Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 7
3
ОглавлениеRosalie kyk met nuwe oë na die rose in tant Hanna se blomtuin. Daar is vir haar nou iets anders as perde en die buitelewe wat haar belangstelling wek. ’n Roos het vir haar moeder geluk beteken. Dit het vir haar die moed gegee om moeilike dae tegemoet te gaan … maar waarom? Sy wens dat sy haar moeder geken het en haar verstaan het. En wie was haar vader? Hy het nooit weer na haar moeder teruggekeer nie. Hoekom het hy dit nie gedoen nie?
Daar is egter geen antwoorde op al haar vrae nie. Die geheim is saam met haar moeder graf toe.
Vandag is Nuwejaarsdag en nie ’n tyd om te broei oor dinge uit die verlede nie. Hulle gaan vandag na Rusoord soos die vorige jaar en die jaar tevore om die nuwe jaar met vrolikheid te vier.
Rosalie verwag nie te veel nie. Die vorige jaar het oom Julius haar die hele tyd dopgehou en gesorg dat sy en Renier nie te veel van mekaar sien nie. Dit het haar opgewondenheid heelwat gedemp. Nie een van die ander gaste het iets agtergekom nie, maar sy het geweet waarom hy haar uit Renier se pad probeer hou. Vir hom is sy ’n naamlose mens sonder ’n toekoms of ’n verlede.
Vir Rosalie het hierdie lugleegte waarin sy leef ’n swaar las begin word. Mense is gesteld op jou afkoms en herkoms en as jy dit nie het nie, is jy net eenvoudig nie in tel nie.
Die afgelope paar dae was sy van Charles Bennet se aandag verlos, maar hy duik weer op Rusoord oor die Nuwejaar op.
Rosalie se misnoeë is duidelik op haar gesig te lees toe sy Charles raaksien. Dit gaan ’n baie moeilike dag vir haar wees met oom Julius de Koning wat haar met valkoë gaan dophou, Clara wat al om Renier gaan draai en Charles wat ’n oorlas van homself gaan maak. Dis werklik nie ’n dag met aangename vooruitsigte nie.
Die rok wat Rosalie vanoggend dra, het oom Markus spesiaal vir haar by ’n vrou op Harrismith laat maak. Dis ’n diep roomkleurige rok van ligte katoen. Voor sit dit glad teen die maag, en agter is dit in ’n massa plooie ingevat sodat ’n weelderige, wye sleep agter haar voete vorm. Kantinsetsels versier die gladde moue, en dieselfde kant is vir ’n breë kraag gebruik wat soos ’n sagte manteltjie om haar skouers hang. Sy dra ’n wit strooihoed daarby wat met ligroos blomme versier is. Haar sonsambreeltjie is van dieselfde kant as die kraag en rond die uitrusting pragtig af.
Markus Leyds loop trots langs sy aangenome dogter. Hy is terdeë daarvan bewus dat sy vandag oral aandag trek met haar skoonheid, en dit maak hom gelukkig.
Charles Bennet kom haastig, opgewonde na hulle toe aangedraf. Hy val dadelik langs Rosalie in terwyl hy oom Markus ook groet.
“’n Geseënde Nuwejaar vir u, meneer Leyds. Ek vertrou dat hierdie jaar ’n beter een as die vorige jaar sal wees. Ons volkie is deur donker dae, en nou kan dit net beter gaan.”
“Geseënde Nuwejaar vir jou ook, Charles,” antwoord oom Markus toe die jong man asem skep.
“Dankie, meneer Leyds. As alles goed gaan, het my pa gesê kan ek my eie gemeente teen die einde van die jaar hê.” Hy kyk betekenisvol na Rosalie, en toe sy nie reageer nie borduur hy ’n bietjie verder. “Ek het my studie al twee jaar gelede voltooi. Op dertig moet ’n man darem al aan jou toekoms begin bou. Ek sal ’n gemeente op Vrede of op Bethlehem stig. Dis nuwe dorpe, en daar sal baie geleenthede wees.” Hy bly stil asof hy self ook eers moet dink watter geleenthede sulke nuwe dorpe ’n predikant kan bied. Dan hervat hy: “Op Bethlehem is daar ’n groot huis wat as pastorie gebruik sal word. Dit kos ’n bietjie aandag, maar dit kan gou reggestel word. Dan sal ek kan intrek as volwaardige dominee van die dorp.” Sy oë blink by die vooruitsig.
