Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 8
4
ОглавлениеMarkus se gesig word pers van woede. Die ander kyk verskrik na mekaar. Dit lyk asof hulle mekaar enige oomblik gaan gryp, maar dan spring Frank om en kies die hasepad. Hoewel Markus Frank laat gaan, skrik Hanna vir die uitdrukking in haar broer se oë. Sy sal met haar man moet praat dat hy Markus nie so moet tart nie.
“Hy moet trap van my plaas af!” skreeu oom Markus hees. Sy hele liggaam bewe van woede, en sy vingers klou krampagtig aan die leuning van die stoel. “Hy mag sy voet nie weer hier sit nie!”
Hanna spring op.
“Jy moet jou nie so ontstel nie, Markus. Frank het dit nie sleg bedoel nie. Hy wou maar net gehad het jy moet weet.”
“Hy kan sy vuil skinderpraatjies elders gaan verkondig! Ek wil hom nooit weer sien nie.”
“Markus, asseblief …”
“As ek my seun kon wegjaag, kan ek Frank Wepener wegjaag. Ek stel nie belang in ’n verduideliking vir sy gedrag nie. Meer as twintig jaar lank al treiter hy my, en vandag is die laaste druppel!”
Hanna kyk uitdagend na hom.
“As hy gaan, gaan ek en my kinders ook!”
Markus se oë vernou.
“Dis jóú keuse, Hanna. As jý ook wil gaan, sal ek jou nie keer nie, maar jou man sit nie weer sy voet op my plaas nie.”
Hanna staar hom onbegrypend aan.
“Hoe kán jy, Markus. Ek is jou bloedeie suster, en ek het niks aan jou gedoen om dít te verdien nie.”
Hy byt koppig op sy tande.
“Ek het gesê dat dit jóú keuse is. Jy en die kinders kan bly, maar nie Frank nie.”
Hanna draai om en hardloop agter Frank aan wat intussen sy kamer bereik het.
Markus kyk na die drie gesigte van die kinders voor hom. Rosalie is baie bleek, en Clara lyk asof sy enige oomblik gaan begin huil. Dis net Samuel in wie se oë haat en woede skitter.
“Hy is my pa, oom Markus!” sê Samuel bewend, “en hy beteken vir my baie meer as wat jy ooit sal beteken!”
Daar is ’n minagtende blik in oom Markus se oë.
“Jy het nog nooit ’n snars omgegee vir enigeen nie, Samuel! Jy is daartoe in staat om jou pa ewe veel te haat as vir my!”
“Dis ’n gruwelike leuen!”
“Oortuig my, en ek sal jou om verskoning vra!”
Samuel bly egter sit. Hy kyk net een keer in die rigting waarin sy ouers verdwyn het, en dan kyk hy terug na sy bord. By sy pa, weet hy, sal hy geen simpatie ontvang nie. Hy moet sy kaarte reg speel as hy nog hoegenaamd eienaar van Leydshoop wil word. As sy pa dan sy eie kanse wil bederf, moet hy nie van Samuel verwag om hom by te staan nie. Elkeen moet nou vir homself sorg, al dink oom Markus ook wát.
“Leydshoop is vir my belangrik,” erken hy wurgend.
“Leydshoop beteken ook werk, en dis iets waaraan jy ’n hartlike afkeur het,” byt Markus terug.
“’n Man kan ’n voorman aanstel.”
“As ’n boer nie sy eie hand aan sy goed hou nie, is dit die begin van die einde vir hom.”
Samuel swyg. Dis altyd dieselfde ou deuntjie, dink hy ergerlik. Om te werk, is vir Markus so belangrik as om te eet.
Clara begin skielik huil, en dan spring sy op en verlaat die tafel. Markus verroer nie ’n ooglid nie en laat haar begaan.
“Is daar nóg iemand wat my teenwoordigheid nie meer kan uitstaan nie?” wil oom Markus weet terwyl hy reguit na Samuel kyk.
Samuel staan op.
“Ek het goed wat ek wil doen, oom Markus, en daarom moet ek nou gaan.”
Markus laat hom loop, maar daar is agterdog en hartseer in sy oë toe hy Samuel agterna kyk. Die muur tussen hom en die Wepeners is nou onafbreekbaar. Hy gaan swaar in die stoel sit en skink vir hom ’n koppie sterk swart koffie.
