Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 9
5
ОглавлениеLaat die Maandagmiddag kom ’n vreemde rytuig op Leydshoop aan. Dis ’n breë, plat gedoente met sitplekke teenoor mekaar aan die twee smaller kante. Twee perde trek die kar wat op groot, goedgeveerde wiele ry.
Toe dit voor die deur stilhou, klim Renier van die rytuig af. Hy lag opgewek toe hy oom Markus, Hanna en die jongmense se nuuskierigheid sien.
“Die oes was goed, oom Markus, toe koop ek maar hierdie ding.” Hy glimlag ingenome. “Hulle noem dit ’n landauer en dit ry soos ’n droom. Hoe lank dit op die plaaspaaie gaan hou, weet ek nie, maar ek sal dit maar net met spesiale geleenthede gebruik.”
Clara se oë blink.
“’n Landauer! Is dit hoe hulle lyk? Ek het nog net daarvan gehoor!” Sy stap om die rytuig en bekyk dit van alle kante. “Dis nou mode om een van dié goed as bruidskar te gebruik.”
“So swierig as wat hulle kon,” sê Renier laggend. “Dit skommel en skud nie soveel as die ou kapkar nie.”
Hanna sluit by haar dogter aan en bekyk die koperlampe met ’n glimlag.
“Het dit baie gekos?”
“’n Paar honderd pond, maar ek dink dit is die moeite werd. My pa het ’n bietjie teëgestribbel, maar hy het kop gegee.”
Samuel kyk na oom Markus.
“Daar is ’n splinternuwe spaider op Harrismith, oom Markus, en ek het –”
“Vergeet daarvan,” val Markus hom bruusk in die rede. “Ek is nie meer so ryk dat ek voor die voet kan koop wat ek wil nie.”
Samuel frons vies.
“Die oes was goed,” brom hy.
“Die oes se geld sal nie gebruik word vir sulke uitspattighede nie.”
Renier stap terug na die wa omdat hy half ongemaklik voel oor die stryery op die stoep. Samuel volg hom.
“Praat tog met oom Markus, asseblief, Renier. Hy is verskriklik koppig, maar hy sal na jóú luister.”
Renier draai na hom.
“Ek kan nie aan ’n ander man voorskryf hoe hy sy geld moet bestee nie, Samuel. Hy het baie meer verpligtinge as ek en my pa. Hy het vier ekstra mense om te onderhou, en jy moet nie daarvan vergeet nie.”
Samuel staan dikmond eenkant. Wat is Renier beter as hy? Hulle gaan tog albei groot landgoedere erf, en hy self kan nie eens ’n ou karretjie koop wat hy so graag wil hê nie. Hy het sy vriende op Harrismith al so te sê klaar vertel van die wa wat hy wil koop, en nou is die ou man so koppig. Daar is nog net een ander uitweg. Hy sal by sy ma neul totdat sý kop gee.
Hanna is onbewus van haar seun se gedagtes en streel liefderyk oor die blink leerbekleedsel.
“Dis ’n pragtige wa, Renier. Het jy die perde ook op die dorp gekoop?”
“Nee, Tante, dis my eie perde.” Hy kyk na Clara. “Wil julle ’n entjie met die wa gaan ry?”
Hy hoef niemand twee keer te nooi nie. Clara, Hanna en Samuel is vinnig in die landauer. Rosalie bly eenkant staan. Daar sal nie plek vir haar en oom Markus ook wees nie, maar sy gee nie om nie. Die landauer gaan Clara en Renier se bruidskar wees, en sy wil nie daarin ry nie.
Renier kom na haar toe.
“Jy kan in my plek gaan, Rosalie. Daar is nog een sitplek oop.”
Sy skud haar kop heftig.
“Nee dankie … ek wil liewer nie gaan nie. Ry jy maar saam. Clara en tant Hanna sal my nie daar wil hê nie.”
Sy blik vertroebel, maar hy sê niks. Hy knik net begrypend en draai dan om om by die ander aan te sluit. Hy gee aan die drywer die teken, en hulle trek op ’n rustige draffie weg.
“Dit gaan goed met die De Konings,” mymer oom Markus. “Dalk het hulle die wa net ter wille van Clara gekoop. Sy wou so graag ’n landauer as ’n bruidskar hê.”
“’n Donkiekar behoort ook goed genoeg te wees as mense mekaar regtig liefhet,” sê Rosalie en stap die huis in.