Rosalie kry hom effens jammer. Sy is godsdienstig grootgemaak, maar sy is nie in die wieg gelê om predikantsvrou te word nie. Charles moet liewer ’n ander vrou vir hom soek.
“Wanneer beplan jy om te gaan?” wil oom Markus weet.
“Net ná die winter, meneer Leyds. Alles is gereed, maar ek het nog ’n paar dinge wat ek hier moet afhandel.” Weer eens kyk hy na Rosalie asof hy iets vir haar wil sê, maar hy praat nie oor wat hy eintlik op die hart het nie.
Oom Markus maak verskoning en laat hulle alleen.
Rosalie soek naarstiglik na ’n verskoning om van Charles af weg te kom, maar daar is niks waaraan sy kan dink nie.
Daar is skielik ’n ongemaklike stilte tussen hulle. Rosalie kan nie aan iets dink om te sê om die stilte te verbreek nie, en dus bly hulle maar net daar in die koelte van die bloekomboom staan.
“Jy lyk mooi vandag, Rosalie,” sê Charles eindelik en knipper sy oë agter die dik brilglase.
“Dankie …” Sy wil hom nie aanmoedig om op hierdie trant voort te gaan nie.
“Was jy al ooit op Bethlehem?” vra hy skielik.
“Net een keer. Dis maar ’n vaal ou plekkie. Daar is maar skaars tien huise.”
“Dis nog ’n nuwe dorp. Dit sal uitbrei en ’n groot plek word, en ek sal die dominee daar wees. Al daardie mense wat soontoe gaan kom, gaan na mý kyk vir leiding, en ek dink ek is bevoeg om hulle leiding te gee.”
“Ek is seker jy is, Charles,” sê sy afgetrokke.
“My vrou sal ook aansien geniet. Sy sal die voorsitster van die vroueverenigings wees.”
“Ja, Charles,” sê sy byna met ’n sug.
“Daar sal nooit ’n tekort in my huis wees nie. ’n Dominee ken nie so iets soos ’n tekort nie.”
Rosalie byt op haar tande.
“Ja, Charles.” Sy sien Renier na hulle kant toe kom en sug byna van verligting.
“Maar ek moet ook kan trots wees op my vrou,” gaan Charles ongesteurd voort. “Ek moet ’n hardwerkende vrou hê wat nie sal skrik vir armoede en ellende nie. Sy moet allesopofferend en edel wees. Sy moet alles veil vir haar naaste hê en nie skroom om te help wanneer dit van haar verwag word nie. Sy moet alles doen ter wille van haar liefde vir haar Skepper.” Charles is nou in vervoering oor sy relaas, en hy let nie eens op dat Renier by hulle aansluit nie. “Sy moet die goedheid van die Madonna in haar hê en vroom soos ’n non wees.”
“Van wie praat jy nou, Charles?” wil Renier half geamuseerd weet.
Charles kyk verskrik op en kom terug tot die werklikheid.
“Ek het sommer net gestaan en gesels, meneer De Koning.” Hy sluk verward en onthou sy maniere. “Goeiedag, meneer, en ’n geseënde nuwe jaar vir u.”
“Dieselfde vir jou, Bennet,” Renier draai na Rosalie. “Daar is ’n paar mense aan wie ek jou wil voorstel, Rosalie. Kom jy saam?”
Sy glimlag dankbaar.
“Natuurlik.” Sy kyk na Charles. “Ek sal jou weer later sien.”
Hulle laat ’n bedremmelde Charles alleen onder die bloekomboom agter.
Mense het van heinde en verre gekom na die Nuwejaarsfees op Rusoord. Buite die herehuis staan ’n hele paar tente en ossewaens, en dis duidelik dat baie van die gaste ’n paar dae lank gaan oorstaan.
Daar is mense wat Rosalie nog nooit ontmoet het nie, en dis vir haar lekker om weer nuwe gesigte te sien. Hulle is almal vriendelik, maar sy wonder hoe lank dit gaan hou voordat hulle haar ook met agterdog gaan bejeën wanneer hulle uitvind dat sy ’n vondeling is.
Clara volg hulle met ’n vyandige blik. Sy kan nie op die oomblik van Julius de Koning wegbreek om tussen Rosalie en Renier in te kom nie, en sy moet magteloos staan en toekyk hoe die twee opgewek gesels.
Dit is egter Julius de Koning wat die gesprek onderbreek om na sy seun toe te gaan.
“Renier, ek wil met jou praat.”
