Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan - Страница 9

6

Оглавление

’n Lang ruk staar sy woordeloos na hom. Vryheid? Wat beteken vryheid in hierdie groot land? Haar keel trek toe. Al word sy hier gevange gehou, het sy iemand wat haar kan beskerm. Die mense van La Liberté is al wat sy ken. Buite die grense van die landgoed was sy nog nooit, en die wêreld daar buite voel skielik vir haar eindeloos groot en vyandig.

“Moet dit nie doen nie …” fluister sy sonder hoop dat hy daarop ag sal slaan. “Moet dit nie doen nie, meester!” herhaal sy verskrik.

Hy probeer homself sonder veel sukses teen haar fluisterende pleidooi verhard.

“Jy sal gaan waar jy wil, Leia. Jy sal ’n goeie loon vir jou werk ontvang, en jy sal kan trou en jou kinders as vrye burgers grootmaak. Jy was nooit werklik ’n slaaf nie.”

Sy laat haar blik sak. “Nie nou nie … asseblief, nie nou nie!” Sy weet sy pleit vir ’n verlore saak, maar dit kan haar nie meer skeel nie. Hier sal sy hom nog elke dag sien, maar as sy eers weg is, sal sy hom moet vergeet.

“Hoekom nie?” wil hy weet. Heimlik is hy bly dat sy sy aanbod geweier het en hy verbaas hom oor sy eie vreugde.

“Ek … kan u nie sê nie.”

Hy glimlag effens. “Het iemand hier dalk die snare van jou wilde hart geraak?” wil hy half skertsend weet noudat die spanning verslap het.

Sy kyk vinnig op na hom, en die ligte gloed wat in haar hals opstoot, vertel hom dat hy raak geraai het. Hy voel skielik nie meer lus vir skerts nie. Hierdie wilde meisie wat hy maande lank as sy eiendom beskou het, het ’n man liefgekry. Al is sy in gevangenskap, is haar hart nog vry. ’n Redelose woede teenoor die onbekende man stoot in hom op. Niemand het enige reg op enige deel van haar behalwe hy nie. Hy besef die onredelikheid van sy woede en beteuel homself met moeite.

“Ek sal ’n ooreenkoms met jou aangaan. Jy kan hier bly, maar ek verwag dat jy jou voortaan voorbeeldig sal gedra.”

Vreugde helder haar oë op. “Dankie, meester!” sê sy. “Dankie dat u verstaan.”

Sy hande jeuk om haar aan die skouers te gryp en haar te skud totdat sy aan hom sê wie die onbekende man is, maar hy beteuel homself. So ’n optrede van sy kant sal die ander slawe en die huismense aan die praat sit. Hy sal haar net baie fyn dophou totdat hy uitgevind het wie die man is.

“Gaan jy akkoord met die ooreenkoms?”

“Ja … ek gaan akkoord.” Sy glimlag en haar tande skitter spierwit teen haar sonbruin vel. Geluk en vreugde lê vlak in haar oë. “Ek sal voorbeeldig wees, soos u van my verwag.”

Hy glimlag half sinies. “Dit sal ons nog eers moet sien.”

Hy kyk haar agterna toe sy opgewonde terughardloop na die slawehuisies. Die glimlag verdwyn van sy gesig. Hy weet dat hy haar sal mis as sy die dag nie meer op La Liberté is nie. Daardie tyd is ook nie meer so ver in die toekoms nie, want een van die dae sal hy verplig wees om haar vryheid aan haar te gee. Hy kan haar nie vir ’n onbepaalde tyd as slavin aanhou nie.

Maandagoggend kom daar ’n vreemdeling op La Liberté aan. Leia het die man nog nooit tevore hier gesien nie en wonder so in die stilligheid wat hy kom maak het. Sy het hom en die graaf mekaar sien groet, en dit was duidelik dat hulle baie bly is om mekaar te sien.

Die man se reistasse en koffers word kort daarna uit die koets gehaal en die huis ingedra.

