Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 6

2

Оглавление

Rosalie is buite op die koringlande saam met Markus. Hulle staan en kyk na die gerwe wat teen hierdie tyd ry op ry staan, netjies in gelid. Daar is nog net twee lande wat gesny moet word, en dan sal die oes verby wees.

’n Paar werkers met kar en perde is besig om die koringgerwe op te laai en na die dorsvloer te neem waar dit in miedens gepak word. Vroeg in die nuwe jaar behoort die koring van die lande af te wees. Oor ’n week is dit Kersfees, en Markus wil nie van die snyers verwag om in die paar dae tussen Kersfees en Nuwejaar te werk nie. As die weer net hou en daar geen haelstorms kom nie, kan die res van die koring wag. Daar is alreeds meer as die helfte geoes. Die manne werk baie vinniger as wat hy verwag het.

“In my jongdae het ek die ander snyers maklik onder die stof geloop,” sê Markus met ’n ingenome glimlag.

“Dis moordende werk, oom Markus,” antwoord Rosalie terwyl sy haar kappie regdruk. “Dis nie ’n grap om so in die son te werk nie.”

“Nee, dit is nie. Hulle sal teen Kersfees en Nuwejaar nog hier wees, en ek wil sorg dat hulle dit behoorlik vier.”

Sy glimlag.

“Hierdie Kersfees gaan anders wees. Verlede jaar was tant Hanna nie eens daarvoor lus om ’n doekpoeding te bak nie.”

“Dit was die oorlog. Renier de Koning was oorlog toe, maar my eie susterskind het by die huis gelê en niks doen. Ai, Rosalie, as jy my kind of kleinkind was, sou alles soveel anders gewees het, maar die plaas moet na iemand in die familie gaan. Dit was nog altyd so. Maar nou sal dit ook die eerste keer wees dat Leydshoop nie aan ’n Leyds sal behoort nie.”

Rosalie aarsel voordat sy vra: “Hoekom is oom Markus nie weer getroud ná tant Sophia se dood nie?”

“Geen vrou kon haar plek inneem nie. Ek kon nie in ’n ander vrou belangstel nie. Die plaas het al geword waarvoor ek gelewe het. My hoop op ’n nageslag was op Derek … en hy het nooit weer teruggekom nie.”

“Oom moet oom nie daaroor verwyt nie,” sê sy sag.

“Ek doen dit tog. Ek moes Monica aanvaar het, dan sou Derek nog by my gewees het.”

“Het oom Markus nog nooit weer iets gehoor nie?”

Hy skud sy kop treurig.

“Nog nie ’n enkele woord nie. Dit is amper asof hy my vergeet het.”

“Hy sou nie vergeet het nie … nie as hy ú seun is nie.”

Hy glimlag en voel goed oor haar woorde. Hy wens net dat dit waar is dat Derek eendag sal terugkom. Hy sal sy seun alles vergewe en om vergifnis vra vir dit wat hy gedoen het. Hy sal hom terugverwelkom soos sy verlore seun. Hy sal sy kleinkinders aanvaar en hulle leer om die plaas lief te kry … Maar hy weet dat dit net drome is. Derek moet self nou al byna vyftig wees … agt-en-veertig om presies te wees, en sy kleinkinders sal so oud soos Rosalie wees, dalk selfs al getroud met gesinne.

Markus sug diep. Die lewe het hom nie goed behandel nie, maar dit was ook nie alles ander mense se skuld nie.

Die dag voor Kersfees word daar nie op die lande gewerk nie. Die koringsnyers vergader by die werkershuisies, waar oom Markus twee skape aan spitte laat braai en ’n vaatjie bier vir hulle gelaat het om mee fees te vier. Op Kersdag word daar nie op Leydshoop gedrink en gefuif nie, en die sewe-en-twintigste Desember moet hulle weer vir ’n kort skof inval tot Nuwejaarsdag.

In die opstal self word voorbereidings vir die aand se formele ete getref. Die De Konings is vir die aand oorgenooi, en tot Rosalie se ergernis is Charles Bennet ook genooi. Dit is genoeg om haar die Kersfeesstemming te laat vergeet en haar broeiend in haar kamer te laat sit.

Samuel wou Harrismith toe gaan vir die aand, maar oom Markus het hom die dood voor oë gestel indien hy nie by die ete is nie.

Rosalie se tabberd is van suiwer sy. Dis ’n diepblou skepping met wye moue wat bo die elmboog uitpof. ’n Breë strook om die soom van die tabberd en die wye gedeelte van die pofmoue is met ry op ry wit kantvalletjies versier. In plaas van die gewone wye kraag is daar ’n kunstige insetsel van wit kant en blou strikkies voor die bors. Sy dra net ’n enkele borsspeld hoog teen haar nek.

Clara is uitgevat in ’n skepping van ligroos satyn met ’n menigte valletjies en strikkies om die hals, moue en soom van die tabberd. Haar pragtige bos hare is kunstig in ’n verleidelike kapsel gekam waarin daar ook ’n paar strikkies uitloer.

