Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 5

1

Оглавление

Kersfees kom vinnig nader. Daar is weer vrede in die land na die laaste jaar van oorlog en onmin. Die vorige jaar is daar ’n eenvoudige feestyd op Leydshoop gevier uit respek vir die manne wat teen die Britse heerskappy geveg het. Nou is dit verby en kan almal ’n sug van verligting slaak.

Markus kan Samuel dit nie vergewe dat hy nie ook gaan veg het nie. Hanna en Frank het hulle voet neergesit en geweier dat die jong, twee-en-twintigjarige seun oorlog toe gaan. Hy is hul enigste seun en die erfgenaam van Leydshoop. Buitendien het die oorlog tussen Brittanje en die Transvaalse Republiek weinig met hulle hier in die Vrystaat uit te waai.

Markus het net op sy tande gebyt en buitetoe geloop.

Selfs toe Harrismith in die gedrang gekom het, het Samuel in die waenhuis gesit en rook. Hy het Markus nie eens geantwoord toe dié met hom daaroor praat nie. Dit was toe dat die verlange na Derek weer by Markus begin het, aan hom geknaag het totdat hy snags nie kon slaap nie. Op sy leeftyd kan hy die plaas nie meer alleen behartig nie. Frank word by die dag steekser om te werk en Hanna al hoe kwaaier.

Daar is nie juis enige vreugde by Markus by die vooruitsig aan Kersfees nie. Hy het grimmig besluit om hierdie jaar ’n verandering in Kersgeskenke te maak. Daar sal nie weer duur artikels wees waarna almal so gretig uitsien nie. Hy het ’n ernstige besluit geneem. Die Wepeners se ruim toelaag gaan hy skerp inkort. Twintig jaar lank al lewe hulle soos parasiete en wag net totdat hy sy kop neerlê, maar dit gaan verander.

Terwyl hy tandeknersend sommer ’n rigting inslaan, weet hy egter dat hy nooit sover sal kom nie. Hulle gee nie om vir hom nie, maar hy het hulle op sy oudag nodig. Hy wil nie in eensaamheid alleen op die plaas agterbly nie.

’n Meisie jaag op die rug van ’n perd deur die landerye wat nou geil in die aar staan. Haar donker hare waai in ’n vag agter haar. Haar houding is grasieus en sierlik.

Markus glimlag ingenome. Rosalie is al een wat hy nog liefhet. Sy is die enigste wat hom nog kan laat lag en dink dat die wêreld tog nie so ’n onaardige plek is nie. Hanna hou nie van haar nie, maar dit kan Markus min skeel. Sy is die appel van sy oog.

Hy frons liggies. Clara Wepener … sy susterskind … Hy skud sy kop treurig. Die meisiekind is ’n losbol onder die jong mans. Hy het al verskeie kere met haar daaroor gepraat, maar dit lyk nie of dit enige indruk maak nie. Clara is bang vir hom, maar dit verhinder haar nie om haar amoreuse aktiwiteite voort te sit nie. Sy is ietwat aan die gesette kant, maar haar engelagtige skoonheid vergoed daarvoor. Al wat hom werklik van Clara hinder, is dat sy gruwelik bederf is … soos haar broer, Samuel. Hanna het geen goeie werk gedoen met die opvoeding van haar kinders nie. Dis jammer.

Sy griewe teen Frank het hy diep weggebêre. Op hierdie afgesonderde plase kan niemand dit bekostig om in onmin te leef nie. Sedert die stigting van Bethlehem en Vrede teen die begin van die vorige dekade is dit egter nie meer so erg nie. Daar woon nou meer mense in die omgewing.

Clara en Rosalie het aanvanklik groot maats gebly totdat Hanna besluit het dat haar dogter nie met die “optelkind” behoort te verkeer nie. Markus onthou daardie dag nog baie goed. Dit was die eerste keer dat hy sy woede op Hanna uitgehaal het. Sy suster was sprakeloos geskok en het die kwessie van Rosalie se herkoms nie weer opgehaal nie. Daar het egter ’n geleidelike verwydering tussen die twee dogters gekom. Deesdae sien hy hulle nooit meer saam nie.

