Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 7 - Annelize Morgan - Страница 5
2
ОглавлениеDie boeg van die Santa Maria breek deur die golwe terwyl die skip se seile vol in die wind staan. Elke nou en dan waai die seesproei oor die dek waar twee vroue teen die reling staan en uitkyk oor die eindelose blou water. Agter hulle het die kus van Frankryk dae gelede al agter die horison verdwyn. Voor hulle is daar niks … geen hoop op iets beters.
“Ninon?” vra Isabelle.
“Oui, chérie?”
“Wat het jy gehoor van die Kaap de Goede Hoop? Papa het my vertel dat daar baie storms is en dat baie skepe daar vergaan het.”
Ninon se oë rek. “Mais non! Dis tog seker nie so nie. Ek het gehoor dis ’n baie mooi land, waar die wingerde net so geil groei as in Bordeaux. Non, ek dink ons sal gelukkig daar wees.”
“Ek hoop jy is reg …”
Ninon antwoord nie, maar kyk net treurig uit oor die deinende see, asof sy iets onthou wat sy liewer wou vergeet het.
Isabelle kyk skuinsweg na haar chaperone; sy weet Ninon dink aan daardie laaste paar maande in die pragtige herehuis in Bordeaux waar hulle gewoon het. Sy sluk swaar. As haar vader net nie so onverwags gesterf het nie, sou dinge dalk soveel anders verloop het.
“Ek wonder of ek nog met Etienne le Riche sou getrou het,” spreek sy haar gedagtes hardop uit.
Die chaperone kyk vinnig na haar en glimlag. “Jy het geraai waaraan ek dink.” Sy haal haar skouers op. “Dink so daaraan: jy is sedert jou twaalfde jaar aan monsieur Etienne le Riche verloof, mon ami. Dinge sou nie anders verloop het nie.”
“Ek kan hom nie regtig meer onthou nie, weet jy? Dit was agt jaar gelede dat ek hom laas gesien het, net voordat hy na die Kaap de Goede Hoop vertrek het.”
“Jy sal hom herken, moet jou nie daaroor bekommer nie.”
Isabelle draai na haar. “Hoe kan ’n mens jou toekomsgeluk bou op die feit dat jy darem die man sal herken aan wie jy verloof is? Is dit nie ’n bietjie te min nie?”
Ninon lag. “Jy is ’n baie welgestelde jong vrou, Isabelle. Jy sal nooit armoede ken nie; jy sal alles hê wat jou hart begeer.”
Isabelle kyk stip na die ouer vrou. “Maar ek sal dalk nooit gelukkig wees nie.”
Ninon antwoord nie omdat sy geen antwoord daarop het nie, en Isabelle bly uitkyk oor die see. Sy probeer die gesig van Etienne le Riche onthou.
Dan haal sy diep asem en draai weg van die reling. Ninon volg haar na hul kajuit.
Voor sonop die volgende dag skrik Isabelle met ’n skok wakker. Daar is ’n tweede ontploffing en sy voel hoe die skip onder hulle sidder. Ninon gil met ’n hoë stem totdat Isabelle haar skerp vermaan.
“Ek gaan uitvind wat aan die gang is!” Sy trek haastig haar klere bo-oor haar nagrok aan. Buite hoor sy ’n groot lawaai, mense wat op mekaar skreeu en skote wat klap. Binne minute is sy aangetrek en op pad uit.
“Bly in die kajuit, chérie!” soebat Ninon, maar Isabelle is reeds af met die smal gangetjie na die trap wat na die dek lei.
Van die ander passasiers kom ook te voorskyn. Hulle bondel in groepies saam en probeer sin maak uit die lawaai.
Buite op die dek is daar pandemonium. Dit ruik na kruitdampe en swael en deur die rook sien Isabelle hoe die matrose heen en weer hardloop om die kanonne gelaai te kry. Die grootste geraas kom van onder die dek waar die groter kanonne is – dis dié lawaai wat haar en Ninon laat wakker skrik het.
Dis nog sterk skemer en sy kan die donker seile van ’n ander skip in die ligte mis uitmaak. Elke keer wat die kanonne bulder, blits die vuurtonge in die mistige duisternis en verleen ’n spookagtigheid aan die toneel.
Plotseling bars ’n kanonkoeël deur die hoofmas van die Santa Maria en die takelwerk stort na benede. Met ’n gil spring Isabelle uit die pad. Die matrose skree opgewonde onder mekaar en telkens hoor sy die kaptein se stem bo die lawaai soos wat hy bevele uitskreeu.
’n Matroos verskyn uit die rookdampe naby Isabelle.
“Wat gaan aan, Monsieur?” roep sy na hom.
Hy steek vas. “Ons word aangeval … of kan jy dit nie sien nie?”
Die ongeduld is duidelik en skerp in sy stem, en dan verdwyn hy met die trap op na die voorkasteel. Net toe sy ondertoe wil gaan om die nuus aan die ander oor te dra, verskyn Jeanne, die jong Franse meisie met wie sy die afgelope paar dae vriende gemaak het, langs haar.
“Ek het gehoor wat hy sê. Kan jy sien wie ons aanval?”