Oom Markus kyk haar diep ingedagte agterna. Sy is die laaste tyd so ernstig dat hy haar byna nie meer ken nie. Rosalie kom met oumenswyshede vorendag wat hy nie van haar verwag nie. Sy leef in haar eie wêreld waartoe hy nie meer kan deurdring nie.
Rosalie wil net alleen wees met haar hartseer en haar verlange. In die stilte van die groot huis wonder sy of sy dit nog veel langer sal kan verduur. Die situasie het nou al haas ondraaglik geword, maar dis nog net ter wille van oom Markus dat sy uithou. Sy kan hom nie in die steek laat nie.
Samuel en Hanna takel Markus gelyk. Die ou man is rustig besig om aan sy pyp te suig toe ma en seun op die stoep uitkom. Die son is al ’n ruk lank onder, en ’n uur gelede al is die werkery by die dorsvloer gestaak.
“Jy is baie onredelik teenoor Samuel, Markus,” begin Hanna.
Markus kyk skewekop na haar en Samuel.
“En hoekom nogal?”
“Jy weet self hoe graag hy daardie spaider wil hê, maar jy weier hom dit net omdat jy nie van Frank hou nie.”
Markus sug diep.
“Dis nie die rede nie, en jy weet dit so goed soos ek, Hanna. Dit sal net ’n hele spul onnodige geld uit die sak wees, en daar is nie eens perde om die ding te trek nie.”
“Daar is Danser en Harmonie,” praat Samuel vir die eerste keer. Rosalie is op pad stoep toe toe sy Samuel se laaste woorde hoor en sy steek vas.
Markus kyk nie eens na Samuel nie.
“As jy aan Harmonie raak, skil ek jou met ’n sambok af. Danser werk op die dorsvloer omdat jou pa met Poon weg is.”
Samuel frons vies.
“Sahara staan op stal of draf sommer net rond in die veld. Hy kan ook ’n bietjie begin werk.”
“Hy is my beste teelhings,” sê Markus en klop sy pyp teen sy skoen uit. “Ek was alreeds verplig om Danser te laat werk … iets wat ek gesweer het ek nooit sou doen nie.”
“Is daar nie ’n ander oplossing nie, Markus?” wil Hanna weet.
“As jý aan een kan dink, sal ek dit oorweeg.”
Hanna aarsel.
“Samuel kan twee perde saam met die waentjie koop.”
Markus kyk vinnig na haar.
“En jy dink dat ek só ’n voorstel moet oorweeg? Waar moet ek die geld vandaan kry? Jy en jou gesin kos my ’n aardige bedraggie sonder dat ek nog my hand in my sak moet steek vir verspotte luukshede.”
“Jy misgun my kinders alle luukshede, Markus,” sê Hanna ontevrede. “Jy weet dat ons van jou afhanklik is, en daarom weier jy hulle alles.”
“Jy weet dis nie waar nie,” sê Markus sag. “Ek doen wat ek kan vir julle, maar daar is perke aan my vermoëns.”
Samuel sien die gaping.
“Die oes was baie goed, oom Markus. Daar is mos nou weer geld.”
Markus kyk hom reguit in die oë.
“Nie ’n pennie wat jý verdien het sover ek kan onthou nie.”
“Moenie weer begin nie, Markus,” keer Hanna. “Jy het alreeds vir Frank weggejaag. Moenie my seun ook nog wegstuur nie.”
“Ek het hom nog nie weggejaag nie, maar as hy aanhou om net op my te teer, sal ek hom moet verplig om te werk vir sy inkomste.”
“Jy is harteloos, Markus.”
Die ou man lag vreugdeloos.
“Dan het jy nog nie met die lewe slaags geraak nie. Daar is nie ’n harder leermeester as die lewe self nie.”
Hanna sug.
“Gaan jy nou die spaider koop, of nie?”
“Nee.”
“Suinige ou vrek,” sis Samuel binnensmonds.
Markus kyk na hom.
“Pasop maar wat jy sê, ou seun. Ek herkou aan die gedagte om my testament só te verander dat jou ma die plaas erf vir so lank as wat sy leef, maar dat dit daarna aan Rosalie gaan. Moet jou nie té sterk uitdruk wanneer jy van my praat nie. Ek waarsku jou nou hier waar jou ma by is. Ek het geen respek vir jou nie, en ek is ook nie bang om dit vir jou te sê nie.”
