Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 7 - Annelize Morgan - Страница 6

3

Оглавление

Salem Khidr se paleisagtige woning lê uitgestrek oor ’n groot gebied, met palmbome oral in die beskutte tuintjies in die binnehowe. Breë stoepe onder oorhangende dakke omsoom die tuintjies, waarin daar koel poele water in klipdammetjies is wat kunstig met kleurvolle mosaïek uitgelê is. Klein vensters met toe luike hou die woestynhitte bedags uit en saans, as dit koeler is, kan ’n mens die woestyngeluide in die byna voelbare stilte hoor.

Dis ’n besige huishouding. Die sjeik stel hoë eise aan sy slawe. Daar is nie ’n tekort aan water nie en dus verwag die sjeik dat almal in sy huis gewas en skoon moet wees soos sy geloof dit vereis.

“Ek sal nooit aan hierdie lewenswyse gewoond kan raak nie,” sê Isabelle een aand aan Jeanne nadat hulle na hul kamer teruggekeer het.

“Hou moed, chérie, ons sal ’n manier vind om hier uit te kom.”

Hulle leer die sjeik ken as ’n wrede en onregverdige man, wat enigeen wat oortree buitensporig straf. Wanneer hulle mark toe gaan, is dit nie ’n ongewone gesig om iemand aan ’n paal vasgebind te sien nie – bloedrooi en flenters gebrand deur die bloedige son. Soms vra die ongelukkige vir ’n bietjie water, maar as jy dit sou waag om gehoor te gee, word jy met ’n sweep bygekom deur Khidr se handlangers.

Dan haas hulle hulle weg van die toneel en bid dat so iets nie met hulle moet gebeur nie, maar daar is geen versekering daarvoor nie. In Salem Khidr se wêreld is jy nooit seker of jy oortree of nie.

’n Maand nadat Isabelle en Jeanne vir die sjeik begin werk het, word Isabelle ander werk in die huis gegee. Sy word na Khidr geneem waar hy in ’n ruim vertrek op ’n paar kussings sit. By hom is nog twee Arabiere. Hy kyk op en wink haar nader.

“Hier is my nuutste aanwins,” sê hy op Arabies aan sy twee vriende sonder dat hy agterkom dat Isabelle hom verstaan. “Xavier Jarad het my duur vir haar laat betaal, maar dit was die moeite werd. Net sodra ek haar mak gemaak het, sal ek haar inlyf in die plesiertjies wat ek haar kan bied.” Sy blik dwaal waarderend oor haar. “’n Mooi ou dingetjie. Dis so jammer dat hulle almal so gou verwelk. Ek het ’n harem vol verwelkte rose om dit te bewys.”

“Gaan jy met haar trou, Khidr?” vra die een Arabier.

Die sjeik lag. Hy vryf sy ronde maag selfvoldaan.

“Dis nie die moeite werd nie, Ibrahim. Die ou goedjies raak te gou verlep.”

In Ibrahim se oë flikker ’n duiwelse laggie. “Dis omdat jy so hard op vroue is, Khidr. As jy hulle sagkens behandel, hou hulle langer.”

Khidr se blik dwaal terug na Isabelle, wat hom vol veragting en haat aanstaar.

“Ek sal altyd weer vroue in die hande kry,” sê hy mymerend. “’n Mens kry nie die beste uit hulle as jy sagkens met hulle werk nie. Binnekort sal ek haar na my kamers neem.”

Isabelle verroer nie ’n ooglid nie.

Die sjeik wink sy tolk nader. “Sê vir die meisie dat sy in die vervolg my persoonlike slavin sal wees. Sy sal hier wees wanneer my vriende kom kuier en sy sal dadelik kom as ek haar roep.”

Dis nie goeie nuus vir Isabelle nie. Sy sou verkies het om liewers in die harem saam met Jeanne te werk. Sy verafsku die sjeik se vet gesig, die swaar sakke onder sy oë, sy growwe vel en die sweetreuk wat gedurig aan hom kleef. Hy is vir haar ’n afstootlike ou man, veral as hy winde opbreek nadat hy klaar geëet het.

Khidr beduie aan haar dat sy haar plek half skuins agter hom moet inneem sodat sy byderhand sal wees indien hy haar nodig kry.