Die mis is besig om weg te trek en dit word vinnig lig. Toe ’n ligte bries die rookdampe eenkant toe vee, sien Isabelle die vlag aan die ander skip se mas.
“Seerowers …” sê sy geskok.
Jeanne beur by haar verby om seker te maak dat Isabelle reg gesien het. “Sacre bleu!”
Die Spaanse seerowerskip is besig om die opening tussen hom en die Santa Maria vinnig kleiner te maak en terwyl hulle nog versteen van skok staan en kyk, word gryphake na die reling van die Santa Maria gegooi. Sekondes later kom hordes seerowers oor die dek aangeswerm.
Die twee vroue draai om en vlug na die skip se ruim. Ninon is rasend van ontsteltenis toe sy van die seerowers hoor. Hulle bondel saam in een kajuit en luister gespanne na wat op die dek aan die gang is.
Skielik word die kajuitdeur oopgeruk en twee seerowers kom in. Hulle los Ninon, maar gryp Jeanne en Isabelle en stamp hulle by die kajuit uit.
“Mademoiselle!” gil Ninon huilend.
“Ek kom weer!” roep Isabelle, maar sy kry die gevoel dat sy haar ou chaperone nie gou weer sal sien nie.
Op die dek het die geveg reeds geëindig. Die Santa Maria se bemanning en kaptein staan bedremmeld in ’n groep terwyl die seerowers hulle met kapmesse op hulle plek hou.
Vier meisies van die Santa Maria, waaronder Jeanne en Isabelle, word hardhandig oor die reling van die skip na die El Tigres langsaan geneem. Isabelle verwag die ergste, want sy het al baie stories gehoor oor wat seerowers met vroue maak. Nie in haar wildste drome het sy gedink dat so iets ooit met haar sou gebeur nie.
Sy probeer haar nie teësit toe hulle na die ruim van die seerowerskip geneem word nie, want daar is niemand wat hulle te hulp sal kan snel nie. Al wat sy kan doen, is om te bid dat ’n ander skip hulle sal kom red.
Eers laat die middag kom die kaptein van die El Tigres die meisies die eerste keer besoek. Hy is ’n onaangename man met ’n vuil baard en ’n songebrande gesig waarop vele littekens pryk.
“As julle julle kan gedra, kan julle heelwat vryheid op my skip geniet.” Dan verlaat hy die kajuit en sluit die deur agter hom.
Hulle sit in stilte en hulle weet nie wat om vir mekaar te sê nie. Die ander meisies is net so verward, maar wat Isabelle hinder, is dat daar reeds ’n paar jong vroue in die kajuit was toe hulle ingekom het. Altesaam is hulle nou elf.
Sy vind uit dat die ander meisies van ’n ander skip afkomstig is en dat hulle net so in die war is oor wat met hulle gaan gebeur. Terwyl hulle nog praat, word die deur weer oopgesluit en nog ’n jong meisie word ingestoot. Isabelle lig haar wenkbroue effens, want die kajuit word nou ondraaglik vol.
“Sy het vir julle ’n boodskap,” sê die matroos en maak die deur weer toe.
Die nuweling is Spaans, maar sy praat nie. Toe Jeanne haar aanpor om te sê wat die boodskap is, maak sy haar mond oop en Isabelle staan geskok terug. Die meisie se tong is uitgesny. Sy skryf haar naam teen die wand van die kajuit: Riza, en dis omtrent al wat hulle uit haar kan kry.
Laat die aand word hulle toegelaat om op dek te gaan. Jeanne en Isabelle gaan staan eenkant en Riza sluit by hulle aan. Sy beduie na ’n ouerige Spaanse vrou wat met een van die meisies staan en praat en Isabelle lei af dat sy wil hê dat hulle ook met haar moet gaan praat.
Sy bly half besluiteloos rondstaan, onseker of dit die regte ding sal wees om te doen. Die vrou het lang, donker hare wat in ’n bolla in haar nek vasgemaak is. Sy dra baie goue juwele en haar klere is van helderkleurige sy.
Voordat Isabelle nog kan besluit wat om te doen, kom die vrou na hulle toe. Sy glimlag vir Riza, wat verskrik lyk.
“Die ou voëltjie kan nie meer sing nie,” sê sy. “Tog so jammer dat ’n mens sulke dinge oor jouself bring.” Sy kyk na die meisies, wat afwagtend na haar staar. “Ek is Consuelo. Julle sal my maar min sien, aangesien ek die kaptein se regterhand is.”
“Wat beplan julle met ons?” vra Isabelle.
“Ek kan julle nie help nie,” antwoord Consuelo, “maar julle behoort te weet dat julle op pad is na Arabië, waar julle as slavinne verkoop sal word. As julle gelukkig is, sal julle in die huis van ’n goeie sjeik beland, maar ek is bevrees dit mag dalk nie gebeur nie.”
“Hoekom nie?” wil Isabelle weet.
“Omdat sjeik Salem Khidr na slavinne soek – en die hemele behoed die een wat deur hom gekoop word. As julle probleme gee, onthou net wat met Riza gebeur het. Julle sal doen wat julle aangesê word, of dieselfde lot sal julle tref.”
Toe sy van hulle af wegstap, kyk Isabelle na Riza. “Is dit alles waar?”
Riza knik net, haar blik treurig.