Renier kyk ondersoekend na sy pa.
“Iets verkeerd?”
“Jy vra nog!” ontplof die hooghartige ou man, en Rosalie staan effens verskrik terug. “Die mense praat omdat jy met … met hierdie optelkind verkeer!”
Renier verbleek.
“Sy is ’n gas hier, Pa!”
“Net omdat Markus haar aangeneem het!”
Renier se gesig verhard, sy donkergroen oë is koud.
“Ek sal nie toelaat dat Pa só van haar praat nie,” sê hy sag, maar die woede lê vlak in sy stem. “Sy is ’n gas hier en sal as een behandel word. Daar sal geen onderskeid gemaak word nie.”
Julius knipper sy oë verbaas. Hy was dié reaksie nie te wagte nie.
“Ek verwag van jou om jou verlowing met Clara Wepener vroeg in die nuwe jaar aan te kondig, Renier. Dit is ’n bevel!”
Renier verroer nie ’n spiertjie nie. Hy bly net met koue oë na sy pa staar totdat die ou man met ’n stywe rug omdraai en teruggaan na waar Clara hulle belangstellend dophou.
Hy glimlag toe hy by die blonde meisie aansluit.
“Alles is reg, my kind, jy het niks om jou oor te bekommer nie. Ek sal self na jou sake omsien.”
Sy glimlag liefies.
“Dankie, oom Julius. Rosalie het die manier om mense om haar pinkie te draai, en ek was bevrees dat sy Renier dalk mag afrokkel.”
Julius druk haar arm gerusstellend.
“Jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Vroeg hierdie jaar sal julle twee nog verloof raak.”
Clara bloos bekoorlik en laat haar blik skelm oor die opstal en die omgewing dwaal. Hier kan sy meesteres van ’n groot landgoed wees. Sy sal kan koop net wat haar hart begeer, en Renier sal haar nie durf teëgaan nie, want sy pa is aan háár kant. As daar iets is wat sy wil hê, sal sy net na oom Julius toe gaan en sy sal dit kry. Al wat sy moet doen om al hierdie weelde te besit, is om met Renier te trou … en dit is glad nie ’n slegte gedagte nie. Hy is aantreklik en sjarmant. Dis nie aldag dat ’n meisie dit op die koop toe kry as sy vir geld trou nie.
Renier staan sy pa vol ingehoue woede agterna en kyk. Dan draai hy na Rosalie wat baie bleek by hom staan.
“Ek is jammer. Dit was onvergeeflik van my pa.”
Sy skud haar kop stadig.
“Ek het al die tyd geweet dat hy nie van my hou nie, Renier. Miskien is dit beter dat jy en ek mekaar nie weer sien nie.”
“Ons is tog vriende, Rosalie.”
Sy kyk op na hom, en in haar oë lê die hartseer en skok nog vlak.
“Ek sal nie meer baie lank op Leydshoop bly nie, Renier. Oom Markus is nie meer die sterk man wat hy was nie, en as oom Frank en tant Hanna die plaas erf, sal ek nie meer daar welkom wees nie. Wat is die sin daarin om vriende te wees as ons … nie eens met mekaar kan praat nie?”
Voordat hy haar kan antwoord, draai sy haastig om en stap vinnig weg. Hy kan nie agter haar aangaan nie, want Clara haak onverwags by hom in.
Rosalie vlug na die bloekombome ’n ent van die feesvierings af. Daar gaan sy teen die skurwe stam van ’n boom leun en veg teen die trane wat haar wil oorweldig.
Voor haar lê die opstal van Rusoord, en verderaan kan sy die bome sien wat Leydshoop se opstal omring. Dis al lewe wat sy tot nou toe geken het, en die toekoms lê duister voor haar. ’n Lewe saam met Charles …? Sy ken vernederings en teleurstellings. Dis nie emosies wat vreemd vir haar is nie. Miskien sal sy vir ander mense troos kan bring omdat sy self weet wat dit is om seer te kry. Miskien is dit tóg die soort lewe waarvoor sy beskore is.
Haar ingebore lewenslustigheid kom egter in opstand. Sy sal nooit weer met ’n perd oor die vlaktes kan jaag nie. Sy sal nooit weer op ’n perd mag klim nie. Harmonie en Thor sal voor ’n kapkar ingespan word en die res van hulle lewens in ’n tuig moet trek. Hulle is pragtige diere, grasieus en trots. Hulle sierlike nekke sal beur in die rieme, hulle lewenslus en vurigheid sal geblus word.