Isabelle gaan met ’n swaar hart sit, haar bene onder haar ingevou soos sy geleer is om te doen. Afgetrokke luister sy na die gesprek, totdat Ibrahim die naam van Xavier Jarad noem. Sy kyk belangstellend op.

“Khidr,” sê Ibrahim, “jy het glo slegte nuus ontvang die dag toe jy hier aangekom het. Wanneer gaan jy die geskil tussen jou en Xavier Jarad dan eendag bylê?”

“Jarad sal my nie onderkry nie. Ek sal nie rus voordat ek al sy grondgebied ingepalm het nie.”

“Die sultan sal dit nie toelaat nie,” sê die ander man. “Hy weet van jou en Jarad se vete.”

“Die sultan kan niks aan die rusie doen nie,” antwoord Khidr rustig. “Dit staan my vry om Jarad se grondgebied te vat, mits ek dit ook kan bestuur. En ek kan … of wil jy my bekwaamheid in twyfel trek?”

“Jarad het teruggevat wat jy van hom gevat het. Laat dit nou daar,” paai Ibrahim.

“Jy praat soos ’n bang vrou, Ibrahim,” antwoord Khidr dreigend.

“En jy onderskat Jarad se mag, my vriend.”

“Xavier Jarad kan niks doen om my te stuit nie. Toe ek in Qa’taba was, het hy my aan die hakskeen gebyt soos ’n lafhartige hond. Ek sal hom daarvoor laat boet.”

Ibrahim skud sy kop. “Jarad is nie ’n man wat gou kwaad word nie, maar jy tart hom uit. Dit gaan nog op ’n konfrontasie uitloop. Is jy reg vir ’n oorlog met hom?”

Salem Khidr sê niks. Hy staar net na die mabkhara voor hom waarin wierook brand wat ’n soet, swaar geur deur die vertrek stuur. Yl rook borrel deur die fyn gaatjies in die filigraan waarmee die geelkoperinstrument versier is. Dit het gewoonlik ’n kalmerende uitwerking op die ou man, maar vandag kan niks blykbaar sy wraaklus demp nie.

“Ek het gesweer dat ek Xavier Jarad sal vernietig. Leila was die dogter van die sultan, ’n prinses, en sy was myne! Hy het haar afgerokkel … en toe het sy op pad na sy huis gesterf. Jarad mag nie bly leef nie. Hy moet sterf omdat Leila gesterf het.” Sy dik kenne dril van woede en verontwaardiging.

“Die sultan –”

“Jy weet niks!” brul Khidr. “Sy het aan my behoort en nou is sy dood!”

Ibrahim waag dit nie om iets verder te sê nie. Sy maat is ook doodstil. Spoedig neem hulle afskeid van Khidr, asof hulle haastig is om van die huis af weg te kom. Hulle laat egter nie na om ’n tiental male voor Khidr te buig toe hulle hom groet nie.

’n Week lank bly Khidr in afsondering. Gedurende daardie week hoor Isabelle-hulle elke dag beangste gille vanuit die selle onder die huis kom. Al haar vrae oor wat aan die gang is, val op dowe ore. Niemand wil daaroor praat nie.

Teen die derde dag kan Isabelle dit nie meer hou nie.

“Wat gaan daar onder aan?” vra sy een van die slavinne wat sy kon vaskeer.

Die meisie se blik flits heen en weer asof sy bang is dat iemand haar sal hoor as sy praat.

“Dis mense wat deur die sjeik gemartel word,” fluister sy haastig en probeer wegkom, maar Isabelle se greep op haar arm verstewig.

“Hoekom?”

Die slavin sluk swaar. “Achmed het … het gesê dat sjeik Jarad ’n beter meester is as sjeik Khidr.”

Isabelle laat haar los en sy hardloop in die gang af en verdwyn om ’n hoek.

Toe Isabelle dit vir Jeanne vertel, is dié se antwoord genoeg om haar nog verder die skrik op die lyf te jaag.

“Jy mag die sjeik niks weier nie, Isabelle. Dis nie Frankryk hierdie waar jy met ’n man se gevoelens kan speel nie. As jy hom kwaad maak, kan hy jou dalk vermink of vir die aasvoëls gooi. Ons hoor elke dag hoe iemand in die selle gemartel word, en wie weet of hy enigiets verkeerd gedoen het.”

“Hy is ’n monster!” Isabelle spits haar ore, maar sy hoor nie meer die man in die selle skreeu nie. “Jy moet versigtig wees, my vriendin. Al is dit hoe walglik, laat hom begaan en wag jou kans af.”