Leia haal haar skouers op. Dis maar net nog ’n besoeker, dink sy en buk weer oor die druiwe. Bako het haar vertel watter groot onthale die graaf reël wanneer die druiwe geoes is. In die tyd dat sy hier is, het hy egter net af en toe ’n paar gaste vir ’n aand oorgenooi.

Teen laat die middag, toe die slawe reeds gereedmaak om huis toe te gaan, kom die graaf en sy jong vriend na die plek waar hulle die dag gepluk het.

Leia kyk nie op nie. Sy wil nie weer moeilikheid veroorsaak nadat sy die graaf die vorige dag so mooi belowe het dat sy haar sal gedra nie. Net een keer steel sy ’n kykie in die rigting van die vreemdeling en voel ongemaklik toe sy merk hoe hy haar aanstaar. Sy sit haar mandjie op die stapel neer en wag dat Bako by haar moet aansluit. Hulle loop saam terug na die slawehuisies.

Etienne de Ville kyk verbaas na die graaf. “En wie is dít?”

De la Fontaine lag. “Dis my besondere probleem, Etienne. Ná meer as drie maande het ek nog nie veel gevorder met haar opvoeding nie. Al wat ek nog bereik het, was om haar te laat begryp dat dit nie dieselfde is om iemand hier te vermoor as om dit in die wildernis te doen nie.”

Etienne knipper sy oë ongelowig. “Sy is pragtig …!”

De la Fontaine lag. “Versigtig, my liewe Etienne. Sy is nie iemand wat jy sonder handskoene moet aandurf nie.”

Hulle stap terug na die huis.

“Wat beoog jy met haar?”

Die graaf haal sy skouers liggies op.

“As ek kan, wil ek haar haar vryheid gee, maar …” Hy swyg ’n oomblik en sê dan: “Jy moet besef dat sy ’n ontsaglike agterstand het. Sy het geen benul van hoe die beskawing inmekaarsteek nie. Op die oomblik is dit nog vir haar iets wat haar bedreig, en sy wil dit met geweld regstel.”

“Ek hoop ek kry haar weer te sien,” sê Etienne en die graaf kyk vinnig na hom.

“Sy is nie te koop nie.”

“Liewe land! Wie het van koop gepraat?”

De la Fontaine se blik rus ondersoekend op sy jong vriend. De Ville is nie van die adel nie. ’n Mens kan hom nie eens onder die rykes tel nie, maar hy hou van Etienne. Teen hierdie tyd is die gravin ook al gewoond aan Jacques se ongewone vriende en sy het Etienne sonder meer aanvaar.

Vir Etienne is dit beslis nie eienaardig om in ’n slavin belang te stel nie. Hy kom uit ’n arm huis en sy voorgeslagte was ook niks beter as knegte nie. Hy het na die Kaap gekom om te kyk of nie iets met sy lewe kan aanvang nie. Enig­iets is vir Etienne beter as om kneg te wees.

Beatrice kuier weer die volgende dag op La Liberté. Sy wil verhoed dat Jacques te lank oor hul rusie nadink en dalk besluit dat hy haar nie meer wil hê nie.

Etienne se teenwoordigheid krap haar om. Sy hou nie van mense wat nie uit die adel stam nie, en sy kan dit nie verhelp om Jacques dit te verkwalik dat hy met Etienne bevriend is nie. Vies en geïrriteerd laat sy ’n perd vir haar opsaal om ’n ent te gaan ry.

Sy kies die paadjie teen die berg op juis omdat De la Fontaine haar daarteen gewaarsku het. Nie vir een oomblik dink sy daaraan dat dit kinderagtige moedswilligheid is nie. Sy wil net reaksie by die graaf ontlok omdat hy haar so te sê geïgnoreer het toe sy by hom en Etienne de Ville aangesluit het.

Bako kyk bekommerd na die jong meisie wat te perd al met die smal pad na die kranse ry.

“Sy ken nie daardie paadjie nie,” sê hy aan Leia wat die rigting van sy blik volg. “Daar is uiters gevaarlike plekke waar die gewig van die perd haar oor die afgrond kan trek.”

