Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan - Страница 4
Vooraf
ОглавлениеEen oomblik lank lyk dit asof Markus Leyds ’n hartaanval gaan kry. Sy gesig word persrooi, sy asem hyg deur sy half oop mond. Op die armleunings van die stoel waarop hy sit, ruk-ruk sy vingers spasmodies.
“Pa …!” Daar is duidelike ontsteltenis in Derek se stem. Hy bly egter staan omdat hy nie weet wat om te doen nie.
Die jong vrou langs hom kyk verskrik na die ouer man en dan na haar man.
“Jy was te haastig, Derek,” sê sy skaars hoorbaar.
Markus kry geleidelik weer sy normale kleur terug, maar die woede wyk nie uit die helderbruin oë nie.
“Jy is my enigste seun,” kry hy dit uiteindelik hees uit. “Hoe kón jy dit aan my gedoen het!”
Derek neem die vrou se hand in syne.
“Ons het mekaar lief, Pa … Monica sal die Leyds-naam hoog hou.”
Markus verskuif sy blik na die mooi swartkopvrou met die groot groen oë. Haar kleredrag is ietwat te uitspattig en haar grimering net te swaar om smaakvol te wees. Hy kyk terug na sy seun.
“Sy bly nog ’n sangeres uit ’n toergeselskap en nié die soort mens met wie ons omgaan nie!”
“Liewe land, Pa, ons leef in die verligte negentiende eeu! Pa klou nog aan Middeleeuse vooroordele vas!”
“Ek bly nog die hoof van hierdie huis.” sê Markus met besliste nadruk op elke woord. “Ek sal nie toelaat dat jy jou … vrou aan ons vriende voorstel nie.”
Derek verstyf merkbaar.
“Sy is my vrou en ek sal nie toelaat dat enigiemand haar so beledig nie.” Sy stem is sag, maar dreigend.
Monica kyk nie na een van die twee nie. Die kleur het dieprooi in haar hals opgestoot. Hierdie wrewelrige teenkanting van Derek se pa was sy nie te wagte nie.
Markus bewe liggies toe hy weer praat: “Jy het geweet hoe ek op so iets sou reageer, Derek, nogtans het jy met haar gaan trou sonder my medewete. Ek het niks verder vir jou of jou vrou te sê nie.”
Derek aarsel.
“Pa sal Pa nooit vir haar hoef te skaam nie.”
Markus kyk vinnig na hom.
“Nee, natuurlik nie, want julle sal nie hier wees sodat ek my enige tyd hóéf te skaam nie. Jy kan nou maar jou besittings gaan inpak en voor vanaand nog vertrek.”
Derek verbleek.
“Pa bedoel dit tog seker nie.”
Markus Leyds se oë is koud.
“Ek bedoel elke woord wat ek sê. ’n Seun wat sy pa só ongehoorsaam is, is nie werd om nog erken te word nie.”
Derek se arm gly beskermend om sy vrou se skouers.
“Nou goed, as dit is hoe Pa daaroor voel … maar ons het nie geld óf ’n heenkome nie. Ek sal Pa moet vra om my ’n deel van my erfporsie uit te betaal, asseblief.”
Markus swyg ’n lang ruk voordat hy antwoord. “Daar is geen erfporsie meer vir jou nie. Geen rondloper-vroumens sal my swaarverdiende geld uitmors nie.”
Die twee mans kyk mekaar ’n lang ruk vas in die oë. Vandag kan Derek nie bewondering voel vir sy pa se onwrikbaarheid nie. Hy dink aan Markus se ontoegeeflikheid in die verlede, en die opstand wel in hom op. Markus regeer die Leyds-gesin met ’n ysterhand. Tant Hanna is al vyf-en-dertig en nog ongetroud. Sou dit dalk ook wees omdat sy pa nooit sy toestemming tot ’n huwelik wou gee nie?
“Pa kan ander mense se lewens verwoes, maar nie myne nie,” sê hy eindelik bewend. “Ek het die reg op geluk wat nooit in hierdie huis was nie. Miskien is dit ook maar beter dat ek en Monica elders heengaan waar Pa se invloed nie geld nie. Ek het my ma nooit geken nie, maar ek kan nie dink dat sy hiér gelukkig kon wees nie.”