“Watter kans, Jeanne?” vra Isabelle mismoedig. “Kyk om jou! Daar is nie ’n manier dat ons hiervandaan kan wegvlug nie. Ons sal in die woestyn doodgaan sonder water. Hier het ons ten minste kos.”

Jeanne haal haar skouers op. “Ek maak my nie daarvoor klaar dat ek hier gaan bly nie. Jy kan hier sit en vergaan, maar nie ek nie. Hierdie sjeik is ’n vark.”

“Daar stem ek met jou saam.”

Uiteindelik het die angsgille onder in die selle stil geraak, maar hulle is te bang om te probeer uitvind of die stomme man nog leef. As hulle lank genoeg wag, sal hulle sien wanneer die rasjids hom uitsleep en dan sal hulle vir seker weet …

Maar dis beter om nie te weet nie en jou oog op jou eie lewe te hou.

“Kyk daar!” roep Jeanne skielik uit en Isabelle draai om om te kyk.

’n Groep ruiters kom oor die songebakte ghor aangery. Die vlaktes tussen die kranse is gewoonlik bedags stil, met geen beweging daarop nie. ’n Ligte wind dwarrel die stoffies onder die perde se hoewe uit en laat die ruiters se spierwit galabiyehs om hulle in die lug uitbol. Hulle nader die huis vinnig en spoedig kan Isabelle die geklap van perdehoewe op die harde grond hoor.

Sy en Jeanne hardloop kaalvoet met die lang stoep af en gaan staan verskuil om ’n hoek om te sien wie dit is. Hulle mag kyk solank hulle nie gesien word nie.

Die ruiters kom die binnehof ingery met ’n geklingel van stiebeuels. Isabelle herken die leier van die groep met ’n skok.

“Dis sjeik Xavier Jarad!” sê sy op ’n fluistertoon aan Jeanne, wat haar nuuskierig aankyk.

“Van waar ken jy hom?”

“Hy het ingekom en op my gebie – hy wou Salem Khidr net tart. Die twee haat mekaar. Ek wonder waarom hy hierheen gekom het.”

Hulle staar na die groepie ruiters. Verderaan sien hulle hoe die dooie man uit die selle weggesleep word.

“Hy het dit nie gemaak nie, stomme man,” fluister Isabelle hees.

“Ons moet bid dat ons nie ook in die selle beland nie,” fluister Jeanne terug. “Min kom lewend daar uit.”

Hulle kyk terug na die toneel voor die huis. Jarad staan by sy perd en wag dat sy manne moet afklim, voordat hy na die versierde ingang loop. Om sy hoofbedekking is ’n dubbele koord van goud en om sy hals is ’n goue ketting waaraan ’n ronde skyf hang. Isabelle kan ook goue bande om sy gewrigte sien blink.

Toe Jarad die huis binnegaan, glip Jeanne en Isabelle weg na hul kwartiere. Salem Khidr sal Isabelle dalk laat roep en sy mag nie gesoek word nie.

Hulle is skaars terug in die slawekwartiere toe Isabelle ontbied word. Haar hart klop in haar keel toe sy die rasjid na Khidr se kamers volg.

Sy loop geruisloos op kaal voete oor die dik Arabiese tapyte en steek vas in die deur van die vertrek waar die vyf mans en Khidr sit. ’n Silwerhouer met wierook word aan haar oorhandig en Khidr beduie dat sy dit in die mabkhara moet aansteek.

Sy huiwer, maar gaan dan nader en hurk by die wierookbrander. Sy maak dit oop en plaas die wierook in die holte, steek dit brand en wag tot die rook deur die openinge sypel voordat sy terugstaan.

Toe sy opkyk, kyk sy vas in die oë van Jarad. Sy skrik en haar hand gaan intuïtief na haar jasmag wat haar gesig bedek. Sy kyk weg en hoop dat Khidr nie die wisseling van blikke gesien het nie.

Khidr is gelukkig salig onbewus daarvan, want hy is besig om sy wynbeker vol te skink uit ’n goudbeslaande kruik.

“Wat kom maak jy hier, Jarad?” wil hy eindelik weet, sy swart ogies net splete in sy vet gesig.

“Jou manne is die hele week al by my waterputte en hulle verdryf my kamele.”