“Wat doen ’n man as jy aan die einde van jou lewe kom en alles waarvoor jy gelewe het, jou ideale en jou drome, lê aan skerwe aan jou voete?” sê hy ingedagte.
“’n Mens bly hoop, oom Markus,” sê Rosalie.
Hy kyk verwonderd op na haar.
“Sulke gewigtige wyshede pas nie by ’n meisie van jóú ouderdom nie, Rosalie.”
“Ek is jammer dat dit gebeur het, oom Markus. Dit was alles mý skuld. As ek nie hier was nie, sou dit baie beter gegaan het.” Sy sluk hard. “Miskien het dit tyd geword dat ek weggaan.”
Hy skud sy kop.
“Ek het ’n belofte aan jou gemaak en ek sal daarby bly. Dis omdat ek dit graag wíl doen en nie omdat ek voel ek moet nie. Jy is vir my soos my eie kind. Ek sal jou vir niemand anders wil verruil nie.”
Sy byt op haar onderlip.
“Ek veroorsaak onenigheid in die huis.”
“Dis hulle eie skuld. Jy is alles wat ek graag in ’n eie kind wou hê, en hulle weet dit. Ek is trots op jou, en ek wil hê die wêreld moet jou so aanvaar.”
Sy skud haar kop stadig.
“Dit sal nooit gebeur nie.”
Hy glimlag skielik.
“’n Mens bly hoop, of hoe, my kind?”
Hanna maak weer haar verskyning en kom sit by die tafel. Sy skink haar koppie weer vol koffie en draai dan na Markus.
“Ek sal jou nooit hiervoor vergewe nie.”
“Ek vra nie om vergifnis nie omdat ek dinge uit my eie oortuiging doen, Hanna. Ek het nog nooit in my lewe impulsief opgetree nie. Wat ek aan Frank doen, is wat hy verdien.”
“Jy kan hom ten minste ’n toelaag betaal.”
Markus skud sy kop beslis.
“As jy hom iets wil betaal, is jy welkom om dit te doen. Van my kry hy geen duit nie.”
Hanna lyk skielik moeg.
“Jy is ’n baie harde man, Markus.”
“Net wanneer iemand met my swaarde kruis.”
Sy sug en vee vermoeid met haar hand oor haar voorkop.
“Waarom stuur jy Rosalie nie weg nie? Sy kan mos ’n werk op Harrismith kry, en dan sal al die onenigheid in die huis end kry.”
“Rosalie is my kind. Nie jy of jou man of kinders is so ná aan my as sy nie.”
Hanna kyk verstom na hom.
“Jy verkies háár bo mense van jou eie bloed en afkoms?”
Markus sug swaar.
“Ja, Hanna, so is dit. Daar was ’n tyd toe jy en jou gesin vir my vreugde gebring het, maar daardie dae is lankal verby. Ek sidder as ek net daaraan dink dat Samuel eendag die septer op Leydshoop sal swaai. Gelukkig sal ek dan al in my graf wees en sal dit my nie meer raak nie.”
“Jy haat Samuel,” beskuldig Hanna hom. “Jy kon hom nooit veel nie.”
“Ek haat hom nie … ek is net bitter teleurgesteld in hom.”
Hanna dink ’n oomblik na.
“Clara sal vroeg hierdie jaar verloof raak aan Renier de Koning. Dan sal daar een minder wees om jou oor te bekommer.”
Markus snork minagtend.
“Dink jy werklik dat Frank Julius de Koning met rus sal laat? Hy sal dáár ook sy streke probeer, maar ek verseker jou, hy sal hom vasloop met Julius. Ek is nog mak teen daardie De Koning.”
“Dit wil ek eers sien.”
Hanna kyk na hom.
“Frank sal vervoer nodig hê. Jy sal die karperd en twee perde vir hom moet gee dat hy ons kan besoek.”
“Oor my dooie liggaam. Hy het nie daarvoor gewerk nie. Hy kan vir Poon vat, en as hy die perd nie wil hê nie, kan hy voetslaan.”
Hanna se kop ruk op.
“Jy is ’n genadelose, hartelose mens, Markus! Ek wonder wat Sophia sou gesê het as sy nog geleef het.”
“Laat haar in vrede. Julle het nog nooit enige respek vir haar goeie naam gehad nie.”