“As ek net vir Etienne kon laat weet het,” mymer Isabelle, maar die skrik in Riza se oë laat haar besef dat sy baie versigtig moet wees.
Die wind steek skerp op en hulle haas hulle na binne. Daar is so baie waaroor hulle moet praat, dink Isabelle, maar so min wat hulle daaroor kan sê. Al wat hulle doen, is om te sit en te luister hoe ’n storm opsteek en buite gier en raas. Die skip wieg swaar oor die deinings en die houtwerk kreun onder die aanslag.
Dit gaan ’n lang nag wees, dink Isabelle mismoedig, ’n nag waarin sy oor en oor gaan wonder hoe sy hierdie situasie kon vermy het.
Die storm laat die branders oor die boeg van die skip breek en spoel al die losgoed die see in, maar in die kajuit voel die passasiers die geweld daarvan nie so erg nie. Teen die volgende dag is die ergste verby.
Daar is geen manier om uit te vind of die Santa Maria dit oorleef het nie, want teen hierdie tyd het die twee skepe baie seemyle uitmekaar gedryf, besef Isabelle. Die El Tigres is stewiger gebou en het steeds swaargekry. Sonder die hoofmas sou die Santa Maria dit dalk nie gemaak het nie … en wat dan van haar dierbare Ninon?
Hulle vaar ’n paar dae lank suid en draai dan suidoos. Die elf vroue sit met beklemming en wonder wat vorentoe met hulle gaan gebeur. Niemand is lus om te gesels nie, want elke gesprek kom altyd terug na hulle benarde situasie, en die gedagte daaraan dat ook hulle tonge uitgesny kan word. Riza is iewers gedurende die nag kom haal en het nog nie teruggekeer nie.
Niemand weet lateraan meer hoe lank hulle oos gevaar het nie, maar een oggend word die anker neergelaat. Die vroue word eenkant op die dek bymekaar gebondel en hulle staan en kyk hoe vier platboomskuite te water gelaat word. Altesaam twaalf mans met gewere en swepe gewapen word na die strand geroei.
Isabelle staar nuuskierig na die duine en die plantlewe daaragter. Daar is geen teken van lewe op die strand nie. Daar is geen fort of hutte wat daarop dui dat dit dalk ’n verversingstasie is nie.
Sy sien hoe die skuite op die sand uitgesleep word en hoe die klompie mans tussen die bosse verdwyn.
“Hulle het seker gaan jag,” waag een dit.
“Dit kan wees,” meen ’n ander, “maar hoekom so baie van hulle?”
Die meisies bly in die klam weer op die dek staan en staar na die strand. Sowat ’n uur later weergalm skote tussen die bosse. Die skip is te ver die see in vir Isabelle om behoorlik te kan sien wat aan die gang is. Sy soek na Riza om te vra wat dit alles beteken, maar die Spaanse meisie is steeds nêrens te sien nie.
Plotseling is daar beweging op die strand en ’n hele klomp mense peul by die bosse uit. Hulle hardloop al met die strand langs, met die matrose agterna. Daar is ’n geskreeu en af en toe ’n geweerskoot hoorbaar. Nog ’n paar matrose kom uit die bosse te voorskyn en sny die vlugtendes se pad af. Net een van die vlugtendes kry dit reg om weg te breek en terug te hardloop na die bosse. Geweerskote klap agter hom aan, maar hy verdwyn vinnig in die ruigtes.
“Dis slawe,” fluister Isabelle ontsteld. “Ons is nie net op ’n seerowerskip nie, dis ook ’n slaweskip.”
“Arme drommels,” sê Jeanne.
“Dis woorde wat jy vir óns moet spaar,” antwoord Isabelle. Haar hele lyf voel koud van skok.
Hulle word na die kajuit gejaag toe die mense op die strand in die skuite gelaai word en die luik word agter hulle gesluit. Hulle sit en luister na wat op die dek aangaan en spoedig hoor hulle die skuite teen die wand van die skip skuur. Hulle kyk na mekaar, want hulle weet wat aan die gang is. Buite skreeu die matrose op die ongelukkige gevangenes en hulle hoor hoe ’n paar sweephoue klap. Daar is ’n groot rumoer op die dek. Hulle hoor die voetstappe bokant hul koppe, swaar voorwerpe wat rondgesleep word, en tussen die sweephoue deur hoor hulle mense angsbevange gil.
Na ’n ruk word dit stil en klink die bevel op dat die anker gelig moet word. Niemand sê ’n woord nie. Hulle kyk skaars na mekaar toe die skip eindelik weer in beweging kom en wegvaar van die strand asof niks gebeur het nie.
Die aand kom Riza terug en rapporteer met gebaretaal: nog sewe en twintig slawe is gevang. Die kos en watervoorraad raak min, en die volgende verversingstasie is nog vier dae ver.
In die versengende hitte word die water gou sleg en die vleis begin maaiers in kry. Die groente is lankal vrot en daar is eintlik nog net meel wat eetbaar is, hoewel dit ook begin muf het. Hulle situasie is benard.
Dis ’n verligting toe hulle die verversingstasie eindelik bereik en vars voedsel opgelaai kan word. Dan keer die El Tigres terug na die roete waarlangs dit gekom het.