Renier de Koning het in ’n forse jong man verander. Op twee-en-dertig is hy nog steeds ongetroud en Hanna probeer haar bes om hom in Clara te laat belangstel. Markus frons liggies. Clara is tog ’n mooi kind. Wat is dan die probleem dat Renier nie kom ouers vra nie? Dis tog nie dat Clara ’n pennielose fortuinsoekster is nie.

Net voordat Markus terugkeer na die huis toe, sien hy Rosalie raak waar sy van die stal af terugkeer. Sy het ’n parmantige, veerkragtige stappie wat getuig van die lewenslus wat gedurig in haar opborrel. Sy is ’n bekoorlike meisie, maar sy laat nie toe dat ander vir haar voorskryf nie. Markus bejammer Charles Bennet, die seun van die dominee. Hy kuier gereeld by Rosalie, maar haar gebrek aan erns stem die arme Charles dikwels mismoedig.

Met ’n diep sug gaan Markus die huis binne. Hy kry die gevoel dat die gesag geleidelik uit sy hande gegly het en in dié van die kinders beland het. Dis nie ’n goeie toedrag van sake nie.

Samuel kom hom tegemoet in die portaal.

“Ek het ’n paar pond nodig, oom Markus,” sê hy ongeërg. “Ma wil nie vir my gee nie en my sakgeld is op.”

Markus byt op sy tande. Het dit al sóver gegaan dat hulle hóm beveel?

“Jou moeder is verantwoordelik vir jou sakgeld en as sy dit nie vir jou wil gee nie, het ek nie die reg om dit te doen nie.”

Samuel kyk skeef na sy bejaarde oom.

“Sy het gesê as oom dit gee, sal sy geen beswaar hê nie, maar sy het nie dertig pond nie.”

Markus se kop ruk op. Van sy ou vuur keer terug.

“Dis ’n ongehoorde bedrag vir ’n jong man van jou ouderdom om sommer net as geskenk te ontvang!” Sy oë blink. “Jy kry geen duit meer van my nie!”

Samuel se mondhoeke krul na onder.

“Pa het altyd gesê dat oom Markus suinig is, maar ek het dit nie regtig geglo nie.”

Markus bewe innerlik, maar uiterlik bly hy kalm.

“Wat jou pa oor my te sê het, skeel my geen duit nie, jong man!” Dis die eerste keer dat Markus sy sluimerende griewe lug. Miskien is dit Samuel se astrante houding of die uitspattige klere wat die seun dra wat hom in die harnas jaag; hy weet nie. Dis net dat hy skielik genoeg hiervan gehad het.

Samuel knipper sy oë verbaas.

“Ek het maar net gevra, oom Markus,” brom hy en stap weg.

Markus se grys baard tril van verontwaardiging. Samuel aard beslis na Frank Wepener, en dan het hy ook nog Hanna wat agter hom staan en alles goedkeur wat hy sê.

“Oom Markus?”

Hy draai vinnig om. Sy bui bedaar effens toe hy Rosalie in die voordeur sien staan. Dit doen sy hart goed om haar te sien. Haar donker hare met die glans van verouderde rooiwyn is teruggevat agter in haar slanke nek en met ’n roomkleurige strik vasgebind. Haar groot blou oë is vraend op hom gerig.

“Wat is dit, Rosalie?”

“Harmonie moet beslaan word, oom Markus. Sy het netnou een hoefyster verloor.”

Hy glimlag.

“Ek drink net gou ’n slukkie koffie, dan kom ek waenhuis toe. Sê vir Hlomo hy moet Harmonie soontoe bring.”

Sy glimlag en twee kuiltjies druk diep in haar wange.

“Dankie, oom Markus!”

Toe die ou man na die kombuis toe wegstap, kyk Rosalie hom half hartseer agterna. Sy is baie lief vir hierdie groot, waardige ou heer met sy spierwit baard en bruin oë wat nog steeds helder soos ’n jong man s’n is. Lank gelede reeds het hy haar vertel dat hy haar een oggend, vroeg in die herfs, op die stoeptrap gevind het. Hy was eensaam en het verlang na iemand wat sy eie kan wees en toe het hy haar aangeneem, maar hy het gevra dat sy hom as oom moet aanspreek omdat hy nie haar werklike vader is nie. Sy gee nie om nie; hy is vir haar meer as ’n vader, en wat maak dit nou saak as sy hom as oom Markus aanspreek?