Rosalie sit kop onderstebo en luister na die gesprek. Vir die eerste keer het haar verblyf op Leydshoop ’n wrang smaak gekry. Sy wonder of sy nog so gelukkig hier sal kan wees as vroeër. As Clara eers met Renier getroud is, sal daar vir haar niks meer buiten oom Markus oorbly nie. Sy weet egter dat sy die plaas eers sal kan verlaat ná die ou man se dood. Hy tree só dikwels vir haar in die bresse dat sy hom nie nóú al in die steek kan laat nie. Dis net dat sy die oorsaak van al die onenigheid is, en dit maak haar hartseer. Sou oom Markus nie baie gelukkiger gewees het as sy nooit Leydshoop toe gekom het nie? Hoekom het haar moeder nou juis vir oom Markus uitgekies as die een wat vir haar ’n tuiste moes gee? Oom Markus het dit nie verdien nie.
Teen Saterdagoggend het die stof oor die hele onaangenaamheid gaan lê. Frank Wepener is Harrismith toe op Poon nadat hy ’n groot kabaal opgeskop het. Markus het egter voet by stuk gehou, en Frank moes tevrede wees met wat hy gekry het. Vir oulaas het hy nog op Markus geskel en hom sleggesê totdat Rosalie met haar hande oor haar ore die huis in gevlug het. Toe eers het Frank gery en twee keer byna van die perd afgeval voordat hy die hek bereik het.
Hanna en Markus het die afgelope dae selde met mekaar gepraat, en Samuel het geswyg soos die graf. Die vyandige atmosfeer het byna tasbaar geword. Clara het van dié geleentheid gebruik gemaak om ’n paar keer Rusoord toe te stap omdat Poon nou nie meer beskikbaar is nie. Elke keer is sy deur Renier in die kapkar teruggebring en het die seer in Rosalie gegroei totdat dit een groot, ondraaglike pyn geword het.
Rosalie het gewonder of ’n eenvoudige blom soos ’n wit roos dan werklik geluk kon bring. Sedert Oujaarsdag toe sy die eerste keer die roos in haar hande gehad het, het alles vir haar begin skeefloop. Haar lewe het om haar in duie gestort en net die intense hartseer het gebly.
Charles Bennet kom met ’n splinternuwe kapkarretjie vir haar kuier. Dit is ’n geskenk van die gemeente omdat hy die beroep na Bethlehem aanvaar het, en hy is baie trots daarop, al is die twee perde wat dit trek, alreeds oud en verby hulle fleur.
“Met ’n dominee gaan dit altyd goed,” sê hy aan Rosalie. “Werp jou brood op die water en na vele dae kom dit na jou toe terug. As ’n mens alles vir jou Skepper doen, sal jy nooit armoede ken nie.”
“Ja, Charles,” antwoord Rosalie met haar gedagtes ver op Rusoord. Clara is weer vanoggend soontoe.
“Rosalie, ek moet ’n dringende versoek tot jou rig.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“En wat is dit?”
“Ek wil jou vra om jou nie weer mooi te maak vir spesiale geleenthede nie. Dis ’n sonde, weet jy? ’n Mens moet nederig wees en jouself nie aan die wêreld vertoon nie. Jy moet jou eenvoudig klee en jou nie optooi nie. Dit is die pad na die verderf!”
“Ag, Charles, bly tog stil!” Sy draai vinnig van hom af weg. Vanoggend sien sy nie kans vir sy vroom praatjies nie.
“Jy móét dit verstaan!” pleit hy. “Al jou ongelukkigheid is deur jou eie toedoen!”
Sy swaai vinnig om na hom en haar oë blits.
“Het ék enige skuld daaraan dat die mense my nie wil aanvaar nie? Hulle noem my ’n optelkind! Hulle maak asof ek iets uit die bose is!”
“Met nederigheid sal jy al hulle vooroordele oorwin.”
“Dit mag so wees, maar dis nie in my aard om vroom en dweepsiek te wees nie.”
Hy trippel agter haar aan toe sy van hom af wegstap.
“God het aan elkeen van ons ’n sondige natuur gegee wat ons moet baasraak. Ons mag nie dat ons sondige binneste ons lewe na buite vertroebel nie!”
Sy gaan staan reg voor hom.