Samuel byt sy bitsige antwoord terug en stap die huis in. Hy loop hom byna in Rosalie vas.
“Gestaan en afluister, nè?” sê hy onvriendelik en loop verder.
Rosalie word bloedrooi. Sy het nie bedoel om af te luister nie, maar sy kon dit nie verhelp om die laaste deel van die gesprek te hoor nie. Dan stap sy uit op die stoep met die koffie vir oom Markus.
Hanna draai ook om en gaan die huis binne.
Markus sit broeiend voor hom en uitkyk. Hierdie familie van sy suster sal hom skoon uitsuig totdat daar niks meer oor is nie. Hy weier om ’n pennie van die geld vir die oes aan Samuel se nuwe gier af te staan. Daardie geld gaan hy net so bank vir Rosalie. Tot nou toe kon hy nog nie veel gespaar kry om iets aan haar te kan nalaat nie, maar hierdie jaar gaan dit verander. Hy sal sorg dat sy nie ’n tekort ken ná sy dood nie.
Hy neem die koffie dankbaar by haar.
“Teen volgende week sal ons klaar gedors het.”
Sy knik stadig.
“Dan begin ons weer koring saai, en die hele storie begin van voor af.”
Hy lag sag.
“Dis die lekker daarvan. Elke jaar kry jy weer ’n kans. Soms gaan dit goed, maar ander kere skraap jy net deur. Dan hoop jy weer op die volgende jaar.”
Sy kyk op na hom en glimlag.
“Ons het verlede jaar hard gewerk.”
“Dit gaan maar elke jaar so. Daar is ’n paar saaisakke wat herstel moet word, en die eg is kapoet. Daar is nog baie werk voordat ons met die ploeg en saai kan begin. Die span donkies is darem nog voltallig.”
Hulle sit lank so in stilte en praat net so af en toe totdat die klokkie vir aandete lui. Dan eers staan hulle op en gaan die huis binne.
Teen die einde van Januarie kom daar weer een middag ’n vreemde rytuig op Leydshoop aan. Hierdie keer is dit egter Samuel wat op die drywersitplek sit. Hy lyk hoog in sy skik met sy nuwe wa. Met ’n swierige draai hou hy voor die herehuis stil,
Hanna tel die soom van haar rok op en hardloop hom tegemoet.
“Het jy dit toe gekry? Wat sê jou pa?”
Samuel lag.
“Hy is lekker jaloers, Ma. Baie dankie dat Ma die ou dingetjie vir my gekoop het.” Hy kyk oor sy skouer na die twee natgeswete perde en dan terug na haar. “Die perde het ek net gehuur. Ek moet hulle môreoggend terugneem na Harrismith toe.”
“Wat gaan jy dan vir trekdiere maak?”
“Ek het gedink om vir Sheba en Harmonie in te span. Hulle sal ’n pragtige span maak.”
“Oom Markus gaan nie daarvan hou nie.”
“Hy het nie die karretjie gekoop nie, en daarom kan hy ’n bietjie toegeeflik wees.”
“Harmonie is nie sy perd nie.”
Samuel snork minagtend.
“Alles op hierdie plaas behoort aan hom.”
Toe hy die rytuig later trots aan Markus vertoon, is die ou man woedend. Hy draai summier om en gaan soek sy suster waar sy in die tuin tussen haar blomme besig is.
“Wat het jy met die eerste oesgeld gemaak, Hanna?” wil hy weet. “Ek het dit weggesluit, maar dis nie meer daar nie.”
Sy draai stadig om na hom.
“Ek het dit nodig gehad, Markus.”
Hy word pers van woede.
“Waarvoor het jy driehonderd pond nodig gehad? En wie gee jou die reg om te vat wat mýne is?”
“Daardie geld is ons albei s’n. Leydshoop is soveel myne as wat dit joune is!”
Hy staar haar vol magtelose woede aan. Hy weet dat sy die geld vir Samuel gegee het om die spaider mee te gaan koop, en dit laat hom byna verstik in sy magteloosheid. In die vervolg gaan hy net baie versigtiger wees met sy geld. Hy sal die res van die oesgeld onmiddellik gaan bank voordat iemand weer ’n vinger daarop kan lê.