Sy draai stadig om en stap terug na die stal om na haar lieflingsperd te gaan kyk. Die sierlike, vurige dier runnik saggies toe sy naby haar kom. Rosalie streel die glansende nek en druk haar gesig teen die sagte vel.

“Kom, ou grote, jy gaan nuwe hoefysters kry, en dan sal ons weer deur die veld kan jaag.”

Sy neem die perd self na die waenhuis en moet ’n paar minute wag voordat oom Markus sy verskyning maak.

Hy is besig om die tweede hoef te beslaan toe ’n perd voor die oop waenhuisdeur ingehou word en Renier de Koning uit die saal gly. Hy groet glimlaggend toe Rosalie opkyk en kom dan nader.

“Ons kan die koringsnyers volgende week hier kry, oom Markus,” sê hy nadat hulle gegroet het.

Markus kyk op.

“Hulle is baie laat hierdie jaar. Die koring moes al af gewees het.”

Renier knik.

“Ons was net gelukkig om geen haelstorms te kry nie. As die weer net hou, sal die koring af wees en in die skure voordat so iets gebeur.”

Rosalie se hart klop in haar keel. Vandat sy kan onthou, het sy só oor Renier de Koning gevoel. Dit het alles begin toe hy haar daardie dag, jare gelede, uit die rivier gehaal het. Die perd het haar afgegooi, en sy was maar skaars dertien. Hy was toe al ’n forsgeboude jong man van drie-en-twintig. Daardie dag het alles vir haar verander.

Asof Renier haar gedagtes kan lees, vra hy: “Het jy nog nie weer in die rivier beland nie?”

Sy lag opgewek.

“Geen perd sal my nóú meer uit die saal kan lig nie. Harmonie sal dit nooit aan my doen nie.”

Hy vryf met sy hand oor die perd se neus.

“Dis ’n pragtige dier, Rosalie. Het julle haar self geteel?”

“Ja. Sy is Danser se vul by Sahara. Ek ruil haar vir niks onder die son nie.”

Hy lag.

“Nie eens vir my sweetvos nie?”

“Jy sal Storm nooit verruil nie,” antwoord sy eenvoudig.

Markus klink die laaste spyker in die hoef en kom dan stram orent.

“Ek weet sowaar nie wie die perde gaan beslaan as ek die dag nie meer hier is nie.” sê hy. “Samuel en oom Frank stel nie belang in sulke werkies nie, en dis dinge wat gedoen moet word.” Hy sug diep. “Ja, so gaan dit maar.” Dan draai hy na Renier. “Gaan ons snyers deel of moet ons beurt vat?”

“Dis waaroor ek met Oom kom praat het. Dis al só laat dat ons miskien maar die snyers moet deel. Om ’n deel van die oes af te kry, is beter as niks.”

“Jy is baie groothartig, Renier,” sê die ou man aangedaan. “Dis tog jou beurt. Jy het die reg om die snyers eers daar by jou te laat insak.”

“Ek het met my pa gepraat, Oom. Hy is heeltemal gewillig om snyers te deel.”

“Baie dankie,” sê Markus na ’n oomblik se aarseling. “Ek sal dit nie vergeet nie.”

Renier stap saam met Rosalie en haar oom na buite.

“Hulle sal môre kan inval, oom Markus. Teen Saterdag behoort ons al ’n groot stuk geoes te hê.”

“Dis goed. Ek is gereed vir hulle. Ek het die sekels al in die winter geslyp.”

’n Rukkie later neem Renier van hulle afskeid, en hulle kyk hom agterna toe hy wegry.

In Markus is die pyn en die verlange na sy seun weer skerp.

“As Derek net hier was …” prewel hy.

Rosalie ruk haar gedagtes na die werklikheid terug. Sy het oom Derek Leyds nie geken nie, maar sy weet baie van hom af. Oom Markus het al dikwels vir haar vertel van hoe hy was en van sy groot teleurstelling. Oom Markus het dit nooit teenoor haar erken nie, maar sy vermoed dat hy voel dat hy ’n groot fout begaan het. Monica sou tog ook mettertyd deel van Leydshoop geword het soos oom Frank. Die ou man het Frank aanvaar, maar hoekom nie sy eie seun se vrou nie?

“Miskien kom hy nog terug, oom Markus.”