Vir Rosalie is Clara se tabberd ietwat oordoen, maar sy sê niks. Tant Hanna kan kritiek nie verdra nie en veral nie van Rosalie nie.

Charles daag eerste op, en Rosalie is opsetlik laat om by die ander aan te sluit. Oom Markus hou die jong man geselskap totdat Rosalie ook na die sitkamer toe kom.

Charles se oë blink toe hy haar sien. Sy is en bly vir hom die mooiste meisie in die hele omgewing van Harrismith, en hy kan sy opgewondenheid beswaarlik bedwing. Hy is nie bewus daarvan dat Samuel en Renier hom ietwat geamuseerd betrag nie.

“Jy lyk pragtig,” fluister Charles toe Rosalie hom groet.

Sy bloos liggies. Haar verleentheid verskerp toe Charles ’n pakkie in haar hand druk.

“Dis vir Kersfees.”

Sy kry dit reg om te glimlag.

“Dankie, Charles, dit was dierbaar van jou om daaraan te dink.”

Hy glimlag ingenome, en agter die glase van sy bril lyk sy oë onnatuurlik groot.

Rosalie groet Renier terwyl Julius hulle met valkoë dophou. Hy maak geen geheim daarvan dat hy sou verkies dat Renier in Clara belangstel nie. Sy seun mag nie met ’n pennielose vondeling trou nie.

“Ek sal jou Kersgeskenk later vir jou gaan wys,” sê oom Markus aan Rosalie net voordat hulle na die eetkamer toe gaan.

Clara kom sluit by Rosalie aan.

“Renier het vir my dié pragtige silwerarmband gegee.” Sy hou haar arm na Rosalie uit. “Kyk, is dit nie lieflik nie?”

Rosalie sluk.

“Dis pragtig. Dit moes baie duur gewees het.”

Clara glimlag dromerig.

“Ek dink amper dat ek al die huweliksklokkies kan hoor lui.”

Rosalie word ’n antwoord gespaar toe die gaste hulle plekke aan die tafel inneem. Sy sit aan oom Markus se linkerkant met Charles langs haar. Oorkant haar sit tant Hanna en oom Frank. Dan volg Clara en Renier. Julius de Koning en Samuel sit langs Charles. Dis ’n baie formele rangskikking van sitplekke, maar ook slinks gedoen sodat Rosalie niemand naby haar het behalwe Charles en die ouer mense nie.

Charles val weg met ’n bespreking van die geregte, hulle voordele en nadele, totdat almal hartlik sat en verveeld is. Samuel bly sinies glimlag asof hy die hele petalje terdeë geniet. Clara se wange het ’n bekoorlike blos op terwyl sy sag met Renier langs haar praat. Hanna is tevrede en kan die selfvoldane glimlag nie van haar gesig afkry nie.

“My koring sal teen Nuwejaar van die lande af wees,” sê Julius terwyl hy sy bord vol skep. “Renier en ek het self ingeklim en gesny. Twee paar hande maak ’n groot verskil.”

Markus se gesig versomber.

“Nee, hier is daar nie iemand wat bereid is om sy hande uit die moue te steek nie.”

Samuel kyk gesteurd op.

“Is dit op mý bedoel, oom Markus?” vra hy parmantig.

“Dit is, ja. Ek glo nie eens jy weet hoe om ’n sekel vas te hou nie.”

Samuel se gesig verstrak.

“Die werkers het nie respek vir die baas van ’n plaas as hy self soos ’n arbeider moet werk nie. Dis vernederend.”

“Jy is nog nie die baas van die plaas nie, mannetjie,” kap oom Markus terug.

Die atmosfeer is skielik gespanne. Renier volg die gesprek met soveel belangstelling dat hy nie eens hoor wat Clara nog klets nie.

Julius kyk met ’n somber gesig na Samuel.

“Niemand het hom nog ooit hoef te skaam vir ’n dag se harde werk nie. Ledigheid maak ’n man lui. Dis iets wat die eienaar van ’n koringplaas nie kan bekostig nie.”

Samuel sit sy mes en vurk op sy bord neer.

“Ek het nie nodig om te werk nie, en ek sal ook nie werk nie.”

Frank kyk op na sy seun.

“Jy bederf die Kersete, Samuel.”

“Dis nie ek nie! Oom Markus het eerste begin!”

Frank kyk na sy swaer.

“Jy soek altyd skoor met die seun, Markus. Hoekom laat jy hom nie maar met rus nie? Hy hét gelyk. As die toekomstige baas van Leydshoop moet hy darem ’n sekere waardigheid behou.”

Markus ontplof byna.

“Het ék van mý waardigheid verloor deur op die plaas te werk?”

Samuel spring op.

“Ek weier om langer hier te sit en te luister na hoe ek beledig word!” Hy stamp sy stoel agteruit en verlaat die vertrek woedend.

Hanna wil hom volg, maar Markus keer haar.

“Bly waar jy is, Hanna.”

“Jy het sy eer gekrenk!” sê sy woedend. “Jy het hom seergemaak!”

Markus byt op sy tande.

