Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 7 - Annelize Morgan - Страница 7

4

Оглавление

Isabelle word hardhandig gesleepdra na Khidr se kamers, waar hy en sy vriende steeds die aanslag op Jarad se lewe sit en bespreek. Sy baklei met hand en tand om haar uit die man se greep te bevry, maar sy vingers is soos staalklampe om haar arms.

Khidr kyk gesteurd op toe hulle inkom. “Wat is dit nou?” wil hy weet.

“Ek het haar in die slaapkwartiere van die mans gekry.”

Die rasjid stoot Isabelle vorentoe. Sy bewe van woede en verydeling eerder as vrees. Sy weet dat Khidr haar met een woord kan laat onthoof.

“Nou toe nou!” sê hy plesierig. “Wie het nou kon dink dat ek so gelukkig sal wees om ’n warmbloedige katjie op die koop toe te kry? Miskien moet ons haar ’n bietjie afkoel, of hoe?”

Op sy bevel gryp twee rasjids Isabelle en sleep haar na buite. Agter hulle volg die sjeik en sy vriende laggend en vol aanmerkings. Haar hart begin klop benoud in haar keel. Sy weet nie wat hulle beplan nie, maar dit kan niks goeds wees nie.

In die binnehof van die manskwartiere is ’n vierkantige mosaïekgeteëlde dammetjie vol water. Dis ’n mooi binnehof, met plante wat welig in die beskutting groei, eeue oue klippaadjies, interessante lanterntjies in die bome en ’n pragtige hok vol eksotiese voëls.

Sy word na die bad gesleep en daar word haar klere sonder seremonie van haar afgestroop. Sy probeer verskrik haar liggaam bedek, tot groot vermaak van die Arabiere. Khidr staan in die inkswart skaduwees op die stoep en kyk wat sy manne doen. Hy gaan haar nie te hulp snel nie, maak nie saak hoe hard sy gil nie, besef sy.

Bo haar kop grynslag die rasjid wat haar betrap het en stamp haar dat sy met ’n gil agteroor in die water val. Sy snak na asem toe haar kop deur die watervlak breek, maar die rasjids is by en druk haar weer onder die water. Paniekbevange spartel sy om uit hulle greep te kom. Die water borrel in haar neus en in haar ore op, dan is dit stil om haar en kan sy hulle gelag net veraf hoor. Haar longe voel of dit wil bars en toe hulle haar eindelik uit die water trek, verstik sy snakkend.

Telkens laat hulle haar toe om vir ’n oomblik asem te skep en dan druk hulle haar weer onder.

Daar veg sy om asem en teen die duiseligheid wat haar wil oorval. Miskien besef hulle nie dat sy besig is om te verdrink nie, dink sy paniekerig en krap en byt na die arms wat haar onder die water hou. Sy sluk monde vol water en deur haar angs kan sy die Arabiere bulderend hoor lag.

Sy word weer uit die water gepluk net voordat die duiseligheid haar in ’n swart sluier toevou. Hygend kom sy orent, haar liggaam rukkend van skok. Een van die rasjids vee die bloed van sy arm af waar sy hom met al haar mag gebyt het.

“Tierwyfie!” lag hy hard.

“Druk haar weer onder!” skreeu ’n ander. “Wys vir haar hoe verdrink ons ’n vrou wat byt!”

Hulle skater dit uit van die lag, maar dompel haar nie weer onder nie. Sy bly bewend van skok teen die klipwand van die dammetjie sit terwyl haar tande onbeheers opmekaar klapper. Water loop uit haar neus en mond. Die rasjids staan nog om haar en lag en grappe maak, en op die stoep staan Khidr uitdrukkingloos na hulle en kyk, asof hy geen erg het aan wat die mans met haar aanvang nie.

Op die boonste balkon kan sy ’n donker figuur in wit uitmaak en pyn en vernedering spoel deur haar. Dis Jarad – die man wat sy wou gaan waarsku en die rede waarom sy hier sonder klere tussen die jillende mans sit.