Isabelle verval in ’n moeras van moedeloosheid. Soms voel dit of dit haar nie meer kan skeel wat van haar word nie, en ander kere kom haar hele wese in opstand. Sy het nie verdien om op hierdie slaweskip te beland nie. Dis ’n nagmerrie en spoedig sal sy daaruit wakker skrik. Maar die nagmerrie hou aan.
Riza en Isabelle staan gewoonlik saam teen die reling en dan vertel Isabelle haar van haar eie land, ver in die vreemde. Sy vertel van haar familie en die plek waar sy grootgeword het, maar Riza kan nie haar eie verhaal aan Isabelle vertel nie. Net aan die hartseer in haar donker oë kan Isabelle sien dat sy ook al bitter en pynlike dinge deurgemaak het.
Eindelik, ná weke op see en baie vreemde aandoenplekke, bereik hulle die kus van Egipte. Nie een van hulle is opgewonde daaroor nie, want hier begin die onbekende, die lot wat hulle die hele reis hierheen gevrees het. Hulle staan by die reling van die skip en kyk na die ander skepe in die hawe en na die miernes van bedrywighede op die kaaie.
Die anker word neergelaat, want hulle het hulle bestemming bereik – die hawe van Alexandrië.
Die elf meisies word op skuite gelaai en kort na sononder haastig land toe geroei. Daar is geen tyd of geleentheid om ’n ontsnapping te oorweeg nie. So vinnig as wat hulle kan hardloop, word hulle aangejaag al met smal stegies af, oor sandverwaaide binnehowe tot by ’n witgekalkte kliphuis iewers in die stad. Selfs al sou hulle ontsnap, sou hulle nooit as te nimmer hulle pad kon terugvind na die hawe nie.
Hulle word in die huis onder die bewaking van ’n paar Arabiere gelaat. Riza het iewers in die jaagtog na die huis van hulle geskei geraak, want sy is nie meer by hulle nie. Dit is ’n groot teleurstelling vir Isabelle, wat aangetrokke gevoel het tot die stom Spaanse meisie.
Haar drome van ’n mooi, gelukkige toekoms het soos water in die sand weggesak. Sy is nie in die Kaap de Goede Hoop waar sy op geluk gehoop het nie, sy is in Egipte, ’n land waarvan sy nog net gehoor het en wat sy nooit gedink het sy sou sien nie.
’n Week later word hulle op kamele gelaai en begin ’n lang, vermoeiende tog deur die woestynland na nugter weet waar. In Ouseir word hulle op nog ’n skip gelaai, veel kleiner as die een waarmee hulle gekom het, en hulle vaar suidwaarts op die Rooisee. Ná wat soos ’n ewigheid voel, gooi hulle anker in die hawe van Sden.
Toe hulle op die dek uitgaan, staar Isabelle verslae na die barre omgewing van dié hawestad. Swart vulkaniese rots omring dit soos ’n beskermende muur. Die stad lê in die donker kom van ’n uitgewerkte vulkaan en die wit geboue en glinsterende minarette vorm ’n skerp kontras met die vulkaniese rots.
“Is hierdie die hel?” wil Jeanne weet.
“Dit wil so lyk.” Isabelle sluk swaar aan die angs wat haar keel wil toedruk.
Maar dis nie hulle bestemming nie. Onder begeleiding van die wagte verlaat hulle die skip om aan wal te gaan. Daar word nie tyd gemors nie en hulle word reguit na ’n bouvallige huis geneem waar hulle kos en slaapplek gegee word. Hulle kan nie eens alleen verklee nie, omdat die wagte hulle nie vertrou nie en glo dat hulle met die eerste die beste geleentheid sal probeer ontsnap.
Toe hulle oor die grens na Qa’taba in Jemen gaan, verdwyn Isabelle se laaste hoop. Sedert hulle die seerowerskip verlaat het, het hulle stukkie vir stukkie die kultuur en gewoontes van die nomades moes aanleer. Hier is nie die gerief waaraan sy gewoond was in Frankryk nie. Hulle word gedwing om sluiers te dra wat alles behalwe hulle oë bedek en die klere is lang, los rokke van katoen. Op die oog af is daar geen verskil tussen hulle en die Arabiese vroue nie.
“Jemen is die Verbode Land,” sê Jeanne een aand toe hulle om ’n grasmat in die middel van hul tent vergader vir aandete. “Dit was nog altyd so. Nie een van ons sal ooit toegelaat word om die land te verlaat nie.” Sy skraap ’n bietjie rys op die grasmat bymekaar, druk dit in ’n balletjie soos die Bedoeïene doen en doop dit in die vleissous voordat sy dit in haar mond steek.
Die ander volg haar voorbeeld. Sedert hulle in Egipte aangekom het, eet hulle op dié manier. Geen messe, vurke, lepels of borde word gebruik nie. Rys word op die grasmat omgekeer en ’n bak gestoofde skaapvleis word langsaan neergesit, met gestoofde eiervrug, tamaties en uie as bykos.
“Ons moet hier wegkom,” sê Nanette, een van die Franse meisies wat saam met Isabelle op die Santa Maria was. Haar stem verraai die angs in haar gemoed. “My ouers wag op my in die Kaap de Goede Hoop.”