“Die waarheid maak altyd seer. Sit nou. Ek verbied jou om die tafel te verlaat! Hier is ek nog baas en niemand gaan my plek inneem voordat ek dood is nie!”

Rosalie steel ’n kykie na hom. Hy het ’n onwrikbare trots en waardigheid wat niks en niemand ooit sal kan verander nie. Sy wonder dikwels hoe hy werklik voel oor die Wepener-kinders wat Leydshoop eendag sal erf. Oom Frank of Samuel het nie oom Markus se sin vir regverdigheid nie. Hulle het nie sy insig of doelgerigtheid nie, ook nie sy deursettingsvermoë en sy sin vir wat reg of verkeerd is nie. Dit is byna asof hulle totale vreemdelinge hier op Leydshoop is.

Sy kan nie een dag onthou dat oom Frank moeg gewerk die aand by die huis aangekom het nie. Sy kan nie eens onthou van een enkele besluit wat hy ooit gewaag het om te neem nie. Wat sal van Leydshoop word as hy en Samuel eendag die leisels moet oorneem?

Haar blik dwaal na Hanna, en sy kry weer die eienaardige gevoel dat haar tante ongelukkig is. Sy verafgod haar kinders, maar dis byna asof sy en oom Frank by mekaar verbyleef. Hulle praat soos vreemdelinge met mekaar, en tog moes daar ’n tyd gewees het dat hulle mekaar liefgehad het. Somtyds is sy teenoor oom Frank soos teenoor ’n kind, maar sy het nie veel respek vir hom nie. Sy sien nie na hom op soos wat ’n vrou na haar man behoort op te sien nie. Al waaroor hulle saamstem, is dat hulle kinders teen alles en almal beskerm moet word … veral teen oom Markus wat in hulle oë ’n tiran is. Arme oom Markus …

Charles begin weer langs haar te teem oor die een of ander siekte wat hy in ’n boek raak geloop het, maar sy luister net met ’n halwe oor. Oorkant haar het Clara weer haar verhaal hervat, en Renier luister afgetrokke daarna.

Renier … Haar hart klop swaar en seer in haar keel. Hy is ’n man met die ingebore trots van ’n ou familie. Hy is vir haar so onbereikbaar soos die verste ster aan die hemel, maar sy het sy vriendelike glimlag lief, sy edelmoedigheid, sy durf, sy onverskrokkenheid, sy onverwagse teerheid teenoor weerlose wesens, sy begrip; sy het die mens agter die aantreklikheid en rykdom lief.

Na ete is sy en Julius ’n paar oomblikke alleen bymekaar en soek elkeen na iets om te sê. Rosalie kan die vyandigheid aanvoel en krimp intuïtief terug van hom. Hy is anders teenoor al die ander mense in die vertrek. Dis net teenoor haar dat hy ysig en hooghartig bly. Hulle bly stom by mekaar staan. Julius de Koning se stywe houding verhoed dat Rosalie met hom praat. Sy is bang dat hy haar sal afjak.

Markus kom tot haar redding toe hy by haar kom staan en sy arm om haar skouers sit.

“’n Man kan trots wees op so ’n dogter, Julius,” sê hy ingenome.

Julius verroer nie ’n spiertjie nie.

“Jy ís seker, Markus.”

“Daarvan kan jy seker wees. Haar kop sit reg op haar skouers en sy het nie ’n bang haar op haar kop nie.”

“Sy behoort ’n goeie vrou vir klein Bennet te wees.”

“As die dominee haar aanvaar, het niemand anders die reg om haar te misken nie.”

Rosalie wens sy kan wegvlug, maar oom Markus se arm bly om haar.

Julius kyk ’n oomblik lank aandagtig na haar.

“Jy was gelukkig, Markus. Dit kon baie anders gewees het.”

Markus laat sy arm sak, en met ’n gemompelde verskoning maak Rosalie haar uit die voete. Sy vlug na buite na die stoep waar die soel aandlug begin afkoel.

’n Lang ruk staan sy en luister na die krieke in die gras en die paddas se gekwaak by die rivier. Sy woon hier op Leydshoop op geleende tyd. As oom Markus die dag sy kop neerlê, sal sy moet weggaan. Sy weet dat oom Markus vir haar in sy testament sal sorg en dat sy nooit werklik ’n tekort sal ken nie, maar sy sal nooit weer na die ou familieplaas kan terugkeer nie.

Vir die eerste keer wonder sy waar haar pa en ma is. Oom Markus het aan haar gesê dat sy een nag op die stoep gelaat is, maar hy het nie gesê of hy nog iets weet nie. Dit was duidelik dat hy nie graag daaroor wou praat nie. Sou haar moeder dalk nog leef? Miskien moet sy na haar gaan soek … Rosalie skud haar kop. Sy het geen benul van waar om te begin nie. Dit sal ’n doodgebore begin wees.

“Rosalie?”

Sy skrik toe sy Renier se stem herken en draai vinnig om.

“Jy moes nie hierheen gekom het nie,” fluister sy verskrik. “As iemand jou hier sien, gaan daar groot moeilikheid wees.”