“Sal jy nou end kry? Hoekom gaan soek jy nie iemand anders om te pla nie!” Dan draai sy vinnig om en hardloop na die stal. Sy het nog haar ryklere van vroeër die oggend aan, en dit neem dus net ’n paar minute om in Harmonie se saal te kom.
“Rosalie! Besin voor jy jou kosbare siel aan die duiwel gee! Jy leef op ’n pad wat na die verderf lei! Daar sal vuur en swael uit die hemel op jou neerdaal as jy so aangaan! Daar word nie net van liefde in die Bybel gepraat nie, maar ook van wraak!”
Sy kyk van bo van die perd op hom af.
“Genoeg mense het hulle al op my gewreek, dankie!”
“Ek praat nie van menslike wraak nie! Besin, Rosalie! Ek bid elke aand vir jou siel! Ek wil jou teruglei na die werklike léwe!”
“Los my uit!” gil sy skielik. “Los my in hemelsnaam uit!”
“Jy laster!” roep hy geskok uit.
Rosalie gee haar perd spore en jaag by ’n verskrikte Charles verby. Sy jaag of sewe duiwels agter haar losgelaat is. Charles se vroom praatjies het haar vanoggend hewig ontstel. Die ergste van alles is dat hy gelyk gehad het. Sy is nie so nederig as wat iemand in haar posisie behoort te wees nie. Maar die opstand in haar is teen die samelewing wat haar nie wil aanvaar nie. Charles ken nie die verwarring in haar binneste nie. Hy sien net die uiterlike raak. Hy weet nie dat sy elke aand op haar knieë gaan en vra om leiding nie. Hy weet nie hoe dit voel om tussen mense te lewe wat jou wegwens en jy kan daar niks aan doen nie.
Die trane vloei vrylik oor haar wange. Hy weet nie hoe hard sy probeer om ander se vooroordele te ignoreer nie. Hy weet nie hoeveel sy van ander verduur sonder om ’n woord terug te sê nie. Hy weet nie dat sy soms bid dat oom Markus moet sterf dat sy van alles verlos kan word nie. Hy weet niks! Hy leef in sy kokon van goed en kwaad en swart en wit en weet nie watter hel daar in die grys lewe tussenin is nie, daar waar niks goed óf kwaad is nie. Wat van al die Samuels en Claras en Franks van die wêreld? Hoekom word hulle nie bearbei nie?
By die spruit bring sy die perd tot stilstand en gly uit die saal. Sy laat Harmonie aan die gras staan en vreet terwyl sy na haar geliefkoosde klip toe stap en daarop gaan sit. Maar vanoggend wil die stil vloeiende water nie vir haar gemoedsrus bring nie. Die pyn en hartseer is te groot, en sy bly net snikkend in die skaduwee sit.
As sy kon, sou sy padgegee het van Leydshoop af, maar sy kan oom Markus nie sommerso in die steek laat nie. Hy het haar net so nodig as sy vir hom, en dis sulke dinge wat Charles nie verstaan nie. Die mens se lewe is te ingewikkeld om dit te vereenvoudig na reg of verkeerd.
Geleidelik begin haar snikke te bedaar, en sy vee die trane met haar sakdoekie van haar wange af. Sy dink aan wat oom Frank daardie dag aan die tafel gesê het – dat sy die buite-egtelike dogter van Ansie du Preez is. Hoe sal sy ooit kan weet of dit die waarheid is? Die onsekerheid sal haar bybly vir altyd … sy sal nooit weet of dit so is of nie.
Rosalie trek haar skoene uit en laat haar voete in die koel rivierwater insak. Haar blik val op die bruin vlekkie bo-op die wit vel van haar voet. Dis ’n geboortemerk en net so groot soos haar duimnael. Dit hinder haar nie omdat haar voete tog die meeste van die tyd in haar skoene is. Dis maar net iets wat eie aan haar is … ’n soort uitkenningsmerk. Sy glimlag. Dit beteken nie veel nie, want niemand sal haar ooit kan of wil uitken nie. Sy is ’n naamlose meisie sonder ’n verlede.
Die geklap van perdepote trek haar aandag, en oomblikke later sien sy die De Konings se kapkar oor die bruggie laer af langs die rivier ry. Sy sien hulle net vlugtig, maar dit bring die magteloosheid terug in haar. Clara en Renier is op pad terug na Leydshoop. Hulle lag en klink gelukkig, en dis hoe dit moet wees as twee mense mekaar liefhet, dink Rosalie. As daar nie geluk is nie, het mens nie rede om te lag nie.