Markus ruk orent.
“Laat jou ma in vrede rus! Ek verbied jou om haar in my geselskap te noem!”
“Sy was my moeder – die moeder na wie ek altyd verlang het, al het ek haar nie eens geken nie!”
“Dis nou genoeg!” bulder Markus.
Derek skud sy kop heftig.
“Daar is te veel dinge waaroor daar nooit in hierdie huis gepraat mag word nie. Watse lewe is dit om altyd na iemand anders se pype te moet dans? Ek is vyf-en-twintig en mondig, of is dit nog iets wat Pa nie erken nie?”
Markus byt op sy tande. Sy swart snor, waarin die grys hare al yl wys, tril van verontwaardiging.
“Loop nou en neem hierdie vroumens voor my aangesig weg!”
Derek byt sy woede terug. Dan draai hy om en lei Monica die vertrek uit. Hy slaan die deur so hard agter hom toe dat dit deur die groot huis weergalm. Dit is asof die slag hom terugruk tot die werklikheid, en ’n oomblik lank voel hy moeg en ouer as vyf-en-twintig. Hy kyk af na die swyende Monica.
“Ek is jammer, liefling, ek moes geweet het dat so iets sou gebeur.”
“Ons moet gaan inpak, Derek,” sê sy met ’n ligte trilling in haar stem. “Dié huis gee my koue rillings.”
Hy glimlag vaag.
“Dis eienaardig, weet jy, maar ek besef nou eers dat ek nog nooit besonder lief was vir Leydshoop nie. Dis ’n pragtige plaas wat al geslagte lank in die familie is, maar …” Hy haal sy skouers liggies op. “Kom ons gaan pak in.”
Hanna luister swyend na Markus wat haar vertel wat tussen hom en Derek gebeur het. Haar gesig bly hard en uitdrukkingloos. Haar gedagtes is egter nie heeltemal by Markus nie. Sy dink aan Frank Wepener, die een-en-veertigjarige oujongkêrel wat sy ’n paar maande gelede op Harrismith ontmoet het. Markus het hom al ’n paar keer ontmoet, maar dit was net vlugtig. Sy wonder hoe haar broer daaroor sal voel dat sy en Frank trou en hier op Leydshoop kom woon.
“Hy is weg, Hanna,” eindig Markus sy vertelling asof hy dié feit self nie kan glo nie. “Na al die jare wat ek hom so geduldig na my hand probeer opvoed het, het hy ’n loskopvrou gevat en geloop.”
Sy ruk haar gedagtes terug na die werklikheid.
“Dis die soort ondankbaarheid wat ’n mens van ’n jong man sal kry, Markus. Hy aard baie na Sophia.”
“My vrou was ’n goeie, pligsgetroue mens.”
Hanna kyk onderlangs na hom.
“Maar sy het nooit van dié omgewing gehou nie. Sy wou altyd hier weg.”
Markus is stil, want hy weet dat dit waar is. Sophia was sielsongelukkig op Leydshoop. Sy het hom dit nooit verwyt nie, maar sy het altyd gehunker na die dorpe … weg van die plaas af.
“Daar is iets wat ek aan jou moet sê, Markus,” dring sy suster deur sy gedagtes.
Hy kyk op.
“Wat is dit?”
“Ek en Frank wil gaan trou. Ek word oud, Markus, en terwyl Derek nou weg is, sal daar ook geen erfgenaam vir Leydshoop wees nie.”
Hy wil eers teëstribbel, maar dan bedink hy hom. Hy kan háár nie ook verloor nie. As hy weier, sal sy tog trou, en dan sal sy ook die plaas verlaat en hom met ’n eensame oudag laat …
Hanna en Frank Wepener trou drie maande later. Vroeg in 1860 word hul eersteling gebore. Dis ’n seuntjie, en hy kry sy oupa Wepener se naam, Samuel. Die blonde Clara word twee jaar later gebore. Hanna is nou nege-en-dertig, en dis duidelik dat sy nie meer kinders sal hê nie.
