Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 7 - Annelize Morgan - Страница 10

7

Оглавление

Kamal, Jarad se getrouste volgeling, kom na haar toe aangehardloop.

“Saïda! U moet na die sjeik se huis gaan! Die sultan is op pad!”

“Hulle wil my doodmaak, Kamal.”

“Nee, saïda, ons sal dit nie toelaat nie. U is Shahira, die vrou wat nie bang is vir die djins nie.”

Sy glimlag ten spyte van die benoude gevoel in haar binneste en gaan haal die kameel wat Jarad vir haar gelos het. Dan klim sy op en skep moed toe Kamal vrolik vir haar glimlag. Hulle ry swyend die oase binne.

Helu is soos ’n fort gebou, met dik, hoë mure wat die dorpie omring en waarop skerpskutters met pyl en boog enige aanvallers met gemak kan afmaai. Dis ’n geil en groen oase en sy kan verstaan waarom Khidr dit wil hê.

Kamal ry vinnig vooruit, met Isabelle kort agter hom. Sy het haar abaya oor die onderste deel van haar gesig gedraai om nuuskierige blikke te vermy. Die bloedkolle aan haar klere is egter duidelik sigbaar.

Eindelik hou Kamal sy perd voor ’n groot houthek in. Hy roep ’n bevel op Arabies en die hek word oopgemaak. Hulle bevind hulle in ’n ruim binneplaas. Isabelle volg hom na ’n deur in ’n muur en hy lei haar vinnig met ’n smal trap op na ’n klein balkon. Daar gaan sy staan en kyk oor die rand af na die binneplaas waar die sultan pas gearriveer het. ’n Leer word na die voorste drastoel geneem en die sultan klim uit.

Haar hart klop in haar keel toe sy sien hoe Jarad te voorskyn kom en die sultan groet. Sy kan nie hoor wat hulle praat nie. Die sultan gee ’n teken aan een van die wagte en dié verskuif die leer na die ander drastoel. ’n Gesluierde Beryl klim uit en sy bly eenkant staan, die toonbeeld van onderdanigheid.

Isabelle se hart krimp ineen. Sy dink aan die vorige nag toe sy en Jarad so intiem saam was in die woestyn. Sy haal diep asem om haar verwarde emosies te beheer. Miskien moet sy geduldig die tyd afwag totdat sy die mense en die omstandighede in hierdie land beter verstaan. Dalk sal daar dan vir haar ’n geleentheid wees om te vlug en weg te kom uit Jemen, weg van Jarad en Beryl.

Isabelle word na ’n ruim vertrek aan die agterkant van die huis geneem. Dis heeltemal afgesny van die res van die huis en sy voel alleen en vasgekeer.

Sy dink aan Jeanne en wonder of sy die Franse meisie ooit weer sal sien. Sy dink ook aan Etienne le Riche, en dit voel of ’n swaar hand haar keel toedruk. Dis tog immers waar sy veronderstel is om te wees: by Etienne le Riche in die Kaap de Goede Hoop.

Sy staan by die venster en kyk uit oor die buitemuur na die dorpie daar anderkant. Sy voel weer so verskriklik alleen soos toe sy in die land aangekom het.

“Ons sal vir ’n paar dae saam moet woon,” hoor sy ’n sagte stem agter haar sê en sy swaai verskrik om.

Beryl het geruisloos ingekom op haar kaal voete en haar abaya van haar gesig afgehaal. Sy is nog mooier as wat Isabelle haar onthou.

“Jy het niks om jou oor te bekommer nie,” sê Isabelle, die bitterheid vlak in haar stem. “Jy het die sultan aan jou kant, en selfs die sjeik kan nie sy wense veronagsaam nie.”

Beryl kom ook by die venster staan.

“Maar dit sal ook die einde van die oorloë met sjeik Khidr beteken,” sê sy kalm. “Dis vir die sultan baie belangrik om ’n einde daaraan te maak.”

“Sal ek dan toegelaat word om Jemen te verlaat en terug te gaan na my vaderland?”

“Nee, maar as ek sjeik Jarad mooi vra, sal hy jou as slavin vir my gee.”

Isabelle voel weersin in haar keel opstoot. “Jy is baie seker van jou saak. Jy aanvaar sommer net dat Xavier met jou sal trou.”