Die ou man skud sy kop treurig.

“Ek het nie meer baie tyd om te lewe nie, Rosalie. Ek is bang vir my sterfdag. Daar is so baie wat ek nog wil regmaak en ek weet nie hoe nie.” Hy vryf sy baard met ’n bewende hand. “Ek weet nie wat van jou gaan word as ek die dag nie meer daar is nie. Jy sal ’n inkomste hê, maar ’n huis …?”

“Ek sal regkom, oom Markus.”

Hy kyk na haar, en ’n glimlag verhelder sy stroewe gelaat.

“Ja, ek dink jy sal dalk. Jy is ’n klein vuurvreter, en dit sal jou deurhelp.”

Sy lag opgewek.

“Ek is bly oom Markus het hoop vir my.”

Hy lag sag en laat haar dan alleen om Harmonie terug te neem stal toe.

Die volgende oggend daag die koringsnyers voordag al op. Teen sonop het hulle al ’n breë vak in die koringlande begin sny.

Rosalie sit op haar perd, en haar blik dwaal oor die werkery. Dit maak haar altyd opgewonde om hulle ritmiese bewegings dop te hou, om te sien hoe die are bymekaargemaak en in gerwe gebind word.

Sy gee die perd spore en ry in die rigting van die berge. Hiervandaan kan sy afkyk op Leydshoop en verder weg in die vallei ook die opstal van Rusoord sien waar Renier de Koning woon.

Sy kan nie veel van een van die twee groot familiehuise sien nie, omdat dit deur digte bome omring word, maar dis vir haar genoeg om net te weet dat Renier de Koning daar is … daar waar die res van die koringsnyers in die landerye werk.

Die twee plaashuise word deur ’n smal pad verbind, en op die oomblik is ’n ruiter besig om teen ’n stadige draffie in die rigting van Rusoord te ry. Rosalie kan die persoon nie op hierdie afstand eien nie, maar sy ken die perd. Dis Poon, ’n baie mak dier met geen streke nie. Sy ry hom self nie graag nie omdat Poon ’n bietjie lui is om te hardloop.

Na ’n halfuur klim sy weer op Harmonie en laat die merrie toe om teen volle vaart terug te jaag.

Die koringsnyers kyk net ’n paar sekondes lank van hulle werk af op om verbaas na die meisie op die perd se rug staar. Sy sit wydsbeen in die saal, en haar oë glinster van opwinding. Sy spoor die perd laggend aan totdat dit by hulle verbydawer in die rigting van die opstal. Dan sak hulle weer kopskuddend af en gaan voort om die koring te sny.

Op die stoep van die opstal laat Charles Bennet byna sy boek val van skok toe hy Rosalie gewaar.

“Rosalie, Rosalie …” prewel hy ontsteld en hardloop van die stoep af in haar rigting.

Die perd skrik effens en swaai uit vir die jong man. Rosalie verloor byna haar balans en die volgende oomblik ruk Harmonie op op haar agterpote. Sy kap wild met haar voorpote in die lug terwyl Rosalie haar paaiend tot bedaring bring. Eindelik bly die perd proesend staan, swaai met haar sierlike kop op en af en hap na die wind wat sy nou nie meer deur haar maanhare voel spoel nie.

Rosalie haal diep asem.

“Jy is onverantwoordelik, Charles!” raas sy toe sy uit die saal klim en die perd begin koudlei.

Hy trippel agter haar aan.

“Jy speel met jou kosbare lewe deur so te jaag,” sê hy nog styf van skrik. “Jy kon jou doodgeval het!”

Sy draai met blitsende oë na hom.

“Dan sou dit jóú skuld gewees het! Wat makeer jou om so voor die perd in te hardloop!”

“Ek het nie geweet dat jy die dier onder beheer het nie … dit het gelyk asof dit met jou die loop geneem het.”

Sy byt ergerlik op haar tande.

“En wat het jy gedink kan jy doen deur die perd te probeer keer? Jy ken nie eens die voor- en agterkant van ’n perd uitmekaar nie!”

Hy bly gekrenk stil.

“Ek is jammer as ek jou kwaad gemaak het, Rosalie,” sê hy eindelik pleitend. Hy knipper sy oë agter die bril. “Ek het nie bedoel om die perd skrik te maak nie.”

Sy gaan staan en sug liggies.