Markus is op ’n manier weer gelukkig. Hy het nog niks weer van sy seun gehoor nie, maar sy suster se twee kinders vul sy lewe. Hy bederf hulle tot in die afgrond sodat Hanna telkens moet keer.
Intussen het Frank Wepener bewys dat hy ’n lui, nuttelose man op ’n plaas is. Hy drink effens te veel, en mettertyd begin dié toedrag van sake te veel word vir die pligsgetroue Markus. Hy is nie meer so jonk nie en sien nie meer kans daarvoor om te sukkel met mense wat nie wil werk nie.
Een oggend keer hy Frank voor toe dié op pad is om ontbyt te gaan nuttig nadat al die ander huismense reeds geëet het.
“Die saaityd lê voor, Frank, en jy sal moet hand bysit.”
Frank kyk verbaas na hom.
“Maar die arbeiders sorg mos daarvoor.”
“Ek kan nie meer alles behartig nie, en hoekom sal ek ’n voorman aanstel as jy hier is? Jy kan nie verwag dat ek alleen al die geld moet verdien terwyl jy vakansie hou nie. My testament is in Hanna se guns uitgemaak, en moet my nie dwing om ’n klousule by te voeg wat jou sal verhoed om aan die geld te raak nie.”
Hanna het die laaste deel van die gesprek gehoor en bly geskok in die deur staan. Alles het so goed gegaan, dink sy omgekrap. Markus was weer soos vroeër sedert die twee kinders se geboorte. Sy en Frank was amper gelukkig … en nou dit. Sy tree beslis tussenbeide.
“Dis vernederend, Markus! Frank kan nie as voorman op jou plaas werk nie! Jou pa sou so iets nooit toegelaat het nie!”
Markus draai na haar.
“Jou liewe Frank lê elke oggend sy bas en uitslaap en dan verorber hy my drankvoorraad teen ’n tempo wat my ’n aardige bedrag uit die sak jaag. ’n Bietjie eerlike werk sal hom geen skade doen nie.”
“Hy kan nié as voorman werk nie!” hou Hanna vol.
“Die jig keil my op, Markus,” kla Frank.
Markus kyk na hom.
“As die jig jou op vier-en-veertigjarige ouderdom pla, dan is dit omdat jy nie genoeg werk nie. Jy sorg dat jy môreoggend vyfuur by die skuur is of ek kom jou haal!” Markus draai om en stap van hulle af weg.
Frank kyk na Hanna.
“Jy moet met hom praat. Ek is ’n siek man, Hanna,” kerm hy.
Sy streel liefderyk oor sy wang.
“Ons sal aan ’n manier dink om jou hier uit te kry, Frankie. Ek sal nie toelaat dat jy soos ’n arbeider vir hom werk nie.”
Frank frons ongelukkig.
“As hy net nie so ’n groot, sterk man was nie, sou hy lankal dood gewees het en sou ons ryk gewees het.”
Sy glimlag.
“Daardie dag sal kom, Frankie, ons moet net geduld gebruik.”
Hy sug diep.
“Maar ek wil nie ’n ou man wees voordat ek kan doen soos ek wil op my plaas nie.”
Sy aarsel.
“Ek dink jy moet maar voorlopig doen soos Markus sê, Frankie. Ons moet hom nie in die harnas jaag nie.”
Sy pap gesig kry ’n huiltrek.
“Drie jaar lank al leef ek só hier, en nou wil hy alles kom staan en omkrap! Ek was só gelukkig, Hanna … vir die eerste keer in my lewe was ek regtig gelukkig.”
Sy slaan haar arm om sy middel.
“Toe maar, Frankie, ek sal na jou omsien. Jy weet tog dat ek alles vir jou sal doen.”
Diep in April is die saaiery agter die rug. Die onlangse reën laat die spruitende koring ’n groen skynsel op die diepbruin lande vorm. Markus ry elke dag te perd deur die landerye om te sien hoe die koring vorder. Dis wanneer hy hier alleen op die landerye is dat hy op sy gelukkigste is.
