Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 7 - Annelize Morgan - Страница 11

8

Оглавление

Kamal ontdek Isabelle se verdwyning ure nadat sy vertrek het. Rasend van bekommernis en ontsteltenis hardloop hy rond om te hoor of iemand haar gesien het, maar niemand kan hom help nie. Dan saal hy sy kameel op en begin rondry op soek na ’n spoor. Dis egter ’n onbegonne taak met die baie kamele wat intussen na die waterput gekom het om te suip.

Intussen het die dag gebreek en is Isabelle reeds ver in die woestyn. Sy probeer om nie die barre onherbergsaamheid van die landskap om haar raak te sien nie. Sy moet net probeer koers hou na die suide, want dis haar enigste hoop. Daar is die see, daar is die pad na haar vryheid.

Terwyl sy stadig voortry, dink sy aan haar lewe in Frankryk. Sy dink aan haar pa se huis in Parys.

In die winter het die sneeu op die vensterbanke gelê en het die rooiborsies die krummels daar opgepik wat sy vir hulle gestrooi het. Winter was altyd ’n feestelike tyd met Kersfees en Nuwejaar so kort op mekaar. Sy en Ninon het dikwels in hul pelsjasse toegewikkel uitgery in die koets om te gaan kyk hoe die kinders buite in die sneeu speel.

Sy kyk om haar rond na die landskap wat sidderend in die versengende hitte lê. Hier is net die strak kranse langs die wadi’s, waar daar nooit enige sneeu val nie. Sy mis die wit sneeu en die donkergroen sipresse. Sy mis alles wat haar aan haar vaderland herinner.

En tog is daar iewers in hierdie harde land ’n man aan wie haar hart behoort. Sy sou met blydskap al haar herinneringe aan haar vaderland prysgee as sy net aan sy sy kon wees. Verlange word ’n kloppende pyn in haar binneste waarvan sy nie kan ontsnap nie.

Dit hou haar gevange en martel haar totdat sy die kameel uiteindelik tot stilstand bring. Sy sal hier op die verlate sandvlakte vir die dag moet uitspan. Dit sal haar en die kameel te veel dehidreer as hulle in die bloedige hitte verder reis.

Eers ’n uur later het sy die tent behoorlik opgeslaan en strompel sy uitgeput na die skuiling wat die warm skaduwee haar bied. Hier lê sy en dink weer aan Etienne le Riche. Hy is egter nog net ’n vae herinnering, so ver van die werklikheid verwyder as die ooste van die weste. Sy het hom nooit werklik geken nie en in die vrolike, lighartige lewe van Parys sou hy slegs ’n pluimpie in haar hoed gewees het, ’n oorwinning waaroor die ander meisies haar sou beny.

Sy glimlag half hartseer oor haar destydse oppervlakkigheid. As sy maar net geweet het wat op haar lewenspad sou kom, sou sy dit dalk ernstiger opgeneem het.

Toe dit aand word, pak sy op en klim op die kameel. Die dier loop traag verder. Die nag word dag en steeds het hulle die wadi nie bereik nie. Haar water is min en net ’n wonderwerk kan haar nog red. Sy het geen benul meer waar sy is nie en om haar lyk die een horison soos die ander. Miskien is ek van koers af, dink sy bekommerd, want die son gaan nie op dieselfde plek onder as waar dit die vorige aand ondergegaan het nie.

Die volgende nag protesteer die kameel toe sy hom aanpor om op sy pote te kom. Sukkelend gaan hulle verder en toe die dag breek, lê die woestyn steeds dor en verlate om hulle, en daar is geen teken van ’n waterput of oase nie.

Isabelle se tong kleef aan haar verhemelte, maar die kameel lyk asof die dors hom nog nie ernstig hinder nie. Al protes teen sy onkundige ruiter is ’n weemoedige gebrul soos wat hy sy lyding aan die wêreld verkondig. Sy kry hom jammer, maar sy besef dat sy in baie groter gevaar as hy verkeer, want die watersak is byna leeg. As sy baie mooi werk, sal sy nog ’n paar slukke water vir ’n dag of twee hê. En daarna? Sy wil nie verder dink nie. Sy wil droom van die see en haar vryheid.