“Ek weet niks daarvan af nie,” hou Khidr hom onskuldig.

“Ek ken jou manne op hulle name, Khidr.” Jarad se oë is koud soos stukkies glas. “Ek ken elkeen van hulle asof hulle vir my gewerk het. Vat hulle weg by my waterputte as jy nie oorlog wil hê nie.”

Daar is ’n gelaaide stilte tussen die twee. Isabelle hou haar blik neergeslaan, maar sy luister na elke woord wat hulle praat. Soos wat sy vir Khidr leer ken het, is hy nie iemand wat sal terugstaan nie.

“As jy hulle nie daar wil hê nie, kan jy hulle self verwyder.” Khidr frons ontevrede. “Die putte behoort nie aan jou nie! Dis die eiendom van die woestyn.”

Jarad leun oor na hom. “Miskien moet jy dit ook onthou.”

Hulle gluur mekaar aan en die ou sjeik is die eerste om bes te gee.

“Jy is nie een van ons nie, Jarad! Hier is niks in hierdie land wat aan jou behoort nie.”

Jarad antwoord nie en die koue wyk nie uit sy oë nie.

“Gaan na waar die nasrani’s is,” sis Khidr. “Dis waar jy hoort.”

“Ek is hier gebore en hier sal ek bly.” Jarad kyk stip na sy teenstander. “Wat het van my twee manne geword wat ’n maand gelede hierheen gekom het? Hulle het ’n boodskap vir jou gebring.”

“Ek het hulle nie gesien nie,” antwoord Khidr vinnig.

“Ek sien hulle perde op jou werf.”

Khidr glimlag smalend. “Beskuldig jy my van iets?”

“As ek uitvind dat jy iets aan hulle gedoen het,” sê Jarad, “sal jy jammer wees dat jy leef. Ek sal jou vir die aasvoëls voer.”

Khidr probeer ongeërg voorkom. “As hulle hier aangekom het, sou ek dit geweet het.”

Jarad swyg, maar Isabelle kan aan die flikkering in sy oë sien dat hy die ou man nie glo nie. Dan sit hy terug, maar hy eet nie wat voor hom neergesit word nie.

Sy swye maak Khidr nog meer senuweeagtig en hy eet en drink al vinniger sodat die wyn by die hoeke van sy mond afloop. Nog sê Jarad niks. Eindelik staan die jong sjeik op en stap sonder ’n woord uit die vertrek.

Toe Isabelle toegelaat word om terug te keer na die slawekwartiere, wag Jeanne haar op die koel stoep in.

“Wat het gebeur?” wil sy weet.

Isabelle voel nog die skrik in haar lyf. “Hulle haat mekaar. Ons gaan daardie twee nog sien oorlog maak!”

“Oorlog?”

“Sjjt!”

Daar is skielik ’n beweging onder die stoep en ’n man stap uit die skaduwees uit. Hy huiwer vir ’n oomblik voordat hy onverwags omdraai en opkyk na die twee meisies. Hulle word heeltemal onkant betrap en glip nie vinnig genoeg in die inkswart skaduwees in nie.

“’n Vrou is nie gemaak vir oorlogpraatjies nie, Mademoiselle,” sê Jarad op perfekte Frans. “Wat gesê word, bly dikwels net woorde.”

Toe die twee vriendinne hom sprakeloos aanstaar, lag hy net sag en stap weg. Jeanne is eerste by die stoepreling, maar Jarad het reeds in die oorkantste gebou in verdwyn.

“Kan jy nou meer!”

“Hy praat Frans,” sê Isabelle uit die veld geslaan. “Waar sou hy dit geleer het?”

Jeanne lag. “Wat maak dit saak? Hy het hom verwerdig om met ons te praat, en dit beteken dat ons iemand buite hierdie mure het wat ons sal kan help.”

“Jy is heeltemal gek!”

Isabelle gaan terug na haar kamer, gevolg deur Jeanne. Jarad stel nie belang in ons pleidooie nie, dink sy vies. Sy wêreld bestaan uit die vete tussen hom en Khidr.

Die aand is nog jonk. In die harem maak die vroue gereed vir hulle nagtelike kuier. Iewers in die gebou is die mans vergader en hulle gelag kan ver deur die gange gehoor word. Dit maak nie saak hoe fyn Isabelle luister nie, sy kan Jarad se stem nie tussen die ander hoor nie.