Dis net vir Derek wat hy mis. Hy besef dat hy ’n groot fout begaan het deur sy seun weg te stuur, maar daar is niks wat hy nou daaraan kan doen nie. Derek het nooit weer van hom laat hoor nie, en die skuldgevoel knaag aan Markus. Hy kon die seun darem ’n paar honderd pond gegee het om ’n begin mee te maak.
En Monica … Hy onthou die half goedkoop jong vrou, die verskrikte, seergemaakte uitdrukking in haar groen oë. Dit was die eerste keer dat hy haar gesien het, en tog het hy nie eens die moeite gedoen om háár kant van die verhaal te hoor nie. Diep in sy hart hoop Markus dat Derek gelukkig is … al is dit net om sy eie gewete te sus.
Frank sit onder ’n boom langs een van die landerye. Langs hom staan ’n halfleë brandewynbottel. Hy kyk skaapagtig verleë op toe Markus sy perd langs hom inhou.
“Dag, Markus.”
Markus kyk afkeurend na die bottel en dan terug na Frank.
“Suip jy altyd so vroeg, Wepener?” wil hy ysig weet.
Frank trek ’n gesig. Hy verafsku dit om op sy van genoem te word. Dit herinner hom daaraan dat hy nie ’n Leyds is nie, dat hy ’n indringer op Leydshoop is en dat die plaas en die geld nog altyd aan Markus behoort.
“Ek voel maar ’n bietjie neerslagtig vanoggend, ou swaer.” sê hy temerig.
Markus verstyf. Die familiêre aanspreekvorm staan hom glad nie aan nie. Frank is nie vir hom een van die familie voordat hy hom dit waardig bewys nie. Tot nou toe was hy nog net ’n steen des aanstoots met sy klaery oor jig of hoofpyn of hartkrampe en wat nog alles. Wanneer hy nie werk nie, is hy blakend gesond, maar sodra daar iets is wat gedoen moet word, diep hy een van sy kwale op en hou hardnekkig daarby.
“Daar is werk om te doen!” sê Markus geïrriteerd.
Frank kyk agterdogtig na hom.
“My hele lyf is seer, Markus … ek kan nie vandag werk nie. Ek sou graag wou, maar ek kan regtig nie … sowaar …”
Markus kyk minagtend na Wepener.
“Jy maak my siek,” sê hy en ry weg.
Frank kyk hom agterna deur skrefiesoë. Jou ou vrek, wag maar, jy sal nie meer ’n ewigheid lewe nie, en dan sal ék baas wees van Leydshoop, dink hy vies.
Die nag broei Markus nog steeds oor sy veragting vir Frank Wepener. Hanna skerm vir hom net waar sy kan, en dit maak Markus siek om te dink dat die nuttelose, lui Frank eendag sy swaarverdiende geld sal kan uitmors soos hy wil. Die ongelukkigheid sny diep in Markus. Almal het hom in die steek gelaat, en tussen die opdrifsels moet hy na iemand soek wat Leydshoop waardig sal wees … miskien Samuel? Wie weet, miskien ontwikkel dié knaap nog in ’n agtermekaar jong man. Hy is nog maar net twee jaar oud. Daar is nog baie tyd.
Vroeg die volgende oggend skrik Markus wakker van die gehuil van ’n baba. Hy glimlag half en lê ’n rukkie lank en luister daarna. Dis goed om kinderstemme in die huis te hê, dink hy ingenome. Dit het die stugge atmosfeer in die herehuis baie verander.
Die kind hou egter aan met huil, en later begin hy bekommerd wonder of daar iets verkeerd is. Dis nie Samuel se stemmetjie nie … en dan sit hy regop. Clara? … Nee, Clara huil met ’n hikkie na elke snik. Hierdie stemmetjie is helder en skoon en báie ongelukkig.
Markus gooi die komberse van hom af en steek sy voete in sy pantoffels. Dan maak hy die gordyne oop. Buite is dit nog donker. Hy druk die knip van die venster af en stoot die raam op. Hy ruk tot stilstand.
