Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 10

6

Оглавление

Hanna staar lank na Markus sonder om iets te sê. Sy is baie bleek, en dis asof daar ’n lig in haar oë doodgegaan het.

“Dan het dit uiteindelik gebeur,” sê sy dof. “Leydshoop sal nooit aan my kan behoort nie.”

Markus kyk vinnig na haar.

“Moenie laf wees nie, Hanna. Hy sê net dat hy ’n rukkie lank kom kuier. Ek is maar net bly om my seun weer na ál die jare te sien … of wens jy my nie dié geluk toe nie?”

Sy kyk moeg op.

“Ja, Markus, ek is bly vir jou part dat hy terugkom, maar jy het nog nie een oomblik aan my en my gesin se toekoms gedink nie.”

“Daar is niks om oor te dink nie. Alles sal bly soos dit is.”

Sy skud haar kop stadig.

“Nee, dit sal nie … jy sal die plaas aan Derek nalaat al het hy jou drie-en-twintig jaar lank vergeet.”

Markus se vrolikheid verdwyn soos mis voor die son.

“Ons kan later daaroor praat,” sê hy stug en steek die brief in sy sak. Dan draai hy om en loop geboë van hulle af weg. Al die vreugde het uit hom gewyk, en die hartseer het teruggekom.

Rosalie hardloop na hom toe en steek haar arm deur syne.

“Kom ons gaan stap ’n lang ent, en dan vertel oom Markus vir my wat hy geskryf het.”

Hy glimlag vaag toe hy na haar kyk.

“Jy is ’n liewe kind, Rosalie, maar ek glo nie jy wil regtig weet nie.”

Sy gee sy arm ’n drukkie.

“O ja, ek wil.”

“Dis ’n lang brief,” begin Markus onseker. “Hy vertel van waar hy orals was … oorkant die Limpopo, op die gouddelwerye op Barberton en in die oorlog wat pas verby is. Hy was oral.” Hy aarsel. Dan hervat hy: “Hy het gedink dat ek nie meer lewe nie, en daarom het hy nooit geskryf nie. Iemand het hom vertel dat ek aan ’n hartaanval dood is, en hy wou nie terugkom na Leydshoop toe nie … omdat ek nie meer hier sou wees nie. Eers toe hulle op kommando was die laaste jaar, het hy gehoor dat ek nog leef, en hy het so gou as wat die oorlog verby was, geskryf. Hy kom terug … al is dit net om te kuier. Al die lang jare wat hy weg was, het hy my nie vergeet nie … Die woorde borrel oor oom Markus se lippe en Rosalie luister. “Hy het my onthou en hy wou terugkom …”

“Is hy weer getroud?” wil sy weet.

“Hy sê nie.”

“Maar hy kom darem terug, oom Markus.”

Hy sit sy arm om haar skouers en gee haar ’n stywe druk.

“Ai, Rosalie, na ál die jare gaan ek my kind weer sien.” In sy oë is die geluk vlak, versag dit die harde lyne van swaarkry op sy gesig. “Ek sal my seun weer by my hê. Destyds was hy maar ’n rapsie ouer as wat jy nou is. Hy was vyf-en-twintig toe hy hier weg is en as ek nie verkeerd is nie, sal hy nou naby die vyftig moet wees … dis ’n baie lang tyd …”

Sy glimlag.

“Julle sal baie hê om oor te gesels.”

Hy gaan skielik staan. “Ons moet teruggaan huis toe. Die werk wag vir ons.”

Terwyl hulle terugloop, wonder Rosalie hoe die koms van Derek haar eie lewe gaan beïnvloed. Sy sal nie meer die eerste plek in oom Markus se lewe inneem nie, en sy sal op die agtergrond geskuif word. Dan sal sy oom Markus nie meer in die steek laat as sy weggaan nie. Dit sal dit vir haar makliker maak.

Vandat die spaider op die plaas aangekom het, is daar gedurig onenigheid. Samuel span enige twee perde in wat hy kan aankeer, en meesal is dit Harmonie wat deurloop, totdat oom Markus ’n groot slot vir haar gaan koop waarmee sy die perd se stal snags kan toesluit. Samuel raas en skree dat hoor en sien vergaan daaroor, maar Rosalie weier om die sleutel vir hom te gee.

Thor het intussen aangesterk, en hy is ’n stewige vulletjie. Wanneer Danser nie haar skofte op die dorsvloer werk nie, hardloop hy agter sy ma aan totdat oom Markus hom een oggend voorneem om die vul te speen. Die diertjie is al ses weke oud, en oor ’n week of twee kan hy die vul van sy ma af wegneem.