“Rosalie?”
Sy swaai verskrik om toe sy oom Markus se stem hier by haar hoor en vee haastig die trane van haar wange af.
“Ek het Oom nie sien kom nie.”
“Jy het gehuil … hoekom? Dis dan Nuwejaar, en ’n mens moet vrolik wees.”
Sy probeer haar ontstelde gemoed kalmeer.
“Oom Julius en Renier het stry gekry oor my, oom Markus. Hy het my ’n optelkind genoem.”
Die woede blits in die ou man se oë.
“Ek sal sy nek op ’n duisend plekke breek!” sis hy. “Enigeen wat jou beledig, beledig mý ook!” Hy wil omdraai en na Julius gaan soek, maar Rosalie keer hom.
“Nie nou nie, oom Markus. Dis Nuwejaar, en ons is gaste op Rusoord.”
Hy bedink hom en draai na haar.
“Waaroor het hulle gestry, Rosalie?”
“Omdat ek en Renier saam was. Oom Julius het gesê Renier moet vroeg hierdie jaar sy verlowing aan Clara aankondig.”
Markus kyk ondersoekend na haar.
“Hinder dit jou?”
Sy sluk hard. Sy mag nie dat iemand weet hoe sý voel nie. Sy het geen reg of sê in hierdie saak nie.
“Ons is vriende, oom Markus, en nou word ons verbied om bloot net vriende te wees.”
Hy bekyk haar ’n ruk swyend.
“Dis nie al wat jou hinder nie.” sê hy eindelik.
Sy kyk op na hom en glimlag half treurig.
“Nee, dit is nie. Ek is lief vir my perde en die veld, oom Markus. Ek is lief vir die buitelewe, en as ek hier moet weggaan, sal ek dit nie meer hê nie.”
Hy frons onbegrypend.
“Weggaan? Maar hoekom dan?”
“As Oom die dag nie meer daar is nie, sal ek ook moet gaan. Ek sal nie meer welkom wees op Leydshoop nie. Dan sal ek met Charles Bennet moet trou omdat daar vir my geen ander uitweg sal wees nie.”
Hy glimlag stadig.
“Dit sal my gelukkig maak as jy met klein Bennet trou, Rosalie. Hy is ’n goeie seun, en om ’n predikant se vrou te wees, is ’n goeie lewe.”
“Nie vir my nie,” sê sy bitter. “Ek sal elke oomblik daarvan haat. Hy sal my versmoor. Hy is fanatiek godsdienstig en wil my in ’n soort non verander. Ek kan nie ’n martelaar wees nie, oom Markus. Ek sal binne doodgaan.”
Hy kyk lank swyend na haar. Hy dink aan haar opgewekte, lewenslustige geaardheid, en skielik verstaan hy hoe sy voel. Vir haar is dit soos om vir haar eie dood te wag. As hy sterf, sal Rosalie se lewensblyheid en vrolikheid saam met hom graf toe gaan. Solank hy lewe, sal die vrolikheid nog daar wees, die vonkeling in haar oë en die glimlag om haar mond. Só sal sy dood vir haar wees, dink hy terwyl hy na haar kyk. Dit sal wees soos sy nóú is – bleek en met die verlatenheid diep in haar oë. Ná sy dood sal sy nie meer lewe nie, maar net van dag tot dag dwaal en verlang na die blye dae op Leydshoop.
Hy trek haar skielik nader en druk haar styf teen hom vas.
“Ek sal jou nie in die steek laat nie, my kind,” sê hy sag. Sy stem bewe liggies van aandoening. “Jy hoef nie met Charles te trou as dit jou ongelukkig sal maak nie. Ek wil nie sien dat jy binne doodgaan nie; ek wil die lag in jou oë sien, en ek wil nog sien hoe jy klein Thor inbreek en deur die veld op sy rug jaag. Ek wil nie hê dat jy moet verander nie, Rosalie …” Hy sluk hard en stoot haar liggies ’n armlengte van hom af. “Jy herinner my só baie aan Sophia. Sy was soos jy is … ’n ligstraal vir almal om haar. Maar sy het dit behou totdat sy self gesterf het … dit het nie voor haar gesterf nie. Vertrou op my, Rosalie, alles sal regkom.”
Die gaste kyk nuuskierig in die rigting van die bome waar die ou man en die meisie ernstig staan en gesels. Soveel erns op Nuwejaarsdag? Dis tog ongehoord!