Hulle pluk haar weer orent en sy moet vinnig haar asem intrek voordat sy onder die water gedruk word. Sy wens dat sy moet sterf. Sy wens die dood wil haar hier onder die water kom haal sodat sy nie weer moet opkom en weet dat hy alles gesien het nie. Die verskriklike vernedering is te veel vir haar.

Haar kop word weer uit die water gelig. Die wêreld draai om haar en daar is ’n brandpyn in haar bors. Die duisternis spoel in golwe oor haar brein, maar sy verloor nie haar bewussyn nie. Op hierdie oomblik dink sy aan niks, want sy veg om haar asem terug te kry en om te bly leef. Niemand sien die trane wat oor haar wange loop en met die damwater meng nie.

Khidr knik tevrede. “Haal haar uit.”

Hulle sleep haar uit die bad en laat haar op die klipplaveisel lê. ’n Rasjid kom haastig uit die huis en drafstap na Khidr.

“Sjeik Xavier Jarad is gereed om te vertrek.” Khidr stap vinnig weg.

Isabelle herwin haar bewussyn baie stadig. Water loop nog uit haar mond waar sy op haar maag langs die dammetjie lê. Sy hoes water uit en sukkel om van die newels oor haar verstand ontslae te raak. Dis oral stil om haar. Die Arabiere is weg, maar sy weet dat hulle haar nie sommerso alleen sal laat nie. Hulle sal wag tot sy weer op die been is en dan sal hulle haar hier wegneem en verder straf. Sy weet nie hoeveel waarde Khidr aan haar lewe heg nie; miskien sal dit hom nie eens skeel of sy doodgemaak word vir haar onvergeeflike oortreding nie.

Sy weet nie hoe lank sy daar gelê het nie voordat sy voetstappe hoor nader kom. Sy staal haar teen ’n nuwe aanslag, maar ’n kleed word oor haar gegooi en vir dié klein bedagsaamheid is sy innig dankbaar. Sy trek dit om haar skouers saam. Dan kyk sy bang om om te sien wie by haar is.

Hy dra dieselfde goue agal om sy hooftooisel waarmee hy gekom het. In die plek van die lang kleed dra hy ’n wye broek wat om die enkels vasmaak. Sy wit mantel ontbreek en Isabelle weet dat dit Jarad se mantel is wat sy om haar skouers vashou.

Sy neem sy hand toe hy dit na haar uitsteek en hy trek haar orent.

“Sodra jy aangetrek is, sal ons vertrek,” sê hy sag.

“Waarheen?”

“Na my huis.”

Sy word toegelaat om alleen te wees terwyl sy aantrek. Dis nie dieselfde uitlokkende klere wat sy tot dusver moes dra nie, en die donkerblou pofbroek is vir haar ’n welkome afwisseling van die deursigtige goed van vroeër. Bo-oor dra sy ’n langmoujurk van dieselfde materiaal, wat met ’n koord om die middel vasgemaak word. Die moue is wyd en gerieflik.

Eindelik is sy gereed en sy gaan na buite. Xavier Jarad knik goedkeurend en neem sy mantel by haar. Hy maak dit om sy skouers vas. Plek-plek is dit klam, maar dit lyk nie asof dit hom hinder nie.

“Monsieur, ek moet u waarsku. As u my met u saamneem, sal sjeik Khidr u aanval.”

Hy kyk ondersoekend na haar. “As hy dit doen, is daar oorlog.”

“Dis wat hy wil hê.”

Hy antwoord nie, maar staan vir ’n oomblik diep en nadink. Dan draai hy op sy hakke om en stap sonder ’n verdere woord weg na die perde wat reeds opgesaal is.

Sy volg hom onseker. Dan kyk sy terug na die huis waar die lig nog in die vensters skyn en sy wonder waar Jeanne is. Sy is nie eens die geleentheid gegun om die meisie te groet met wie sy so ’n moeilike en lang pad saamgekom het nie. Enigeen van die silhoeëtte in die vensters kan Jeanne wees.

Khidr staan op die stoep omring deur sy vriende toe Jarad met Isabelle daar opdaag. In die donker kan sy nie sy uitdrukking sien nie, maar sy weet dat daar net bose gedagtes in sy kop kan wees.