Later trek sy weer haar stewels aan en gaan soek Harmonie wat intussen afgedwaal het. Sy kry die perd naby die bruggie, besig om aan die sappige groen gras te vreet. Op dieselfde oomblik hoor sy egter weer die kapkar nader kom. Daar is geen kans om weg te kruip nie, en Renier hou die perde op die bruggie in.
“Goeiemôre!” groet hy glimlaggend. “Ek sien julle het al begin dors!”
Sy knik glimlaggend.
“Dit gaan ’n bietjie stadig vandat Poon weg is. Danser is nie baie gelukkig daaroor dat sy nou die trapwerk moet doen nie.”
“Is jy altyd so besorg oor hoe die perde voel?”
Sy aarsel.
“Hulle het tog ook gevoelens wat seergemaak kan word.”
Hy lag opgewek,
“Jy het voorwaar eienaardige idees, Rosalie, maar ek stem met jou saam. ’n Mens moenie die trots van ’n perd breek nie. Wat sê oom Markus daarvan?”
Sy haal haar skouers op.
“Hy aanvaar dit soos wat hy al die ander dinge aanvaar.”
Hy klim van die kapkar af en kom by haar staan.
“Wat is verkeerd? Jy lyk omgekrap vanoggend.”
“Ek moes maar net vanoggend op my nugter maag hoor dat ek op pad verderf toe is.”
Hy lig sy een wenkbrou.
“Al weer Charles?”
Sy haal diep asem.
“Soms kom hy met waarhede uit, maar ander kere is ek lus om hom te lyf te gaan. Ek moet nou ’n nederige kluisenaarsbestaan voer om te boet vir alles wat met my verkeerd is.”
“Daar is niks met jou verkeerd nie.”
“Ek het glad te veel lewenslus na sy smaak, en ek is hoegenaamd nie nederig nie.”
“As jy soveel gaan verander, wil ek niks meer met jou te doen hê nie.”
Sy glimlag wrang.
“Miskien is dit dan ’n goeie idee om te verander. Dit sal jou pa ten minste sielerus gee as jy niks meer met my te doen wil hê nie. Aan die ander kant, hy hoef hom mos nie meer te bekommer as jy en Clara eers verloof is nie.”
Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in sy donkergroen oë.
“Wat hinder jou, Rosalie? Ek ken jou mos nie so verbitterd nie.”
“Ek wil weggaan van Leydshoop af, maar ek kan oom Markus nie in die steek laat nie. Hy leef alreeds swaar genoeg.”
“Weggaan? Waarvan praat jy! Waar wil jy heen gaan?”
Sy haal haar skouers op.
“Ek weet nie. Miskien moet ek met Charles trou en my lewe aan ’n edele saak wy. Dan sal daar genoeg wees om te doen sodat ek kan vergeet.”
Sy wit hemp blink in die son, en sy kan sy bruingebrande bors sien waar dit voor tussen die losgemaakte knope uitsteek. Sy sterk hande, wat tot ’n bronsbruin gebrand is, rus liggies op sy lenige heupe.
“Wat is dit wat jy so graag wil vergeet, Rosalie?”
Sy aarsel.
“Leydshoop … ek wil vergeet dat ek ooit gelukkig was op die plaas.”
Hy kyk onbegrypend na haar.
“Maar hoekom?”
Haar blou oë vertroebel.
“Omdat dit geleende geluk was. Ek wil weggaan voordat dit finaal van my af weggeneem word.”
“Oom Markus sal vir jou sorg, Rosalie. Hy sal toesien dat jy ’n inkomste ná sy dood het.”
Sy sluk hard.
“Maar ek sal nooit na Leydshoop kan terugkeer nie. Ek sal die plaas nooit weer mag sien nie. Jy verstaan nie, Renier, hulle haat my. Oom Frank is weg van die plaas af deur mý toedoen, en dis nie ’n maklike gedagte om mee saam te leef nie. Oom Markus het hom weggejaag.”
Hy sien die hartseer en verslaenheid diep in haar blou oë. Die lig het daaruit verdwyn en hulle leeg en koud soos ’n eensame wintersnag gelaat. Daar is geen warmte van geluk meer nie, geen lag en lewensvreugde nie.