Niemand het weer gepraat van Ansie du Preez nie. Rosalie is baie dankbaar daaroor omdat sy nie nóg verdere onsekerheid oor haar herkoms sal kan verduur nie. Dis al moeilik genoeg om onder die omstandighede te leef. Tog wonder sy of Clara dit nie dalk teenoor Julius de Koning genoem het nie. Julius was voorheen ook stug teenoor haar, maar dit het vererger sedert daardie dag toe oom Frank dit aan oom Markus gesê het.

Frank kuier deesdae net naweke op Leydshoop. Dan lê hy gewoonlik net in die kamer en tant Hanna moet vir hom kos aandra. Hy drink ten minste twee bottels brandewyn die naweek uit, en Sondag vroegaand ry hy terug Harrismith toe. Hy praat geen dooie woord met oom Markus nie, tensy hulle stry kry. Frank is baie verbitterd dat Markus hom van die plaas af gejaag het. Op die dorp hou hy ook nie ’n werk nie, omdat hy al sy geld uitdrink.

Rosalie sien altyd die verligting op tant Hanna se gesig wanneer oom Frank vertrek. Sy kry die vrou jammer omdat sy self maar deur ’n beproewing gaan.

Nadat die dorsery agter die rug is, is dit vir Samuel ook makliker om twee perde te kry om voor sy spaider in te span. Dan vertrek hy gewoonlik vroeg in die oggend om eers laataand terug te keer.

Een Sondagoggend soek hy weer na twee perde om op te saal toe hy oom Markus by die stal raak loop.

“Jy gaan vanoggend saam kerk toe,” sê die ou man eenvoudig.

“Ek is nie lus nie. Ek wil ’n ent met my spaider gaan ry, en dan wil ek vir Sarie Langeveld gaan oplaai. Ons wil die dag gaan piekniek hou.”

Markus se gesig verhard.

“Ek het gesê dat jy vanoggend saam kerk toe gaan, en so sal dit wees.”

Samuel vererg hom.

“En ek het gesê dat ek wil gaan ry en basta! Ek is oud genoeg om my eie besluite te neem.”

Markus haak ’n riem van die muur af.

“Jy is nie te oud vir ’n pak slae nie.”

Samuel gaan staan wydsbeen voor oom Markus.

“Slaan aan my, en ek slaan jou gesig pap, oubaas! Moenie weer met my torring nie.”

Markus se oë vernou.

“Jy moenie my onderskat nie, Samuel,” sê hy stadig. “Jy het my laas onkant gevang, maar nie hierdie keer nie. Ek is reg vir jou.”

Samuel lag minagtend.

“Oom sal nie aan my raak nie.”

Die riem fluit deur die lug en die punt krul om Samuel se rug. Die woede skiet na sy oë.

“Jy durf aan my slaan!” roep hy woedend uit.

Markus bly kalm.

“Geen kind praat só met my nie! Jy het in jou hele lewe nog nie ’n pak slae gehad nie, maar ek sal jou regfoeter! ’n Slap papbroek soos jy sal nié hierdie plaas erf nie! Jy is reg of weg!”

Samuel aarsel. Hy besef dat Markus nog die hef in die hand het, maar hy is te kwaad om toe te gee.

“Ek is nie meer ’n kind nie, oom Markus!”

“Maar jy is darem nog nie ’n man nie. Jy sal doen wat ek sê, of ek bemaak die plaas aan Rosalie!”

Dit ruk Samuel tot stilstand.

“Goed, ou man, hierdie keer het jy nog die laaste sê,” sis hy, “maar dit sal nie meer lank wees nie.”

“Ons sal sien,” sê Markus en laat die riem sak. “Op Leydsgrond het ’n Leyds altyd die laaste sê!”

Samuel loop woedend weg. Hy sal Sarie nie vandag kan sien nie, en hoe gaan hy dit aan haar verduidelik? Hy is nou wel nie verlief op haar nie, maar sy is ’n gewillige meisie, en daar is nie baie van hulle in die buurt nie. Sy maats sal hom uitlag as hulle weet dat oom Markus hom tot gehoorsaamheid gedwing het. Hy spog altyd by hulle dat hy die ou man in die holte van sy hande het, maar noudat oom Derek terugkom, sal dit dalk nie meer so wees nie. Hy moet aan ’n plan dink om Markus te laat sterf voordat Derek terugkom. Dis die enigste uitweg.

Later, toe hulle weer op die kapkar moet klim om terug te keer huis toe, kom staan Charles by Rosalie. Hy het die diens die oggend in die kerkie gelei, en hy was verheug om die Leydse en die Wepeners ook in die kerk te sien.

“Ek het spesiaal vir jou gepreek, Rosalie,” sê hy ingenome met homself.

Sy glimlag vaag.

“Veral oor die hel en die verderf, nè?”

Hy kyk geskok na haar.

“Dis ’n sonde om te spot!”

Haar blik rus kalm op hom.