Leia haal haar skouers op. “Waaroor bekommer jy jou? Sy weet mos dat dit gevaarlik is.”

“Vroumense dink nie voordat hulle ’n onbesonne ding aanvang nie,” sê Bako en haak die mandjie van sy skouers af. “Ek gaan soontoe.”

Sy frons. “Los haar tog uit, Bako.”

Hy antwoord nie, maar draf vinnig weg in die rigting van die bergpad.

Leia staar hom ingedagte agterna. Hoekom los Bako haar nie? Dit sal Beatrice se verdiende loon wees as sy teen die kranse afstort.

Bako is al ’n hele ent op met die smal paadjie toe hy na Beatrice roep. Sy kyk om, ruk haar skouers reguit en spoor haar perd aan om vinniger te stap.

Die swart slaaf byt op sy tande. Haar koppigheid gaan haar dood kos. Daar is nie veel wat hy kan doen behalwe om haar te probeer oorreed om terug te draai nie. Hy begin weer klim, maar vorder nie vinnig nie. Hy is nie meer baie jonk nie, en die bergpad is taamlik steil.

Skielik hoor hy Beatrice gil en klippe rol teen die skuinste af. Hy ruk sy kop op. Die meisie se perd runnik beangs en steier agteruit na die rand van die afgrond.

Bako bly asof versteen staan. Hy sien hoe die perd se agterpote vastrapplek soek, hoe die klippe en grond onder sy hoewe losraak. Paniekbevange beur die dier vorentoe na die smal paadjie.

Beatrice gil toe sy besef wat besig is om te gebeur. Sy spoor die perd aan om harder vorentoe te beur. Sy besef maar te goed dat, as sy nou uit die saal gly, sy ook oor die afgrond kan stort.

Ver daarvandaan staan Leia en kyk wat teen die hang van die berg gebeur. Haar koue onverskilligheid maak nou ook plek vir kommer. Vinnig haak sy die mandjie van haar skouers af en hardloop na die bergpad. Nie sy óf Bako kan meer help nie, maar sy dink nie daaraan nie. Sy haat die vrou, maar sy wil haar ook nie in soveel angs sien sterf nie.

Bako wil haar terughou toe sy hom bereik, maar sy ruk los en hardloop met hygende asem teen die pad op. Namate sy begin moeg word, is dit asof die helling steiler begin word, en sy moet haar pas verslap.

Beatrice huil van angs. Die perd staan nou doodstil, te bang om te beweeg. Sy agterpote druk half oor die afgrond in die sagte grond weg wat enige oomblik onder hom kan padgee. Die oomblik toe sy haar been oor die dier se rug lig om af te klim, verloor die perd sy balans en hy beland runnikend op sy maag.

Leia bereik hulle uitasem.

“Klim af,” beveel sy die meisie bars. “Jy maak dit vir hom moeiliker om uit te kom.”

“Ek het nie jou raad gevra nie!” gil Beatrice woedend en beangs.

“Klim af!” gil Leia terug. “Jy het gedink jy is dapper toe jy te perd hierheen gekom het en nou sit jy en tjank soos ’n baba.”

“Ek kan nie afklim nie! Ek sal hier afstort.”

Leia huiwer. Sy weet dat die meisie gelyk het en met stywe lippe steek sy haar hand na Beatrice uit.

“Klim nou af. Ek sal jou help.”

Beatrice aarsel. Sy besef egter dat dit haar enigste kans is en teësinnig steek sy haar hand na die slavin uit. Dan klim sy versigtig van die perd se rug af. ’n Los klip rol onder haar weg en sy gil skerp. Leia laat egter nie haar hand los nie en trek die meisie stadig weg van die afgrond.

Eindelik staan Beatrice weer op vaste aarde. Sy bewe soos ’n riet toe sy eenkant gaan staan.

Leia neem die leisels van die perd in haar hande en beweeg na die vaste paadjie se kant. Sy praat sag met die dier terwyl sy hom aanspoor om weer te probeer uitkom.