’n Rukkie later sluit Rosalie en oom Markus weer by die res van die gaste aan. Rosalie voel heelwat beter, en ’n bietjie van haar lewenslus keer terug. Die kuiltjies druk weer diep in haar sagte wange wanneer sy glimlag; haar bekoorlike skoonheid laat die mense gis.
Van die jong kêrels skraap die moed bymekaar om met haar te praat, en dit beur haar op. Daar is nog hoop dat sy die dag sal kan geniet.
Dis net Charles Bennet wat ontsteld staan en toekyk hoe die jong mans om Rosalie draai. Sy toekomstige vrou behoort nie so iets toe te laat nie. Sy moet te alle tye op haar plek wees en haar van alle plesier onthou. Sy mag die vreugdes van die vlees nie najaag nie. Haar vreugde moet in haar Skepper wees, en dit moet sy uitleef. Haar vroom lewenswyse moet as voorbeeld vir ander dien. Sy gesig verdonker, en hy voel opstandig. Hy sal ernstig met Rosalie moet praat en haar van haar sondige bestaan oortuig. Sy moet leer om sý vreugdes te deel en van haar bekoorlike skoonheid vergeet. Hy wil dit amper as ’n sonde beskou dat sy so mooi is.
Rosalie is onbewus van Charles se broeiende gedagtes. Die lag het na haar oë teruggekeer, en sy kan weer die dag geniet.
Teen die aand word daar in die waenhuis gedans. Rosalie en die ander meisies het hulle ’n bietjie gaan opknap in die huis.
Clara klets aanmekaar. Vir haar is die dag ’n groot sukses. Sy is gedurig aan Renier se sy, en almal sien dit raak. Haar oorwinning maak haar skoon dronk van vrolikheid. Dis nie meer lank nie, dan sal hierdie huis ook háre wees. Sy sal in Julius de Koning ’n bondgenoot hê, en Renier sal gedwing word om aan haar eise te voldoen. Tot dan moet sy egter die rol van verliefde jong meisie speel. Eers nadat hulle getroud is, sal sy hom wys van watter staal sy gemaak is. Sy sal sy geredelike sjarme teenoor ander vroue aan bande lê, en hy sal nie meer so vriendelik teenoor hulle kan wees nie. Niemand gaan hom van haar af wegrokkel nie. Hy is haar sekuriteit.
Hanna is tevrede. Die dag verloop uitstekend in haar guns. Almal kan sien dat Renier en Clara besonder goed bymekaar pas. Op Rusoord sal sy altyd welkom wees en sy sal Clara leiding kan gee wanneer dit by die hantering van ’n man soos Renier kom.
Dis net Frank wat ietwat knorrig is. Hy het Markus en Rosalie fyn dopgehou en hy besef dat die band tussen Markus en sy aangenome dogter besig is om baie te versterk. As die vervlakste swaer van hom nou net nie ’n groot som geld aan die meisiemens bemaak het nie, sal hy gerieflik kan lewe.
Hy trek sy neus vies op vir die stof en die houtrook. Dit gaan sy verstand te bowe dat hierdie mense kan dink dat hulle die dag kan geniet tussen al dié ongerief. Hy sou veel eerder die dag in ’n weelderige hotelkamer wou deurbring met ’n bottel brandewyn … sonder Hanna wat so kan neul. Die laaste tyd het sy ’n regte pruttelpot geword. As hy net van haar ontslae kan raak, sal alles vir hom beter verloop, maar hy sal moet uithou totdat hy die plaas in sy hande het.
Sy blik dwaal na Markus wat rustig met ’n paar van sy vriende gesels. Die ou blikskottel kan ’n honderd jaar oud word, dink hy wrewelrig. Hy het nie meer veel hoop om Markus te oorleef nie. Op twee-en-sestig pla sy lewer hom, en voel hy glad nie meer so goed as tien jaar gelede nie. Net ’n ongeluk sal Markus na ’n vroeë dood toe stuur … net ’n ongeluk …
Samuel hou die jong Lettie Bester dop waar sy voor die tent van haar ouers staan, besig om ’n ligte tjalie om haar skouers te hang. Hy beweeg vinnig nader toe sy tussen die skaduwees deurstap na die waenhuis. Hy keer haar by die agterste hoek van die waenhuis voor.
“Is jy só haastig om by die dansery te kom? Die ander meisies is nog nie daar nie.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“Staan uit my pad, Samuel,” sê sy dreigend.