“Jy het hiervoor gesoek, Hanna,” sê hy afgemete. “Die res van die jaar gaan jy geen toelaag kry nie. Nie jy of een van jou gesin gaan ’n dooie duit uit my kry nie. Julle sal net kos en slaapplek hê en dis al!”
“Jy het nie die reg om dit aan my te doen nie!” roep sy ontsteld uit. Clara wil nog die pelsmanteltjie hê, en Frank het gevra vir nuwe klere. “Ek moet my gesin versorg, en hoe gaan ek dit regkry as ek geen geld het nie?”
Sy oë glinster.
“Jy het dit mos gevat en dit bestee aan iets wat jy gedink van waarde is. Nou het jy jou vervloekte waentjie, en jy sal maar sonder die ander dingetjies moet klaarkom!” Hy draai weg en stap haastig na die huis.
Hanna byt op haar tande. Sy moes beter geweet het as om die geld te vat, maar nou is daar niks meer wat sy aan die saak kan doen nie. Sy weet uit ondervinding dat Markus so hard as klip kan wees as hy die gedagte kry dat iemand hom ’n onreg aangedoen het. Hierdie jaar gaan vir haar ’n swaar jaar wees, en sy is skielik spyt dat sy aan Samuel se geneul toegegee het. Sy moes liewer hierdie een keer in haar lewe as moeder die kind iets geweier het. Nou sal hulle almal daaronder moet ly.
Samuel ry van die plaashuis af weg kort voor sononder, en Rosalie sien hom nie gaan nie. Sy is in die waenhuis besig om oom Markus te help om die koringsakke vir die volgende dag uit te sorteer. Toe hulle by die waenhuis uitkom, is Samuel reeds weg.
Rosalie gaan was haar gesig en hande en gaan dan na die stal toe om ’n ent met Harmonie te gaan ry. Sy doen dit elke aand voordat sy die perd op stal sit vir die nag. Toe sy egter by die slaapplek kom, is dit leeg.
Onbegrypend gaan sy na die stalkneg, en dié deel haar mee dat Samuel Harmonie saamgevat het om die spaider terug te bring. Hy moes die ander twee perde op die dorp agterlaat.
Teleurgestel en omgekrap gaan sy weer terug huis toe. Oom Markus kyk verbaas op toe sy by die huis instap.
“Dis die eerste keer vandat ek jou ken dat jy skielik nie lus kry om perd te ry nie,” terg hy goedig. “Wat is verkeerd?”
Sy aarsel, maar sy weet dat oom Markus vroeër of later tóg die waarheid sal weet.
“Samuel het vir Harmonie saam Harrismith toe.”
Sy reaksie laat haar skrik. Markus word bloedrooi in sy gesig van woede. Rosalie wil hom nog paai, maar daar is geen keer aan hom nie.
“Vanaand is die aand dat ek sy velle van sy lyf aftrek!” skreeu Markus en gryp na die sambok agter die kombuisdeur. Dan stap hy deur na die voorstoep waar hy vir Samuel gaan sit en wag.
Hanna draai na Rosalie.
“Hoekom het jy hom dit vertel? Jy kon stilgebly het of ’n rede uitgedink het hoekom jy nie wou gaan perdry nie!”
Rosalie voel alreeds sleg dat sy aan oom Markus gesê het wat Samuel gedoen het, en nou vryf Hanna dit nog dieper in.
“Ek kan nie vir oom Markus jok nie, tante, ek kon dit nog nooit doen nie. Hy weet dat ek baie lief is vir perdry, en as ek gesê het dat Harmonie siekerig is, dan het hy dadelik uitgegaan om self te gaan kyk wat verkeerd is.”
“Jy kon aan ’n verskoning gedink het, maar jy en oom Markus is kop in een mus teen my en my kinders. Julle doen alles in julle vermoë om die wêreld vir hulle ongemaklik te maak!”
Clara se blik rus openlik vyandig op Rosalie.
“Weet jy wat gaan oom Markus met Samuel maak? Hy gaan hom met die sambok slaan tot hy nie weer opstaan nie!”
“Dis ’n leuen!” roep Rosalie uit. “Hy het niemand nog ooit só geslaan nie! Hoe kan jy so sê!”
“Dis omdat hy Samuel haat!”
Rosalie byt op haar tande.