“Dis al waaroor jy gepreek het, Charles. As ek my nie bekeer nie, sal ek na ’n plek toe gaan waar ek nie wil wees nie. Dit was min of meer die strekking van jou preek vanoggend, of wil jy stry?”

“Jy het my verkeerd verstaan, Rosalie,” sê hy ongelukkig. “Ek wou vir jou die pad na hoop en liefde wys.”

Sy kyk ’n lang ruk swyend na hom.

“Jy weet, Charles, ek sal dalk nog eendag met jou trou net omdat daar vir my geen ander keuse is nie.”

Hy glimlag nederig.

“Dan sal dit die wil van die Skepper wees.”

Renier kom by hulle staan en kyk half geamuseerd na Charles wat met ’n selfvoldane glimlag om sy mond voor Rosalie staan. Sy blik dwaal na die meisie in haar roomkleurige uitrusting van swaar sy. Die mouboordjie, kraag en hals is met swart kant afgewerk, en op haar kop het sy ’n swart breërandhoed met ’n roomkleurige strik agter die bol. Sy lyk pikant en pragtig in die tabberd wat slank van voor en vol en wyd van agter vertoon. Ook op die soom is swaar swart kant gewerk, maar dit lyk nie oordoen of uitspattig nie. Dit lyk eerder deftig en smaakvol.

“Wat het jy vir Charles gesê?” vra Renier toe die jong predikantjie van hulle af wegstap.

Sy kyk op na hom, en haar oë is helderblou soos die hemel op ’n lenteoggend.

“Ek het hom vertel dat ek dalk nog eendag met hom sal trou.”

Hy frons.

“Jy het ’n fout gemaak, Rosalie. Hy sal dit nou aanvaar dat julle verloof is.”

Sy skud haar kop.

“Hy sal dit nie waag nie. Dan sal ek hom in die grootste skande steek wat hy nóg in was.”

“Ek is bly om te sien daar het nog iets van jou ondeundheid oorgebly.”

Sy lag.

“Het jy met jou landauer gekom?”

“Ja, wil jy saamry huis toe? Jy het nog nie eens ’n draai daarin gemaak nie.”

Sy skud haar kop.

“Ek sal dit liewer nie waag nie, dankie. Dit sal ’n groot bohaai by die huis veroorsaak. Op die oomblik gaan dit juis weer redelik rustig.”

Hy glimlag.

“Dus is jy nie meer van plan om sommer net so pad te gee nie?”

“Ek wag tot oom Derek huis toe kom en dan sal ek gaan. Dan hoef ek my nie meer oor oom Markus te bekommer nie.”

“Ek het gehoor hy kom terug. Dit moes baie vir die ou man beteken het.”

Rosalie glimlag.

“Ek het hom nog nooit so uitbundig van vreugde gesien nie. Hy het die kapkar byna omgekeer.”

Renier lag en dan versag die blik in sy oë.

“Jy is baie erg oor jou oom Markus, Rosalie. Jy sal hom nie maklik kan alleen laat nie.”

“Nee, ek sal nie kan nie, maar ek sal dit net ter wille van hom doen. Hy besef nie dat dit vir hom veel beter sal wees as ek weg is nie.”

Clara haak by Renier in en draai haar rug op Rosalie.

“Ek het ’n paar dingetjies wat ek met jou wil bespreek, liefling,” sê Clara met ’n liefderyke glimlag.

Renier is verplig om haastig half oor sy skouer by Rosalie verskoning te maak, en hy kyk verbaas na die meisie toe hy haar oë vol lag op hom gerig sien. Clara sleep hom byna letterlik van Rosalie af weg.

Op pad terug Leydshoop toe babbel Clara onophoudelik oor Renier en wat hulle alles gepraat het totdat Rosalie lus voel om van die kapkar af te spring. Hanna kom tot almal se redding toe sy die onderwerp skielik in ’n ernstiger rigting stuur.

“Ek het navraag gedoen oor Ansie du Preez,” sê sy toe daar ’n kort verposing in Clara se relaas kom. Onmiddellik is daar stilte tussen hulle. Oom Markus se hande verstyf om die teuels.

“En wat het jy uitgevind?”

Hanna aarsel en sê dan: “Ansie leef nog. Sy het met ’n losieshuis op Bloemfontein begin, en haar dogter is saam met haar daar.”

Markus ontspan merkbaar en sug van verligting.

“Ek sal Frank se arm nog hiervoor breek.”

Rosalie voel ook verlig. Sy het verwag Hanna sou gesê het dat Ansie dood is en dat niemand weet wat van haar dogter geword het nie, maar hierdie nuus bring weer ’n bietjie hoop vir haar. Dit sal dalk nie nodig wees dat sy heeltemal so haastig hoef op te tree nie. Hanna se volgende woorde laat egter weer haar hoop verkrummel.