Sy oë rol wild in sy kop van vrees, maar hy probeer tog gehoorsaam. Twee keer gly hy terug terwyl klippe en grond na benede stort en dan trap hy skielik vas. Beangs beur hy vorentoe. Nog klippe stort af, maar sy pote het vasskopplek gevind. Voetjie vir voetjie lei en paai Leia hom totdat hy eindelik met al vier bene op vaste grond is.

Beatrice vee haar hare uit haar oë. Sy het reeds van die skok herstel en wil so gou moontlik padgee.

“Gee die perd vir my.”

Leia draai om na haar. “Jy sal hom na die stal toe moet teruglei.”

“Ek het op sy rug hier gekom en gaan op sy rug terug!”

Leia byt op haar tande. “Jy leer moeilik, nè?”

Beatrice kyk woedend na haar. “Jy is nie in ’n posisie om my te beveel nie!” sê sy skerp. “Moenie vergeet dat jy net ’n slavin is nie.”

Leia se oë verdonker. “Ek moes jou liewer gelos het dat jy jou te pletter val,” sê sy stadig. “Dit sou jou verdiende loon gewees het.”

Beatrice gooi die teuels van die perd oor sy kop en steek haar voet in die stiebeuel.

“Ek het nie nodig om jou te bedank vir wat jy gedoen het nie. Dit was bloot jou plig.” Sy klim op die perd en vat die teuels vaster.

Leia staan effens terug sodat sy kan verbykom. “Volgende keer sal ek dit prettig vind om te sien hoe jy jou nek breek.”

Beatrice se mondhoeke krul op. “Daardie genoegdoening sal jy nooit smaak nie. Dis nog altyd ek wat die hef in die hand het!” Sy kap haar hakke geniepsig in die perd se lieste.

“Moenie so seker van jouself wees nie!” roep Leia haar agterna.

Beatrice jaag die steeds bevreesde perd aan om vinnig die skuinste af te galop. Sy kyk nie eens op toe sy Bako voor haar in die smal pad sien nie.

Met ’n verskrikte uitroep spring Bako eenkant toe. Die perd se hoewe mis hom met ’n paar duim en hy bly geskok langs die paadjie lê. Hy kyk ’n lang ruk na Beatrice wat soos ’n besetene met die perd voortjaag voordat hy stram orent kom.

Leia bereik hom ’n paar minute later. “Het jy seergekry?” vra sy bekommerd.

Hy skud sy kop. “Nee …” Hy glimlag half skeef. “Jy het ’n heldedaad daar bo verrig.”

Haar gesig verstrak. “Dit was mos maar net my plig, of hoe?”

“Het sy dit gesê?”

“Ja.”

“Die duiwel haal haar en almal wat soos sy is,” sê hy met gevoel.

Leia kyk skeef na hom. “Dis die eerste keer dat ek jou so iets hoor sê, Bako.”

Hy val langs haar in en hulle begin terugstap.

“Dis nie iets wat ek teenoor die graaf sal noem nie, maar dit help as ’n mens so af en toe ’n bietjie stoom afblaas.”

Sy lag. “My manier is ’n bietjie meer daadwerklik, of hoe?”

Hy glimlag. “En gevaarlik.”

Etienne de Ville is by die stal toe Beatrice met die perd daar aankom. Hy het gesien wat daar bo teen die berg gebeur het en het hierheen gekom om met haar te praat.

Sy kyk skaars op na hom toe sy die perd aan die staljong gee.

“Mademoiselle?” sê Etienne en keer haar voor toe sy wil wegstap.

“Wat is dit?” vra sy ietwat geïrriteerd.

“Ek is jammer ek was te laat om u te gaan help.”

Sy kyk op na hom. Sy seunsagtige gesig met die blonde hare wat lossies in ’n strik agter in sy nek vasgebind is, is glad nie te onaardig nie, besluit sy. Miskien het sy hom te gou geoordeel. Sy hou van mans wat so na haar kyk.