“My pa, oom Markus en oom Frank is studeerkamer toe om na ’n paar gewere te kyk. Tant Hanna is kombuis toe en Clara is gou kamer toe. Ek het ’n minuut of twee om met jou te praat.”

“Is dit dan só dringend?”

Sy gesig versomber effens.

“Nogal. Môre is dit Kersfees, en ek kon nie aan ’n geskenk dink wat ons twee nie in die moeilikheid gaan bring nie.”

Sy glimlag.

“Dit was nie nodig nie, Renier. Ek weet ek is ’n ongewenste buitestander.”

“Ons is vriende, Rosalie, ongeag wat die res sê.”

“Vriende behoort nie nodig te hê om mekaar in die geheim te ontmoet nie.”

“Dink jy dit maak aan mý enige verskil dat niemand weet waar jy vandaan kom nie? Jou moeder is jare gelede al oorlede.”

Rosalie kyk verbaas na hom.

“Hoe weet jy dit?”

“My pa het my dit lankal vertel. Ek het nie geweet dat jy dit nie weet nie.”

Sy sug liggies.

“Ek het gehoop dat ek haar eendag sal vind. Hier sal ek net welkom wees totdat oom Markus nie meer leef nie.”

“Ek wens dit was anders.”

“Dit is nie.” Daar is net gelate aanvaarding in haar stem te bespeur.

“Ek wil jou nóú ’n geseënde Kersfees toewens … dis al wat ek jou kan gee.”

Sy kyk verwonderd op na hom en voel die skok soet en verlammend toe hy haar sag nader trek en haar op haar mond soen. Sy lippe aarsel, traag om weg te breek van die sagtheid van hare, en dan laat hy haar skielik los.

“Ek hoop 1882 behandel jou goed,” sê hy sag.

Sy sukkel om haar asem terug te kry.

“Ek leef nie meer vir die toekoms nie … ek is net dankbaar vir elke dag wat ek nog hier mag wees.” Sy kyk weg oor die stil nag. “Soms wens ek dat ek liewer nooit hierdie lewe geken het nie. Ek gaan baie swaar hiervan afskeid neem.”

“Koffie word nou bedien, Renier,” klink tant Hanna se stem skerp van die deur af.

Die twee op die stoep swaai vinnig om.

“Dankie, tant Hanna,” sê Renier glimlaggend, “ons kom.”

Toe hulle by Hanna wil verbystap, keer die ou dame Rosalie voor.

“Ek wil met jou alleen praat.”

Renier steek ’n sekonde lank vas, maar hy draai nie om nie. Dan gaan hy die huis binne.

Tant Hanna kyk na Rosalie.

“Ek wil jou nou net hier baie duidelik laat verstaan dat jy Renier de Koning met rus moet laat, Rosalie. Ek sal nie toelaat dat jy hom met jou slinkse, goedkoop maniertjies van Clara wegrokkel nie. As jy ooit weer daar inmeng, sal ek sorg dat jy Leydshoop onmiddellik verlaat. Is dit duidelik?”

“Oom … oom Markus het tog ook ’n sê, Tante.”

Hanna verstyf.

“Markus sal dit nie waag om my in hierdie saak teë te gaan nie. Hy besef die voordele wat dit sal inhou as Clara met Renier trou. Dan sal Rusoord ook in die familie wees.” Sy draai om en gaan die huis binne.

Rosalie staan verslae op die stoep. Sy besef dat al die geluk wat sy hier op die plaas geken het, net aan haar geleen is. Sy mag dit net hê solank dit die ander behaag. Gaan oom Markus dan ook teen haar draai as sy en Renier vriende bly? Miskien moet sy aan hom verduidelik hoe sy oor die jong man voel. Hy sal verstaan. Sy is seker daarvan dat hy sal begryp.

Die volgende oggend word sy baie vroeg wakker gemaak deur een van die bediendes.

“Die oumeneer wag vir die juffrou by die stal.”

“Dankie, Katryn, ek gaan dadelik.”

Sy klim haastig in ’n rok in en staan ongeduldig en wag dat die kamerbediende die borsrok vasryg. Vandag kan sy dit nie waag om in ryklere rond te loop nie. Dis Kersdag, en oom Markus sal ’n hartaanval kry as sy nie ’n rok aanhet nie.

Eindelik is sy aangetrek na wat vir haar soos ure gevoel het. Sy kan die trappies nie afdraf nie en tel haar tabberd versigtig op sodat sy nie daaroor struikel nie. Sy wonder wat oom Markus haar so vroeg uit die vere laat jaag. Dis nog skaars lig buite, en die huismense is nog nie eens wakker nie.

Sy kry die ou man by die stal met ’n breë glimlag om sy mond.

“Geseënde Kersfees, my kind,” sê hy en soen haar op albei wange.

“Dankie, oom Markus. Dieselfde vir u.”

Hy sit sy arm om haar skouer.

“Ek wil vir jou iets wys.”

“Wat is dit?”

Hy lag sag.

“Jy sal sien.”

Hy lei haar die stal in en gaan na ’n hokkie heel agter in die ruim gebou. Daar lê ’n merrie op haar sy, en langs haar staan ’n vulletjie nog op wankelrige bene in die strooi.