Die daaropvolgende twee dae is vir Isabelle ’n marteling. Haar gesig voel styf en seer, haar mond is kurkdroog en haar tong voel dood en swaar. Die kameel sal nog vir ’n paar dae kan aanhou sonder water, maar hy is self uitgeput. Isabelle gly van sy rug af toe sy hom laat kniel. Van vanaand af sal sy verder moet loop en hom moet lei, want haar gewig maak dit vir hom moeiliker.

Op die oggend van die sesde dag sien sy die jebels in die blou, dynserige vertes. Haar hart ruk van vreugde. Nog een dagreis en dan sal sy daar wees, dink sy vol moed.

Teen middernag por sy die kameel weer aan om op te staan. Hy kom wankelrig orent en bly ’n lang ruk so staan met sy kop opgelig, asof hy op die sagte woestynwind die geur van iets soek waarna hy verlang. Dan begin sy aanstap en hy volg haar gedwee.

Die jebels, dink sy en probeer haar opgewondenheid terugvind, dis waarheen ek op pad is. Sy slof aan deur die droë sand, een voet voor die ander.

Sy wens dat sy net ’n bietjie qat gehad het as verkwikking. Sy sou dit vir die kameel gegee het. Sy onthou die eerste dag toe Kamal die groen takkie in haar skoot gegooi het en gesê het sy moet dit kou en eet. Sy het verbaas daarna gestaar, nie bang om te doen wat hy sê nie, maar tog huiwerig oor wat om te verwag. Toe het sy ’n paar blaartjies in haar mond gesteek en gekou. Dit het ’n vreemde smaak gehad. ’n Paar minute later het ’n wonderlike gevoel van genoegdoening deur haar gevloei. Dit was asof die groen sap nuwe krag deur haar liggaam gestuur het. Sy het gevoel of sy berge kon versit en haar probleme was nie meer onoorkomelik nie.

Maar hier is nie qat nie. Hier is niks behalwe sand nie.

Die kameel gaan staan en Isabelle paai en soebat, maar hy weier volstrek om ’n poot te versit. Sy gaan by hom staan en streel oor die harde, harige vel.

“Nog net ’n klein entjie,” sê sy op Arabies. “Kan jy die water dan nog nie ruik nie?”

Die kameel kreun net en maak sy oë toe.

“Asseblief, ons is so naby die wadi …”

Hy kreun net weer. Sy trek aan die leiriem, en dan begin hy weer teësinnig aanstap. Sy het nie meer die krag om hom aan te jaag nie en sy bid net dat hy haar nog ’n klein entjie sal volg.

Toe hulle ’n ent deur die sand geslof het in die duister, wel daar ’n groot angs in Isabelle op. Vir die eerste keer dink sy aan die moontlikheid dat sy alleen hier iewers in die woestyn sal sterf van dors en uitputting en dat niemand haar ooit sal vind nie.

Sy strompel voort en met alles in haar klou sy aan haar herinneringe van Frankryk. Tog is dit die beeld van Xavier Jarad wat telkens tussenin skuif en alle ander gedagtes verdring.

“My sjeikdom sal ook joune wees, al kos dit my laaste asem,” het hy daardie nag in die woestyn op pad na Helu gesê. Dit was egter anders bepaal; die sultan het tussenbeide getree en hulle lewens op ’n ander pad gestuur. As sy by Kamal gebly het, sou sy Jarad weer eendag gesien het, maar sy kon die pyn van verlange en onsekerheid nie meer verduur nie.

Sy struikel en val met haar gesig in die sand. ’n Rukkie lank bly sy so lê en sukkel dan weer orent. Wie weet hoe ver die kranse lê en wie weet hoe ver die dagbreek nog is.

Toe dit oggend word, kyk sy deur halftoe oë op na die kranse. Hulle is nie meer so ver nie, maar sy besef dat sy hulle onmoontlik nog sal kan bereik. Sy het nie eens meer die krag om vir langer as ’n paar treë regop te bly nie.

Met haar gesig in die sand huil sy haar hart uit. Haar laaste bietjie krag vloei uit haar en sy gee die stryd gewonne. Sy het probeer, maar gefaal. Die woestyn was sterker as sy.

’n Uur later begin brand die son genadeloos op haar stil liggaam neer. Hoog in die asuurblou hemel sweef die aasvoëls nader om gereed te maak vir die feesmaal. Isabelle sien ’n beweging in die lugspieëlings: ’n ruiter wat lyk asof hy op water beweeg. Sy sien sy wit mantel in die wind bol.