Beryl lag en haar tande skitter wit teen haar donker vel. “Natuurlik is ek seker. Ek is uitverkies om ’n einde te maak aan die oorlog tussen sjeik Jarad en sjeik Khidr.”

Isabelle draai ergerlik van haar af weg. Beryl se selfvoldaanheid maak haar woedend, maar sy besef ook dat sy nie alleen teen die sultan se besluite kan baklei nie.

Sy moet probeer om Kamal eenkant te kry en hom te vra of dit moontlik is om hier weg te kom. Sy sal nie stilsit en wag dat ander oor haar lewe besluit nie.

Vroegaand kom Kamal na die vrouekwartiere. Beryl staan afwagtend op asof sy aanneem dat sy nou na sjeik Jarad geneem sal word, maar dis vir Isabelle wat Kamal kom haal. Toe Isabelle oor haar skouer terugkyk, sien sy die onverbloemde haat in die ander meisie se oë. Sy sidder liggies toe sy omdraai en Kamal na buite volg.

Beryl kom wel onderdanig voor, maar onder daardie sagte uiterlike skuil ’n wil van staal. Sy, Isabelle, sal deeglik rekening moet hou met die beeldskone meisie uit Oman.

Sjeik Jarad is alleen in die ontvangslokaal toe sy deur Kamal binnegelei word. Isabelle besef dat haar toekoms hier en nou bespreek gaan word en dat dit wat hier gepraat word, waarskynlik verreikende gevolge sal hê. Sy vrees dit wat Jarad aan haar gaan sê.

Met ’n vlugtige beweging van sy hand beduie hy aan Kamal om hulle alleen te laat. Isabelle se hart klop versmorend in haar keel. Daar is iets dreigends en onheilspellends in die atmosfeer. Jarad se houding is koud en afsydig.

Sy staan swyend en wag dat hy moet praat, want alles hang nou van hom af.

Sy groen oë verraai niks van wat in sy gedagtes omgaan nie. Hy kyk ’n lang ruk in stilte na haar, asof hy elke woord oorweeg wat hy gaan sê. Die lamplig gooi skaduwees oor sy aantreklike gesig en glinster op die goue koorde van sy hoofbedekking.

“Ek het jou jou vryheid gegee, Shahira,” sê hy eindelik en daar is ’n moeë toon in sy stem. “Ek kan jou nie hier hou nie, al wil ek dit hoe graag doen. Hier sal jou lewe elke oomblik in gevaar wees. Ek moet jou wegstuur ter wille van jou eie veiligheid. As jy iets moet oorkom, sal ek myself nooit vergewe nie.”

Hy haal diep asem en draai van haar af weg. “Ek mag die bevel van die sultan nie veronagsaam nie. Hy het my voor ’n ultimatum gestel en ek word gedwing om te kies. Dis nie my wens nie.”

Isabelle voel die vertrek om haar draai. Tot nou toe was daar nog die vae hoop dat hy haar sal beskerm. Daar was selfs die hoop dat sy saam met hom gelukkig sal kan wees, maar in een oomblik het dit alles verander.

“Sal ek na my vaderland kan teruggaan, Xavier?” vra sy op ’n fluistertoon.

“Ek is jammer.” Daar is pyn in sy stem, half pleitend, asof hy haar om vergifnis vra. “Jy sal nie toegelaat word om Jemen te verlaat nie.”

Sy kyk op na hom, haar oë verblind deur trane. “Moet ek dan vir die res van my lewe in hierdie godverlate woestyn ronddwaal sonder dat ek weet waarheen ek gaan?”

“Die sterre sal vir altyd ons getuies wees, ya habibi.”

Isabelle krimp ineen. Waarom noem hy haar juis nou “my liefling”?

“Die sterre … bring nie … vertroosting nie,” stamel sy.

“Ons ken nie die toekoms nie, Shahira. Daar wag dalk vir ons ’n nuwe en ander pad vorentoe – een wat ons saam kan loop. Maar vir nou moet ek net seker maak dat jy niks oorkom nie.” Hy aarsel en sê dan: “Daar is altyd nog ’n môre met nuwe hoop, en waar jy jou ook al in die woestyn bevind, sal ek jou vind as die tyd reg is.”