Hy grinnik en bekyk haar skaamteloos.
“En hoekom is jy nou skielik so uit die hoogte?”
“Ek hou nie daarvan om in donker hoekies deur ’n man voorgekeer te word nie.” Sy wil by hom verbystap, maar hy steek sy arm uit en pluk haar nader. Voordat sy kan gil, soen hy haar. Sy worstel om uit sy greep los te kom en toe sy dit eindelik regkry, klap sy hom hard deur sy gesig.
“Jou klein rissiepit!” sis hy ergerlik en koel vinnig af.
“Dit sal jou leer om weer jou hande aan my te sit!” Sy hardloop langs die muur af na die deur van die waenhuis waar die lanterns aan lang takke swaai.
Samuel vloek binnensmonds. Hy het gedink dit gaan maklik wees, maar hy het hom deeglik met Lettie Bester misgis. Hy kon sweer dat sy met meer as gewone belangstelling vroeër die dag na hom gekyk het, en kyk wat het nou gebeur.
Hy skop ergerlik na ’n klip en swets toe dit sy toon byna nerf-af stamp. Dan draai hy om en loop sommer ’n koers die veld in om sy woede onder beheer te kry. Die aandlug help nie veel om hom af te koel nie, en sy wrewel verskuif van Lettie na oom Markus Leyds in wie hy teen hierdie tyd ’n hartlike haat ontwikkel het. Sy aangenome niggie is vir hom ’n ewe groot steen des aanstoots.
Rosalie se kranige ruiterskap stuit hom teen die bors. Hy is self ’n goeie ruiter, maar sy steek hom telkens die loef af wanneer hulle resies jaag. Hy wens sy en haar ou oom wil verkas en die Wepeners in vrede laat. Hulle het nou eerste reg op die plaas en nie die ou man en sy aangenome dogter nie. Die ou man is lankal te oud om nog te werk, maar hy hou hardnekkig daarmee vol. Wanneer gaan die plaas dan in sy hande wees? Hy wil die ligsinnige ou meisietjies van die omgewing ’n ding wys, en hy kan dit nie doen voordat hy die mag van ’n eienaar van ’n groot plaas het nie.
Hierdie jaar gaan hy doen wat hy wil. Hy wil ’n spaider hê, en hy gaan dit kry. As hy net lank genoeg daaroor neul by sy ma, sal sy wel ’n plan beraam om dit vir hom in die hande te kry. Die oes was hierdie jaar goed en daar behoort genoeg geld vir die spoggerige rytuig te wees. Hy sal vir Harmonie en Danser voor die rytuig inspan en soos die wind oor die paaie jaag. Hy het lankal ’n oog op Harmonie, maar die vervlakste Rosalie klou aan daardie perd asof haar lewe daarvan afhang. Wat sy nie weet nie, is dat haar geliefde perd binnekort gaan leer om in die tuig te trek. Hy sal dit só bewimpel dat die ou man of sy nie ’n vinger sal kan verroer om iets daaraan te doen nie.
Tevrede met sy besluit, keer hy terug na die waenhuis waar die dans intussen begin het.
Die volgende oggend vroeg is Rosalie uit die vere. Sy trek haastig aan en gaan uit na die stal waar sy Harmonie opsaal. Die stalkneg probeer haar vaak-vaak help en keer dankbaar na sy slaapplek terug toe die meisie eindelik in die saal klim.
Die tyd voor sonop is vir Rosalie die mooiste tyd van die dag. Dit het nie die weemoed van die aandskemer nie. Daar is afwagting in die lug, so amper asof alles en almal iets besonders van die nuwe dag verwag.
Sy ry teen die steil hellings van die koppe agter die huis uit om vir die son te gaan sit en wag. Harmonie geniet hierdie vroeë oggendritte, en sy speel met haar kop in die fris bries. Telkens proes sy van genot en piets haar stert oor haar agterstewe.
Rosalie laat die perd eers ’n ver ent langs die voetheuwels hardloop totdat die onstuimige emosies in haar bedaar het. Sy is net bewus van die klam, koel oggendwind teen haar wange en die sluimerende, wye natuur om haar. Dit bring die kloppende seer in haar hart tot bedaring.
Dit voel goed om alleen so vroeg in die oggend op die rug van ’n perd te wees. Sy is alleen in die wye wêreld. Dis net sy en Harmonie en ’n nuwe dag wat breek.