Sy draai die abaya om haar kop en oor haar neus en mond soos ’n sluier. Dit sal die stof uit haar gesig hou wanneer hulle deur die poeierdroë woestyn ry. Sy kyk op na Khidr en hul oë ontmoet. Sy merk die duiwelse laggie om sy mondhoeke en byt op haar tande. Sy selfvoldaanheid maak haar siek, maar sy swyg, want iewers in die woestyn sal sy die geleentheid kry om met Jarad te praat. Dalk sal hy dan luister.

“Ek sal weer kom, Salem Khidr!” roep Xavier waar hy by sy perd staan. “Insj’ Allah!”

“Jy is ’n nasrani, Jarad!” roep Khidr terug.

Xavier lag spottend en klim op sy perd. “Tot wederom!” Hy lig sy hand in ’n groet en ry op volle vaart weg.

Isabelle klim ook haastig op haar perd en kap haar hakke in sy lieste. Agter haar volg die res van Jarad se rasjids.

Die maan skyn bleek oor die wadi, met die jebels swart getand teen die sterbesaaide hemel. Om hulle lê die sandvlakte tot waar die duine in inkswart skaduwees begin. Noudat hulle uit die beskutting van Khidr se huis is, kan sy die dorheid en vyandigheid van die uitgestrekte woestyn selfs in die nag aanvoel. Sy kan verstaan waarom die vroue in die harem mekaar so maklik bang maak met verhale van bose djins en geeste wat tussen die duine ronddwaal.

Voor haar in die blouwit maanlig sien sy Xavier Jarad op sy hings. Sy wit mantel bol in die wind en sy sien die goue agal om sy kop glim in die maanlig. Goddank, hy neem haar weg van Khidr.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd dink sy aan Etienne le Riche. Teen hierdie tyd behoort hy al te weet wat met haar gebeur het en tog wonder sy of hy enigiets sal doen om haar te probeer red. Sy het hom agt jaar gelede laas gesien, maar toe was sy reeds vrou genoeg om te weet of ’n man daardie besondere gevoel in haar wakker maak. Etienne het nie. Sy het amper afsydig aan hom gedink wanneer sy beeld in haar gedagtes opgekom het. Miskien voel hy dieselfde oor haar en was dít die rede waarom hy vir so ’n lang tyd nie briewe geskryf het nie.

Jarad trek sy perd plotseling in. Die dier steier op sy agterpote en kap vurig met sy hoewe in die sand. Isabelle hou haar perd ook in. Sy is dankbaar vir die feit dat sy in Frankryk leer perdry het. Daar het sy nooit gejaag soos sy hier moet doen nie, maar nood laat ’n mens vreemde dinge vermag.

Die sjeik ry nader, tot langs haar.

“Wat weet jy van Khidr se planne? Hoekom het jy my probeer waarsku?” vra hy en wag dat die res van sy geselskap by hulle moet aansluit. “Hy het ons te maklik en sonder teenspraak laat gaan.”

“Ek weet wat hy beplan,” antwoord sy kalm. “Sheik Khidr was bereid om my aan u as geskenk te gee as u om my sou vra.”

“Ek het jou nie as geskenk gevra nie,” sê hy gelykmatig terwyl sy blik stip op haar gerig is. “Ek het jou van hom gekoop.”

Isabelle antwoord nie dadelik nie. Dit bly vir haar ’n ontstellende gedagte dat sy van die een man na die ander aangestuur kan word as die prys reg is. Dit dien egter as ’n waarskuwing van hoe min haar lewe hier werd is en dat alles gedurig kan verander.

Eindelik knik sy stadig, maar sy kan die ontsteltenis in haar nie verberg nie.

“Nou goed … dan is ek nou u slavin. Khidr het sy rasjids opdrag gegee om u geselskap hier in die wadi voor te lê.”

“Het hy gesê waar dit sal gebeur?”

Sy skud haar kop. “Ek ken nie die woestyn nie en hulle het nie ’n spesifieke plek genoem nie, net dat dit ’n paar uur se ry van Khidr se paleis af is. Ook dat hulle nie glo dat u so waansinnig sal wees om oor die kranse te gaan nie.”

Die rasjids vorm ’n kring om Jarad en Isabelle. “Khidr wil ons met ’n hinderlaag verras,” sê hy aan die ander.