“Dis loutere onsin! Hy haat Samuel nie, maar jou broer het direk teen sy bevele opgetree, en oom Markus het die reg om kwaad te wees! Hoe sal jy voel as iemand anders jou beste tabberd na ’n dansparty dra sonder jou toestemming?”
“Dis nie dieselfde nie!” skree Clara ook nou kwaad. “Daar is geen ander perde om die spaider terug te bring nie!”
Rosalie haal diep asem.
“Hy het Danser ook geneem. Sy is oom Markus se lieflingsperd. Daar was ander perde ook. Wat van Sheba en Sahara? Hoekom het hy nie vir Fleur of Vonk geneem nie?”
“Hulle is ou perde en hulle is stadig! Dit sal hom ure neem om die huis te bereik met dáárdie twee stadige ou knolle.”
Rosalie byt op haar tande.
“Dis die laaste keer dat hy Harmonie voor sy spaider gaan inspan! Daardie perd behoort aan mý, en ék het alleen die sê oor haar!”
Hanna kyk met ’n stroewe gesig na Rosalie.
“Wat my betref, word die perde net aan jou geleen terwyl jy nog hier op Leydshoop is. Hulle behoort nie aan jou nie, en Samuel kan met hulle maak net wat hy wil!”
Rosalie snak na haar asem.
“Ons sal hoor wat oom Markus daaroor te sê het. Harmonie was my verjaarsdaggeskenk drie jaar gelede, en Thor het hy hierdie Kersfees vir my gegee. Niemand sal aan hulle raak nie! Hulle is mýne, en julle sal hulle nié van my kan wegvat nie!”
“Ons sal sien,” sê Hanna kalm, maar daar is ’n dreigende toon in haar stem.
Rosalie draai om en vlug na haar kamer toe. Sy gaan op haar bed lê en dink oor wat alles vanaand gebeur het. Daar sal nooit weer vrede in die huis wees nie, dink sy ongelukkig.
Baie laat die nag keer Samuel terug van die dorp af. Rosalie hoor hom al van ver af op die perde skel, en sy hoor hoe die sweep oor hulle koppe klap. Hulle runnik wild, en sy krimp ineen. Arme diere, dink sy en byt op haar tande.
Die spaider gaan op volle vaart by die huis verby op pad na die stalle toe. ’n Ruk lank is dit stil, en dan kom Samuel terug. Hy sing luidrugtig en kekkellag tussenin.
Hy is dronk, dink Rosalie geskok. Sy bid dat oom Markus nie meer op die stoep moet wees nie, maar dan hoor sy hom skielik praat.
“Waar was jy, Samuel?”
Samuel breek sy singery stomp af en tuur na die halfdonker van die stoep.
“Ek het die perde teruggeneem Harrismith toe, oom Markush.”
“Jy’s dronk!” roep oom Markus uit, en sy stem bewe van woede. “Jy is smoordronk!”
“Ek het net ’n paar glashies in, Oom.” Samuel se stem is paaiend, maar dit het geen uitwerking op oom Markus nie.
Rosalie hoor die sambok deur die lug fluit, en ’n sekonde later brul Samuel van pyn. ’n Oomblik lank staan hy geskok daar oor dié ontvangs, en dan bestorm hy oom Markus verwoed.
“Jou verbrande ou belhamel!” skreeu hy en begin woes met sy vuiste na die ou man slaan.
Markus lig die sambok weer, maar Samuel is te sterk vir hom, en dit word uit sy hande geruk. Markus beland met sy rug op die grond terwyl Samuel hom genadeloos slaan.
Hanna storm op die stoep uit.
“Samuel!” gil sy hoog en skerp.
Die jong man hou op met slaan en staan terug. Markus kom stadig orent; bloed loop in ’n dun straaltjie uit sy neus. Hanna hurk by hom.
“Ek sal later met jóú afreken, mannetjie!” sis sy vir Samuel. “Skoert hier uit!”
“Hy het my geshlaan!”
“Jy’s dronk! Loop!” Hanna se stem is hard en skerp.
Samuel loop beteuterd die huis in terwyl hy liggies oor die dieppers haal aan sy skouer voel. Haat wel weer in hom op, maar die dronkverdriet kry gou die oorhand. Selfbejammering oorval hom voordat hy die kamer bereik, en Rosalie hoor hom huil soos ’n kind.