“Ek kan myself seker gelukkig ag dat ek nog lewend is,” sê sy oënskynlik ongeërg, maar die skok van haar ondervinding maak haar nog bewerig.

“Dit sou ’n ramp gewees het as u iets moes oorkom,” sê Etienne, en sy blik dwaal na Leia en Bako wat die onderpunt van die bergpad bereik het. “Ons is baie aan daardie slavin verskuldig.”

Beatrice se oë blits vuur. “Oor háár moet jy liewer niks sê nie. Sy het al genoeg moeilikheid hier veroorsaak.”

“Die graaf wil haar haar vryheid gee en ná vandag sal hy seker ook genoeg rede hê om dit te doen.”

Beatrice byt op haar tande. “Ek gee nie om wat Jacques doen nie. Solank ek net nie meer elke dag wat ek hier kom in haar moet vasloop nie.” Sy draai om en stap vinnig van hom af weg.

Etienne bly fronsend staan. Beatrice is ’n pragtige meisie, maar so tipies van haar stand, is haar skoonheid met ’n bietjie gif gemeng. Hy sal wat wou gee om te weet waarom daar soveel intriges en rusies om die wit slavin is. Jacques verdedig haar soos ’n leeuwyfie haar welpie, en Beatrice wens die meisie uit die pad. Madame De la Fontaine lyk net baie bekommerd wanneer daar oor Leia gepraat word. Dit alles, besluit Etienne, lei tot ’n baie interessante situasie.

Salvador Mendoza kom weer vir een van sy gereelde kuiertjies op La Liberté aan. Etienne hou van hom en wonder in die stilligheid hoe die ou man oor die wit slavin se teenwoordigheid voel. Dit neem hom nie lank om uit te vind nie.

Die aand van sy aankoms op La Liberté loop Mendoza en Leia mekaar by die waterput raak. Hy groet haar glimlaggend.

“Hou jy nog uit, Leia?” wil hy vriendelik weet.

Sy lag. “Ek en die graaf het ’n wapenstilstand, monsieur. Ons baklei nie, maar ons het ook nog nie vriende gemaak nie.”

Hy frons liggies. “Hy is jou baie dank verskuldig omdat jy Beatrice gered het.”

Sy kyk weg. “Hy het nog nie dankie gesê nie, en ek verwag dit ook nie. Hy kan sy wyfiekat maar hou. Ek wens net dat ek haar liewer oor die kranse gestamp het, pleks van haar te red.”

Mendoza glimlag. “Dit is presies wat hy verwag het jy gaan doen. Hy en die jong man De Ville het alles sien gebeur, maar was magteloos om iets te doen. Jy was reeds by mademoiselle Beatrice toe hulle onraad merk.”

Haar oë blink in die flou lig van die lantern. “Dis nou ’n mooi grap! Ek wonder of hy die moed sal hê om my keel af te sny as ek haar vermoor.”

“Hoekom haat jy haar, Leia?”

Sy kyk weg. “Sy behandel my soos … soos vuilgoed.”

“Jy het haar gered.”

“Ek het nie gedink nie.”

“Daar steek meer van die beskawing in jou as wat jy wil voorgee. Dit is ingebore by jou.”

“Kennis vloei nie in ’n mens se are nie.”

Hy lag. “Wie weet!” Hy lyk skielik weer ernstig. “Hou net moed, kind. Een van die dae sal dinge seker begin verander. Dit kan nie so aanhou nie.”

Sy kyk na hom. “Miskien … en miskien ook nie. Alles hang van die mense af wat die mag het. Ek kan niks teen julle doen nie.”

“Ek is nie een van hulle nie.”

Sy kyk hom vierkantig in die oë. “Jy is, monsieur. Jy het geld, jy het mag en jy is ’n vry mens.”

“En ek is ’n ou man wat met die jare heelwat wysheid geleer het. Ek dink ek kan sê dat ek mense ken. Jy haat Beatrice de Boudelaire omdat die graaf aan haar behoort en omdat sy eendag jou meesteres gaan wees. Beatrice haat jou omdat jy die graaf interesseer. Eendag sal daar ’n ander uitweg kom, en dan sal jy dit met albei hande moet aangryp. Die paadjie waarop jy nou is, lei na ’n afgrond en ’n ramp.”