“Ek is jammer, Rosalie. Ek weet dit klink lomp om dit te sê, maar daar is niks anders om te sê nie.”
“Nou weet jy hoekom ek moet weggaan.”
Hy aarsel.
“Ek wens daar was ’n manier waarop ek jou hier kan hou. Ek weet dat Leydshoop die enigste plek is waar jy óóit gelukkig sal wees. Jou geluk lê nie by Charles nie, Rosalie. Jy moenie oorhaastig wees nie.”
Sy kyk weg.
“Daar is geen ander uitweg nie, Renier.”
’n Lang ruk nadat hy weg is, klim sy eers op Harmonie se rug en keer huiswaarts.
Dis ’n vreemdeling wat die eerste nuus van Derek Leyds bring. Dis ’n man en sy vrou wat drinkplek vir hulle vee kom soek het op Leydshoop.
Markus is nie iemand wat sy hand toehou vir mense wat in nood verkeer nie, en hy nooi die egpaar om die aand op Leydshoop te oornag voordat hulle die volgende dag verder trek na ’n plaas in die Suid-Vrystaat.
Ouder gewoonte vra oom Markus die man uit oor sy seun. Hy het die gewoonte jare gelede aangekweek omdat hy nog altyd gehoop het om nuus van sy verlore seun te kry.
Hierdie keer kyk die man fronsend op na Markus.
“Derek Leyds? Ja, ek het van hom gehoor.”
Rosalie is die enigste ander persoon in die vertrek. Hanna en haar kinders is al weg kamer toe.
Markus leun dringend vooroor.
“Wat het u van hom gehoor?”
Die man dink ’n oomblik na en sê dan: “Ek weet net sy vrou is omtrent drie of vier jaar na hulle huwelik dood. Derek het te laat gekom vir haar begrafnis en mal van verdriet die wildernis ingevaar. Party mense sê dat hy van sy kop af geraak het, maar hy het elke dan en wan teruggekeer na die beskawing om voorrade te koop. Hy was baie stil, maar beslis nie mal nie.”
“Wanneer laas het u van hom gehoor?”
“Omtrent tien jaar gelede. Toe het hy olifante langs die Limpopo gejag.”
Markus sit terug in sy stoel.
“Hy mag dus dalk nog leef?”
“Dis baie moontlik.”
Mevrou Verdoorn maak verskoning sodat sy kan gaan slaap en laat haar man alleen by Rosalie en Markus.
“Het u hom persoonlik geken?” wil Markus weet.
Verdoorn skud sy kop stadig.
“Nee … niemand het hom juis geken nie. Hy het selde met die mense op die dorpe gepraat waar hy aangedoen het. Na wat ek kan onthou, was hy ’n welgestelde man toe ek laas van hom gehoor het.”
“Drie-en-twintig jaar … en hierdie is die eerste nuus wat ek van my seun kry.”
Verdoorn vee moeg met sy hand oor sy voorkop.
“Ek is jammer dat ek u nie meer kan vertel nie.” Hy aarsel. “Ek is baie moeg, meneer Leyds. Sal u omgee as ek nou maar gaan slaap?”
Markus skud sy kop.
“Nee, gaan maar. Rustige nag, meneer Verdoorn.”
“Dieselfde vir u.” Hy laat Rosalie by Markus in die vertrek agter.
“Derek moet nog leef,” mymer die ou man. “Hy kan nie al dood wees nie.”
“Dan sal hy terugkom, oom Markus.”
“Ek hoop so, my kind, ek hoop so. Ek is al ’n ou man, maar as ek my seun net weer kan sien, sal ek in vrede gaan.”
“Ons moet net bly hoop, oom Markus.”
Hy glimlag vaag.
“Dis al wat daar nog is om te doen … hoop en bid dat hy nog leef.” Hy kyk na haar. “Bring vir my my Bybel, asseblief, Rosalie, ek wil ’n rukkie alleen wees.”
Sy glimlag toe sy opstaan om die Bybel te gaan haal. Sy sit dit op sy skoot neer en buk af om hom op sy voorkop te soen.
“Ek gaan nou maar slaap, oom Markus.”
“Nag, my kind.”