Die stemmetjie is nou baie helderder … dit kom van buite af, en daar is dit nog byna nagdonker …
Markus hardloop met die trap af na onder na die voordeur toe. Hy sal nie kan rus voordat hy weet wat gaande is nie. Dan pluk hy die voordeur oop en val byna oor die voorwerp op die stoeptrap.
Hy staan asof versteen.
In ’n nuwe rottangwiegie lê ’n baba. Die haartjies is donker en die ogies net twee ronde, swart kolle in die nag. Die kind het opgehou met huil toe Markus die deur oopgepluk het, maar die onderlippie bly bewe. Die kombersies het van die liggaampie afgegly, en die koue byt van die oggend maak die outjie ongemaklik. ’n Leë melkbottel lê op die vloer. Die kind begin skielik weer huil.
Markus buk vinnig af en tel die wiegie op. Hy dra dit versigtig en verwonderd na die woonkamer waar die kaggelvuur reeds lankal dood is. Dan steek hy ’n lamp op en buk weer oor die kind wat intussen opgehou het met huil.
Die klein, brose mensie laat hom dink. Dis iemand se kind. Iewers is daar ’n moeder … miskien ook ’n vader. Wie kan so ’n pragtige, mollige kleintjie weggee? Dit moet ’n mens sonder ’n hart wees.
Hy byt op sy tande. Dit was onmenslik wreed om die kind hier af te laai. Dit was onvergeeflik! So ’n moeder is nie werd om ’n moeder genoem te word nie. Hy onthou die dag toe Sophia gesterf het … hoe sy klein Derek in haar arms vasgeklou het … hoe die kind gehuil het en hoe Sophia sinnelose woordjies teen die sagte wangetjie gefluister het. Daardie finale afskeid het hom al die jare bygebly. Hy het soos ’n buitestander gevoel … Sophia se verlange was na Derek … en nou het Derek hom in die steek gelaat.
“Wat op aarde gaan hier aan?” vra Hanna skielik van die deur af.
“Ek het dié kind voor die deur gekry … iemand het hom hier gelaat.”
Hanna kom haastig nader. Sy kyk na die donkerkopmensie met die sagte rooi wange en rosige mondjie.
“Dis onmenslik,” sê sy sag, maar dan neem die moederinstink oor. “Die kind is nat en koud en honger. Gaan maak asseblief vir hom ’n bottel melk, Markus. Ek sal hom solank droogmaak.”
Markus verlaat die vertrek teësinnig. Toe hy minute later met ’n bottel louwarm melk terugkom, kyk Hanna na hom.
“Dis ’n dogtertjie, Markus. Haar naam is Rosalie.”
“Hoe weet jy dit?”
Hanna neem die bottel by hom en gee dan vir hom ’n briefie.
“Dit was onder die kombersies.”
Hy kyk na die netjiese handskrif op die papier. Dan was die kind se moeder nogal ’n geleerde vrou daarby. Die situasie raak vir hom al hoe meer raaiselagtig.
Geagte meneer Leyds
Ek smeek u om Rosalie onder u vlerk te neem. By u sal sy nooit so iets soos honger en koue ken nie, ook nie armoede of gebrek nie. Ek kan haar nie na ’n weeshuis toe neem nie. Sy verdien dit nie.
Ek weet dat ek nog net ’n kort tydjie het om te leef. Die dokters kan niks meer vir my doen nie en omdat ek sieklik is, kan ek nie werk om my kind te versorg nie. Wees asseblief goed vir haar. Vir u is sy miskien ’n wesie, maar vir my is sy kosbaar.
Die wit roos is al erfenis wat ek vir haar het. Dit het vir my geluk gebring; dit was nog altyd vir my die simbool van geluk. Dit het my moed gegee in swaar tye omdat die gewer daarvan dit so bedoel het … maar hy het nooit teruggekeer nie. Sorg asseblief vir Rosalie … dan sal ek in vrede kan gaan.
Die Moeder
Markus kyk fronsend op na Hanna wat die baba intussen weer gerieflik gemaak het.