“En hoe dink jy gaan ons ontvlug?” wil Jeanne weet. “Al sou jy hier wegkom, sal jy nie toegelaat word om die land te verlaat nie. Geen Bedoeïen sal jou help nie, maar hulle sal jou sonder gewetenswroeging doodmaak. Hulle beskou dit as hul plig omdat jy nie ’n Moslem is nie.”
Isabelle kyk nuuskierig na Jeanne. “Waar kom jy aan dié inligting?”
Daar is ’n kort stilte en dan sê Jeanne: “Ek is in Egipte gebore. My vader was ’n Fransman en my moeder ’n Egiptiese danseres. Toe ek twaalf was, is my ma oorlede. My pa het my na Frankryk geneem en in ’n weeshuis gesit. Ek haat hom.”
’n Ongemaklike stilte sak toe oor die groepie. “Ek is jammer,” sê Isabelle.
“Hoekom moet jy wees?” Jeanne neem nog ’n stukkie skaapvleis. “My ma het my van Jemen vertel. Haar suster is in ’n harem hier en my ma is nooit toegelaat om haar te besoek nie. In al die jare wat ek by my ma gebly het, het my pa ons ook nooit besoek nie. Toe het hy gehoor dat my ma dood is en hy het my kom haal. Hy het nooit ’n snars vir my omgegee nie.”
“Ek wil nie in Jemen bly nie,” sê Nanette benoud. “Daar móét ’n manier wees om te ontsnap.”
“Jy sal die lewe vir jou heelwat makliker maak deur jou lot te aanvaar,” sê Jeanne saggies. “Leer hul taal so vinnig as wat jy kan en sorg dat jy hul gebruike ken en respekteer. Dan sal jy ’n maklike lewe in Jemen hê.”
Isabelle sluk swaar. “Ek sal nog Arabies kan leer, maar hulle is Moslems, Jeanne. Hulle is nie van ons geloof nie. Ek kan hulle lewenswyse nie myne maak nie.”
“Dan gaan jy baie ongelukkig wees hier. Ek weet ek kan maklik praat omdat ek in die woestyn grootgeword het, maar onthou, dis vir my ook gevangenskap en vaarwel aan my vryheid.” Sy dink ’n oomblik na en sê dan: “In Frankryk het ’n vrou baie regte. Hier het sy niks. Sy doen die harde werk en sy is bloot ’n gebruiksartikel. Geringe oortredings is met die dood strafbaar – moet dit nooit, ooit vergeet nie.”
In die volgende paar dae ondergaan die elf vroue ’n gedaanteverwisseling. Ses van hulle, onder meer Isabelle en Jeanne, word van die res afgesonder. Isabelle hoor nie weer van die ander nie en sy wonder wat van die verskrikte en beangste Nanette gaan word.
Die ses meisies word in geparfumeerde water gebad. Hul hare word gewas en dan word hulle geklee in kledingstukke wat Isabelle laat bloos. Sy voel kaal in die byna deursigtige materiaal wat wasig om haar hang. Daaronder dra sy ’n klein, geborduurde broekie en bostuk.
Consuela is die hele tyd in en uit by die vertrek, maar sy praat byna geen woord met hulle nie. Vir haar, besef Isabelle, gaan dit nou oor koopware wat opgevryf en uitgestal moet word om die beste te vertoon. Die vrou kyk na hulle asof hulle werklik net voorwerpe is.
Hulle word onder streng bewaking na ’n ander vertrek geneem. Daar moet hulle op kussings gaan sit en wag. Agter ’n toe deur is manstemme hoorbaar en Isabelle se maag trek op ’n knop. Dan het die oomblik nou uiteindelik aangebreek.
Toe die deur oopgemaak word, moet sy hard op haar tande byt om nie ’n geluid te maak nie. Haar hart klop in haar keel. Ná vanaand sal haar lewe vir altyd verander. Vir ’n oomblik dink sy aan die pragtige groen velde en die blou berge van Frankryk, verlang sy terug na die vryheid, die koelte van bome in die son en die gesellige samesyn met haar goeie vriende en familie.
Consuela kom voor haar staan.
“Julle kan vanaand ’n goeie prys behaal en as ’n man baie vir sy ware betaal, pas hy dit goed op. Onthou dit!” Dan swaai sy op haar hakke om en verlaat die vertrek.
“Sjeik Salem Khidr soek net die beste,” hoor Isabelle ’n man sê en sy waag dit om op te kyk.
Daar is twee mans in die aangrensende vertrek. Die een is ’n vet, ronde mannetjie met ’n donker gelaat. Hy vryf sy hande voortdurend asof hy senuweeagtig is oor iets. Die ander is lank en lig van gelaat. Onder sy keffiyeh is sy oë donker en geheimsinnig soos die Arabiese nagte. Sy gelaatstrekke is sterk, sy mond ’n streng, reguit lyn.
Isabelle voel ’n fladdering in haar hart. Wie van hulle gaan haar en die ander meisies koop? En gaan hulle slawe wees?
Hulle word die vertrek ingeneem waar die mans is en die ses van hulle gaan staan in ’n ry soos vase op ’n winkelrak.
“Salem Khidr is ’n man sonder gewete, Suleiman,” sê die lang man.