Die hitte van die dag het gewyk en sy gaan uit na buite om die aandlug te geniet. Dis nog ’n gebruik waaraan sy moeilik gewoond geraak het: hier slaap die mense bedags en snags kom hulle bymekaar om te kuier. Eers in die vroeë oggendure bedaar die geselsery en soek elkeen sy bed op.

’n Maanblom laat sy soet geur deur die tuintjie draal. Daar is niemand anders in die tuin nie en sy dwaal van lantern tot lantern en dink aan Frankryk en die man met wie sy sou gaan trou het in die Kaap de Goede Hoop. Hoe anders het haar pad nie geloop as wat haar vader beplan het nie …

Sy het pas teruggekeer na die skaduwees van die koel stoep toe sy haastige voetstappe hoor nader kom. Met ’n skok herken sy Jarad waar hy oor die binneplein reguit in haar rigting aangestap kom. Wat maak hy hier in die vrouekwartiere? wonder sy en hou haar verskuil in die skaduwees.

Hy stap reg by haar verby, maar steek ’n tree verder vas. Dan kyk hy om.

“Hierdie gedeelte van die tuin is nie vir vroue bedoel nie, Mademoiselle.”

Sy skrik. “Ek het nie besef dat ek so ver afgedwaal het nie.”

Hy kyk om hulle rond en dan terug na haar. “Dis nie veilig vir ’n Europese meisie om hier alleen in die nag rond te loop nie. Vra u vriendin om u te vergesel wanneer u tuin toe kom. In hierdie huis is mense wat ander nie respekteer nie … veral nie vroue nie.”

“Merci, Monsieur.”

Hy glimlag vlugtig. Dan knik hy net en stap verder.

Isabelle keer haastig terug na die ander deel van die tuin. Sy is nog op die stoep op pad na die deur toe Jeanne haar verskyning maak.

“Ek het na jou gesoek!” Sy kom nader en trek Isabelle by die deur in. “Ek het vanaand iets interessants oor Jarad uitgevind. Sy pa was ’n belangrike sjeik, maar niemand weet wie sy ma was nie. Ek sou raai dat sy ’n Europeër was, te oordeel na sy ligte kleur oë. Al wat hulle weet, is dat sy baie mooi was.”

“Jeanne, wat maak dit tog saak?”

“Luister verder: met die sjeik se dood het Jarad die sjeikdom geërf omdat hy die enigste seun was. Khidr haat Jarad daaroor, want hy wou die sjeikdom vir homself gehad het, daarom maak hy die wêreld baie moeilik vir Jarad.”

Isabelle knik. “Hulle het daaroor gepraat toe ek vanmiddag by was. Khidr se rasjids keer dat Jarad se kamele by die waterputte kom, en Jarad was baie kwaad daaroor. Hy het Khidr met oorlog gedreig as die dispuut nie opgelos word nie.”

Jeanne klap ’n muskiet teen haar arm dood.

“Mans dink mos dis al manier om ’n probleem op te los – die een wat die hardste kan slaan, hy wen.”

“En wie was Leila?” vra Isabelle.

“O, sy was die dogter van ’n baie magtige man, ’n prins eintlik, en Jarad sou met haar trou.” Musiek uit die harem dryf deur die soel nag en vul die huis met ’n vrolike klank. Isabelle kan nie verstaan hoedat die mense in hierdie godverlate wêreld so vrolik kan wees nie. Sy raak somtyds so depressief dat sy daarvan wil verstik.

“Ek wonder wanneer hy gaan vertrek,” sê sy, meer tot haarself as tot Jeanne.

“Wie, Jarad? Ek verstaan hy bly môre oor. Ná so ’n nag van fuif en kuier, slaap hulle mos eers hulle roes af.”

Isabelle kyk skerp na haar. “Dit lyk my jy is besig om so saggies en gerieflik by hierdie soort lewe in te pas.”

Jeanne haal haar skouers op. “Dis maar hoe ek is. Ek pas maklik aan, en sodra ek inpas, kan ek my planne begin uitwerk.”

Isabelle sê liewer niks. Hier gaan geen plan hulle ver bring nie. Soms is haar verlange na haar vaderland en die lewe wat sy geken het allesoorheersend. Al wat sy kan doen, is om te bly bid dat daar iewers hoop vir haar sal wees.