“Xavier …” fluister sy.

Dis net ’n lugspieëling, maar op hierdie oomblik dat sy weet die einde het vir haar aangebreek, is dit Xavier Jarad wat na haar toe aangery kom. Sy weet dat sy skim haar nooit sal bereik nie, dat haar oë haar net bedrieg, maar dit kon so maklik die werklikheid gewees het, so maklik …

Teen laatmiddag lê sy nog daar in die sand met die kameel langs haar. Die ergste hitte het gewyk en sy is verwonderd om te besef dat sy nie dood is nie. Sy sit regop en kyk om haar heen. Daar is geen teken van lewe nie, maar die klipkranse lyk nie so ver as wat dit die oggend gelyk het nie.

Sy staan stram op en haar liggaam protesteer in pynvlae. Haar tong voel soos leer in haar mond en daar is geen vog oor om dit te verlig nie.

“Nog ’n laaste skof,” sê sy vir die kameel, maar daar kom net krasgeluide uit haar keel. Hy bly lê en brul asof hy met haar wil praat. Sy gooi die tent van hom af en klim op sy rug. Die hoop in haar wil maar nie sterf nie en net die feit dat sy nog leef, is vir haar genoegsame aanduiding dat dit nog nie haar tyd is nie, dat sy nog ’n doel het.

Hulle vorder stadig, maar sy laat die kameel begaan. As daar een is wat in hierdie verskriklike woestyn water sal kry, is dit hy. Hy verander effens van koers, maar dit hinder haar nie. Wat maak dit tog saak? Hierdie is hulle laaste skof na wie weet waar. Sy hang oor die saal en laat hom maar begaan. Daar is niks wat sy meer kan doen om hom of haarself te help nie.

Sy weet nie hoe lank sy so oor die kameel se rug gehang het voordat sy agterkom dat hy tot stilstand gekom het nie. Sy maak haar oë oop, maar al wat sy kan sien, is die hoë rotswande hier naby haar. Die kameel brul ongeduldig, en eindelik kry sy dit reg om af te klim.

In die suisende stilte hoor sy die kameel se asemhaling, maar daar is ’n ander geluid wat haar hart van vreugde laat bokspring.

“Water!” fluister sy en begin soek na waar die geluid vandaan kom.

Sy kruip later handeviervoet onder ’n lae rots deur tot in ’n skeur. Dis pikdonker en sy kan nie eens haar hand voor haar oë sien nie, maar sy kan die water hoor. Dan is die geluid skielik reg voor haar en toe sy haar hand uitsteek, voel sy die koel redding deur haar vingers spoel.

Dan onthou sy wat Kamal gesê het oor te veel water te skielik en dat dit die dood kan veroorsaak. Nee, hier gaan sy nie sterf nie. Net ’n slukkie water moet vir eers genoeg wees. Dan vul sy die twee watersakke en gaan uit na waar die kameel gretig daarop wag. Sy vind ’n holte in ’n rots waarin sy die water kan uitgooi sodat hy kan drink terwyl sy nog gaan haal.

Teen dagbreek is sy moeg, maar haar verskriklike dors is geles. Die grootste probleem nou is kos en daar is niks wat sy kan sien wat geëet kan word nie.

Die kameel begin aanstap en sy volg hom tussen die rotswande deur. Dan kom hulle op ’n klompie verknotte woestynplante af. Die kameel kies vir hom een uit en begin die peule daaraan vreet.

Isabelle aarsel. Dalk is dit giftig vir mense, dink sy, maar sy is so honger dat sy nie lank wik en weeg nie. Sy moet die kans waag.

Sy vul al vier watersakke vir die volgende skof na wie weet waar. Sonder die tent is die kameel se las veel ligter en sy hoop dat hulle ook vinniger sal kan vorder. Haar abaya draai sy om haar kop sodat daar net skrefies vir haar oë is.

Voordat hulle weer die woestyn ingaan, laat sy die kameel behoorlik drink. Dan gord sy die swaard om haar lyf omdat sy nie weet wat om te verwag nie, en eindelik is hulle weer op pad.