“Ek wens jy wil ophou om jou so oor my te bekommer, Charles Bennet! Ek het nie iemand nodig om my op te pas nie!” Haar oë blits. “Ek maak soos ek wil, en niémand sal vir my voorskryf wat ek moet doen nie!”

Hy verstyf.

“Verskoon my dat ek dit sê, maar jy tree nie soos ’n dame op nie.”

Sy snak na haar asem en lag dan skielik.

“As jy ’n dame soek, moet jy nie na my kom kyk nie.”

Sy blik dwaal onwillekeurig oor haar rydrag. Die wye rybroek klok uit na onder soos ’n rok, en tog is dit duidelik geen rok nie. Sy vader sal ’n hartaanval kry as hy moet weet dat Rosalie ’n langbroek soos ’n man dra. Dit stem Charles baie treurig, want hy wil hierdie skone nooientjie kansel toe neem as hy dit kan regkry. Die bostuk van Rosalie se uitrusting is preuts en korrek. Die wye moue, kantinsetsels en hoë kragie is mooi en stemmig … dis net die broek en die rystewels … Hy skud sy kop stadig.

“Die mense gaan praat, Rosalie, veral as mens jou agtergrond in ag neem … jou hérkoms,” korrigeer hy homself.

“My herkoms het niks met enigiemand te doen nie. Ek is ’n optelkind, is ek nie?”

Hy sluk ontsteld.

“Dis nie wat ek bedoel het nie.”

“Dit ís wat jy bedoel het. ’n Optelkind moet versigtig wees wat sy sê of doen. Die mense mag dalk praat. Dis vir my snaaks dat jou pa jou nog toelaat om hierheen te kom.”

“My pa is nie ’n man wat ander veroordeel nie! Hy glo as ’n mens berou het, dan is alles in orde!”

Rosalie kyk hom sprakeloos aan. Dit neem ’n rukkie om by haar te registreer presies wat hy bedoel het, en dan lag sy skielik sag.

“Berou? En waaroor nogal? Dis my má wat berou moet hê, nie ek nie!” Sy stap weg om die perd stal toe te neem en laat ’n bedremmelde Charles agter.

Rosalie bewe van ergernis. Tant Hanna het Charles aan haar voorgestel op ’n partytjie, en sedert daardie dag volg hy haar soos ’n getroue hond. Hy betig haar oor alles wat sy doen en aantrek asof dit sy goeie reg is. Oom Markus keur skynbaar die vriendskap goed, en dus het sy geen rede om Charles weg te stuur nie … behalwe dat sy hom mateloos irriterend vind.

Sy het ander jong mans ook al ontmoet, maar skynbaar het niemand die moed om oom Markus te trotseer en vir haar te kom kuier nie. Wat maak Charles dan nou so spesiaal dat hy tydig en ontydig hier toegelaat word? Die gedagte tref haar skielik dat hulle dit almal saam beplan om haar met Charles Bennet getroud te sien en dié gedagte maak haar opstandig. Sy sal dit nié toelaat nie. Sy sal nie dat iemand vir haar ’n lewensmaat kies nie. Sy is oud genoeg om dit self te doen.

Rosalie wikkel haarself ongemaklik in die borsrok in sodat die diensmeisie dit van agter kan intrek en vasmaak. Sy verafsku hierdie onnatuurlike stywe klere, maar netnou is dit tyd vir aandete, en dan moet sy formeel aangetrek wees. Die boonste deel van die moue van haar ligblou tabberd is baie wyd gepof, en onder is dit van die elmboog af in ’n breë, noupassende boordjie saamgevat. Om die middel dra sy ’n wit satynband. Fyn opnaaisels lê oor die hele breedte van die bostuk, en die smal kragie staan regop, gestut deur baleinstutte. Sy voel ongemaklik in die stywe, formele drag, maar op Leydshoop is dit ’n vereiste vir aandete.

In die ruim woonkamer is almal reeds vergader behalwe oom Markus. Tant Hanna kyk op toe Rosalie die vertrek binnekom.

“Charles Bennet het my vertel van wat gebeur het, Rosalie.” Haar stem is koud en streng.

“Charles Bennet moet sy neus in sy eie sake steek, tante.” Rosalie is nie in ’n bui om besonder vriendelik te wees nie.

