Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 10
Robert
ОглавлениеHy vlieg verward op en sukkel om die omgewing om hom te eien. Iets in die lug werk nie lekker met hom nie, sy neus is toe en sy keel voel krapperig. Sy klere lê op ’n hopie op die vloer, en die meeste van die beddegoed is op die stoel langs die bed gebondel. So nie sy styl nie. Wat het laas nag hier gebeur?
Vaagweg begin die reuk van soet parfuum wat aan die kussing kleef hom herinner aan die vorige nag. Wat het in hom gevaar dat hy ná sy besluit om op te hou met sy gevaarlike leefstyl, weer ’n vrou na sy kamer gebring het? Hy onthou nie veel van die vrou nie, en bitter weinig van die aksie wat duidelik in hierdie kamer plaasgevind het.
Hy vee oor sy oë en snuif. Dit moet die verdomde sinus wees wat hom so onder die weer het. Dis glad nie snaaks dat hy niks onthou nie. Hoekom het hy hom gisteraand met drank laat verlei?
Dit het sy woorde so maklik laat vloei, die klein slukkies van die onsmaaklike suur wyn. Hoe mense dit geniet, verstaan hy nie. Maar hy was broos, en oorkant hom was iemand wat na hom wou luister.