Hulle ry die hele nag in ’n suidelike rigting. Met dagbreek die volgende dag is Isabelle nog vol moed, maar dit hou nie lank in die hitte van die dag nie.

Soos wat die nagte en dae mekaar opvolg, word die water sowel as haar kragte minder. Voor hulle strek die woestyn uit, met geen teken van die see nie.

Later klim sy van die kameel af en begin stap. Sy onthou dat sy maar net ’n paar dae tevore amper dood was. Hoe lank sal sy nog kan aanhou in dié hitte? Die stem van selfverwyt klink harder in haar op, maar sy probeer dit ignoreer.

Nog twee dae lank strompel hulle voort, al stadiger soos wat hulle kragte besig in om in te gee. Isabelle praat gedurig met die kameel, deels om haar eie stem te hoor en met sekerheid te weet dat sy nog lewe, en deels om die dier te paai.

“As ons saam uit hierdie verknorsing kom, koop ek jou en mag jy vir die res van jou lewe net lekker eet en slaap.” Hy knor net en slof voort.

Maar soos wat hulle voortgaan, raak haar geselskap al minder en druk die angs haar keel toe. Al wat sy wou doen, was om haar vryheid terug te kry. Nou begin dit lyk asof sy alles gaan verloor hier in die sand van die Rub’al Khali.

Toe die son weer opkom, is Isabelle te uitgeput om verder te loop. Die kameel sleep haar ’n ent teen ’n duin op. Sy sukkel om regop te bly en in die flou lig van die nuwe dag sien sy die wuiwende palmbome, die huisies, die koelte waarna sy so smag.

Dit kan nie ’n lugspieëling wees nie, dink sy, want dis nog te vroeg in die oggend daarvoor. Haar hart slaan ’n slag oor toe sy besef dat hierdie die werklikheid is. Dis ’n oase … sy het dit bereik!

“Dis die laaste skof, Kameel,” sê sy en vryf die dier se nek. “Kyk, ons is amper daar.” Maar haar stem is hees en die woorde amper nie verstaanbaar nie.

Die laaste skof is egter baie verder as wat sy gedink het, maar sy byt vas en druk deur. Toe hulle uiteindelik die oase bereik, is hulle albei uitgeput van die hitte en dehidrasie. Sy volg die kameel omdat sy weet dat hy die naaste water sal vind.

By die waterputte is daar konsternasie toe sy opdaag. Die Arabiere bly staan en kyk verstom na haar. Die abaya is nie meer om haar kop gedraai nie en haar rooiblonde hare hang los om haar skouers. Haar blou oë lyk nog meer opvallend teen haar songebruinde gelaat. Daar is gewillige hande wat water optrek vir die kameel en ook vir haar, maar die wêreld swem om haar en sy sukkel om op haar voete te bly.

Iemand druk ’n beker water in haar hand om te drink. Daar is ’n beroering onder die omstanders toe hulle besef dat die vreemdeling ’n vrou is, maar sy is onbewus daarvan. Al waaraan sy kan dink, is dat sy veilig hier aangekom het en dat sy dit alleen reggekry het.

Sy laat toe dat iemand haar abaya terugsit oor haar gesig en haar weglei na ’n kleihuis nie ver van die putte af nie. Sy weet nie wie dit is wat haar help nie, sy weet net dat die verskrikking verby is. Dan sak sy inmekaar.

’n Meisie kom met ’n kruik water op haar skouer van die putte af terug na die tente onder die dadelpalms. Die kruik is nat soos die water oor die rand gestort het en dit drup teen haar arm af. Sy wissel ’n paar woorde met twee ander meisies voor sy haar na die naaste tent haas. Daar neem sy die kruik na binne.

’n Ou vrou neem dit by haar.

“Is die kos reg?” wil die ou vrou weet.

“Ek skat so.” Die meisie draai om en gaan uit na die vuur om na die kos te kyk.

Die ou vrou skink van die koel water in ’n bakkie en gaan hurk by die grasmat waarop Isabelle lê. Sy drup die water tussen die meisie se gebarste lippe in en glimlag toe dit gesluk word.

Isabelle stry teen die newels wat soos ’n spinnerak oor haar bewussyn span. Die uitputting het sy tol geëis, want dit voel asof sy nog in die woestyn is met die sand om haar. Miskien, dink sy vaag, is dit Jarad wat haar gehelp het, maar hy is nie hier by haar nie.