Rosalie uiter ’n opgewonde gilletjie en hurk by die merrie.

“Danser!” roep sy uit en streel liefderyk oor die merrie se kop. “Jou stoute meisie. Jy het ’n Kersfeesvulletjie! Dis ’n pragtige enetjie, hoor! Hy het mooi, groot bruin oë en ’n blink neus. Jy hou daarvan, nè?” Sy lag en gee die perd ’n klapsoen teen die wang. Dan staan sy op en kyk met blink oë na oom Markus.

“Wanneer het die vul aangekom, oom Markus?”

“Vroeg vanoggend … so teen drie-uur.”

“Maar Oom het my dan nie kom roep nie!” sê sy teleurgesteld. “Ek wou só graag dié groot oomblik beleef.”

Sy blik versag.

“Die vul is joune, Rosalie. Dis my en Danser se Kersgeskenk.”

Haar oë skiet vol trane. ’n Lang ruk kan sy niks sê nie, maar dis ook nie nodig nie. Oom Markus verstaan die diep geluk wat die geskenk haar bring. Sy het haar perd intens lief, en hierdie vul sal vir haar net soveel as Harmonie beteken.

“Dankie …” prewel sy net en draai dan weg sodat sy na hartelus kan huil.

Markus laat haar begaan. Sy blik dwaal na die vul wat sy ma se pens pomp sodat sy moet opstaan. Hierdie keer het Danser haarself oortref en die beste vul gegee wat sy nog gegee het. Die ligte donse aan die nek en stert verseker hom dat dit ’n sweetvos gaan wees … ’n perd waarop enige mens trots sal kan wees. Op ’n veiling sou hy ’n uitstekende prys behaal het vir die vul, maar Rosalie se geluk is vir hom baie meer as die harde kontant werd.

Sy draai om en vee die trane met ’n sakdoek af. Dan glimlag sy verleë.

“Dit was verspot, oom Markus, maar ek móés net huil.” Sy kyk na die vulletjie wat hulle met groot, onskuldige oë betrag. “Wie was die pa?”

Markus aarsel net ’n oomblik voordat hy sê: “Renier se perd … Storm.”

Die skok ruk haar tot stilstand, maar sy kry haarself gou onder beheer.

“Dan gaan ek hom Thor noem. Hy was die god van die donderweer.”

Oom Markus lag.

“Jy het voorwaar eienaardige idees, maar dis ’n naam wat by ’n sweetvos sal pas.”’

Rosalie kyk met nuwe belangstelling na die vul.

“Dink Oom regtig dat dit ’n sweetvos sal wees?”

“Kyk na die kleur, kind. Al die tekens is daar.”

“’n Perd soos Storm …” sê Rosalie asof sy met haarself praat. “Dit sal ’n kosbare dier wees.”

“Jy sal hom na jou hand kan grootmaak. Oor twee jaar sal hy uitgegroei wees, en dan kan jy hom begin leer.”

Sy kyk na Markus.

“Weet Renier van die vul, oom Markus?” vra sy die groot vraag.

Die ou man lag vrolik.

“Ek sou so dink! Sy perd is dan die pa!”

“Ja, maar … weet hy dat die vul mýne is?”

Markus knik.

“Ek het hom gesê dat ek die vul vir Kersfees vir jou wil gee. Ons het net nie voorsien dat Danser die vul so lank sou hou nie.” Hy haal sy sakhorlosie uit, knip dit oop en beskou dit skewekop voordat hy dit weer toemaak en in sy sak bêre. “Jy kan nog ’n rukkie hier vertoef, Rosalie. Ek het verlede nag maar min geslaap, en ek het koffie nou baie nodig. Ons kan later weer oor die vulletjie praat.”

Toe hy weg is, gaan hurk Rosalie by die vul. Dis nog sku vir haar en waggel eenkant toe. Danser kom stadig orent en staan weg sodat daar plek vir die vul is om te suip.

Rosalie staar verwonderd na die twee. Danser was oom Markus se laaste ryperd. Hy is baie lief vir dié elfjarige merrie, en daarom waardeer sy dit so baie dat hy twee van Danser se vullens vir haar gegee het. Maar Thor is iets besonders. Hy het ook die rasegte stamboom van Storm agter hom … hy is vir haar iets van Renier wat sy baie lank by haar sal hê.

Later by die huis maak sy die ander twee pakkies oop. Tant Hanna en oom Frank gee aan haar ’n stukkie dienlike onderklere, en in Charles se pakkie is daar ’n handgebreide mof vir die winter.

“Tant Nelie hekel hulle vir een-en-ses vir die kerkbasaars.”

Rosalie kyk met gloeiende oë na hom.

“Dis die gedagte wat tel, Samuel!”

“Hierdie een was ’n goedkoop gedagte,” kry hy nog ’n laaste woord in voordat hy uitloop.

Oom Markus se geskenke aan die twee Wepener-kinders word nie waardeer nie. Samuel het die Bybel met ’n skouerophaling in ’n laai gesit, en Clara was openlik teleurgestel toe sy háár Bybel uit die pakkie haal.