Sy bly bewend onder die komberse lê. Sy wil graag vir oom Markus gaan help, maar sy weet dat dit net van voor af ’n rusie gaan veroorsaak. Hanna sal haar verwyt vir wat gebeur het, en indirek hét sy tog skuld aan alles.
Hierdie besef maak Rosalie siek van ontsteltenis. Sy moet hier wegkom, maar waarheen? Daar is nêrens om heen te gaan nie … behalwe na Charles toe. Vir die eerste keer dink sy ernstig daaraan om Charles se huweliksaanbod te aanvaar. Dáár sal sy veilig wees en sal sy nie deur soveel haat omring word nie. Hy sal haar beskerm teen mense wat haar kwaad wil aandoen. Sy sal baie moet prysgee, maar sy sal ook vrede in haar gemoed hê. Haar lewe sal ’n ander waarde kry, en sy sal daar wees om ander mense in droefheid te vertroos.
Die volgende oggend gaan Rosalie vroeg na oom Markus se kamer toe. Hy is wakker, maar sy oë is toegeswel. Sy help hom om ’n bietjie koffie te drink. Hulle vermy ’n gesprek wat na ’n bespreking van die vorige aand sal lei. Net voordat sy egter weer uitgaan, soen sy hom liggies op die voorkop.
“Dankie, oom Markus, maar is dit werklik alles díe moeite werd?” vra sy en hardloop uit voordat hy haar kan antwoord.
By die stal kry sy vir Harmonie in haar slaapplek. Rosalie ondersoek die perd se bek en sug van verligting toe sy sien dat dit nie geskeur is nie. Dan haal sy ’n paar suikerklontjies uit haar sak en gee dit aan die perd.
Hy druk sy neus in haar nekholte en sy lag sag. Sy vryf sy nek paaiend.
“Alles is reg, ou grote,” sê sy sag, en die perd runnik in antwoord. Dan gaan roep sy die stalkneg om Harmonie vir haar op te saal.
Harmonie is senuweeagtig toe sy in die saal klim, maar sy kan dit verstaan ná die vorige aand se gebeure. Dit sal ’n rukkie duur voordat sy weer op haar gemak sal wees.
Aanvanklik ry sy stadig en laat die perd sy gang gaan. Mettertyd begin Harmonie se rusteloosheid verdwyn en slaan sy self oor in ’n stywe galop, en dan begin sy voluit hardloop.
Rosalie maak ’n draai by die dorsvloer waar die werkers reeds begin het, en dan ry sy verder na die rivier toe. Daar klim sy uit die saal en laat Harmonie toe om aan die sappige gras te vreet. Sy het doelbewus hierdie reeds oorbekende paadjie gekies om Harmonie te laat verstaan dat alles weer is soos wat dit vroeër was.
’n Rukkie later klim sy weer op Harmonie, en hulle ry na die koppe toe agter die huis. Daar draai sy af na die vlak kloof wat die twee plase skei.
Toe sy die bosse ingaan, sien sy net vlugtig die ruiter teen die oorkantste hang aan Rusoord se kant, maar sy slaan nie ag daarop nie. Sy weet dat Julius de Koning dikwels in hierdie rigting uitry wanneer hy planne het om nuwe landerye aan te lê. Hiervandaan het hy ’n goeie uitsig oor sy hele plaas. Sy weet ook dat hy haar nie sal kom hinder solank as wat sy nie deurgaan na Rusoord toe nie. Julius de Koning hou nie van haar nie, maar hy is ook nie ’n onredelike man nie.
Sy gly uit die saal. Hier in die koel kloof is een van die klein stroompies wat die rivier voed. Dis net ’n dun straaltjie wat van klip tot klip val, maar dit laat die varings en ander plante rondom welig groei.
Harmonie drink by die vlak watergat en begin dan rustig aan die gras vreet terwyl Rosalie hoër opklim na waar die water sy oorsprong het. Daar gaan sy sit en kyk af in die koel kloof.
Sy skrik toe sy Renier onder die bome sien uitkom en besef dadelik dat dit nie Julius was wat sy gesien het nie. Renier lig sy hand in ’n groet en kom na haar toe. Hy laat sy perd saam met Harmonie wei.
“Wat het gisternag daar by julle aangegaan?” wil hy glimlaggend weet. “Julle het omtrent die hele buurt wakker gehad.”
“Dit was Samuel … hy het dronk huis toe gekom, en oom Markus en hy het slaags geraak.”