Daar is ’n ligte beroering onder hulle, ’n plotselinge gespannenheid wat te begrype is. Hulle is nog gevaarlik naby aan sjeik Khidr se huis.

“Ons kan die pad oor die berg volg,” waag een dit.

“Dis te gevaarlik in die nag,” maak ’n ander beswaar.

Isabelle kyk na hulle. Hulle is veels te min vir wat Khidr beplan.

“Sjeik Khidr kry ook hulp van sy vriende,” sê sy en verwonder haar aan die skok op hul gesigte. Sy praat Arabies en hulle kan verstaan wat sy sê, maar dit regverdig nie hul verskriktheid nie.

Sy lek oor haar droë lippe. “Ons is net elf. Hy het gesê dat hy geen kanse gaan waag nie en ons heeltemal gaan uitwis. As ons met die wadi langs reis, gaan dit vannag ’n slagting afgee. Khidr het gepraat van die kranse en dat dit ’n goeie hinderlaag sal wees, maar dit het nie gelyk asof sy manne met hom saamstem nie.”

Daar is ’n lang, intense stilte onder die groepie. Dis Jarad wat die stilte eindelik verbreek: “Ons gaan oor die berg. Hulle sal dit nie verwag nie, en hulle is verdeeld oor waar die hinderlaag moet wees. Teen dagbreek sal ons anderkant wees en met ’n ompad na Harib reis. Ek vertrou die meisie. Sy het haar lewe gewaag om my te waarsku.”

Sy sien die aarseling in hulle oë, die huiwering asof hulle haar nog wantrou. Miskien moes sy liewer nie gepraat het nie, maar sy kan dit nie meer ongedaan maak nie.

Dit voel vir haar soos ’n ewigheid voor hulle een na die ander instem. In die berge kan hulle skuil wanneer gevaar dreig, terwyl hulle in die oop wadi verlore is teen ’n oormag.

Jarad gee sy perd weer spore en verander van koers. Hulle ry reguit na die naaste hoë kranse. Hulle spore lê egter duidelik op die wadi-vloer vir enigeen om te volg.

Hoe nader hulle aan die kranse kom, hoe meer bekommerd raak Isabelle. Dit lyk nie of daar enige moontlikheid is dat hulle daar sal kan oor nie. Die kranse toring loodreg die swart nagruim in – soliede, ondeurdringbare mure.

Die sjeik weet skynbaar presies waarheen hy op pad is. Vir ’n kort ent ry hulle al langs die granietmuur en skielik is daar ’n opening. Hier het die kranse verkrummel en lê los rotse oor ’n klipperige steilte versprei.

Jarad hou sy perd effens in en swenk dan by die opening in. Isabelle volg hom met ’n benoude hart. Agter haar kom die rasjids en vorm die agterhoede.

Spoedig moet hulle hul moordende pas verslap. Die perde kan nie meer so vinnig beweeg nie omdat die steilte te skerp word. Heelwat later moet hulle van die perde afklim en te voet verder gaan. Hulle loop in stilte, hul ore gespits vir die geringste verdagte geluid.

Hulle bereik ’n gelykte tussen die rotse waar Jarad die perde laat rus. Van hier kan hulle oor die donker wadi uitkyk. Dis ’n helder, maanverligte nag en tog duur dit ’n ruk voordat Isabelle die wit stof ver op die vlakte gewaar.

“Kyk daar!” fluister sy hard aan Xavier, wat vinnig kyk na waar sy beduie. “Dis Khidr se rasjids. Hulle weet dat ons oor die berg gaan en kom nou agterna. Ons sal moet gou maak!”

Hy skud sy kop. “Dis nie nodig nie. Ons kan nog ’n rukkie rus en dan verder gaan. Dit sal hulle twee uur neem om hierdie plek te bereik. Teen daardie tyd is ons al ver weg en sal hulle ook moet rus.”

Hy draai weg en haal ’n waterbottel van sy perd af. Dan kom hy terug en sit langs Isabelle op ’n rots. “Ses maande gelede het ek met Khidr se verraderlikheid te doene gekry. Daar was ’n bloedige geveg duskant Harib en die sultan moes ingryp. Sedert daardie dag haat Khidr my nog meer.”