Hierdie jaar wil sy ’n wit roos in die tuin plant. Sy moet soek na die geluk wat dit haar moeder jare gelede gebring het. Uit die brief het sy afgelei dat dit haar vader was wat die wit rose aan haar moeder gegee het, maar waar is hy nou? Hoekom het hy nie na haar moeder teruggekeer nie? Sou hý dalk ook dood wees?
Sy hou die perd op die koppie in en kyk af oor die vallei wat nog in sagte skaduwees gehul is. Oor die verste rant skiet die eerste strale van die son uit en verskyn die punt van die helder son in die lug.
Rosalie sit en kyk na die son totdat dit die huis se dak raak, en later sien sy oom Markus uitkom op die stoep met ’n beker koffie in sy hande. Sy is deel van hierdie mense en tog ook nie. As sy nie hier was nie, sou dit nie veel verander het nie. Daar sou miskien minder spanning gewees het, maar oom Markus sou miskien ’n bietjie minder gelukkig gewees het.
By die koringland langs die rivier roer die snyers ook. Hulle staan in groepies en koffie drink, hulle sekels aan ’n boomtak gehaak. Vandag of môre sal hulle hier klaarmaak en dan verder trek na die volgende plaas om dáár te gaan oes.
Sy gee die perd spore en ry stadig teen die helling af tot onder waar Harmonie vanself begin galop. Oor die laaste gelyke ent pad tot by die opstal, laat sy Harmonie voluit hardloop.
Die vreugde borrel in haar op terwyl sy in harmonie met die perd oor die vlakte jaag. Klein stofwolkies warrel onder die perd se hoewe op en word deur die bries weggewaai. Die wind speel deur haar hare, laat dit in ’n donker vag agter haar kop uitwaai. Sy sit half uit die saal gelig, haar kop naby die nek van die perd en die teuels styf in haar hande. Dit voel asof sy oor die aarde vlieg, asof sy uitbundig van opborrelende geluk kan lag. Hulle dawer by oom Markus verby na die stal, en hy staan hulle met ’n glimlag kopskuddend agterna en kyk.
’n Rukkie later sluit sy uitasem by hom aan. Daar is ’n bekoorlike blos op haar wange van die oefening in die fris oggendlug en sy lag gelukkig.
“Dit was heerlik, oom Markus!”
“Jy ry soos die duiwel self, meisiekind,” sê hy goedig.
“Ag nee, oom Markus.”
Hy lag.
“Toe maar, jy ry soos ’n engel op die wieke van die wind! Nee kyk, jy gaan jou nek nog só breek.”
“Harmonie hou daarvan om so te hardloop. Sy is net so uitbundig soos ek in die oggend wanneer ons uitgaan om te ry.”
“Ek dink dit het tyd geword dat ek vir jou ’n klein kapkarretjie koop dat jy soos ’n dame kan ry.”
Sy kyk skewekop na hom.
“Wil oom régtig hê dat ek soos ’n dame moet ry?”
Hy lag vrolik.
“Dit sal tog nie help om daarvoor te vra nie. As jý die dag soos ’n regte dame word, sal die plaas nie meer die helfte so interessant wees as nou nie. Doen maar wat jy wil – solank jy net nie seerkry nie …”
Later sit hulle aan die ontbyttafel. Die vonkeling het nog nie uit Rosalie se oë gewyk nie, en dit laat die steeds slaperige Clara agterdogtig na haar kyk.
“Waar was jy vanoggend?” wil sy weet en help haarself aan ’n hoop konfyt.
“Ek het gaan perdry.”
“Oom Markus behoort daardie perd te skiet. Sy is wild.” Clara pruil ontevrede.
Samuel kyk op.
“Sy sal besonder goed as karperd vaar. Dit sal haar ’n bietjie inbreek.”
Rosalie kyk vinnig op.
“Dis mý perd en as iemand aan haar raak, sal julle met my te doen kry.”
“Jy verbeel jou baie vir ’n buitestander,” sê oom Frank Wepener.
Oom Markus kyk na hom.
“Rosalie is en bly deel van dié gesin.”
Frank snork.
“Nie van mýne nie.”
Markus se gesig verhard.
“Jy is net soveel buitestander as sy. Daar vloei geen Leydsbloed in jou are nie, en jy het geen reg op die Leydsnaam nie.”
Frank kyk gesteurd na hom.
“My kinders is helfte Leyds.”
“Maar nie jy nie,” hou oom Markus vol.