Hy lig sy een wenkbrou.
“Het hulle baklei?”
Sy knik.
“Dit was oor Harmonie wat Samuel voor die spaider ingespan het en ook omdat hy dronk was toe hy by die huis kom. Dit was lelik.”
Hy frons liggies.
“Ek glo jou. Hoe voel jou oom vanoggend?”
Sy sluk.
“Sy oë is toegeswel, en hy praat nie veel nie. Ek wens ek het nooit op die plaas kom woon nie. Dis alles my skuld dat al die lelike dinge die laaste tyd gebeur. As ek nie hier was nie, sou oom Frank nog hier gewees het en sou oom Markus nie met Samuel baklei het nie.”
“Jy moet jouself nie verwyt nie, Rosalie,” sê hy skielik sag. “Dis nie jou skuld dat hulle bevooroordeeld is nie.”
“Ek moet hier weggaan,” sê sy gesmoord. “Ek kan nie langer hier bly nie, Renier. Charles wil hê dat ek met hom moet trou, en miskien is dit my enigste ander uitweg. Ek kan nie toelaat dat ander in onmin lewe net omdat ek hier is nie. Ek het nie reg op die plaas nie. Dit was maar net ’n kort tydjie my tuiste. Ek moet nou na ’n ander tuiste begin soek, al kos dit ook wát. Oom Markus het al baie ter wille van my moes deurstaan.”
Hy trek haar orent sodat sy voor hom staan. Dan laat hy sy hande op haar skouers rus terwyl hy in haar oë kyk.
“Jy moenie vlug nie, Rosalie. Besef jy wat dit aan oom Markus sal doen as jy weggaan?”
Sy is intens bewus van sy aanraking, en sy wil dit met alle geweld van haar afskud, maar sy bly asof versteen voor hom staan. Haar hart klop swaar in haar keel. Sy moet weggaan sodat sy Renier nooit weer sal sien nie, dink sy.
“Ek moet aan almal dink, Renier. Ek moet ook aan die ander se gevoelens dink. Tant Hanna het dit nog nooit vir my gesê nie, maar ek weet dat sy my wil weghê. Clara is openlik teen my, en ook Samuel kan my nie verdra nie. Hulle is te veel … ek kan nie teen almal veg nie.” Sy lek met die punt van haar tong oor haar bolip. “Charles was reg toe hy gesê het dat ek nie nederig genoeg is vir die posisie waarin ek my bevind nie. Ek is ’n mens sonder regte.”
“Elke mens het regte, Rosalie,” sê hy sag. “Jy het regte soos ons elkeen. Jy sal eendag ’n man ontmoet wat jy sal liefhê, en hy sal nie omgee dat jy nie ’n verlede het nie.”
Sy word bleek en kyk vinnig weg.
“Moenie daarvan praat nie. Dit sal nooit gebeur nie.”
Hy kyk bekommerd, onbegrypend na haar.
“Wat is verkeerd? Hoekom wil jy nie na jou geluk soek nie?”
Sy kyk vinnig om na hom.
“Omdat dit nie bestaan nie! Omdat dit ook van my weggeneem word!”
Asof sy besef dat sy haar mond verbypraat, druk sy haar vuis teen haar mond. Haar oë is groot en helder van die trane.
Hy trek haar skielik sag nader en kyk diep in haar oë.
“Rosalie, beteken ons vriendskap vir jou meer as wat dit blyk? Is ek vir jou meer as net ’n vriend?”
Sy staar met wydgesperde oë na hom. Hy ken die waarheid, dring dit pynlik tot haar deur. Hy weet hoe sy oor hom voel, maar hy moet tog ook besef dat dit hopeloos is. Sy pa sal hulle onterf, en op Leydshoop sal dit oneindige probleme veroorsaak. Sy weet nie of hy oor haar voel soos sy oor hom nie, maar dis beter dat enigiets net hier in die kiem gesmoor word.
“Nee, Renier,” antwoord sy eindelik en verag haarself daaroor, “jy is vir my net ’n vriend … niks meer nie.” Sy draai om en hardloop na Harmonie voordat hy haar kan keer. Dan klim sy haastig in die saal en ry weg uit die kloof.
Hy bly by die klippe staan terwyl hy haar diep ingedagte agterna staar.