“Jy is baie astrant,” sê Frank Wepener styf. “Jy moet nie jou plek in die huis vergeet nie.”

Rosalie kyk vinnig na hom.

“Ek is nie ’n bediende hier nie, oom Frank. Oom Markus het my as sy eie kind aangeneem.”

“Dit sê nog niks,” sê tant Hanna kil. “Jy is nie een van die familie nie.”

Rosalie haal diep asem.

“Volgens die wet is ek.”

“Dit gaan oor bloedeie familie, Rosalie,” sê tant Hanna met oordrewe geduld asof sy met ’n kind praat.

Samuel draai met ’n glimlag na Rosalie.

“Charles Bennet is nie te versmaai nie, my niggie,” sê hy spottend. “As hy eendag ’n dominee soos sy pa is, sal die gemeente oor hulle voete val om in jou guns te kom, veral die ou tantes.”

Hanna se gesig verstrak.

“Dis genoeg, Samuel,” sê sy, maar daar is geen strengheid in haar stem nie.

“Ek wil haar net op die voordele wys, Ma,” hou Samuel vol. “As daar iemand is wat Rosalie kan mak maak, is dit die dominee en sy seun.”

Frank skud ’n bietjie snuifpoeier op die agterkant van sy hand uit.

“Jy behoort gevlei te voel dat die dominee geen besware teen jou vriendskap met sy seun het nie, Rosalie.”

“Ek voel nie gevlei nie, oom Frank. Ek dink Charles is teen hierdie tyd al desperaat om ’n vrou te kry. Geen meisie wat reg wys is, sal met hom wil trou nie.”

“Rosalie!” roep Hanna geskok uit. “Ek verbied jou om so iets van die dominee se seun te sê.”

Samuel onderdruk sy lag met moeite, maar Clara het dieselfde ontevrede houding as haar moeder.

“As die dominee van jou onverskillige manier van perdry te hore kom, sal hy Charles verbied om weer hier te kom.”

Rosalie kyk na haar.

“Dít kan my min skeel.”

Hanna se grys oë verhard.

“Jy is nie juis in die posisie om vriende te versmaai nie,” sê sy ysig. “Hier op Leydshoop sal daar nie meer vir jou plek wees as Markus Leyds die dag nie meer daar is nie.”

Rosalie draai na haar tante. Moederskap het niks aan Hanna gedoen om haar harde gelaat te versag nie. Verbittering het haar oud voor haar tyd gemaak en op ses-en-vyftig is daar niks meer van haar eertydse skoonheid te bespeur nie. Rosalie het die geleidelike verandering opgemerk, en met haar besondere skerpsinnigheid het dit haar nie lank geneem om te besef dat die Wepeners nie net maanskyn en rose beleef nie.

“Ek en oom Markus weet dat ek dan nie meer welkom sal wees nie, tante,” sê sy en wag nie om te kyk wat die reaksie op haar woorde is nie. Sy draai om en stap deur na die eetkamer waar een van die bediendes die klok begin lui.

Tant Hanna en Frank wissel vinnige blikke. Hulle sê niks, maar elkeen weet wat die ander dink. Markus het die testament met Rosalie bespreek, en dis moontlik dat hy ’n deel van die geld tóg aan haar bemaak het.

Teen Vrydag staan die gerwe geelryp koring oor een hele land versprei. Die snyers het vroegoggend in ’n nuwe land ingesak en elkeen ywerig aan sy vak begin sny. Hulle wedywer met mekaar om eerste by die onderpunt aan te kom. Al is die wedywering hoog, word daar geen afskeepwerk gedoen nie. Niemand is daarvoor lus om sy vak weer van voor af te begin en oor te doen nie.

Rosalie luister na die grts-grts van die sekels deur die halms. Sy kan net die rûe van die snyers sien, elkeen met sy hoed op teen die warm son. Verder na agter word die are in gerwe gebind met ’n paar los stingels wat behendig in ’n band gedraai word. Dis ’n hele kuns om die are bymekaar te maak en in ’n stewige bondel regop te laat staan en vas te bind. Hulle ken hulle werk egter, en vir Rosalie lyk dit amper maklik om die gerf te bind. Sy weet egter van beter omdat sy dit een keer tevore probeer en die hele gerf in ’n deurmekaar hopie koringstingels laat tuimel het.