Rosalie neem een van die brandende lampe in die portaal en gaan daarmee na haar kamer. Sy voel jammer vir oom Markus wat nou alleen daar in die sitkamer met sy Bybel sit. Hy het troos nodig, maar hy ken niemand na wie toe hy kan gaan nie.
Môre sal die ou man weer met daardie verlange in sy oë loop. Sy sal met hom praat en hy sal antwoord, maar hy sal nie met haar wees nie.
Hanna, Clara en Samuel maak asof Rosalie glad nie bestaan nie. In die verlede het hulle darem nog met haar gepraat al was dit nie altyd baie vriendelik nie, maar sedert Frank Wepener die plaas verlaat het, bestaan sy net nie meer vir hulle nie.
Sondagoggend kom Frank op Poon se rug op die plaas aan. Hy lyk stowwerig, en sy baard is ten minste drie dae oud. Oom Markus het sy glad geskeerde vel altyd as onwaardig beskou vir ’n man van oor die sestig.
Markus sien Frank stadig in die stofpad aankom, en diep in sy hart kry hy sy swaer tog jammer. Miskien het hy nou berou gekry oor al die beledigings wat hy teen Rosalie se kop geslinger het. Hy self is al oud, en dan moet ’n mens nie so in onmin leef nie.
Wepener gly vermoeid uit die saal en hou ’n oomblik aan die perd vas voordat hy na die huis toe aanstap. Hy steek vas toe hy Markus op die stoep sien staan.
“Ek wil my vrou en kinders sien,” sê hy bars. “Vir jou het ek niks te sê nie!”
“Hulle is in die huis.” Markus byt op sy tande. Wepener gaan hardekwas wees, en dan gaan hy beslis nie sy simpatie vermors nie.
Frank stap sleepvoetend by hom verby na die deur toe.
“Net ’n oomblik, Wepener,” sê Markus.
Frank steek vas.
“Wat is dit?”
“Ek wil net sê dat ek jou nie langer van jou gesin af wil hou nie. Jy is welkom om terug te kom na Leydshoop.”
Frank kners op sy tande.
“Ek bly nie in een huis met jou of jou dogter nie! Ek sterf liewer van die honger!”
“Maskas, man! Ons is al oud, en nou staan ons en stry soos kinders!”
“Jy is ’n koppige ou bokram, Leyds. Hou maar liewer jou liefdadigheid vir jou optelkind!”
Markus se oë blits.
“Jy begin al weer!”
Frank druk sy ken vorentoe.
“Ek bly nie meer onder jou dak nie, ek kan sê wat ek wil!”
Markus byt sy antwoord terug. Dan draai hy vinnig om en stap woedend van die huis af weg. Hy en Wepener sal nooit langs een vuur sit nie. Dis nou ’n uitgemaakte saak dat hulle geswore vyande is. Hy was bereid om Frank Wepener te vergewe, maar dit het nie gewerk nie. Frank is te koppig om sy verskoning te aanvaar.
Hy stap haastig na die kapkar waar Rosalie alreeds op hom wag. Hulle sal moet roer as hulle nog betyds by die kerk wil wees.
Op pad na Harrismith praat hulle nie veel nie. Rosalie het Wepener voor die huis sien stilhou, en sy brand om vir oom Markus te vra of hulle vrede gemaak het, maar aan die broeiende uitdrukking op sy gesig, weet sy dat dit nie so iets is nie. Hulle het weer stry gehad …
Ná die kerkdiens wil hulle dadelik terugry Leydshoop toe, maar Charles Bennet keer Rosalie voor. Oom Markus maak van die geleentheid gebruik om met van sy vriende te gaan gesels.
Charles beskou Rosalie se skoonheid met teësinnige bewondering. Dis juis haar besondere bekoorlikheid wat haar sondig maak, dink hy en besluit vasberade dat hý die een is wat haar moet teruglei na die goeie paaie. “Ek wil ernstig met jou praat, Rosalie.”
Sy sug liggies.
“Ek is nie vanoggend in ’n bui om te luister na jou preke nie, Charles.”
Hy lyk seergemaak.
“Ek wil nie vir jou preek nie. Daar is iets anders wat ek vir jou wil vra.”
Sy gaan staan en kyk na hom. Haar ongeduldige houding moedig hom geensins aan om te praat nie, en hy wonder skielik of hy die regte ding doen.