“Dit wil natuurlik nie sê dat sy wél ’n pa iewers het nie. Sy kan nog steeds buite-egtelik wees.”

“Ek wil niks verder oor die onderwerp hoor nie,” sê Markus beslis. “Rosalie is nou mý kind, en so gaan dit bly.”

Rosalie kyk ver oor die vlaktes uit. Leydshoop is haar tuiste, al is dit ’n bietjie wankelrig op die oomblik. Miskien verander dinge as Derek eers terugkom. Sy sal maar net moet sit en wag en kyk wat gaan gebeur.

Renier se landauer haal hulle in, en op ’n gelyke stuk aarde steek hy by hulle verby. Hy waai vir hulle, en dan byt Markus op sy tande.

“Ek sal mos nie dat so ’n bogsnuiter my wen nie!” Hy lig die sweep en laat dit oor die twee perde se koppe klap. “Joehaaaa!” skreeu hy, en sy oë blink van opwinding.

“Asseblief, Markus … probeer Hanna keer terwyl sy haar hoed styf op haar kop vasdruk. “Jy kan nie so jaag nie!”

“Ek sal daardie lompe gevaarte maklik klop, Hanna! Hierdie wa word in ’n goeie toestand gehou! Joehaaaa!” Die sweep klap weer oor die perde se koppe, en hulle begin in volle vaart hardloop.

Renier kyk oor sy skouer terug en sien die kapkarretjie in volle vaart aangery kom. Hy lag opgewek en spoor sy eie perde aan om vinniger te hardloop.

Rosalie hou haar hoed met die een hand vas, en met die ander klou sy aan die kant van die kapkar. Die rytuig skommel gevaarlik heen en weer, maar oom Markus steur hom nie daaraan nie. Sy oë blink van die opwinding, en hy lag uitbundig.

Die bome en bosse skiet by hulle verby, en telkens dink Rosalie dat hulle teen een gaan bots, maar op die laaste oomblik flits dit rakelings by hulle verby. Sy sluk swaar. As hierdie karretjie moet omkeer, gaan hulle al vier baie seerkry. Dit lyk egter nie of oom Markus aan dié moontlikheid dink nie. Hy wil net die landauer wen, en die res tel niks by hom nie.

Die afstand tussen hulle en die landauer krimp stadig, maar dit krimp. Rosalie sit voor langs oom Markus. Skaars ’n halwe meter van haar voete af is Sahara en Sheba se agterstewe. Dit maak haar dronk om net na die grond te kyk wat onder die kapkar deurskiet. Dus kyk sy maar weer terug na die agterkant van die landauer wat stadig nader kruip. Daar is bome langs die pad, en oom Markus moet die perde effens inhou omdat hulle nie verby kan gaan nie.

Renier ry skielik stadiger en bring uiteindelik sy landauer tot stilstand. Hy klim van die waentjie af en kom na oom Markus toe aangestap.

“Dis onnodig om die perde so te moor, oom Markus,” sê hy laggend. “Dié waentjie is nog steeds die vinnigste.”

Oom Markus lag opgewek.

“Dis nou wat ek ruiterlikheid noem! ’n Man moet dit kan erken as hy verloor het.”

Daar is ’n onpeilbare uitdrukking op Renier se aantreklike gesig.

“Nie altyd nie, Oom. Soms byt ’n man nog ’n bietjie vas, of hoe?”

Oom Markus sien nie die subtiele verandering in Renier raak nie.

“Jy’s reg, ou seun. Dit maak juis van ’n mens ’n goeie sportman.”

Renier glimlag en staan terug.

“Dan ry ons nou maar verder. As Oom wil verbygaan, doen dit gerus. Ek jaag nie vandag meer resies nie.”

Die res van die pad word teen ’n meer gematigde tempo afgelê. Rosalie kon kwalik haar verligting wegsteek toe Renier netnou die resies beëindig het. Die uitslag kon dalk noodlottige gevolge vir hulle vier gehad het.

Gedurende die res van die week bly oom Markus dwalende. Hy is rusteloos, en by die werkery in die skuur waar die sakke koring opgestapel word, is hy iesegrimmig en verskreeu hy die werkers soms onnodig.

Daar het nou al meer as twee weke verloop sedert hy van Derek gehoor het, en hy het nog nie uitgekom nie. Hoe lank moet hy dan nog wag om sy seun terug te verwelkom?

Vrydagmiddag kom Samuel by die huis met die nuus dat daar die Saterdag ’n perdewedren op Harrismith gehou word. Enige perd mag ingeskryf word.

Rosalie se oë vonkel.

“Kan ek Harmonie inskryf, oom Markus?”

Die ou man kyk onseker na haar.

“Wie sal hom ry? Ek sal nie toelaat dat jy dit self doen nie.”