Telkens kyk sy op in die rigting van die pad wat na Rusoord lei. Sy het meer as twee uur gelede gesien hoe Clara op Poon in daardie rigting ry, en sy het nog nie teruggekom nie. Sy kan haar nie voorstel wat Clara op Rusoord gaan doen het nie. Daar het ook geen uitnodiging gekom nie.

Die feit dat Clara so lank wegbly, maak haar rusteloos. Sy wil dit nie erken nie, maar sy hou nie daarvan dat Clara in Renier se geselskap is nie. Sy is self net ’n vondeling, ’n naamlose meisie wat deur Markus Leyds se goedheid ’n heenkome gevind het. Sy het op niks en niemand aanspraak nie, nie eens op ’n deeltjie van die huis en die grond waarvoor sy so lief geword het nie. Dalk mag sy eendag een van haar lieflingsperde saamneem, maar selfs dít is ook nie seker nie.

Julius de Koning, Renier se pa, is ’n waardige ou heer en baie gesteld op sy goeie naam. Dáár, weet sy, sal daar nooit ’n plekkie vir haar wees nie. Vir hom is sy net ’n optelkind al het hy dit nog nooit in soveel woorde gesê nie. Sy kan dit aanvoel, sien dit in sy houding van hooghartigheid teenoor haar. Soms het sy hom al betrap met ’n minagtende blik in haar rigting, en dit het haar innerlik laat kook. Hoekom moet sy geoordeel word aan dinge waaraan sy geen aandeel gehad het nie? Toe oom Markus haar op die stoep gevind het, was sy ’n hulpelose baba en het nie eens geweet wat die groot vreemde wêreld om haar beteken nie. Sy was maar skaars ’n jaar oud, en tog word sy volgens daardie deel van haar geskiedenis geoordeel.

Rosalie byt op haar tande en klim op haar perd. Iewers in die groot, wye wêreld sal daar iemand wees wat haar om haarself lief sal kry en nie omdat sy dié of daardie se dogter is nie.

Sy kry koers in die rigting van die spruit wat die grens tussen Rusoord en Leydshoop vorm. Daar gly sy uit die saal en maak die dier aan ’n boomtak vas terwyl sy na die water toe loop en op ’n klip gaan sit. Sy is besig om klein, plat klippies oor die poel te skiet toe sy die hoeweslag skuins links van haar hoor. Sy kyk fronsend op, en dan sien sy Clara net vlugtig tussen die bome deurry terug na Leydshoop toe.

Rosalie haal haar skouers op. Vir Clara is daar baie deure oop omdat sy ’n erfgenaam van Leydshoop sal wees. Oom Frank is al een-en-sestig, en sy gesondheid is nie meer van die beste nie. Samuel sal seker die plaas uiteindelik erf, maar Clara sal ook haar deel kry. Net om daardie rede word sy in die beste families se huise toegelaat. Sy self, Rosalie, word verdra bloot omdat sy oom Markus se aangenome dogter is, en niemand bevraagteken iets wat oom Markus sê of doen nie.

“Rosalie!”

Sy kyk vinnig op en sien Renier oorkant die water staan met sy hande in sy sye. Hy lag en wuif vir haar en kom vinnig deur die stroom gestap. Die water spat teen sy rystewels op. Die res van sy rydrag beklemtoon net sy sterk manlikheid, sy aantreklikheid en sjarme.

“Wat maak jy hier?” vra sy en dan onthou sy vir Clara … “Dit was ’n dom vraag. Ek het my niggie so pas hier sien wegry.”

Daar is ’n flikkering in sy donkergroen oë.

“Het jy? Ek wonder wat dit kan beteken?”

Sy bloos liggies.

“Jy’s onmoontlik!”

Hy lag opgewek en gaan langs haar op die klip sit.

“En wat doen jy hier?”

“Ek kom baie hierheen.”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“Ek het dit nie geweet nie. Dis maar min dat ek spruit toe kom.”

Sy druk haar neusie in die lug.

“Vandag het jy ten minste ’n baie goeie rede gehad om hier te wees, of hoe?”

Hy lag weer sag.

“’n Baie goeie rede. Ek het die grense sedert vanoggend nagegaan en die bakens bekyk. Ek was juis op pad na die suidelike hoek van die plaas toe om te sien of alles nog in orde is.”