Suleiman maak ’n verskrikte buiging. “Mag Allah my tong laat opdroog as ek kwaad van u of die sjeik praat.”
Die ander man lag en sy tande skitter wit teen sy sonbruin gelaat. “Ek hoor wat jy in die mark praat. Jy sê dat sjeik Xavier Jarad en sjeik Salem Khidr mekaar soos twee leeus sal verskeur.”
“Sjeik Xavier Jarad, ek is u dienskneg,” prewel die vet slaweverkoper.
“Jy lieg dit, Suleiman.” Die sjeik draai terug na die deur. “Ek sal vanaand by die veiling wees.” Hy beduie na Isabelle en sy krimp verskrik ineen. “Ek het nie slawe nodig nie, maar ek sal op daardie een kom bie … net om Salem Khidr uit te tart.”
Suleiman volg hom handevrywend na die aangrensende vertrek. Dan raak dit skielik stil.
Isabelle kyk na Jeanne. “Wat gaan nou gebeur?” wil sy weet.
“Ek was nog nooit as slavin verkoop nie, my liewe Isabelle,” kom die antwoord. “Ons moet maar net wag en kyk. Moet hulle nie rede gee om oor jou te baklei nie. Die Arabiere is onvoorspelbare mense; jy kan hul motiewe nooit vertrou nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Moet nooit jou gevoelens wys nie, want dan sal hulle weet wat jy dink en hoe jy voel. Laat hulle altyd in die duister – ook die vrou vir wie jy gaan werk.”
Isabelle voel baie onrustig. Sjeik Xavier Jarad herinner haar aan ’n arend wat sy prooi vanuit die hoogte dophou voordat hy tot die aanval oorgaan. Hy is aantreklik, en sy galabiyeh is van weelderige materiaal wat tot op sy enkels hang. Die borduursels van goud en pers en rooi wat sy galabiyeh versier, laat hom soos ’n prins lyk, en om sy keffiyeh pryk ’n dubbele agal van goud en swart wat die hooftooisel in posisie hou.
Sjeik Xavier Jarad is nie ’n gewone man nie, dink sy. Hy is ’n vreemdeling van ’n vreemde geloof, maar as daar iewers in hierdie plek genade te vinde is, sal dit by hom wees, weet sy intuïtief. As hy dalk haar posisie sal verstaan, sal dit haar hoop gee. Sy is beloof aan Etienne le Riche. Sy is ’n dame van Franse afkoms en hierdie land is vir haar vreemd.
Hul aandete is kebabs met rys. Na ete word hulle weer ’n bietjie verfris met kam en parfuum. In die aangrensende vertrek kan hulle stemme hoor. Daar is ook musiek, maar geen vrouestem bereik hul ore nie.
Die deur word oopgemaak en een vir een word hulle na binne gelei. Net Isabelle en Jeanne bly agter. Hulle kan hoor hoe die Arabiere op die ander vier meisies bie. Netnou sal hulle twee ook daar moet ingaan en wie weet watter lot hulle daarna te beurt sal val?
Plotseling gaan die deur weer oop en Isabelle en Jeanne moet ingaan. Isabelle se hande is natgesweet van spanning. Teen hierdie tyd het die gevoel dat dit net ’n nagmerrie is waaruit sy sal wakker skrik, finaal verdwyn. Dis die werklikheid dié. Jemen is die Verbode Land. Infidels word doodgemaak, en sy is een. Sy sal nooit na die sonnige Kaap de Goede Hoop kan gaan nie. Sy sal Etienne le Riche nooit weer sien nie.
Hulle word na die middel van ’n ruim vertrek gelei. ’n Swaar wierookreuk hang in die lug. Om hulle sit en lê verskeie goedgeklede Arabiere op kussings. Hulle gesels onder mekaar en lag vrolik oor mekaar se grappies.
Elke meisie word deur ’n wag binnegelei. Isabelle voel die koel vloer onder haar kaal voete, ruik die skerp sweetreuk van die wag langs haar. Sy kan sy asemhaling hoor en die reuk van brandende swael laat kriewel haar neus. Jeanne loop voor haar; haar skouers is blink van die olie waarmee hulle ingesmeer is. Een keer kyk sy om na Isabelle en die angs lê vlak in haar oë. Dan word sy vorentoe gestoot en moet sy voor haar kyk.
Jeanne word eerste opgeveil. Daar is lewendige belangstelling in die donkerkopmeisie met die groen oë en bleek gelaat. Die sjeiks verskeur haar met hul oë, verslind elke ronding asof hulle weet dat hulle hierdie meisie dalk nie weer sal sien nie.
Die prys word opgejaag en een na die ander blaas die minder gegoede sjeiks die aftog. Daar bly net ’n ouerige een oor en ’n vet, olierige sjeik wat raserig aan neute sit en smul.
Isabelle voel siek. Die ou man maak die hoogste bod en hy lag van oor tot oor. Sy donker blik flits vermakerig na die jonger man wat sy prooi voor hom probeer wegraap het.
Jeanne staan ’n oomblik lank roerloos van skok. Dan kyk sy verwilderd om haar rond asof sy na ’n uitkoms soek wat nie daar is nie. Voordat sy haar kan regruk, word sy weggeneem en net voordat sy deur die oop deur verdwyn, ontmoet haar en Isabelle se oë.