“Ek wou dan so graag ’n pelsskouermanteltjie gehad het, oom Markus,” kla sy.

Die uitdrukking op sy gesig is onpeilbaar.

“Ek dink jy het ’n Bybel nodiger, Clara. Miskien sal dit jou aanmoedig om daarin te lees. Gedurende huisgodsdiens elke aand is jy maar taamlik verveeld.”

Clara antwoord nie, maar bly net kop onderstebo sit. Hierdie jaar het sy nie gekry waarop sy gehoop het nie. Haar ma het haar verseker dat oom Markus die manteltjie aan haar sal gee, en nou het dit nie gebeur nie.

Gedurende die week tussen Kersfees en Nuwejaar is Rosalie by die dorsvloer waar die miedens gepak word sodat dit byderhand kan wees wanneer daar met die dors van die koring begin word. Sy dra self die koffie en kos vir die werkers aan en gaan op die inspeksieritte deur die plaas sodat oom Markus meer tyd kan hê om aan die snyers en wegry te bestee. Nou en dan sorg sy ook vir die paar melkkoeie wanneer die werkers elders dringend benodig word.

Die oes verloop goed. Net ’n paar enkele los donderbuie vertraag die werk ietwat, maar nie veel nie. Die laaste koringland aan die rivier se kant lê nog wuiwend in die wind. Die ryp geel koring blink in die son, die are is vol en vet. Die dag ná Nuwejaar sal die snyers in daardie land insak, en dit sal hulle net drie dae neem om die koring af te kry.

Oom Markus is tevrede. Hierdie jaar het hy genoeg koring gewen om sy bankbalans goed te verstewig. Sy grootste kommer was oor Rosalie. Sy suster en haar gesin kos hom heelwat per jaar. Hy is net nie meer opgewasse teen hulle eise nie. In die begin het hy botweg geweier om aan alles toe te gee, maar hulle staan bymekaar wanneer een van hulle iets wil hê, en teen vier van hulle kan hy nie baklei nie. Die geld vir hierdie jaar se oes gaan hy net so vir Rosalie wegbêre. Daarna sal hy eers rus vir sy siel hê.

Hanna weet dat die oes ’n groot sukses is, en sy is besig om ’n lysie op te stel van alles wat sy van Markus wil hê. Dis veral vir Samuel wat sy wil pleit. Die kind wil só graag ’n spaider hê. Sy besef dat dit nie die soort rytuig is wat op die ruwe plaaspaaie gebruik moet word nie, maar sy weet ook dat dit Samuel se hartsbegeerte is om een te besit. Daar is juis nou een by ’n wamaker op Harrismith. Iemand het dit ingevoer en toe besluit dat hy dit nie meer wil hê nie.

Clara se begeerte is nie so moeilik om te vervul nie. Sy wil maar net ’n klavier hê, en dis buitendien hoog tyd dat iemand in die gesin leer om musiek te maak. Dit sal die ander opvrolik wanneer hulle rustig om die kaggelvuur sit.

Oujaarsdag stuur Markus Rosalie om vir hom rieme in die waenhuis te gaan haal. Sy loop sommer die entjie omdat hulle naby die huis werk. Sy wil net by die waenhuis instap toe sy stemme binne hoor.

“Hy mors sy geld op hierdie verbrande plaas!” sê oom Frank. “Ek wil nie soos ’n slaaf vir my inkomste werk nie. Sodra Leydshoop in my hande is, gaan ek dit verkoop en ’n hotel op Harrismith oprig. Daar kan ons in weelde leef.”

“Die plaas is al baie geslagte in die familie, Frank,” keer Hanna.

“Dit skeel my maar min. Jy weet watter afkeer ek aan handearbeid het. In ’n hotel is jou grootste werk om te organiseer, en dit kan ek tog doen. Ek sal nie toelaat dat my seun soos ’n slaaf op die plaas werk nie.”

“Ek weet sowaar nie hoekom ek met jou getrou het nie, Frank,” sê Hanna bitter. “In baie opsigte was Markus reg. Jy is lui en gemaksugtig. Jy het nie eens ’n pennie van die geld verdien wat ons gaan erf nie!”

“Draai jy nou teen my?” wil hy bars weet.

“Ek sal as dit nodig is! As Markus die plaas in mý hande laat, sal ek dit nie verkoop nie! Jy sal dan gedwing word om te werk vir jou inkomste! Ek skaam my oor al die jare wat jy op my broer geteer het sonder om ’n vinger te lig om te help! Hy is baie grootmoedig, dat hy dit toegelaat het!”

“Jy is my vrou en jy sal doen soos ek sê!”

“Moenie so seker van jou saak wees nie! Ek het die laaste jare maar eers besef dat jy net met my getrou het oor Markus se geld! Jy het al die tyd gehoop om eendag luilekker te kan leef!”

“As die ou gek dit vir my moontlik maak, dan is dit sý saak! Hy is gans te behep met die sogenaamde familie-erfenis!”

“Dis ook mý erfenis! Ek is lief vir Leydshoop!”