Sy kyk na hom. “U is nie van Jemen nie.”

Jarad gee die watersak aan haar. “Ek is hier gebore, maar was jonk toe ek hier weg is. Les jou dors solank. Ek wil met die rasjids gaan praat.”

Hy stap vinnig na die Arabiere, wat vanuit ’n skuilplek afkyk na wat in die wadi aangaan. Toe hy eindelik terugkeer, is sy gesig somber.

Hy neem die watersak by haar. “Ons moet vertrek.”

Isabelle staan dadelik op en stap saam na waar die perde is. “Ek moet ook gewapen wees. Ek kan my nie met my kaal hande verdedig nie.”

Hy swaai vinnig om na haar, sy gesig geslote. “Vroue dra nie wapens nie.”

“Daar is omtrent dertig van hulle daar in die wadi,” sê sy skerp. “Sonder my is julle net tien. Al kan ek net een skadeloos stel, is dit vir julle een minder om teen te baklei.”

“Jy sal daardeur jou eie lewe onnodig in gevaar stel,” sê hy na ’n kort stilte. “Dis beter dat jy geen wapen dra nie.”

Isabelle besef dat dit vir haar beter sal wees om nie terug te praat nie. Sy voel onveilig en onbeskerm, maar as sjeik Jarad nie aan haar ’n wapen wil gee nie, moet hy ’n baie goeie rede daarvoor hê. Sy klim terug op haar perd, met die aaklige voorgevoel dat bloed hier vergiet gaan word voor die son opkom.

Dis baie gevaarlike terrein waaroor hulle nou beweeg. Plek-plek is dit net ’n smal pad tussen die massiewe rotse deur. Aan die een kant gaap ’n swart afgrond en aan die ander kant is die steil wande van die kranse. Jarad lyk nie asof hy haastig is om van sy agtervolgers weg te kom nie. Isabelle besef ook dat dit rampspoedige gevolge kan hê.

Hulle bereik ’n deel waar sy oortuig is daarvan dat daar geen deurgang is nie. Bo hulle koppe is die steil kranse onbegaanbaar en terug kan hulle nie gaan nie. Haar keel trek toe toe sy sien wat Jarad beplan. Hy klim van sy perd af, neem die teuels en stap na ’n smal lys wat om ’n groot krans strek. Dan begin hy voetjie vir voetjie met sy rug teen die rotse al op die lys beweeg.

Sy haal diep asem voordat sy ook van haar perd afklim en hom volg. Met strak gesigte klim die rasjids van hul perde af en volg Jarad se voorbeeld. Hulle praat paaiend met hul gespanne perde, want vir die perde is die oortog nog moeiliker omdat die lys baie smal is.

Niemand praat nie; elkeen konsentreer net om op die lysie te bly. Hulle kan die wadi nie meer sien nie. Dis agter die kranse verberg en niemand weet presies hoe ver hulle agtervolgers nog is nie.

Die verskrikte uitroep van een van die Arabiere laat Isabelle haar kop vinnig omruk. Sy is net betyds om te sien hoe die man sy vastrapplek op die klipperige lys verloor en versteen staan sy en kyk hoe hy met ’n gil oor die afgrond stort. Tot haar skok los hy die perd se teuels. Dit kon nog sy lewe gered het, maar dit kon ook die perd agter hom aan die dieptes ingesleur het, dink sy vervaard.

Die rasjids staar woordeloos na die donker afgrond wat hul makker ingesluk het. Isabelle kan hulle swye nie begryp nie. Waarom probeer hulle nie uitvind of hy nog lewe nie? Sy buig oor die afgrond.

“Is jy daar?” roep sy en haar stem eggo teen die kranse.

“Ja!” hoor sy hom antwoord en asem verlig uit. “Ek het nie baie seergekry nie.”

Sy kyk na die rasjids, wat haar vyandig aanstaar.

“Die djins het hom gevat,” waag een dit.

Isabelle byt op haar tande. “Dan sal die djins hom weer teruggee,” sê sy vasberade.