Daar is angs in Jeanne se blik wat Isabelle nie verwag het nie. Haar selfversekerdheid het verdwyn. Sy steek haar hand uit en roep magteloos: “Isabelle!”
Trane blink in Isabelle se oë. “Adieu, m’ami!” roep sy en sluk hard. “Mag God jou behoed …” Dan word sy hardhandig teruggepluk na die plek waar sy gestaan het.
“Sy hoort in ’n harem, Suleiman!” roep een van die sjeiks. “Dié een sal nie as slavin deug nie.”
Suleiman kom staan by Isabelle en wys na haar welgevormde bene, wat deur die materiaal sigbaar is.
“Sy het sterk bene, Salah Abed. Sy is nog jonk en ná ’n ruk sal sy ’n goeie slavin wees.”
Daar is ’n beroering onder die mans toe die deur oopgaan en iemand ingestap kom. Isabelle se hart ruk in haar keel toe sy sjeik Xavier Jarad herken. Hy bly ’n oomblik staan en sy blik gly oor haar.
Sy deins effens terug. Sy wil nie hier voor hierdie mans verneder word nie. Die fyn glimlag om sy lippe bring trane van woede na haar oë.
“Wat is die bod, Suleiman?” vra hy.
“Ons het nog nie begin nie.”
“Dan maak ek ’n bod van eenhonderd rijal.” Die ander kyk vinnig na mekaar en die ou sjeik trek sy oë op skrefies.
“Het jy mal geword? Sy is net ’n slavin!”
Xavier Jarad lag, maar sy oë bly koud toe hy na die ou man kyk. “Jy is ’n geslepe duiwel, Salem Khidr. Jy het sewentien vroue en nie een is so mooi soos hierdie een nie. Jy koop haar as slavin en trou dan met haar, of hoe?”
“Wat ek met my slavinne maak, is my saak!” brul die ou man.
Xavier gaan eenkant op ’n kussing sit sonder om hom verder aan Salem Khidr te steur. Sy blik bly vasgenael op Isabelle, wat haar angs tevergeefs probeer wegsteek. Sy voel ongemaklik onder sy intense blik.
Net een ander sjeik is bereid om in te val by die hoë bod. Gou word die prys verdubbel. Xavier Jarad verroer nie ’n ooglid nie. Elke keer stoot hy die prys nog hoër op met ’n kalm, traak-my-nie-agtige stem. Suleiman vee die sweet van sy voorkop af en gaan voort.
Net Salem Khidr en Xavier Jarad bly oor. Meedoënloos jaag hulle mekaar op tot die reuse bedrag van vierduisend rijal, en die spanning hang swaar in die vertrek. Jy kan ’n speld hoor val. Dit was Jarad wat die bod gemaak het en almal se oë is nou op Khidr gerig.
Hy kners op sy tande en sy gesig kry ’n pers kleur. “Vierduisend en vyftig,” sê hy na ’n lang stilte.
Xavier Jarad lag sag. “Jy het verloor, Khidr,” sê hy plesierig. “Ek wou haar nie koop nie. Ek wou hê jy moet hierdie keer duur betaal vir die volgende vrou in jou harem.”
Hy staan op en stap sonder meer uit.
’n Babelse lawaai bars los toe Isabelle uitgeneem word. Khidr raas en skel dat jy hom wie weet waar kan hoor.
“Ek sal jou verbrysel, Jarad! Ek sal jou kop vir die aasvoëls voer! Ek sal jou hart uitslag en dit vir my hond gee om te vreet! Mag jy in die verderf krepeer tot in die ewigheid!” Hy ruk sy hooftooisel af en gooi dit met geweld op die vloer neer. “Jou kind van ’n woestynduiwel!”
Die omstanders lag agter hul hande, want om dit openlik te doen, is om jou dood te soek, veral as Khidr in so ’n vreeslike bui is. Hulle swyg egter soos die graf totdat hy eindelik gekalmeer het en sy beker wyn optel.
Die enigste ligpunt vir Isabelle is dat sy en Jeanne nou weer saam is. Hulle omhels mekaar en die bietjie blydskap is soos balsem op hul verskeurde gemoedere.
“Saam het ons ’n kans,” sê Jeanne sag. “Ons is nie meer heeltemal alleen nie.”
Isabelle antwoord nie. Sy onthou toe Jeanne hulle gewaarsku het dat hulle geen kans het om lewend uit Jemen te kom nie. Daar is byna geen hoop dat sy uiteindelik met Etienne le Riche verenig sal word nie.
Twee dae later verlaat hulle Qa’taba. Isabelle en Jeanne reis op kamele deur rasjids omring. Hulle is swaar gesluier, hul abayas om hul koppe en half oor hul gesigte gedraai. Net hul oë is sigbaar deur ’n spleet.
Hulle trek berge se kant toe. Langs die pad doen hulle by twee birkas aan. Anders as by ’n oase is hier geen bome nie, net die waterputte. Die trôe waarin die kamele water gegee word, word uit die put volgemaak met behulp van watersakke wat uit die dieptes opgehys word.