“Ek kan nie glo dat Clara jou op daardie rit vergesel het nie.”

“Sy het nie.”

Sy kyk vinnig op.

“Maar … ek het haar dan hier sien verbyry!”

Hy haal sy skouers op.

“Sy het seker moeg geword van wag by die opstal en toe huis toe gegaan. Ek het ongelukkig vir niemand gesê dat ek die plaas se bakens gaan inspekteer nie. Anders was sy lankal by die huis.”

Rosalie voel skuldig oor haar verligting, dus staan sy vinnig op.

“Ek moet terug huis toe. Niemand weet waar ek is nie.”

Hy staan ook op.

“As ek my perd hier by my gehad het, het ek met jou resies gejaag tot by die afdraaipad.”

Sy kyk vinnig na hom.

“Nee, asseblief nie … jou pa sal nie daarvan hou nie, en ek wil nie moeilikheid veroorsaak nie.”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“Waar kom jy daaraan dat my pa nie daarvan sal hou nie?”

Sy haal haar skouers op.

“Ek kan dit net aanvoel… hy hou nie baie van my nie. Tot siens!” groet sy voordat hy haar kan antwoord en draf na haar perd toe. Sy is in die saal nog voordat hy haar kan bereik.

Sy ry reguit huis toe. Hierdie keer is sy te diep ingedagte om die werkers op te merk. Hulle kyk haar weer eens verbaas aan toe sy teen ’n stemmige draffie na die opstal terugkeer.

Aandete verloop soos elke ander aandete totdat Markus Leyds sê: “Waar was jy vanoggend, Clara?”

Clara kyk vinnig, agterdogtig op.

“Ek het net ’n entjie met die perd gaan ry, oom Markus.”

“Jy doen dit baie dikwels die laaste tyd en soos ek verstaan het, is jy nie baie lief vir perdry nie.”

Clara verkleur effens.

“Ek het nie geweet dat dit ’n sonde is om ’n bietjie perd te ry hier nie.”

Markus kyk na haar van onder sy ruie wenkbroue.

“Dis nie wat ek bedoel nie. Jy kuier dikwels die laaste tyd op Rusoord. Die mense praat al daaroor, en ek hou nie daarvan nie.”

Hanna kyk verbaas na haar broer.

“Maar wat makeer jou dan nou, Markus? Ek dag dan dat dit jou goedkeuring wegdra as Clara en Renier gaan trou.”

Markus kyk vinnig na sy suster.

“Nie op hierdie manier nie. Dis Renier se plig om vir Clara te kom kuier en nie andersom nie! Ek sal nie toelaat dat ’n lid van hierdie gesin hom of haar goedkoop gedra nie!”

Hanna onthou lank gelede toe Markus sy eie seun onterf het omdat hy met ’n meisie getrou het wat aan ’n rondreisende sanggeselskap behoort het. Sy swyg omdat sy besef dat Clara verkeerd is, maar sy wil ook nie haar broer se kant teen haar eie kind kies nie.

“As dit so aanhou,” gaan Markus voort toe die stilte te lank rek, “sal ek met Julius de Koning gaan praat.”

Clara kyk verskrik na hom.

“Asseblief, moenie, oom Markus.”

Sy gesig is streng toe hy weer na Clara kyk.

“Dan is dit die einde van jou kuiertjies by die De Konings. As jy volgende keer soontoe wil gaan, neem jy óf vir Samuel saam óf vir Rosalie, maar jy gaan kuier nie weer alleen nie.”

“Ja, oom Markus,” sê Clara.

“En as nie een van hulle wil saamgaan nie, bly jy weg of ek sal Renier de Koning aansê om met jou te trou! Ek sal nie toelaat dat daar allerhande skinderstories oor ’n lid van my gesin die rondte doen nie. Is dit duidelik?”

Clara knik net.

Rosalie is skielik nie meer lus vir die geurige gebraaide skaapboud en aartappels nie. Clara en Renier … dit was waarvoor sy nog al die tyd bang was, maar sy wou nie daaraan dink nie. Tog weet sy dat dit die logiese gevolge gaan wees. Sy sal dit sommer nou al moet aanvaar en leer om daarmee saam te leef.

Annelize Morgan Omnibus 8

Подняться наверх