Hulle verroer nie ’n vinger toe sy die rol tou van die perd afhaal nie. Sy kyk om na Jarad, wat haar met ’n uitdrukkinglose gesig dophou. Sal hy haar help as dit nodig is?

Sy kry ’n vastrapplek op die smal lys en gooi die tou oor die afgrond.

“Elhamdulillah!” roep die rasjid van onder. “Ek het die tou!”

“Hou vas!” roep Isabelle terug. Sy glo nie sy sal hom alleen kan optrek nie, maar sy gaan hom ook nie daar onder laat bly lê net omdat die rasjids bygelowig is oor bose geeste nie.

Die tou sny haar hande toe sy dit styftrek. Sy draai dit om haar middel terwyl sy baie goed weet dat sy dalk ook die dieptes ingesleep kan word, maar dan is sy skielik nie meer alleen nie. Jarad is by haar. Hy buk oor haar en neem die tou swyend uit haar hande.

Hul oë ontmoet vlugtig. Sy gesig is naby hare en sy kan sien hy glimlag in die donker, maar hy lewer nie kommentaar nie. Dan knik hy net en saam trek hulle die rasjid stadig en versigtig na bo.

Eindelik vat sy hande die lys raak en hys hy hom bewend op. Daar bly hy ’n oomblik lank sit en staar vol ongeloof na die meisie wat nog die tou om haar middel het en Jarad wat nog daarmee in sy hande staan. Van die ander kom vinnig nader en help hom op sy voete.

Sonder ’n woord, met sy regterhand op sy hart, maak die man ’n diep buiging voor Isabelle, maar hy vermy dit om haar in die oë te kyk. Dan draai hy om en sukkel terug na sy perd. Hy moet baie seergekry het, want hy kan skaars op sy voet trap, maar Isabelle weet dat sy nie nou hulp moet aanbied nie. Sy het reeds haar perke ver oorskry.

Sy kyk om na Jarad.

“Ons sal later hulp vir hom kry,” sê hy. “Nou moet ons so gou moontlik die verlore tyd probeer inhaal.”

Hulle hervat hul gevaarlike tog om die krans en al elf haal die ander kant veilig.

Die oponthoud het hulle duur te staan gekom: hul agtervolgers is ook reeds besig om om die krans te beweeg. Die geluide van swaarde wat uit die skede getrek word, verbreek die stilte. Jarad se rasjids maak ook gereed vir die geveg.

Dit gaan ’n slagting wees, dink Isabelle verskrik en soek haastig skuiling. Wie weet wat Khidr se manne met haar sal maak as hulle haar kry?

Jarad is tussen sy rasjids, met sy swaard gereed in sy hand. Hulle kan hoor hoe die ander om die krans beweeg en hoe hulle skoene en swaarde teen die klip skuur. Om vinnig te probeer wegkom, sal nie meer werk nie. Hier waar hulle nou is, is die beste plek om ’n aanval af te weer.

Dan verskyn die eerstes van die agtervolgers. Hulle het hul perde aan die ander kant van die krans gelaat om makliker te kan beweeg. Hulle kom ook nie onvoorbereid nie, maar is tot die tande toe gewapen en gereed vir die geveg toe hulle om die draai na Jarad en sy groep aankom.

Die eerste twee word maklik deur Jarad oorrompel, maar dan kom hulle al vinniger deur en spoedig word die stil berge gevul met eggo’s van die geveg. Die maanlig is te flou vir Isabelle om behoorlik te kan sien, dog sy kan Jarad se groep min of meer herken. Die ander is aggressief en aanvallend, maar dis meesal onduidelik wie wie is. Die enigste voordeel van Jarad se posisie is dat Khidr se manne nie almal tegelyk kan aanval nie weens die gebrek aan beweegruimte.

’n Man stort met ’n gil oor die afgrond en verdwyn in die dieptes voordat Isabelle kan bepaal aan watter kant hy behoort het. As sy ook net ’n wapen gehad het, kon sy ingeklim en gehelp het. Haar pa het haar van jongs af die swaardkuns geleer. As hulle haar net wil vertrou …

Maar dis asof die vegtende mans heeltemal onbewus van haar teenwoordigheid is. Sy begin stadigaan besef waarom Xavier Jarad nie vir haar ’n wapen wou gee nie: hy het geweet dat haar lewe vir eers nie in gevaar sal wees nie.