Maar sy weet hoe ontsaglik groot die woestyn is, hoe tyd stilweg verbygaan in die eindelose uitgestrektheid. Dalk sal hy haar eers weer vind wanneer sy oud is en al vergeet het dat sy eens op ’n tyd ’n man van die woestyn liefgehad het.

“Wanneer moet ek vertrek?” vra sy sag.

“Môreaand. Ek stuur Kamal saam om jou op te pas.”

Dis ’n klein stukkie troos vir haar geskokte gemoed.

Hy kom staan by haar en lig haar ken met sy vingerpunte sodat sy na hom moet opkyk.

“Sal jy my kan vergewe?” vra hy skor.

“Vir jou, ja. Maar nie die sultan of hierdie vervloekte land nie.”

Toe hy haar in sy arms toevou, besef Isabelle hoeveel angs daar ook in hom is. Hulle gryp na mekaar soos drenkelinge, wetende dat hierdie hulle laaste oomblik saam is. Hulle sal mekaar nooit weer sien nie, en net die sterre sal hulle nog herinner aan hulle kortstondige geluk.

Beryl praat nie met haar toe sy teruggaan nie, en Isabelle gaan later na die daktuin om oor haar benarde situasie na te dink. Die verlatenheid van die woestyn om haar weerspieël haar gemoedstoestand. Sy raak in gedagtes versonke, asof sy daar vertroosting wil soek.

’n Geluid agter haar laat haar vinnig omswaai. Die daktuin is verlate, en tog is sy oortuig daarvan dat sy nie alleen is nie.

“Kamal?”

Haar stem klink vreemd in die swaar stilte. Die skaduwees lyk dieper en donkerder as netnou en sy kan haar hart in haar keel voel klop. Dis nie Kamal wat hier in die daktuin is nie – dis iemand anders.

Stadig beweeg sy na die deur waar die trap is wat ondertoe lei. Wie dit ook al is wat hierheen gekom het, het geen goeie bedoelings nie. Dan sou hy of sy uit die skuilplek gekom het en met haar gepraat het.

Daar is weer ’n fyn skuurgeluid agter haar, baie naby. Isabelle versteen en haar hand gly na die hef van die dolk wat sy in haar lyfband dra. Sy draai stadig om.

Haar hart ruk in haar keel toe sy die gestalte skaars twee tree van haar af sien. Sy rug is na die maan gekeer en sy gesig is net ’n donker poel. Sy kan nie retireer nie. Haar rug is teen die muur wat die daktuin omring en agter haar is niks om te keer as hy haar oor die muur sou stamp nie. Haar hand klem stywer om die dolk.

Hy beweeg so vinnig dat dit haar onkant vang. Al wat sy kan doen, is om laag te buk. Hy stamp haar teen die ruwe muur vas en die pyn skiet deur haar rug waar die muurtjie teen haar rug druk. Dan gaan sy hand blitssnel omhoog en die lem van ’n dolk flits in die maanlig.

Sonder om te aarsel ruk Isabelle haar hand waarin die dolk is omhoog. Sy voel siek toe die lem deur die man se klere glip en in sy maag steek. Sy hoor hom snak na sy asem, hoor hoe sy dolk op die vloer neerkletter voordat hy stadig vooroor buig en oor die muurtjie van die daktuin na benede stort.

Bewend kom sy orent, siek oor wat sy gedoen het. Al was dit uit selfverdediging, was dit nogtans ’n verskriklike daad. Dan kyk sy af na haar hande wat om die rand van die muurtjie klem en sy ril toe sy die bloed sien … oral op haar klere en hande.

Sy hoor vinnige voetstappe en uitroepe in die binnehof waar die man geval het. Mense kom van oral aangehardloop om te sien wat gebeur het. In die verwarring hoor sy Salem Khidr se naam en sy besef dat hy iets met die aanval te doen gehad het.

Sy draai weg van die muurtjie en hardloop met die trap af na binne. Sy sien Beryl in die middel van die vloer staan, haar hande verskrik teen haar slape gedruk. Haar donker oë is wyd gerek van skok.

“Wat het jy gedoen!” roep sy uit.

“Hy wou my vermoor,” sê Isabelle en hardloop by haar verby na waar ’n skottel water in die aangrensende vertrek gehou word vir wasdoeleindes. Sy druk haar hande in die water en was die bloed af terwyl die angs haar laat bewe. Wat gaan die sultan doen? Wat gaan Jarad doen? Wie het gesien wat gebeur het? In die binnehof raas en skreeu dit.