“Dit gaan oor ons … oor jou en my.”
“Wat van ons?” wil sy ontoegeeflik weet.
“Ons ken mekaar al amper ’n jaar, en nou het ek gedink …” Hy steek vas en lek oor sy lippe. “Ek het gedink dat dit tyd geword het dat ons verloof raak. Ek het ’n vrou nodig om saam met my Bethlehem toe te gaan, en jy is nou in só ’n moeilike posisie omdat die mense jou veroordeel. Ek is dalk die enigste man wat jou ooit sal vra om met hom te trou.”
Rosalie snak na haar asem.
“Jou vermetelheid is ongelooflik, Charles Bennet! Jy aanvaar te veel dinge as vanselfsprekend!”
“As ons eers getroud is, kan ek jou help om weer geluk te vind … ’n soort geluk wat jy nie eens geweet het bestaan nie.” Charles is seker van sy saak. Hy weet dat die ongelukkigheid Rosalie opknaag, en hy weet dat die jong mans lugtig is vir hulle ouers omdat sy ’n aangenome kind is. Sy kan hom nie weier nie.
Rosalie haal diep asem.
“Jy dink jy het my in ’n hoek, maar jy het nie. Ek sal veel eerder alleen gaan woon met my perde as dat ek met jou trou en gaan sit en muf in jou pastorie. Ek is nie ’n predikantsvrou nie, Charles! Ek het genoeg van my eie probleme sonder om nog ander mense s’n om my nek te kry! Ek is net nie die soort mens wat alles sal kan opoffer vir ander nie.”
Hy glimlag stadig.
“Jy sal leer, en jy sal dan die grootste geluk ondervind wat ’n mens kán. Geluk is vir jou belangrik, maar dit sal jou altyd bly ontwyk tensy jy besin, Rosalie.”
Sy begin onbedaarlik bewe.
“My geluk lê nie by jóú nie, Charles! Ek kan nie met ’n man trou wat ek nie liefhet nie.”
Haar woorde skrik hom nie af nie. Dit versterk eerder sy gevoel dat hy die regte ding doen.
“Menslike liefde is van geen belang nie. Dis van verbygaande aard. Daar is net een soort liefde … die liefde vir jou Skepper.”
Rosalie byt op haar tande. Die gesprek het reeds te lank geduur, en sy is hewig ontsteld.
“Een keer in jou lewe gaan jy ’n eenvoudige antwoord aanvaar!” sê sy skielik kwaad. “My antwoord is en bly nee! Ek wil nie met jou trou nie, ek wil nie jou lewe met jou deel nie, ek wil nie wees wat jy my wil maak nie! Nee! Nee! Nee!”
Charles knipper sy oë agter die dik brilglase. Hy was haar uitbarsting glad nie te wagte nie, en nou wonder hy of hy haar nie verkeerd opgesom het nie. Hy was só seker dat haar hartseer en ongelukkigheid haar na hom sou dryf. Waar het hy dan sy oordeelsfout gemaak? Maar só maklik gaan hy ook nie tou opgooi nie. Hy sal haar ’n bietjie tyd gee om te besin, en dan sal sy na hom toe kom. Dit kan nie anders nie.
Rosalie vlug van hom af weg en gaan klouter op die kapkar om vir oom Markus te wag. Sy wens dat Charles Bennet haar met rus wil laat. Hy dompel haar telkens in die onsekerheid, en soms het sy al gewonder of sy nie maar saam met hom moet gaan en wegkom van Leydshoop af nie. Maar dan skud sy haar kop. Harmonie en Thor is die twee wesens wat sy naas oom Markus die liefste het … Sy aarsel. Nee, sy het Renier de Koning selfs liewer as haar perde of haar oom Markus. Al haar hartseer spruit uit daardie hopelose liefde.
Sy besef dat sy in ’n heel onbenydenswaardige posisie is. Sy is onwelkom op die plaas waarop sy grootgeword het, sy is onaanvaarbaar vir mense wat sy lankal ken, en sy het geen heenkome as sy die dag van die plaas af moet padgee nie. Dit is asof sy geen reg op ’n bestaan het nie, om van geluk nie eens te praat nie. Al wat sy kan doen, is om uit te hou totdat oom Markus te sterwe kom, en dan sal sy sien wat die toekoms haar kan bied.