“Gaan jy my nou daaroor onterf?” wil Frank omgekrap weet.
Daar is stilte. Dan sê Markus: “Jy was nog nooit in my testament nie, Frank. As een van julle iets erf, sal dit Hanna wees.”
Frank verstik byna in sy kos.
“Ek is die hoof van my gesin … nie Hanna nie.”
“Dit verander niks aan die saak nie. Slegs ’n Leyds sal van my erf. Hanna sal ook nie volle sê oor die plaas hê nie.” Markus se oë vernou. “Ek vertrou jou nie, Frank. Ek vertrou jou net sover as wat ek jou kan sien.”
Frank stoot sy bord terug. Hy het al sy eetlus verloor.
“Al die jare sit ek hier op die ellendige ou plaas net om te moet hoor dat ek die res van my lewe hier sal moet bly sit!”
Hanna lê haar hand paaiend op haar man se arm.
“Kom nou, Frankie, jy is moeg van gisteraand se partytjie. Moet jou nou nie ontstel en dinge sê waaroor jy later spyt gaan wees nie.”
Frank kners op sy tande.
“Ek het seker geen sê in die saak nie.”
Markus knik.
“Dis korrek, jy het nie. En nog iets, ek is van plan om een honderd jaar oud te word. Ek sal hier wag totdat my seun terugkeer.”
Frank lag gemeen.
“Jou seun het lankal die grondkombers aangetrek, ou swaer. Jy sal hom nie weer sien nie. ’n Man kom nie sommer ná twintig jaar terug na sy pa wat hom onterf het nie.”
“Hy sal terugkom,” hou Markus vol, maar sy stem is onseker.
“Kry nou end, Frank,” sê Hanna skielik geïrriteerd. “Jy het nie die reg om so van Markus se seun te praat nie. Ons weet nie of hy nog lewe nie, maar daar is niks wat hom sal verhinder om terug te keer as hy wil nie.”
Frank kyk vinnig na haar.
“As hy terugkom, kry jý nie ’n dooie duit nie, Hanna.”
Haar gesig verhard.
“Dit maak nie saak nie. Ek het al die jare gesien hoe Markus oor Derek treur en dit maak seer … vir my. Dit het jóú nog nooit kon skeel of Derek terugkom nie.”
Markus kyk na sy suster.
“Maar jý glo nie dat hy sal terugkom nie?” vra hy effens hees.
Sy kyk weg.
“Nee, Markus, ek glo dit nie meer nie.”
Markus sug diep.
“Dan is dit nog net ek wat glo …”
Rosalie kyk nie op na die grootmense nie. Sy weet hoe seer dit oom Markus maak om oor oom Derek te praat, en daarom roer sy die saak selde aan. Oom Frank moes nie so gevoelloos oor hom gepraat het nie … dit was ongevraag en onregverdig.
Frank is egter nog nie klaar met wat hy wil sê nie. Hy is vanoggend in ’n skoorsoekerige bui, en hy wil sy griewe lug.
“En natuurlik gaan daardie klein optelkind met al die kontantgeld ook heen sodat ek met niks moet begin.”
Markus kyk op, en die woede glinster in sy oë.
“Noem jy haar weer ’n optelkind, en ek jaag jou soos ’n hond van die plaas af, Wepener!”
Frank spring op.
“Ek het genoeg gehad van haar vroom gesiggie! Ek weet dat sy jou agter ons rug vol gif pomp, en dis waarom dit so moeilik is om ’n enkele pennie uit jou te kry! Sy is gif in hierdie huis!”
Oom Markus spring ook op; sy gesig is bleek van woede.
“Pasop wat jy sê, Wepener! Ek is nog nie te oud om jou ’n deftige loesing te gee nie!”
Daar is geen keer aan Frank nie. Al kos dit wát, gaan hy sê waaroor hy al lankal broei. Hy gaan hierdie euwel uit die huis verwyder sodat hy rus vir sy siel kan hê.
“Jy weet nie eens waar sy vandaan kom nie, maar ék weet! Ek kon jou dit lankal gesê het, maar ek moet mos jou gevoelens spaar! Wel, nou sál ek dit sê!” Hy lek oor sy lippe en aarsel ’n sekonde voordat hy weer praat. “Sy is die buite-egtelike kind van ’n ongetroude meisie wat die dorp een-en-twintig jaar gelede verlaat het! Of onthou jy nie meer van Ansie du Preez nie!”