Sy kom half by uit die newels en sien die meisie oor haar buk.

“Waar is Xavier?” vorm haar lippe die woorde, maar daar kom geen geluid uit nie. “Xavier …”

Die ou vrou kyk fronsend op na die man wat by die tent inkom. “Sy probeer praat.”

“Wat sê sy?” wil hy weet en hurk langs die vrou.

“Ek weet nie.”

Nog koel water drup oor Isabelle se tong.

“Ek is Shahira …” Sy maak haar oë oop. Vreemde gesigte kyk af na haar.

Die man en vrou kyk verskrik na mekaar.

“Ons moet die sjeik hiervan sê,” sê die vrou. “Kyk, die swaard wat sy by haar het, het sy embleem op.”

“Sjeik Khidr hoef nie te weet nie,” sê die man.

“Jy is een van sy rasjids, Yussuf!” roep die vrou uit. “Hy sal jou onthoof as hy uitvind, maar as jy hom vertel, sal hy jou beloon.”

Yussuf snork minagtend. “Hy sal my beloon met ’n klop op die skouer en ’n mooi kompliment. Dis al wat ek sal kry, Alya.”

Hulle beweeg ’n paar treë weg en sit die gesprek dringend voort. Isabelle kan nie hoor wat hulle sê nie, maar hul eerste reaksie was genoeg. Dis tog onmoontlik! Sy kon nie van Aran af tot by die wadi Jekka geloop het nie, en tog … Sy is deur Jarad se grondgebied. Waarom het niemand haar dan opgemerk nie?

“Ek verbied jou om ’n woord te sê, Alya!” hoor sy Yussuf uitroep en draai haar kop na hulle.

“En wat gaan jy doen as ek na sjeik Khidr gaan?”

Daar volg ’n kort, gespanne stilte en dan sê Yussuf: “Ek sal jou terugstuur na Shurma.”

Alya snak na haar asem. “Jy sal dit nie doen nie!” sê sy verskrik. “Jy het my belowe dat jy my nooit weer daarheen sal terugstuur nie!”

“Solank jy my gehoorsaam, mag jy hier woon – ek is immers die mukhtar van hierdie stam. Ek weet wat ek doen, Alya. Shahira bly hier en sjeik Khidr hoef nie daarvan te weet nie!”

Yussuf kom hurk by Isabelle.

“Ons het jou kameel gekry, saïda. Hy sal herstel. Ons sal julle saamneem na Ibb. Ons is op pad na Aden met ’n vrag sy wat ons daar van die hand wil sit.”

Isabelle glimlag deur haar gebarste lippe. Yussuf tel die bakkie water op en drup ’n bietjie in haar mond. Hy herhaal die proses geduldig ’n paar keer voor sy hom kan antwoord.

“Jy is ’n … goeie man, Yussuf …”

“Ek doen wat ek dink reg is, saïda.”

“In Aden … sal ek op ’n skip kan klim en na my vaderland terugkeer.”

Yussuf skud sy kop. “Nee, saïda. U kom saam met ons terug. Ons het u nodig.”

Sy frons liggies en kom half orent. “Nodig? Waarvoor?”

Hy aarsel voordat hy sê: “In hierdie land is die man alles, saïda, en die vrou is niks. Maar jou naam is oral bekend omdat jy sterk is … en omdat jy die woestyn alleen aandurf. Daar is baie dapper mans wat dit nie sal doen nie.”

Isabelle antwoord nie, omdat sy nie die krag het om met hom te stry nie. Sy is nie belangrik nie, sy was nie dapper nie, eintlik was sy besonder dom en onverantwoordelik … en baie gelukkig om lewend uit die Rub’al Khali te kom.

Eers ’n week later pak Yussuf se groep nomades op. Alya bring vir Isabelle haar skoongewaste klere om aan te trek. Daar is ’n stille vyandigheid by Alya, en Isabelle wantrou haar. Wie weet wat die ou vrou sal doen sodra hulle op pad is?

“Hoekom haat jy my, Alya?” vra Isabelle net voor die vrou die tent verlaat.