Toe sy tussen die laaste bome uitkom, sien sy Clara skaars dertig treë van haar af op die rug van Fleur. Rosalie hou haar perd verbaas in.
“Wat kom jy hiér maak?” wil sy weet.
Clara kyk uitdagend na haar.
“Ek het jou en Renier gelyk die kloof sien ingaan,” sê sy beskuldigend. “Wat het julle daar gaan maak?”
Rosalie haal haar skouers op.
“Ons het gesels; hoekom?”
“Ek glo jou nie!”
“Glo wat jy wil! Gaan vra hom dan self! Ek is geen verduideliking aan jou verskuldig nie!”
Clara se oë blits.
“Renier behoort aan mý! Ek verbied jou om ooit weer een woord met hom te praat.”
Rosalie verstyf.
“Jy kan my niks verbied nie, Clara Wepener! Ek sal met Renier de Koning praat soveel as ek wil, en jy sal nie ’n vinger kan verroer om my te keer nie!”
“Sy pa sal!”
“Sy pa sal dit nie doen nie! Hy het ten minste ’n goeie opvoeding gehad!”
Clara staar haar nog ’n paar sekondes lank agterdogtig aan, en dan gee sy haar perd die spore. Sy ry tussen die bome van die kloof in op soek na Renier.
Rosalie hervat haar terugtog huis toe. Haar hart is swaar in haar binneste. As haar omstandighede anders was, sou sy en Renier dalk meer as net vriende kon gewees het, maar nou is dit al moeilik om net vriende te wees.
Sy kry net vir Hanna by die huis. Oom Markus is ’n ruk gelede al weg om pos op Harrismith te gaan haal, en Samuel lê nog en slaap. Hanna gaan swyend voort met haar werk en ignoreer Rosalie heeltemal.
Rosalie drink net ’n koppie koffie en gaan dan weer uit na buite. Sy sien Clara van die kloof af terugkom, maar sy steur haar nie daaraan nie. Sy wil nie weet wat Clara en Renier alles vir mekaar te sê het nie. Sy kan maar net sit en wag dat die twee hulle verlowing aankondig.
By die dorsvloer gaan dit druk met net drie perde wat die trapwerk moet doen. Fleur is veronderstel om ook te help, maar op die oomblik ry Clara nog op die perd rond. Twee van die donkies is ook op die vloer gejaag, maar hulle lewer gewoonlik groot probleme as hulle nie in ’n tuig vasgemaak is nie.
Kort voor middagete sien Rosalie die kapkar teen ’n gevaarlike snelheid met die pad langs kom. Sheba en Sahara hardloop soos die wind oor die grondpad na die huis toe. Agter hulle skommel die waentjie kantelend van die een kant na die ander.
Rosalie hardloop na die huis toe om te gaan vasstel wat verkeerd is. Sy het oom Markus nog nooit so sien ry nie.
Hanna is voor haar op die stoep. Die vrou staan met haar hande voor haar bors gevou en haar oë is verskrik.
“Hy gaan die kar omkeer!” prewel sy ontsteld. “Help, iemand! Keer hom!”
Rosalie staan asof vasgenael. Die kapkar ratel om die laaste draai, kantel gevaarlik oor na die een kant en dan hoor sy oom Markus skreeu: “Hiert, julle perde! Vat hom vas, Sheba! Ditsem, Sahara! Wys vir hulle wat daar in jou steek!”
Rosalie knipper haar oë.
“Ek glo dit nie …” sê sy skaars hoorbaar. “Ek kan dit net nie glo nie …!”
“Joe-hoe!” skreeu oom Markus en lag dawerend toe die kapkar by die twee vroue verbyjaag na die stal.
Clara kom uitgehardloop saam met Samuel. Hulle staan verstom en kyk hoe oom Markus die draai by die stal op twee wiele vat en die kapkar dan eindelik tot stilstand bring. Hy wag nie eens om met die verskrikte stalkneg te praat nie, maar kom aangehardloop na die stoep.
“Hy kom!” skreeu hy toe hy binne hoorafstand is. “Hy kom terug!”
Hanna frons en wag totdat hy uitasem by hulle aansluit voordat sy vra: “Wat bedoel jy, Markus? Hoekom jaag jy so en wie is dit wat kom?”
Hy lag gelukkig en waai die vel wit papier in sy hand.
“Hy kom terug, Hanna … Derek leef en hy kom terug Leydshoop toe!”