“Maar hoekom nie, oom Markus? Ek is die enigste een wat haar verstaan.”

“Ek sal haar ry,” bied Samuel onverwags aan.

Rosalie kyk onseker na hom.

“Jy sal haar skrik maak met jou wilde ryery, en dan sal dit neusie verby wees.”

Hy vererg hom.

“Wil jy vir my sê dat ek nie kan perdry nie?”

Sy skud haar kop heftig.

“Dit het ek nie gesê nie, maar vir Harmonie moet ’n mens sagkens behandel om die beste uit haar te haal.”

Samuel haal sy skouers op.

“Wel, as ek nie kan ry nie, dan moet jy jou perd maar liewer môre op stal hou.”

Oom Markus byt aan sy snor.

“Laat hom die een keer ry, Rosalie, dan kyk ons wat daar in hom en die perd steek. As Harmonie wen, sal jy ’n waardevolle perd in jou besit hê.”

Rosalie gee eindelik toe alhoewel sy nie baie van die gedagte hou dat Samuel die perd moet ry nie. Hy lê te maklik die sweep in, en dit gaan Harmonie steeks maak.

Saterdagoggend is sy baie vroeg uit die vere om na die perd te gaan omsien. Tot haar verbasing vind sy Samuel reeds by die stal besig om Harmonie se saal na te gaan en ’n bietjie te verstel.

“Ons gaan wen, gaan ons nie, Samuel?” vra sy onseker terwyl sy die perd se nek streel.

“Dit hang alles van Harmonie af.”

Sy draai om na hom.

“En van jou. Miskien moet jy ’n entjie met haar gaan ry dat sy eers aan jou gewoond raak.”

Hy kyk vinnig op.

“Ek het dit al klaar gedoen, en ons kom baie goed oor die weg.” Hy staan op en sit die saal op die vloer neer. “As ek vandag met Harmonie wen, wil ek haar in die vervolg voor my spaider inspan.”

Rosalie ruk orent.

“Jy kan dit nie doen nie!”

“Dan wen ek nie!”

“Nou goed, verloor dan maar, maar jy sal haar nié vir jóú gebruik vat nie!”

Hy gooi die teuels woedend neer.

“Jy is ’n koppige vroumens! Jy kan hierdie perd vir meer as ’n duisend pond verkoop as sy vandag wen!”

“Sy is vir my meer as ’n duisend pond werd! Sy is die enigste vriend, behalwe oom Markus, wat ek het!”

Samuel byt op sy tande. Uit ondervinding weet hy dat hy Rosalie nie in ’n ding kan dwing nie.

“Dan ry ek haar nie.”

Rosalie lig haar kennetjie.

“Ek kan dit self doen, dankie!”

“Oom Markus sal dit nooit toelaat nie!”

Sy kyk woedend na Samuel.

“Ek hoef maar net vir oom Markus te sê hóékom ek verplig is om die perd self te ry, en dan sal hy my toelaat om dit te doen.” Sy onthou iets anders. “Jy kan die helfte van die prysgeld kry as jy wen.”

Hy lag.

“Ek was in elk geval van plan om alles te vat, ou niggie!”

Rosalie staar hom nog ’n oomblik sprakeloos aan, en dan draf sy by die stal uit op soek na oom Markus.

Samuel weet uit ondervinding dat daardie vasberade stappie van Rosalie net moeilikheid voorspel, en hy hardloop uit om haar te keer.

“Nou goed, jy wen. Ek sal die helfte van die prysgeld vat en Harmonie met rus laat op een voorwaarde.”

Sy kyk agterdogtig na hom.

“En dit is?”

“Dat ek Harmonie se eerste vul kry.”

Rosalie staar hom aan. Haar verstand wil maar nie begryp wat hy sê nie, en toe dit tot haar deurdring, oorval ’n moedeloosheid haar. Samuel is besig om haar af te pers, maar sy het hom al afgedwing na ’n kompromie vir die toekoms. Sy sou nie graag Harmonie se eerste vul wou afgee nie, maar aan die ander kant is sy ook in ’n hoek. Sy wil só graag hê die perd moet vandag wen.

“Nou goed,” sê sy gelate en hy grinnik. “Maar net die eerste vul! Al vrek dit ook na twee dae, kry jy net die eerste vul!”

Hy lag ingenome.

“Top! Ek belowe jou ek sal vandag met haar wen.”

Twee uur later is hulle in die kapkar op pad Harrismith toe. Samuel kom agterna gery op Danser terwyl hy Harmonie aan ’n riem lei. Hy fluit ’n vrolike deuntjie terwyl hy voortry. Wat hy nié aan Rosalie gesê het nie, is dat daar twee perdekopers uit Pietermaritzburg en Bloemfontein vandag op die dorp sal wees. Hy kan dalk ’n goeie prys vir daardie vulletjie nou al beklink. Dalk kan hy nog vir Rosalie ompraat om Harmonie te verkoop en die helfte van die geld in sy sak te steek. So iets kan altyd bewimpel word.