Alya steek vas. “Ek weet wie jy is. Jy is Shahira, die slavin wat met sjeik Jarad sou trou. Maar jy is nie een van ons nie. Beryl is op die oomblik by die sultan en sy word gereed gemaak vir haar huwelik met sjeik Xavier Jarad. Wanneer hulle weer na Helu gaan, sal Beryl se ouers ook kom. Beryl is nie ’n infidel nie, sy is een van ons, en jy is ’n indringer, Shahira.”

“Hoe goed ken jy sjeik Khidr?” Isabelle voel die spanning in haar oplaai. “En hoe weet jy hoe dit voel om van jou vaderland weggevoer te word na ’n land wat jy nie ken nie en wat jy nooit weer mag verlaat nie?”

Sy gaan voor Alya staan. “Ek verlang na my land en my mense, Alya. My land is groen so ver as die oog kan sien. Daar is wingerde langs die rivier, met groen woude wat dit omsoom. In die lente is die lug swaar met die geur van blomme. Daar is voëls wat sing en die herte hardloop vry in die veld.” Haar oë skiet vol trane. “Hier is net sand en hitte. Dis net die oases wat groen is.”

“Daar is nie so ’n land soos die een wat jy beskryf nie. Ons almal droom van so ’n paradys. Die mans rook hasjisj sodat hulle net vir ’n rukkie lank daar kan wees. Wat het jy gerook dat jy daarvan weet?”

Alya wag nie op ’n antwoord nie, maar draai om en stap vinnig van Isabelle af weg.

’n Gevoel van eensaamheid oorval haar en sy stry teen die oorweldigende verlatenheid. As sy uit Jemen wil kom, moet sy sterk word soos die Bedoeïene. Sy moet kan terugbaklei en nie vir ’n oomblik haar waaksaamheid verslap nie. In die agt maande wat sy in hierdie land is, het sy baie geleer, maar nog nie genoeg nie.

Ongeveer elfuur die aand verlaat hulle die waterputte waar Yussuf sy karavaan laat oorstaan het. Isabelle is bly om haar kameel weer te sien. Hy het haar lewe gered toe hy die water in die berge gekry het en hy het onafskeidbaar deel van haar bestaan geword.

Ibb is ’n groot, florerende dorp. Yussuf laat sy mense buite die mure by die oog van die fontein om hulself te verfris en gaan soek na ’n man wat hy moet spreek.

Isabelle is in die tent besig om haar klere op te vou toe sy bewus raak daarvan dat sy nie meer alleen is nie. Sy verstyf. Dan draai sy stadig om en die bloed dreineer uit haar gesig toe sy die man in die tentopening sien staan.

“Ek groet jou, saïda.” Hy behou ’n eerbiedige afstand.

Isabelle aarsel en staan dan op. Sy gaan na hom en kyk op in sy donker oë. Daar is geen verwyt daarin nie, net verligting dat hy haar eindelik opgespoor het.

“Ek kon nie meer so doelloos rondswerf nie, Kamal,” sê sy sag. “Ek wil ten minste probeer teruggaan na my vaderland.”

“Sjeik Jarad weet dat jy gevlug het. Hy het my opdrag gegee om jou te vind en terug te bring na Helu.”

“Ek kan nie, Kamal, jy weet dit.”

“Die sultan weet dat die dogter van die sjeik van Oman ’n man na jou gestuur het om jou dood te maak.”

Dan was dit Beryl …

“Beryl word gereed gemaak vir haar huwelik met sjeik Jarad, Kamal. Ek wil nie na Helu teruggaan nie.”

“U lewe is nie veilig saam met Yussuf en Alya nie, saïda. Khidr weet dat u in die karavaan is en hy is op pad hierheen om u te kom haal.”

Isabelle draai van hom af weg. Sy probeer naarstig aan ’n oplossing vir die probleem dink. Sy was so seker dat sy na Aden kan gaan en daar ’n skip kan haal. Nou lyk dit asof haar droom nog verder uitgestel gaan word. Sy was so naby daaraan om te ontsnap …

“Alya het my dan tog verraai,” sê sy eindelik hees. “Yussuf gaan woedend wees.”

“Sal u nou saam met my kom, saïda?”

Sy kyk op na hom. “Wat wil sjeik Jarad van my hê? Hoekom los hy my nie uit nie?”

Sy draai van hom af weg, hewig ontsteld. Wil Jarad haar dan terugdwing in slawerny ná alles wat gebeur het?