Daar is iemand by die vrouekwartiere se deur. Sy hoor Beryl se stem en dan dié van Kamal. Hy storm in terwyl Isabelle haar hande aan ’n doek afdroog.

“Saïda! Saïda!” roep hy ontsteld.

Sy kyk gemaak kalm na hom. “Wat is dit, Kamal?”

“Ons vertrek dadelik – dis die sjeik se bevel. U het net ’n paar minute om u goed bymekaar te kry. Die sultan weet nog nie wat gebeur het nie, maar die sjeik sal daaroor swyg totdat ons in die woestyn is.”

Isabelle se hande bewe toe sy die doek op die tafeltjie neersit. “Ek kom.”

Sy gryp haar persoonlike besittings en druk dit in ’n drasak. Jarad probeer haar beskerm … Ná wat gebeur het, is dit soos musiek in haar ore.

Dan draai sy om, maar net Kamal is in die vertrek. Beryl is nêrens te sien nie en ’n nare voorgevoel oorval haar. Die Arabiese meisie is dalk reguit na die sultan om hom te gaan vertel wat gebeur het.

“Waar is die ander meisie?” vra sy.

“Sy is baie vinnig hier uit, saïda. Maar kom, ons moenie langer tyd mors nie.”

Sy volg Kamal in ’n lang gang af en verwag elke oomblik dat hulle ontdek sal word. Aan die ander kant van die huis verlaat hulle dit deur ’n deurtjie wat op die straat uitloop. Daar staan ’n rasjid met twee kamele en wag vir hulle. ’n Derde is reeds gepak met wat hulle ook al nodig sal kry.

Plotseling is dit asof die duiwel in die huis los is; stemme klink van oral op. Isabelle klouter haastig op haar kameel, gevolg deur Kamal.

Hulle ry senutergend stadig met die donker straat af, want ’n haastige vertrek sal te veel aandag trek. Die angs laai in Isabelle op. As hulle nou ontdek word, is dit klaarpraat met haar. Sy wens net dat sy aan Jarad kon verduidelik het; die dolk lê nog daar op die balkon waar haar aanvaller dit laat val het.

Voordat hulle om die hoek verdwyn, kyk sy terug na die huis. Skok ruk deur haar toe sy Jarad op die balkon sien staan. Hy kyk hulle agterna, maar lig nie sy hand in ’n groet nie. Hy staan net daar soos ’n standbeeld, trots en ongenaakbaar. En tog is daar ’n ander sy van hom wat sy leer ken het, ’n sy wat sy liefgekry het.

Trane begin oor haar wange biggel. “Ya habibi, ek is jammer …” fluister sy.

Dan is hulle om die draai en kan sy hom nie meer sien nie. Net die pyn en verlange bly klop in haar binneste.

Helu lê reeds anderkant die horison toe die son die volgende oggend sy kop bo die oosterkim uitsteek. Isabelle kan nie eens meer die toppe van die groen palms sien nie. Hulle het deur die nag dieper die woestyn in beweeg en bevind hulle aan die oostelike punt van die wadi Shibwan. ’n Entjie noord van die wadi begin die vreesaanjaende Rub’al Khali, die Leë Land – die streek waar daar net son en sand is … en die dood.

Kamal slaan die oggend kamp op waar die jebels in die sand wegraak. Na die kus se kant toe troon die kranse majestueus, maar hier naby die groot, woeste sandwoestyn is dit asof die aarde die jebels ingesluk het en steek net die punte daarvan bo die sand uit.

Hulle rus gedurende die warmste tyd van die dag, maar teen die middag is hulle weer op pad, want hulle moet die afstand tussen hulle en Helu so vinnig moontlik laat rek.

Isabelle is pootuit van die hitte.

“Waarheen is ons op pad, Kamal?” vra sy en probeer haar koel waai met ’n serp.

“Wie weet? Ons sal maar so rondswerf tot ons ’n teken van sjeik Jarad kry om terug te keer.” Hy het duidelik berus in sy lot.

Isabelle skud haar kop. “Ek gaan nie terug nie. Ek gaan probeer om uit Jemen weg te kom.”