“Ek wou hom een nag vermoor … ek het hom met ’n mes gegooi. Hy het nie eens sy kop weggeruk nie. Hy het net na my gekyk …”

Mendoza kyk na haar bleek gesiggie en sidder liggies. Hy kan goed glo dat sy die graaf sou wou vermoor. Om haar te verkoop sal nie die saak oplos nie. Sy sal haar nuwe eienaar ook probeer van kant maak.

Etienne bly onbegrypend in die tuin staan. Mendoza en Leia gesels soos ou bekendes daar by die put. Hy draai stadig om en gaan terug na die huis. Hy is nog maar skaars ’n jaar in hierdie land en hy is klaar geboei deur die mense hier. Al is hulle Franse of Hollanders of Duitsers, hulle verskil tog baie van hul landgenote in hul vaderland. Die land het voorwaar ’n vreemde invloed op sy inwoners.

Die nag word Mendoza skielik siek en hy kan nie die volgende dag vertrek nie. Leia is onbewus hiervan toe sy op bevel van die gravin na die herehuis gaan.

Die ou dame staan, soos haar seun, op die stoep toe Leia nader kom.

“Jy kan nie vir altyd in die wingerde werk nie,” sê Nicole. “Oor die Kerstyd sal ek jou in die kombuis nodig hê.”

Leia kyk onbegrypend na haar. “Die Kerstyd?”

Met ’n skok besef Nicole dat die meisie nog ’n rou heiden is en nie van Christus en sy koms na die aarde weet nie. Hulle het hierdie aspek van haar opvoeding heeltemal oor die hoof gesien.

“Ons sal ’n tyd inruim om dit asook ander dinge aan jou te verduidelik. Intussen dink ek jy moet Bako vra om jou te vertel wat Kersfees beteken.”

Leia knik. “Goed, madame.”

“Kersfees is oor ’n bietjie meer as twee weke. ’n Paar dae voor die tyd sal ek jou laat roep om te verduidelik wat ek van jou verwag.”

“Ja, madame.”

Nicole frons liggies oor die meisie se gelatenheid. Miskien het Leia nou uiteindelik besef dat dit niks sal help om teen die prikkels te skop nie.

“Jy kan maar gaan.”

Leia glimlag toe sy ’n diep buiging maak en na haar werk terugkeer. Sy het geen benul wat van haar verwag gaan word nie. Sy was nog nooit binne die groot herehuis nie en kon maar net grootoog sit en luister wanneer die ander slavinne vertel. Daar is skielik ’n sprankie opgewondenheid in haar. Sy gaan die binnekant van die huis sien wat sy so lank al net van buite af kon bewonder.

Sy steek vas toe sy die jong man ’n paar treë voor haar op ’n bankie in die tuin sien sit. Dit is dieselfde man wat met die rytuig aangekom het. Hy kyk op en sy probeer haarself vinnig uit die voete maak.

“Leia!” roep hy en sy steek onseker vas.

“Ja, monsieur?”

Die son glinster op sy blonde hare, sy gesig is oop en vriendelik. “Ek wil met jou praat.”

Sy loop onseker terug na hom. Elke nuwe mens wat sy hier ontmoet, wantrou sy. Elkeen hou vir haar ’n nuwe soort bedreiging in.

“Ontspan,” sê hy toe hy die agterdog in haar oë sien. “Ek wil jou nie kwaad aandoen nie.”

“Ja, monsieur.”

Etienne weet skielik nie wat om te sê nie. Hy wou haar maar net ’n bietjie beter leer ken, maar eintlik is daar niks waaroor hy met haar kan praat nie. Half lomp vra hy toe die stilte te lank rek: “Hou jy van monsieur De la Fontaine?”

Dit is asof daar skielik ’n sluier oor haar oë sak.

“Ja, monsieur.”