Die De Konings is ook reeds daar, en hulle kom die kapkar tegemoet toe dit eenkant van die pad af trek.

Julius groet oom Markus opgewek.

“Ek sien jy het vir Harmonie saamgebring. Gaan jy haar inskryf?”

Oom Markus lag.

“Dis Rosalie se idee. Sy wil hê die perd moet vandag wen.”

“Renier het reeds vir Storm ingeskryf. ’n Kleinnefie van ons gaan hom ry.”

Oom Markus dink ’n oomblik na en sê dan: “Julle gaan ’n gewigsvoordeel hê. Samuel is die enigste ander een wat Harmonie kan ry.”

Julius lag.

“Voorspoed, buurman! Storm gaan stof in jou merrie se oë skop.”

Rosalie en Samuel neem Harmonie na die plek waar sy ingeskryf moet word. Dan word sy weggelei na ’n klein stalletjie totdat dit tyd word dat die perde na die wegspringplek toe moet gaan.

Haar blik dwaal oor die baan waar die perde moet hardloop. Harmonie ken hierdie soort omgewing van bulte en klipperige grond en steil op- en afdraandes. Dit behoort nie vir haar moeilik te wees om die pas vol te hou nie. As Samuel net nie te haastig met die sweep is nie, sal sy baie goed vaar.

Sy stap stadig terug na oom Markus toe Samuel by ’n paar van sy vriende aansluit. Clara is nie daar nie, en Rosalie vermoed dat sy intussen na Renier gaan soek het. Hulle sluit egter ’n paar minute later weer by Markus se geselskap aan. Toe Clara na die kapkar gaan om iets daar te gaan haal wat sy vergeet het, kom staan Renier by Rosalie.

“Ons sal vandag sien wie die beste daaraan toe is,” sê hy laggend. “Wil jy iets gaan verwed op jou perd?”

Sy skud haar kop glimlaggend.

“Ek wil nie wed nie, Renier, ek wil wen!”

“Ek ook,” sê hy met ’n vonkeling in sy oë. “Ons moet sorg dat ons by die wenpaal is wanneer die perde oor die streep jaag.”

“Hoe laat spring hulle weg?”

Hy haal sy goue sakhorlosie uit en knip dit oop.

“Oor ongeveer ’n halfuur.”

“Dan was ons ook net betyds, of hoe?”

Clara sluit weer by hulle aan en dwing Renier weg van Rosalie af. Rosalie bly alleen agter en kyk hulle ’n lang ruk ingedagte agterna voordat sy na oom Markus en tant Hanna toe oorstap. Sy kom saam met Julius by hulle aan, en daar is nie wegkomkans nie.

Julius lyk baie tevrede met homself.

“Ek glo nie ek hoef my meer oor Renier te bekommer nie, Markus. Hy het belowe dat hy sy verlowing met Clara nog voor die winter sal aankondig.”

Markus glimlag.

“Ek is bly. Ons wag darem al baie lank daarvoor.”

“Te lank. Hulle moes lankal getroud gewees het, maar ek het ’n steeks seun wanneer dit by trou kom.” Hy kyk na Rosalie. “Ek verstaan van ander mense dat jy en Charles Bennet verloof is?”

Rosalie snak na haar asem.

“Daar steek geen waarheid in nie, oom Julius.”

“Almal praat daarvan,” hou Julius vol. “Die hele dorp weet dat jy teen Junie met Bennet sal trou om hom Bethlehem toe te vergesel.”

Rosalie se mond voel skielik kurkdroog.

“Ek sal nooit met hom kan trou nie!”

Julius lig net sy een wenkbrou afkeurend en wend hom dan weer tot Markus.

Rosalie vlug van hulle af weg. Sy loop vinnig tussen die bome deur totdat sy baie ver van die menigte mense af is. Daar gaan leun sy teen die skurwe stam van ’n boom terwyl sy met bitterheid in haar hart uitkyk oor die bedrywighede.

Charles Bennet probeer haar op ’n slinkse manier vang, maar sy gaan dit nie toelaat nie. Sy sal sorg dat hy nóóit weer in haar rigting kyk nie. Daar is nie veel tyd om haar plan tot uitvoer te bring nie, maar sy begin dadelik terughardloop na die krioelende mense. Sy kry oom Markus by die kapkar besig om die twee perde voer te gee. Hy kyk verbaas op toe sy uitasem by hom aansluit.

“En toe? Waarheen is die haas?”