Die klomp mans sit-lê reeds om die lae tafels toe sy vroegaand by Khidr se kamers instap. Sy kyk nie na een van hulle nie, maar begin om die wierook aan te steek en die lampe se vlammetjies kleiner te draai sodat die vertrek in sagte lig gehul is.

Jarad is ook daar, maar sy vermy dit veral om direk na hom te kyk. Sy skink die wyn en ontduik die gaste se voelende hande sover moontlik en bid dat sy dit nog hierdie aand ook sal kan verduur.

Khidr is nie beïndruk met haar swygsaamheid nie. “Dans vir ons!” beveel hy.

Dans … Sy ken nie hierdie wulpse, uitlokkende danse waarvan hulle hou nie, dink sy paniekerig, maar daar is geen wegkomkans nie, want die musikante is reeds besig om te speel. Sy onthou ’n paar passies wat Jeanne haar op ’n speelse manier geleer het en halfhartig begin sy op maat van die musiek beweeg.

Khidr vervies hom. “Dans, magtie, dans!”

Sy probeer, maar dis asof haar ledemate nie wil saamspeel nie.

“Stop!” skreeu hy ergerlik en beduie aan sy rasjids dat hy dansers verlang.

Isabelle verlaat dankbaar die vloer en soek die skaduwees agter die pilare op. Vandaar staan sy en kyk na die danseresse wat uitlokkend en tergend dans en dit ooglopend geniet.

Dit sal ek ook moet leer, dink sy en sluk swaar. Dit wat daardie meisies doen, is dalk wat ek nog vir baie lank sal moet doen.

Jarad is oënskynlik onbewus van haar en sy is dankbaar dat hy haar ignoreer. Sy het nie meer probleme nodig as wat sy reeds het nie.

Daar is ’n oomblik lank stilte en dan sê Jarad: “Ek wil vrede tussen ons sjeikdomme hê. Ek het hierheen gekom om vrede tussen ons te bewerkstellig, maar dit wil lyk asof ek my tyd kom mors het.”

“Ek is net so min lus vir oorlog as jy, Jarad, maar dalk is oorlog die enigste manier hoe ek Leila se dood kan wreek.” Khidr se klein swart ogies glinster boosaardig.

Jarad skud sy kop stadig. “Sy was niks van jou nie. Hoekom wil jy haar dood wreek? Ek het niks daarmee te doen gehad nie. Jy weet ek sou haar nooit enige leed aangedoen het nie.”

“Maar sy is in jou karavaan doodgemaak,” sis Khidr.

“Nie deur enige van my volgelinge nie,” antwoord Jarad snydend. “Dit was iemand van buite wat dit gedoen het … iemand wat dalk betaal is om dit te doen.”

Khidr beteuel ooglopend sy humeur met moeite. Hy dwing ’n glimlag uit en dan tel hy ’n bord met heuningkoeke op en bied dit vir sy gas aan.

“Ons kan hierdie probleem oplos,” sê hy. “Gee my wat my toekom, en ek sal my rasjids terugroep.”

“Helu behoort nie aan jou nie. Dis my huis en dis waar ek bly.”

Khidr knik glimlaggend, maar sy oë is koud soos dié van ’n slang.

“Helu behoort aan die woestyn en aan die mense van hierdie land. Jy is ’n infidel, Jarad. Moet dit nie vergeet nie, want die woestyn sal dit ook nie vergeet nie.”

Jarad staan op. “Ons sal nie verder kom met hierdie gesprek nie, Salem. Maar voordat jy oorlog teen my maak, moet jy eers goed nadink. Jy gaan hierdie hele gebied in ’n bloedige geveg dompel en dít oor iets wat lank terug gebeur het, iets waarvoor ek nie verantwoordelik was nie.”

Khidr leun terug teen die kussings. “Jy is nie so onskuldig as wat jy wil voorgee nie. Al waarvoor ek leef, is dat jy uit Jemen padgee … weg uit my lewe!”

Jarad staan vir ’n oomblik doodstil asof hy dink aan iets om te sê, maar dan maak hy net ’n vinnige, stywe buiging en verlaat die vertrek saam met sy wagte.

Daar is haat in Khidr se oë toe hy hom agternakyk. “Ons paaie gaan binnekort op die sandvlaktes van die woestyn kruis, infidel! En hierdie keer sal ek nie weer ’n fout maak nie,” skree hy.