Hy glimlag. “Hy is ’n goeie man. Hy sal nie vergeet wat jy vir mademoiselle Beatrice gedoen het nie.”

Sy kyk vinnig na hom, en net vir ’n sekonde sien hy die kilheid in haar oë. Dit laat hom liggies ril.

“Ja, monsieur.”

“Sou jy graag jou vryheid wil hê?”

“Nee,” antwoord sy vinnig. “Ek wil dit nie hê nie … nie nou al nie.”

“Weet jy dan nie wat dit vir jou sal beteken nie?” vra hy ietwat verbaas.

“Ek weet, maar ek wil dit nogtans nie nou al hê nie. Eendag miskien, wanneer ek gedoen het wat ek nog wil doen.”

Hy lyk effens geamuseerd. “En wat is dit?”

Leia glimlag, maar antwoord nie. Sy hou van die jong man, maar sy kan hom nie vertrou nie. Niemand mag weet dat sy ten spyte van wat gebeur het, nogtans beplan om Beatrice dood te maak nie.

Etienne voel op ’n vreemde manier gesteur. Hy het hom nog altyd daarop geroem dat hy vroue verstaan, maar hierdie een bly ’n raaisel. Sy laat hom agterbly met die eienaardige gevoel dat sy sy meerdere is, en hy weet nie juis of dit hom aanstaan nie. Tog het haar geheimsinnigheid ’n onweerstaanbare bekoring.

“Ek hoop jy het sukses met wat jy wil doen.”

“Ek sal nie weer ’n fout maak nie,” sê sy kalm.

Hy lag. “Aanhouer wen, of hoe?” Hy weet self nie waaroor die gesprek gaan nie, en Leia glimlag heimlik.

“Dis reg, monsieur.” Die hele situasie is eintlik baie amusant, dink sy. Hy weet nie wat ek beplan nie en nogtans wens hy my alle sukses toe.

“Wel,” sê hy toe die stilte te lank raak, “ek moet jou seker nie uit jou werk hou nie.”

Sy maak ’n vinnige buiging en stap dan vinnig van hom af weg. Etienne kyk haar diep ingedagte agterna. Leia is ’n uitsonderlike meisie. Afgesien daarvan dat sy baie mooi is, is sy ook intelligent genoeg om te weet dat dit net tot haar voordeel kan strek as sy haar meester se taal kan verstaan. Anders as die willose gewone slaaf, is sy doelgerig en weet sy wat sy wil hê.

Hy glimlag. Hy begin nou so stadigaan verstaan waarom Leia heftige reaksies by almal uitlok wat haar leer ken. Sy het nie die persoonlikheid waarteenoor ’n mens onverskillig kan staan nie.

De la Fontaine slaak byna ’n sug van verligting toe Etienne sy opinie oor Leia lug. Hy het al begin dink dat hy alleen staan, maar daar is ander ook wat dink dat die wit slavin ongewoon is.

“As sy net nie ’n slavin was nie,” sê Etienne glimlaggend, “sou ek dit selfs oorweeg het om haar die hof te maak.”

Die graaf steek vas en kyk fronsend na De Ville. “Die hof maak?” herhaal hy asof hy dit nie mooi kan begryp nie. “Besef jy wat jy sê? Sy is nog ’n rou barbaar.”

Etienne lag opgewek. “Het jy dan blind geword, Jacques? Ek erken dat sy nie fyn opgevoed is nie, maar ’n rou barbaar is sy beslis nie meer nie.”

De la Fontaine se frons verdiep. “Ek hoop nie dat jy verkeerde gedagtes koester nie, Etienne. So vriendelik as wat sy kan wees, net so skrikwekkend kan sy wees. Moet jou nie deur haar laat flous nie.”

“Dis nie haar skuld nie. Dis die wêreld waarin sy grootgeword het wat dit aan haar gedoen het. Gee haar nog ’n rukkie kans en dan sal jy haar selfs aan die jong mans van die kontrei kan bekendstel as jou niggie.”