“Oom Markus, het oom vir my asseblief ’n paar pond? Oom hoef nie vir my sakgeld vir die volgende paar maande te gee nie. Ek het die geld net nou dringend nodig.”

Hy lag sag.

“As jy wil wed, is dit jou saak, kind.” Hy steek sy hand in sy sak en tel vir haar vyf pond af. “Ek hoop net Harmonie wen.”

“Dankie, oom Markus!” roep sy uit voordat hy nog verder kan praat.

Sy draf die naaste algemene handelaarswinkel binne en gaan uitasem staan, ’n Jong man kom nader om haar te help en sy glimlag dankbaar.

“Ek wil ’n rybroek vir ’n dame hê, asseblief.”

Hy lig sy wenkbroue verbaas.

“Ons hou nie so iets aan nie, Juffrou. Hier is net rybroeke vir mans.”

Rosalie aarsel net ’n oomblik.

“Wat kos hulle?”

“Drie pond en vyf sjielings.”

“Gee vir my julle kleinste nommer, asseblief.”

Met die kledingstuk in haar hand, hardloop sy na die klein kantoortjie agter in die winkel om die broek aan te pas. Dan pluk sy die wye tabberd uit, rol dit in ’n los bondel op en sit dit op ’n stoel neer. Gelukkig het sy vanoggend ’n romp en bloese aangetrek, dink sy dankbaar. Haar kort steweltjies sal maar moet deug. Daar is nie nog genoeg geld vir ’n ander paar stewels ook nie.

Sy draf weer uit en betaal die verbaasde winkelier vir die broek. Sy blik bly geskok op haar vietse lyfie in die mansrybroek.

“Ek het my klere in jou kantoor gelaat. Ek sal dit ná die wedren weer by jou kom kry.” Dan hardloop sy uit in die son en terug na die skare mense wat nou by die wegspringplek vergader. Niemand slaan veel ag op haar nie. Hulle aandag is by die perde wat nou een vir een uit die stalle gelei word.

So in die verbygaan plaas Rosalie ’n weddenskap van sewe teen een op Harmonie. Storm is die gunsteling, en Warfire van die Du Toits is tweede gunsteling. Harmonie is die derde perd op die lys.

Met die stukkie papier in haar sak, baan sy haar weg na waar Samuel op die punt staan om op Harmonie te klim. Hy kyk geskok na haar toe sy hier langs hom in mansrydrag verskyn.

“Wat die duiwel dink jy doen jy!” sis hy. “Oom Markus gaan jou velle van jou lyf aftrek!”

“As mens ’n haas is en ’n jakkals is op jou spoor, moet jy gal aan jou stert vryf,” sê sy. “Dit sal hom gou genoeg leer om nie sommer te hap wat hy nog nie het nie.”

Samuel skud sy kop.

“Jy’s mal! Wat van ons ooreenkoms?”

“Jy sal die vul kry as jy my nou sal toelaat om op te klim.”

Hy sug en staan eenkant toe.

“Nou maar goed.”

Sy klim in die saal, buk oor en haal sy hoed van sy kop af.

“Haai! Wat maak jy!”

“Ek wil nie onnodig maklik herken word nie!” Sy druk die hoed op haar kop en gee die perd spore voordat Samuel haar kan keer.

Harmonie trippel senuweeagtig uit die stal. Die ongewone geraas maak haar skrikkerig. maar omdat Rosalie deurentyd paaiend met haar gesels, bedaar sy geleidelik.

Daar is twaalf perde wat aan die wedren gaan deelneem. Rosalie herken dadelik Renier se pragtige swart sweetvos met sy wit maanhare en stert. Dis ’n manjifieke dier wat sy nog altyd bewonder het. Die seun wat hom ry, is nog baie jonk, en Rosalie skat hom so om en by sestien. Dit gaan ’n harde wedren afgee, dink sy. Storm is ’n groot, sterk perd en met ’n ligte jokkie in die saal, gaan hy al die voordeel hê wat hy nodig het.

Die toeskouers kyk nuuskierig na Rosalie. Haar bloese vol valletjies en kant verraai dat dit beslis nie ’n man is wat in die saal sit nie.

Die perde staan langs mekaar en rondtrippel terwyl hulle wag dat die vlag moet val. Rosalie kyk nie na die ander om haar nie. Haar blik bly deurentyd op die vlag terwyl sy sag met Harmonie praat. Die perd staan roerloos, haar soepel spiere tril van opwinding.

Dan vlieg die vlag, en Harmonie skiet vorentoe soos ’n pyl uit ’n boog. Rosalie sak laag in die saal, haar wang amper teen die dier se nek. Sy spoor haar aan tot ’n stywe galop en dan hardloop Harmonie.

Rosalie hou die perd in en gee haar nie die teuels nie. Van die ander perde gaan by hulle verby, maar Rosalie laat haar nie daardeur afskrik nie.