Die Arabier kyk vinnig na haar. “Moenie probeer nie, saïda! Die sultan se manne sal u vang en dan sal u lot veel erger wees as om deur die woestyn te swerf.”

Sy sluk swaar en sy onthou daardie kosbare, brose oomblikke onder die sterrehemel.

“Hierdie land is te vyandig teenoor my. Ek wil teruggaan na Frankryk.”

“Wag dan net tot ons van sjeik Jarad gehoor het, saïda.” Daar is ’n amper pleitende toon in sy stem.

“Vir hoe lank, Kamal? ’n Week? ’n Maand? ’n Jaar? Jy weet dat dit selfs jare kan duur voor ons weer van hom hoor.”

Kamal frons diep en tuur oor die woestyn na die dansende lugspieëlings op die horison.

“Ek wil ook teruggaan, saïda … maar ek het die sjeik belowe dat ek u met my lewe sal beskerm. Die een wat die man met die mes na u gestuur het, sal nie rus voor u ook dood is nie.”

Isabelle glimlag weemoedig.

“Wat ’n mooi gedagte om ’n reis mee te begin, Kamal. Miskien moes ek maar liewer toegelaat het dat die man my doodmaak.”

“U moet rus,” ontwyk hy haar antwoord. “Vannag gaan ons na die watergat van Sharja. Daar sal ons vars kamele kry om verder mee te reis.”

Sharja, dink Isabelle toe Kamal na sy eie tent teruggaan. Dis net nog ’n naam, nog ’n klein stukkie groenigheid in die oneindige woestyn. Sy is al meer as ses maande in Jemen en sy weet nog so min van die land. Trane biggel oor haar slaap en drup op die grasmat waarop sy lê. Miskien moet sy na Khidr teruggaan. Jeanne sal minstens daar wees, en sy is darem nog ’n dun draadjie wat Isabelle aan haar vaderland bind.

Maar sy weet ook dat dit haar doodsvonnis sal wees. Khidr sal haar nie laat bly lewe na wat gebeur het nie. Nee, sy sal deur die woestyn moet swerf, ’n banneling sonder tuiste – maar sy het geen idee waar en hoe hierdie swerftog gaan eindig nie.

In Sharja kry Kamal vir hulle drie kamele. Hy sorg ook vir kosvoorraad en dan is hulle gereed om te vertrek. Hulle verlaat die klein oase in die voornag sodat hulle ver deur die nag sal kan reis. ’n Ligte wind waai oor die duine toe hulle vertrek. Isabelle wens dat sy net iewers ’n klip- of modderhuisie kan kry waarin sy kan bly, een waar sy kan bly slaap totdat alles verby is en sy terug is in Frankryk.

Sy draai haar abaya om haar gesig om die sand en stof uit te hou. Sy het dit aanvanklik moeilik gevind om op die rug van die kameel te bly, maar sy het die vreemde beweging van die dier al gewoond geraak. Om die tyd om te kry, dink sy aan Etienne le Riche, maar sy beeld is vaag en onherkenbaar. En sy probeer hul huis in Frankryk onthou, maar dit bring soveel hartseer dat sy haar gedagtes vinnig in ’n ander rigting stuur.

Teen dagbreek is hulle nog iewers op die uitgestrekte sandvlakte. Agtuur reeds dans die hittegolwe op die horison. ’n Dwarrelwindjie laat Kamal sy mantel oor sy kop trek en plat op sy kameel lê.

“En nou?” vra Isabelle toe Kamal weer orent kom.

“Die djins is gereïnkarneer in die warrelwinde, saïda. ’n Mens moet jou gesig van die onheil afwend.”

Isabelle sê niks. Sy en Kamal praat nie veel met mekaar wanneer hulle reis nie. Al verder trek hulle deur die dorre woestyn. Dis net hulle in die eindelose verlatenheid. Aanvanklik het die sandvlaktes en duine haar bang gemaak. Wanneer Kamal nie kyk nie, huil sy en verlang na die geilheid van die land wat sy eens geken het. Nou loop die een dag in die ander, met geen hoop dat dit ooit sal eindig nie.

Drie weke lank slof hulle van waterput na oase, om net weer in die woestyn in te gaan op soek na niks in die besonder nie. Dis ’n doellose bestaan wat Isabelle naderhand in totale moedeloosheid laat verval.