“Hou julle gereed,” praat Khidr met die mans om hom. Hulle is almal lojaal teenoor hom. “Hierdie saak gaan binnekort eens en vir altyd besleg word.”

“Wat gaan die rede wees waarom u aanval?” vra die man aan sy sy. “Ons het Leila reeds vermoor en daar is nie nog een nie. Hy het nie vrou of kind nie.”

Khidr neem ’n paar slukke wyn. “As ek hom toegelaat het om met daardie vroumens te trou, het ek geen kans gehad om sy sjeikdom in die hande te kry nie. Ek wil nie net Salem Khidr, sjeik van hierdie gebied, wees nie. Ek wil sjeik Salem Khidr die Magtige wees, die onoorwinlike. Dán sal ek sultan kan word.” Hy sug diep. “Maar ek het ’n rede nodig om hom aan te val, een wat hom sal laat terugveg – en ek het nie een nie.”

Die man aan Khidr se sy kyk na Isabelle en sy slaan haar blik vinnig neer.

“Ek het gesien hoe hy na jou slavin kyk. Dalk vra hy haar as geskenk.”

Khidr lag uit sy maag. “Natuurlik, my vriend! Ek sal haar saam met hom laat gaan, maar nie as ’n geskenk nie – as iets wat hy van my gesteel het. Wanneer hulle môre by die wadi uitry, sal my rasjids hulle voorlê en verras en haar as verskoning gebruik om ’n oorlog te begin. Daar is twee paaie uit die wadi – die een is deur die poort en die ander is oor die kranse. Niemand sal so kranksinnig wees om teen die kranse uit te klim nie. My slavin sal binne ’n paar uur terug wees, en ek sal vir altyd van Jarad ontslae wees.”

“En wat word dan van haar?” wil een weet. Khidr haal sy skouers op. “Wat maak dit saak? Ek sal my doel bereik het. Kom, ons het baie om te beplan.” Hy kyk om na Isabelle. “Sy kan gaan.”

Die tolk vertaal die sjeik se woorde ongeduldig aan Isabelle en sy maak haar vinnig uit die voete.

Buite die deur bly sy ’n oomblik staan. Niemand vergesel haar na haar slaapplek nie omdat sy die pad goed genoeg ken. Kan sy alles glo wat sy gehoor het? Sy moet Xavier Jarad vind en hom waarsku, maar as sy betrap word, sal sy in baie groot moeilikheid wees.

Geruisloos loop sy in die gang af op die dik matte. Al langs die mure op die vloer is daar brandende kerse om haar pad te verlig. Hulle flikker wanneer sy verby beweeg en gooi groot, verwronge skaduwees teen die growwe mure.

Iewers hier moet Jarad se kamer wees. Sy weet nie presies waar hy is nie, en as sy by die verkeerde deuropening instap, sal sy nog vóór Jarad kos vir die aasvoëls wees. Die gordyne voor die deuropeninge maak haar soektog ietwat makliker, want sy hoef dit net op ’n skrefie geruisloos oop te trek om te bepaal of dit die regte vertrek is.

Haar hart klop vinnig en vrees druk haar keel toe. Telkens kyk sy om om te sien of sy agtervolg word, maar die gang is leeg, net die gordyne waai liggies in die koel bries oor die gladde klipvloer. Sy kan gedempte stemme hoor, maar dis moeilik om te bepaal waarvandaan dit kom.

Sy wonder skielik waarom sy dit doen, want sy ken die man nie. Hy het tot nou toe maar net ’n paar woorde met haar gepraat. Maar sy weet dat sy haarself nooit sal vergewe as sy hom nie ten minste probeer waarsku nie. Net die feit dat hy vandag met haar gepraat het in haar moedertaal, beteken vir haar baie. Dit voel amper asof hy haar goedgesind kan wees, en in haar situasie het sy elke vriend nodig.

Plotseling sluit twee hande van agter in ’n staalgreep om haar arms. Isabelle gaan botstil staan. Die bloed suis in haar ore en haar liggaam is lam van skok. Wat sy gevrees het, het gebeur. Daar is nou nie meer ’n moontlikheid dat sy Xavier Jarad sal kan waarsku nie.

Stadig kyk sy om, vas in die woedende oë van Khidr se rasjid. Geen verduideliking sal haar lewend hieruit kry nie.

Annelize Morgan Omnibus 7

Подняться наверх