“Spaar jou asem, ou grote,” fluister sy in Harmonie se oor, “dis nog ’n lang pad wat jy moet hardloop.”

Storm hardloop nou skuins voor haar, omtrent ’n halwe lengte tussen die twee. Ook die jong seun hou Storm in, en Rosalie glimlag. Renier het hom goed touwys gemaak, dink sy.

Hulle verdwyn om die eerste draai, en die toeskouers begin opgewonde onder mekaar gesels.

Oom Markus kyk verskrik na Samuel toe hy by hulle aansluit.

“Wie ry dan vir Harmonie?” bulder hy.

“Dis Rosalie, oom Markus. Sy wou nie luister nie.”

“My liewe genade!” roep Hanna ontsteld uit. “Die kind sal verongeluk!”

Samuel haal sy skouers op.

“Ek dink nie so nie. Daardie meisiekind kan soos die duiwel ry as sy die dag wil. Ek het haar al baie dopgehou, en sy stuit vir niks.”

Oom Markus skud sy kop onbegrypend.

“Maar hoekom? Hoekom?”

“Sy het gesê as jy ’n haas is en ’n jakkals is agter jou, moet jy gal aan jou stert smeer.” Samuel lag geamuseerd. “Sy het gesê dit sal hom leer om nie gou weer te hap wat hy nog nie het nie.”

Skielik begryp oom Markus en hy word bleek.

“Dit gaan oor Bennet. Sy het gehoor toe Julius sê dat die storie die rondte doen dat sy en Bennet verloof is. Liewe aarde! Hoe kón ek so blind gewees het?”

Hulle kry nie die geleentheid om verder te praat nie, want die perde maak weer hulle verskyning agter die koppie.

Rosalie en Storm is nou die enigste twee perde wat voor is. Kort op haar hakke volg nog twee wat kop aan kop aangestorm kom. Teen hierdie tyd begin die spanning en vermoeienis haar aftakel. Haar arms pyn daarvan om Harmonie gedurig in te hou. Een keer sien sy die jong seun op Storm se gesig vertrek van pyn, en sy weet dat sy nie die enigste is wat moeg is nie. Dit gee haar weer nuwe moed om voort te jaag.

Teen die afdraand hou sy Harmonie effens in. Sy wil nie hê die perd moet seerkry nie. Storm skiet onder haar uit, en ’n ander perd struikel en val. Rosalie kan nie terugkyk om te sien wat verder gebeur het nie. Storm het nou waardevolle veld gewen.

Die oop pylvak is skielik voor haar.

“Toe nou, Harmonie,” fluister sy dringend. “Wys vir hulle wat daar in jou steek!”

Harmonie skiet vorentoe. Rosalie hou nou net aan die saalboom vas om nie af te val nie. Daar is nie meer krag in haar om die perd te stuur nie, maar dis ook nie nodig nie. Storm is voor haar en Harmonie, en Storm het al dikwels in die verlede resies gejaag. Vir Harmonie is daar nou net een ding voor … sy moet die manjifieke swart-en-wit hings klop.

Sy span elke spier in haar moeë lyf in om die ander perd in te haal. Onder Rosalie donder die hoewe oorverdowend. Sy ruik die salpeter op die perd se vel, voel hoe die dier onder haar alles inspan om die wedren te wen.

Dan skuif hulle langsamerhand langs Storm in. Die jong seun haal ’n lat uit en slaan so al wat hy kan oor Storm se kruis. Rosalie laat Harmonie haar gang gaan sonder om ’n vinger te lig om die perd aan te spoor. Harmonie sal alles doen wat sy kan sonder om geslaan te word. Sy het Rosalie in die saal, en dis meer as genoeg aansporing.

“Genade, maar daardie vroumens kan ry!” roep ’n man bewonderend uit, en oom Markus glimlag trots.

’n Honderd treë van die wenstreep af is die twee perde gelyk. Hulle byt in die stange vas en laat die aarde onder hulle hoewe verbyskeur.

Markus kan die manjifieke spiere op die twee pragdiere se velle sien bult met elke haal. Hulle grasie in volle vaart bring ’n knop in sy keel. Dit lyk asof hulle nie aan die grond raak nie, asof hulle die wind as vlerke het. Dis die trots van ’n rasegte perd om nie kop te gee nie, moedig tot die bittereinde.

Hulle velle blink van die sweet, en die spiere beur soepel van haal tot haal. Hulle hap in die wind, en dit stuur ’n rilling langs Markus se ruggraat af. Hy laat die trane openlik teen sy wange afloop.

Dan is die wenstreep daar en donder die hoewe ’n ent verder tot stilstand terwyl die mense juig en die moeë ruiters uit die saals help.

Annelize Morgan Omnibus 8

Подняться наверх