Een van Khidr se manne word twee tree van haar af doodgesteek. Hy val agteroor tussen die klippe en sy swaard kletter neer. Sy aarsel net ’n oomblik en spring dan vorentoe om dit op te tel. Daarmee in die hand voel sy veiliger.

Terwyl sy besluiteloos staan en kyk, sien sy hoe twee van Khidr se manne Jarad van agter bekruip terwyl hy met een voor hom veg. Nog aarsel sy, want as sy toetree tot die geveg, gaan daar geen genade vir haar wees nie. Toe besef sy dat Jarad nie drie van hulle kan baasraak nie. Sonder aarseling sluit sy by hom aan, met haar rug teen syne.

“Wat maak jy?” sis hy.

“Bly stil en veg!” sis sy terug.

Isabelle kom te staan voor ’n besonder vlugvoetige Arabier wie se oë glinster van genoegdoening. Sy moet fyn tussen die klippe op die ongelyke grond trap om uit die pad van sy kromswaard te bly. Die terrein belemmer haar bewegings, maar haar oë bly vasgenael op die glimmende wapen in die hand van haar teenstander. Sy onthou die bewegings wat haar pa haar geleer het, maar met die ongelyke terrein en die gevaar van die afgrond aan haar linkerkant is sy in ’n baie swak posisie. Dan klink staal op staal toe sy eindelik in die geveg ingetrek word.

In die donker kan sy nie sien hoeveel Arabiere tussen Jarad se manne is nie; sy bly net veg teen dié wat op haar afstorm. Ten spyte daarvan dat sy lanklaas ’n swaard hanteer het, kry sy dit reg om elke hou af te weer. Die wapen begin swaar voel in haar hand en haar arm raak moeg, maar sy weet as sy haar waaksaamheid verslap, sal sy doodgemaak word.

Isabelle besef eindelik dat sy te moeg is om nog al haar aandag te fokus op wat sy doen. Met elke hou is dit asof die swaard al swaarder in haar hand word. Haar enigste gedagte is dat sy net moet aanhou totdat alles verby is. Elke hou wat sy afweer, gee die ander kans om die skaal te laat kantel.

Plotseling sluit ’n arm in ’n staalgreep om haar nek en haar swaard word uit haar hand geforseer. Sy het haar aanvaller nie sien kom nie en die een voor haar teen wie sy nog geveg het, grynslag oor haar benarde posisie.

Sy spartel om uit die man se greep te kom, maar dis tevergeefs.

“Jarad!” roep haar aanvaller, en die sjeik swaai om.

“Los haar!” sis hy.

“Khidr het gesê ons moet die meisie terugbring as ons jou nie kan doodmaak nie.” Hy grynslag. “Hy het planne met haar.”

Isabelle krap met haar naels bloederige snye in die man se voorarm. Sy boarm klem egter stywer om haar nek, asof hy haar nou eerder wil verwurg. Selfs net om asem te haal raak ’n pyniging.

Die ander staak die geveg en staan en kyk na wat nou aan die gebeur is.

“Ek het haar van Khidr gekoop,” sê Jarad kalm. “Ek het hom die volle som in goue rijals betaal en sy behoort aan my.”

“Sjeik Khidr wil die meisie terughê. Die rijals kan jy by hom gaan haal.”

Jarad loop stadig nader. Daar is bloed aan sy mou waar hy gewond is.

“As jy die meisie na jou broer terugvat, is dit oorlog, Ibrahim ibn Khidr. Ek sal terugkom en jou vermoor en dan sal die wadi Yekka in ’n bloedbad omskep word.”

Jarad se oë is donker poele en Isabelle kan nie die uitdrukking daarin sien nie. Haar oë rek egter toe hy tot by haar kom, asof hy nie vir enigiets bang is nie.

Dis skaakmat, dink sy beangs. Wat Ibrahim ook al besluit, sal ’n oorlog tot gevolg hê. En sy sal in die middel daarvan staan.

Annelize Morgan Omnibus 7

Подняться наверх