia hierheen,” beveel hy met ’n uitdrukking op sy gesig wat niks goeds voorspel nie.

Leia kom voor hom staan met haar hande in haar sye en in haar blou oë ’n weerspieëling van die haat wat sy teenoor hom koester.

De la Fontaine vat die leisels van sy perd vaster. Hier kom dit nou, dink hy ergerlik. Dis die eerste konfrontasie tussen my en hierdie meisie, maar dit is nodig. Ek sal moet wys wie die baas hier is, anders gaan daar moeilikheid onder die slawe wees.

“Jy raak agter,” sê hy aan Leia terwyl Bako vertaal. “Ek verwag van jou om dieselfde kwota werk as die res te verrig.”

Leia kyk van die graaf na die meisie langs hom. Verset stu in haar op teen die smalende Beatrice. Minagting is duidelik op die vrou se gesig te lees. Dit grief Leia en sy bal haar vuisies.

“Jy kan my nie dwing om te werk nie,” sê sy uitdagend vir De la Fontaine.

Bako hik van skrik.

“Wat het sy gesê?” wil die graaf weet. Die koue blik in sy oë waarsku Bako dat hy versigtig sal moet trap. Hy kan die meisie nie nou meer help nie. Stamelend vertaal hy wat Leia gesê het.

De la Fontaine verbleek effens, en sy mond word ’n dun, harde lyn. Hy het hierdie oomblik verwag, maar noudat dit aangebreek het, is hy tog huiwerig om die meisie te straf soos wat hy met ’n ander slaaf sou gedoen het.

“Ek is jou meester hier, en jy is verplig om my bevele te gehoorsaam,” sê hy stadig en wag dat Bako moet vertaal. Dan gaan hy voort: “Jy sal elke bevel tot op die letter uitvoer sonder om teë te praat. As jy ongehoorsaam is, sal ek verplig wees om jou te straf.”

Leia glimlag stadig terwyl haar oë soos blou vuur skitter.

“Ek is nie bang vir straf nie,” sê sy bytend. “Dis al ’n straf net om die besitting te wees van iemand wat jy haat!” Sy spuug die woorde uit. “Ek haat jou en eendag sal ek jou nog vermoor!”

Bako val op die grond voor De la Fontaine neer.

“Ek mag nie vertaal nie, meester! Spaar my dit, asseblief!”

De la Fontaine se gesig is so hard soos graniet.

“Vertaal dit, Bako,” beveel hy in ’n sagte stem wat die swart slaaf laat sidder.

Hortend en stotend vertaal hy Leia se woorde terwyl die graaf bleker word, en sy groen oë swart soos bodemlose poele. Vir ’n lang ruk is daar doodse stilte.

Sy dwing my, dink die graaf woedend. Sy dwing my om iets aan haar te doen wat haar dalk gaan breek. Hy kyk na die ander slawe en sien dat hulle hom afwagtend aankyk. Dis nie Leia se dreigement wat hom kwaad maak nie, maar die feit dat sy hom in ’n hoek dryf waar hy iets moet doen wat hy wou verhoed het.

“Vat haar weg, Bako,” sê hy eindelik skor. “Vat haar na die kas van die hel en laat sy haar koppigheid daar uitsweet!”

Hy gee sy perd spore en jaag vinnig van hulle af weg. Beatrice kyk nog vir oulaas triomfantlik na Leia en dan volg sy die graaf.

Bako se gesig het ’n sieklike grys kleur. Hy weet wat daardie kas beteken en hy weet wat dit al aan mense gedoen het, maar hy moet sy meester gehoorsaam.

“Kom,” sê hy sag aan Leia wat vraend na hom kyk. “Ek … moet jou iewers heen neem.” Hy vermy haar blik. “Jy kon dit vermy het, maar dis nou te laat.”

Leia volg hom ongeërg. As Bako die straf moet uitdeel, kan dit nie te erg wees nie, dink sy onbekommerd. Bako is ’n goeie man en hy sal haar nie leed aandoen nie.

Ver van die herehuis af bereik hulle ’n klein houtkas waarin ’n mens net regop kan staan. Dit het ’n deur met ’n swaar slot aan en ’n klein luik onder die deur. Bo is dit oop met geen dak oor nie.

Leia kyk vraend na Bako. “En nou?”

“Jy moet daar ingaan.” Sy hande bewe. “Dit gaan nie maklik wees nie. Byt vas, Leia, en jy sal niks oorkom nie.”

Sy haal haar skouers op. “Vir hoe lank?”

“Die meester sal besluit.”

Sy gaan in die kas in, en Bako maak die deur toe. Dan hoor sy hoe hy die sleutel in die slot draai; sy voetstappe sterf weg sonder dat hy haar gegroet het.

“Bako?” Daar is geen antwoord nie. Die stilte en die verstikkende hitte druk skielik haar keel toe. “Bako!” gil sy. Maar dis net die stilte wat antwoord gee. “Bako!” Leia druk haar voorkop teen die soliede deur en byt op haar tande.

Haar haat vir De la Fontaine groei tot ’n verterende vlam. Sy sal hier uitkom en sy sal hom met haar kaal hande vermoor.

Annelize Morgan Omnibus 4

Подняться наверх