Kamal sien die gelatenheid in haar. Hy probeer haar opbeur, maar sy reageer nie meer op sy betowerende verhale nie. Net af en toe sal sy nog ’n stukkie qat eet wanneer hy dit in die hande kry. Dan is dit asof daar ’n bietjie lewe in haar kom, net om maar weer soos die eerste reëndruppels in die dor sand te verdwyn.

“Los my hier in die sand dat ek kan doodgaan, Kamal. Dit sal nie lank duur nie.”

“U moenie so praat nie, saïda. U is belangrik vir die sjeik.”

“Ja, Kamal, so belangrik dat hy my in hierdie vervloekte verlatenheid instuur. Ek glo jou, hoor.”

“Hy wou seker maak dat hulle u nie kry nie, dis al. Dis nie meer lank nie, saïda, hou net nog ’n bietjie uit.”

“Uithou tot wat, Kamal? Ek kan nie meer nie … en ek wil nie meer nie,” sê sy deur gebarste lippe.

Kamal is bitter ontsteld. Hy het sjeik Jarad belowe dat hy na Isabelle sal omsien. Nou is daar ’n leegheid in haar blou oë wat hom ongerus maak. Die waterputte van Aran is nog ver. Vannag sal hulle uit die kamele moet haal wat hulle kan en Shahira het rus nodig. Sy het meer as rus nodig, maar dis al wat hy haar kan bied.

In Aran is daar ook twee karavane wat die verkwikking van die waterputte kom opsoek. Kamal laat Isabelle alleen om na vars kos te gaan soek. Hy wil ook ’n boodskapper kry wat hy na Jarad kan stuur.

Sy sit alleen in die tent, tot die dood toe moeg. Sy wil nie onbepaald so deur die woestyn swerf nie. Die een of ander tyd moet sy haar regruk en ’n plan uitdink om by die see te kom. Met Kamal aan haar sy is dit onmoontlik. Hy pas haar dag en nag op. Vannag, het Kamal belowe, sal hulle hier oorbly om te rus. Die waterputte is ver van die roete wat die karavane gewoonlik volg, en dis onwaarskynlik dat hulle hier deur Khidr of die sultan ontdek sal word.

Kamal besluit dat dit veilig genoeg is om nog ’n dag oor te bly en sy is hom dit ewig dankbaar. Saam met hom het sy dwarsoor die groot Rub’al Khali geswerf en elke keer het hy reg op die oase afgekom.

Vroegoggend, toe sy seker is dat hy vas slaap, maak sy haar goed bymekaar en glip uit die tent. Geruisloos verlaat sy hulle kampplek met haar bondel waarin sy die allernodigste gepak het. Haar tent is afgeslaan en in ’n stewige bondel gebind, maar sy het moeite om dit weggesleep te kry sonder dat Kamal wakker word.

Dis die eerste kans wat sy kry om weg te kom en sy moet daarvan gebruik maak. Met ’n stuk uitgebrande hout uit die kampvuur skryf sy op ’n plat klip: Ek is jammer, Kamal. Sy laat die klip by die vuur en gaan soek hul kamele.

Sy kry die kamele waar hulle bymekaar lê – uitgerus en dikgevreet. Sy lei haar kameel ’n ent weg van die ander.

“Barak!” gee sy die bevel en die kameel kniel sugtend sodat sy die tent, haar bondel en gevulde watersak aan sy saal kan vasmaak voordat sy op sy rug klim. Dan is sy gereed en stuur sy met bonsende hart die kameel na die bleek, maanverligte landskap anderkant die oase.

Na die suide is daar ’n wadi en daar sal sy dalk water kry, dink sy toe die kameel sloffend begin aanstryk. Die loop van die wadi lei na die see, het sy by Kamal gehoor – haar pad na vryheid. Vir die eerste keer in ’n lang tyd is daar weer ’n sprankie hoop en ’n vonkie lewe in haar.

Na die suide is ook die wadi Jekka en Khidr … en Jarad. Maar dit behoort tot die verlede. Sy sal sjeik Xavier Jarad nooit weer sien nie … Sy sal nooit weer in sy oë kyk en hy sal haar nie weer “ya habibi” noem nie.

Annelize Morgan Omnibus 7

Подняться наверх