“Die sjeik is hard en onvoorspelbaar soos die Rub’al Khali, saïda. Hoe sal ons ooit weet wat in sy hart aangaan as hy dit nie vir ons oopmaak nie?”

Hy het sy hart een keer vir my oopgemaak, dink Isabelle, maar dit het nie werklik iets beteken nie.

“Jy kan vir sjeik Jarad sê dat ek in die woestyn gesterf het,” sê sy na ’n lang stilte. “Dan sal hy nie meer na my soek nie.”

“Ek sal doodgemaak word omdat ek in my sending gefaal het, saïda.”

Sy kyk verskrik na hom en knik dan. “Ek sal vannag saam met jou vertrek. Al wat ek vra, is twee weke. Net twee weke waarin ek aan ’n plan kan probeer dink … asseblief.”

Hy knik aarselend. “Dis goed, saïda. Dis ’n redelike versoek.”

Hy glip geruisloos na buite soos hy gekom het. Isabelle se hande bewe toe sy haar besittings in die reissak pak. Daar is nogmaals ’n nuwe pad voor haar geplaas wat sy moet loop.

Toe Yussuf terugkeer, gaan vertel sy hom dat Kamal opgedaag het om haar te kom haal. Tot haar verbasing lyk Yussuf heeltemal ingenome met die gedagte. Hy is selfs bereid om ’n paar van sy weerbare mans saam met haar te stuur, maar sy wil niks daarvan hoor nie.

“Mag dit goed met jou gaan, Shahira,” groet hy en hou albei haar hande in syne vas. “Oor tien dae sal ek terug wees in die wadi Jekka, as jy my dalk sou nodig kry.”

“Dankie, Yussuf. Ek sal dit onthou.”

Dis met ’n effens ligter hart dat sy terugkeer na haar tent om te rus. Sy lê op haar grasmat en wag op ’n teken van Kamal. Vreemd genoeg dink sy vannag weer aan Etienne le Riche. Volgens wat sy van hom gehoor het, is liefde vir hom net ’n speletjie. Dis nie soos met hierdie mense vir wie die liefde so intens en belangrik is omdat dit so kosbaar is nie. Al gaan sy uiteindelik terug na Frankryk of na die Kaap de Goede Hoop, sal sy na ’n man soek wat dieselfde eienskappe het as sjeik Jarad.

Maar so ’n man, weet sy, sal sy nie vind nie. Xavier is geslyp deur die barre woestyn. Sy blougroen oë is helder en tog ondeurdringbaar soos die Arabiese nag. Daar is ’n geheimsinnigheid omtrent hom, ’n magnetisme wat haar onweerstaanbaar na hom aantrek. Sy hele houding is dié van ’n man wie se rykdom nie sy enigste krag en bate is nie, maar ook sy persoonlikheid waarmee hy die mense om hom beheer. Sy blote nabyheid is genoeg om sy rasjids tot die onmoontlike aan te spoor.

Isabelle weet skielik met pynlike sekerheid dat sy nooit in haar hart van hierdie land afskeid sal kan neem nie. As sy weggaan, sal sy wegkwyn van verlange.

Kamal kom geruisloos die tent binne. Alya snork rustig verder toe Isabelle hom na buite volg. Hulle loop tussen die kamele deur tot waar Kamal drie kamele gereed het vir hulle om mee te vertrek.

Net Yussuf sien hulle gaan en lig sy hand swyend in ’n groet.

Hulle ry tussen die tente van die Bedoeïene deur, versigtig om nie aandag te trek nie. Om hulle is die gewone naggeluide. Verderaan maak ’n karavaan gereed vir ’n lang reis deur die nag.

Isabelle haal verlig asem toe hulle verby die laaste tente is en die maanverligte woestyn voor hulle lê. Môre sal sy en Kamal reeds ver weg wees van Ibb. Khidr se manne sal met leë hande na hul meester terugkeer.

Nie een van hulle sien die Arabier wat tussen die lae bosse skuil nie. Hy grynslag toe hy Isabelle en Kamal sien verbyry. Sjeik Khidr sal hom ’n goeie beloning hiervoor gee. Môre sal hulle die meisie gevange neem en die rasjid doodmaak. Laat hulle vannag nog maar dink dat hulle die wraak van Khidr vrygespring het.

Annelize Morgan Omnibus 7

Подняться наверх