Rosalie draai vinnig om en stap weg sonder dat sy die rieme uit die waenhuis gekry het. Sy wou nie luister nie, maar nou weet sy waarom sy die gevoel gekry het dat tant Hanna ongelukkig is. Hoe moes sy nie gevoel het toe sy uitgevind het dat oom Frank net om haar geld met haar getrou het nie?

Markus vra nie vrae toe Rosalie sonder die rieme by hom kom nie. Aan die bleek, ontstelde uitdrukking op haar gesig is dit duidelik genoeg dat daar iets gebeur het. Sy sal wel later vir hom vertel waaroor dit gaan. Hy stuur dus maar net een van die werkers om die rieme by die waenhuis te gaan haal.

Hy kyk Rosalie ietwat bekommerd agterna toe sy op Harmonie na die rivier se kant toe ry. Iets moes die kind hewig ontstel het.

Rosalie wil ’n rukkie alleen wees. Sy weet dat daardie gesprek wat sy gehoor het, een ding is wat sy nooit met oom Markus sal kan bespreek nie. Dit sal hom breek – omdat daar niemand anders as die Wepeners is aan wie hy die plaas kan bemaak nie.

Die ou man is al naby die sewentig en nie meer so sterk soos wat hy eers was nie. Die skok mag vir hom te veel wees, en as hy nou sterf, sal sy alleen in die wêreld agtergelaat word. Sy is nie daarvoor bang dat sy in armoede sal moet leef nie, dis die gedagte aan die eensaamheid wat haar bang maak. Net oom Markus en Renier het haar aanvaar. Die ander sien op haar neer as ’n optelkind. Oom Markus se vriende praat skaars met haar.

Toe sy die rivier bereik, besef sy dat sy ’n fout gemaak het. Die De Konings is besig om hulle laaste koringland teen die rivier te sny. Dis onvermydelik dat Renier haar raaksien. Hy lig sy hand en kom deur die vlak water na haar toe gestap.

“Hoe vorder julle op Leydshoop?” wil hy weet nadat hulle gegroet het.

Sy wys na die land agter haar.

“Dié een sal hulle die dag na Nuwejaar begin sny.”

Hy help haar uit die saal en lag.

“Dan het ons gewen. Ons behoort teen vanaand die laaste gerwe na die miedens toe te kan neem.”

“Ek dag dan dat jy so ywerig saam sny.”

“Nie vandag nie. Dis nie nodig nie, want die werkers kan die land klaarmaak.” Hy kyk ondersoekend na haar. “En hoekom lyk jý so bekaf?”

Sy haal haar skouers liggies op.

“Dis sommer iets wat gebeur het. Niks ernstig nie.”

“Kom drink koffie saam met ons. Ons was juis op pad om ’n breek te maak.”

Sy skud haar kop heftig.

“Nee dankie, Renier. Jou pa sal nie daarvan hou nie.”

“Hy is by die miedens.”

“Al weer skelm?”

Hy lag sag.

“Ek is nie skelm nie. Dit kan my nie skeel of die hele wêreld sien dat ek by jou is nie.” Hy neem haar aan die arm. “Kom, jy kan nie so in die skroeiende son sonder ’n hoed staan nie.”

Sy volg hom omdat sy graag wil, maar sy weet dat sy dit nie behoort te doen nie. Tog is sy nabyheid gerusstellend. Ten spyte van die emosies wat in haar woel, voel sy tog veilig by hom. Hy sal haar kan beskerm … as die ander dit net wil toelaat … en as hy dit wil doen.

Dis hierdie laaste gedagte wat haar amper voet in die wind laat slaan. Hy is ’n gesogte jong man in die omgewing en ’n tekort aan belangstellende meisies is daar beslis nie. Behalwe dat hy ryk is, is hy aantreklik en vriendelik, en tog hou hy hom afsydig. Geen meisie kon nog sy hart verower nie.

In die koelte van ’n reuse-wilgerboom skink sy vir hulle koffie uit ’n fles. Die sterk, bitter drankie bring haar gemoed effens tot bedaring.

“Oom Markus het Danser se vul vir my gegee,” sê sy toe hulle gaan sit.

Daar is ’n vonkeling in sy oë.

“Is dit ’n mooi vul?”

Sy lag ingenome.

“Hy gaan ’n sweetvos soos Storm wees. Ek het hom Thor gedoop.”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“Jy hou van perde, nie waar nie, Rosalie?”

“Hulle is my vriende. Hulle vra nie vrae nie en veroordeel ook nie. Hulle is die mees lojale vriende wat ’n mens kan hê.”

Hy krap met ’n stokkie tussen die los blare onder die boom.

“Oom Derek was ook so. Sy perde was vir hom die heel belangrikste. Ek was nog maar ’n klein bogsnuiter, toe het hy my al vertel dat ’n perd ’n siel soos ’n mens het, dat ’n perd ook hartseer en vreugdes ken. Dit het ’n groot indruk op my gemaak, en ek het hulle ook leer lief kry.”

“Hoe was oom Derek gewees? Daar word nooit oor hom op Leydshoop gepraat nie.”