De la Fontaine lag ten spyte van homself. “Dit sal die grootste opskudding veroorsaak wat die Kaap nog getref het.” Hy kyk na die jonger man. “Jy moet liewer rondkyk na ander hubare meisies, Etienne. Hierdie een sal jou na ’n vroeë graf dryf.”

Etienne lag ietwat senuweeagtig. “Jy laat haar na die een of ander heks klink.”

Jacques lag. “Dis nie wat ek bedoel nie. Sy sal jou soveel probleme besorg dat jy selfmoord ernstig sal oorweeg.”

Etienne kyk ondersoekend na sy vriend. “Ek kry die gevoel dat jy haar graag hier wil hou. Hoekom?”

De la Fontaine haal sy skouers op. “Ek kan haar hanteer. Solank as wat sy hier op La Liberté is, weet ek ten minste dat sy niks sal oorkom nie. Wie weet wat ’n ander eienaar met haar sal aanvang.”

Etienne glimlag net, maar antwoord nie. Hy mag verkeerd wees, maar hy dink dat die graaf nie so onverskillig teenoor Leia staan as wat hy wil voorgee nie. Dalk steek daar iets meer in as net hierdie oormatige drang om die meisie te beskerm. Selfs dit is ’n emosie wat hy goed kan begryp. Leia doen net iets aan ’n mens, waarskynlik sonder dat sy wil. Eendag, wanneer sy weer ’n vry mens is, sal hy na haar terugkom. Hy weet dat hy haar nie sommer sal vergeet nie.

Buite word dit vinnig donker. Die slawe het reeds na hul huisies gegaan, en af en toe kan hulle een hoor lag.

Etienne sien hoe die graaf ’n oomblik lank aandagtig by die venster staan en luister en dan eindelik met ’n ligte skouerophaling omdraai.

“Ek het gedink dat sy jou dalk vanaand met haar vreemde liedjies sal vermaak, maar sy het skynbaar nie daarvoor lus nie.”

Leia voel rusteloos. Silo tokkel uitnodigend op sy instrument, maar sy is nie vanaand lus vir sing nie. Sy dink aan die ou man, Mendoza, en wonder waarom die hartseer so diep in sy oë lê. Hy het haar vertel dat hy sy seun verloor het, maar is daar nie dalk nog iets nie?

Later dwaal sy weg van die vuur om oudergewoonte in die tuin te gaan staan en na die helder verligte huis te kyk. Dit bly vir haar mooi en dit hou aan om iewers in haar iets te roer … iets half bekend en tog ook nie. Die lig trek haar soos ’n magneet. Sy luister graag na die musiek wat soms uit die huis se rigting kom. Dan wens sy dat sy ook daar binne was om hierdie vreemde verlange te kan stil.

Dalk is daar iets wat haar aan ’n tyd baie lank gelede sal herinner. Miskien praat hulle van iets waarvan sy weet … wat sy vergeet het.

Versigtig gaan sy ’n bietjie nader aan die huis. Daar is niemand van hulle vanaand buite nie, en hulle sal nie weet dat sy hier in die donker staan met haar verlangens en vrese nie.

Haar oog vang ’n glinstering tussen die gras ’n paar treë voor haar. Fronsend gaan sy nader en kyk verwonderd na die dolk wat voor haar voete lê en blink. Sy kyk eers vlugtig om haar rond voordat sy buk en dit optel.

Twee robyne glim in die maanlig. Daar is geen ander edelgesteentes in die hef nie, net ’n dowwe embleem wat skaars herkenbaar in die halfduisternis is.

’n Skok ruk deur Leia. Sy ken hierdie embleem so goed dat sy dit enige plek sal herken. Sy dra dit al lank met haar saam … dit kom van daardie tyd uit haar lewe waarvan sy niks meer kan onthou nie. Dis dieselfde as dié op haar hangertjie.

Bewend druk sy die dolk teen haar bors. Hier is iemand op die landgoed wat weet wie sy is. Hier is iemand wat weet waar sy vandaan kom … Sy is nie meer alleen in haar soektog nie.

Annelize Morgan Omnibus 4

Подняться наверх