Die twee meisies kry sjeik Salem Khidr min te sien. Dis amper asof hy van hulle vergeet het. Hy reis in ’n takhtrawan omdat hy al te oud is om die hele ent pad op die rug van ’n kameel te ry, en Isabelle beny hom die gerief van die drastoel. Twee kamele dra dit tussen hulle en hoewel dit bra ongemaklik moet wees, is dit klaarblyklik veel beter as om in die bloedige son op die rug van ’n kameel te sit.
Omdat sy en Jeanne nie met mekaar kan praat nie vanweë die bedekkings oor hul gesigte en die afstand tussen die kamele, het Isabelle oorgenoeg tyd om oor haar benarde situasie na te dink.
Gedurende die afgelope paar weke het sy ’n bietjie Arabies geleer, maar nie genoeg om ’n gesprek volledig te volg of aan een deel te neem nie. Volgens wat sy kon aflei, het sjeik Salem Khidr en sjeik Xavier Jarad ’n vete oor grondgebied. Die gierige Khidr gebruik slinkse metodes om Jarad se grondgebied in te palm en dit lyk asof die twee op ’n bloedige konfrontasie afstuur.
Aan die voet van die berge word die kamele vir perde verruil. Dan begin hulle die gevaarlike tog na die ander kant. Hul eindbestemming is Rada. Daarvandaan is dit ’n hanetreetjie in woestynterme na die wadi Yekka en Salem Khidr se huis.
Isabelle probeer die angs en kommer uit haar gedagtes verban, maar sy slaag nie heeltemal daarin nie. Telkens dwaal haar gedagtes terug na Qa’taba en sjeik Xavier Jarad. Dan is dit asof ’n vreemde gevoel van haar besit neem, asof haar hart stadiger klop en iets haar keel toedruk.
Sy kyk na die troostelose wêreld om haar. So ver as wat sy kan sien, is net die kaal berge. Hier en daar is stokkerige bosse, en dan is dit net die songebakte kors van die bleek wadi waardeur hulle beweeg. Hierdie genadelose land is die wêreld waaraan Xavier Jarad behoort. Hy is soos die graniet van die verre jebels, daardie kranse wat naak teen die suiwer blou hemel uittroon. In sy oë, groen soos die mistige vlei in die oggend, dra hy die verlatenheid van hierdie dor vlaktes. Hy is geen gewone man nie. Hy staan uit tussen die ander omdat hy meer as net die stempel van die woestyn met hom saamdra. Hy is gevorm deur die natuur waarin hy leef, nie deur die mag van geld en die sagte kussings van voorspoed nie.
Sy skrik vir haar gedagtes. In haar verwarring kon sy net dié een man onthou wat ’n indruk op haar gemaak het. Sy dink aan hom met ’n mengsel van vrees en hoop. Miskien sal hy haar kom red van die lot wat haar te beurt geval het. Maar dis net ’n vae hoop, iets wat nie werklik bestaan nie. Dis soos haar droom van haar ridder op sy wit perd.
Hulle bereik Khidr se huis in die wadi Yekka ná die sesde dag. Vanuit die heuwels het hulle ’n asemrowende uitsig oor die vlakte en die huis wat soos ’n pêrel tussen die palmbome by die klein oase staan.
Salem Khidr beduie met ooglopende trots na die geboue tussen die palms.
“Dis my huis,” sê hy en ’n tolk vertaal vir hulle. “Dis waar julle gaan bly en soos julle kan sien, sal julle nie daaruit kan ontsnap nie.” Hy beduie na die barre omgewing. “In enige rigting, selfs te perd of per kameel, sal julle nie verder as ’n week kan kom nie en dit sal julle steeds nie naby julle vryheid bring nie.”
Isabelle sê niks. Dis reeds vyfuur namiddag en die son brand steeds genadeloos neer op ’n verdorde aarde. Hierdie oase is die enigste water binne ’n omtrek van baie myle.
“Julle sal een week hê waarin julle die wette van my huis geleer sal word,” gaan Khidr voort. “Daarna sal julle jul take moet verrig soos enige ander.”
Jeanne knik, maar sê ook niks.
Van die huis af kom ’n paar ruiters aangejaag. Khidr hou hulle ’n paar oomblikke lank dop en praat dan vinnig op Arabies. Dit word nie vertaal nie, maar Isabelle kan aan sy stemtoon hoor dat hy baie omgekrap is. Die noem van Xavier Jarad se naam met soveel woede voorspel niks goeds nie. Sy kyk na Jeanne, wat haar oë effens trek asof sy ook wonder waarin hulle nou beland het. “Ons sal hulle halfpad moet ontmoet,” sê die rasjid by Khidr. “Moet ek aan hulle beduie dat hulle onder moet wag?”
Khidr sug diep. “Ja, doen dit. Die slegte nuus kan nog ’n paar minute wag.”
Hy kyk om na die twee meisies en sy glimlag laat Isabelle ril. Dan praat hy weer en noem nogmaals Jarad se naam. Sy lag klink onheilspellend.
Isabelle sidder. Sy kan net vaagweg volg wat hy sê omdat hy te vinnig praat, maar sy is daarvan oortuig dat hierdie ou man boos is. In sy swart oë sien sy net haat en gierigheid, en dit laat stoot angs in haar op.