Hy aarsel.

“Hy was ’n goeie mens. Hy sou sy plek op Leydshoop kon vol gestaan het. Destyds was hy een van die beste koringsnyers in die omgewing. Hy het elke oomblik van sy werk op die plaas geniet.”

“Dan het oom Markus hom ’n groot onreg aangedoen,” mymer sy.

“Oom Markus was ’n baie trotse ou man. Rosalie. Ek het tant Monica nie geken nie, maar dit was verkeerd van oom Derek om met haar te trou sonder sy pa se medewete. My pa sou dieselfde gedoen het as ek so iets gewaag het, maar ek stem tog saam dat dit ’n groot onreg was.”

“Oom Markus is spyt dat hy dit gedoen het.”

“Spyt kom altyd te laat … ongelukkig. Dit verbaas my net dat oom Derek nooit teruggekom het nie. Hy moes tog besef het dat sy pa later spyt sou wees oor sy haastige optrede. Hy is nou al drie-en-twintig jaar lank weg, en niemand het ooit weer iets van hom gehoor nie.”

“Miskien kom hy terug.”

“Miskien … maar ek glo nie. Hy leef dalk nie eens meer nie.”

Sy kyk vinnig na hom.

“Hoekom sê jy so?”

“In die jare wat hy weg was, het daar baie gebeur. Daar was oorloë en gevegte en onsekerheid. Op die goudvelde van Barberton en Pelgrimsrus het daar baie mense net spoorloos verdwyn.”

Sy byt op haar onderlip. Dis een moontlikheid waaraan sy en oom Markus nie wou dink nie.

“Ter wille van oom Markus hoop ek dat oom Derek terugkeer. Dis al waarna hy nog op sy oudag uitsien.”

Renier sit sy leë koffiebeker langs hom neer.

“Ek mag verkeerd wees, maar ek glo nie oom Markus moet op te veel hoop nie.”

Rosalie staan op en spoel die bekertjies in die stroom uit. Dan kom sy terug na Renier en pak die bekers in die kosmandjie terug.

“Dankie vir die koffie. Ek sal nou weer moet teruggaan.”

“Dit was ’n plesier, meisiekind. Julle kom nog môre na ons Nuwejaarsfees toe, nè?”

Sy glimlag.

“Soos elke jaar, ja.”

“Dan sal ek jou daar sien.”

Hulle groet en sy gaan terug na haar perd toe. Hy wag totdat sy tussen die bome verdwyn voordat hy stadig omdraai en teruggaan na sy werk.

In Rosalie sing dit. Renier is nog net dieselfde teenoor haar. Hy het nog nie verander nie … maar dis juis ’n verandering wat sy wil hê. Sy wil hê daar moet daardie spesiale lig in sy oë wees wanneer hy na haar kyk, maar dit is nie daar nie. Geen flikkering om haar hoop te gee nie, geen talmende handdruk wat haar hart onstuimig laat klop nie. Daar was net daardie een keer se sagte aanraking van sy lippe op Kersaand toe hy nie ’n geskenk aan haar kon gee nie. Miskien het sy meer in daardie aanraking gelees as wat hy bedoel het; miskien was dit maar net ’n skuldgevoel by hom omdat hy nie vir haar ’n geskenk mag gegee het nie.

Die musiek en vreugde verdwyn uit haar hart …

Oujaarsaand kom tant Hanna na Rosalie se kamer toe.

“Ek het my kaste vanmiddag reggepak en hierop afgekom.” Sy hou ’n vergeelde stuk papier en ’n verdroogde roosknop na Rosalie uit. “Dit behoort aan jou.”

Rosalie neem dit onbegrypend by die ou dame.

“Ek verstaan nie.”

“Dit was in jou wiegie toe jy voor die deur gelaat is.” Haar gesig verhard. “Dis al waaruit jou erfenis in werklikheid bestaan. Geen geld behoort werklik aan jou nie … net daardie droë roosknop en daardie sentimentele brief.” Sy draai vinnig om en laat Rosalie alleen.

Toe die deur agter tant Hanna toegaan, vou Rosalie die papier oop en lees die briefie stadig deur. Haar hart klop dof en swaar in haar binneste.

Sy laat die brief stadig sak en tel die verdroogde roosknop op. Dit het vergeel soos die brief, en ook die geur het verdwyn ná al die jare.

’n Traan biggel oor haar wang. Sy het iets van haar moeder … ’n geskenk van geluk en die wete dat sy ook eens kosbaar vir iemand was. Sy het eens aan iemand behoort wat haar liefgehad en vertroetel het. Haar moeder leef nie meer nie, maar vir Rosalie beteken die brief en roos meer as al die geld in die wêreld. Haar sieklike moeder het haar lief genoeg gehad om uit te gaan en te gaan soek na iemand wat na haar sal omsien. ’n Eenvoudige roos het vir haar moeder geluk gebring, maar ’n geluk só groot en mooi dat sy dit met ’n enkele blom aan haar kind wou oordra …

Annelize Morgan Omnibus 8

Подняться наверх