Klein Rosalie drink met klein gorrelgeluidjies aan die melk, tevrede en gerusgestel.
“Wat sou dit alles beteken?” vra hy met ’n growwe stem.
Hanna tel die vars wit roosknop van die tafeltjie af op en beskou dit ingedagte.
“Ek sou nie kon sê nie. ’n Wit roosknop … dis verspotte sentiment. Dié vrou is ’n onverbeterlike romantikus. Ek dink nie jy behoort jou daaraan te steur nie, Markus. Daardie briefie is op ’n baie slinkse manier geskryf om op jou gevoel te speel.” Sy gooi die blom terug op die tafeltjie. “Die kind se erfenis! Verbeel jou!”
Iewers in die huis huil ’n kind, en Hanna haas haar na haar eie kinders toe.
Markus bly alleen in die ruim vertrek agter met die vreemde, slapende kind en die roosknop. Huiwerig tel hy die blom op. Hy kan dit nie minag soos Hanna dit gedoen het nie. Sophia was ook sentimenteel: sy het ook van blomme gehou.
Hy kyk af na Rosalie wat rustig slaap. Hy gaan vir hierdie hulpelose kind sorg. Vandag of môre nog gaan hy begin reël dat hy haar wettig aanneem. Hy sal vir haar ’n huis gee, haar grootmaak soos sy eie kind. Dit maak nie aan hom saak of hy óóit die geheim van haar herkoms ontrafel nie. Hy wil dit nie erken nie, maar die moeder se brief het hom ontroer. Hanna moet die roos bewaar en eendag, as Rosalie ’n groot meisie is, sal hy haar daarvan vertel.
Die De Konings van die buurplaas, Rusoord, trek vroeg in Desember in hulle nuutgeboude huis in. Hulle is nou welgesteld en vooruitstrewend.
Gedurende die volgende jaar sterf mevrou De Koning aan ’n onbekende siekte en laat haar man, Julius, en hulle seun, Renier, agter. Julius de Koning onttrek hom in sy smart aan die plaaswerk, en die jonge Renier moet oorneem.
Markus hou die verwikkelinge belangstellend dop. Renier is ’n seun na sy hart. Op vyftienjarige leeftyd is hy ’n kranige ruiter en ’n seun van onbesproke karakter. Hy is lenig gebou met swart hare en donkergroen oë. Dis ’n genot om hom op ’n perd te sien sit; dis ’n vreugde om te sien met watter ontsag die werkers hom behandel.
Ook Hanna is bewus van Renier, maar dit gaan meer om die erfporsie wat hy verteenwoordig. So af en toe het sy al vir Markus gesê dat Renier net die soort man sal wees wat sy vir haar dogter wil hê.
Clara is op sesjarige leeftyd ’n mooi kind met blonde krulhare en bruin oë. Sy is egter ietwat aan die mollige kant van al die soetigheid waarmee sy volgeprop word. Klein Rosalie het ontwikkel in ’n popagtige meisietjie met donker hare en blou oë. Sy is ’n vrolike, lewenslustige kind wat baie vroeg reeds leer hoe om op ’n perd te bly.
Dis net Samuel wat sorg wek. Hy is ’n onuithoudbare stout kind wat presies weet hoe om met die grootmense te werk om ’n pak slae vry te spring. Gewoonlik kom hy dus weg met al die onheilighede wat hy bedink, en dis net Markus wat hom oor die kind bekommer. Hy durf egter nie inmeng nie omdat Hanna dit nie kan verdra nie. Ter wille van die vrede bly hy dus stil, maar kners op sy tande wanneer Samuel sy ouers om sy fraai klein pinkie draai.
Na die einde van 1866 kan Markus Leyds terugsit en op vyf-en-vyftigjarige leeftyd die lewe begin geniet. Daar is niks wat hom werklik meer kwel nie en wanneer hy aan Derek dink, is hy alleen en sien niemand die hartseer op sy andersins streng gelaat nie. Hy het homself al daarmee vereenselwig dat hy nooit weer iets van sy verlore seun sal hoor nie …