Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 5

Dianè

Оглавление

“Lara, wil jy nie net ’n bietjie sagter sing nie?” Dianè probeer glimlag om die byt uit haar stem te hou. Die salon en Lara se borrelende geaardheid was nog altyd haar veilige plek, maar sy sukkel vanoggend.

Sy het die laaste twee aande ekstra sleg geslaap met Robert wat sonder ’n woord die pad gevat het, en haar lyf voel of ’n trein haar getrap het. Om alles te kroon was beide die seuns baie moeilik. Berto kerm omdat hulle pa hom nie gegroet het nie, en Johan is sy gewone self. Net Johan is blykbaar Saterdagaand al ingelig dat sy pa dringend moet weggaan.

Sy sweer die seuns het op hierdie Maandagoggend vir goud gegaan met hulle gestoei en geskreeu.

Lara hou op sing en kyk Dianè skewekop aan. Sy is so lief vir musiek, dink Dianè by haarself, maar glad nie lekker nootvas nie. Lara is haar regterhand in die salon, al doen sy afbreuk aan Juanita du Plessis se gospelliedjies.

“Is die woorde nie vir jou mooi nie? O, dis so mooi. Ek voel weer vanmôre so gesalf.” Dianè kners op haar tande. Gesalf. Een van Lara se gunstelingwoorde.

“Dit is mooi.” Net nie vandag nie, wil sy byvoeg, maar vlug liewer by die salon uit na buite.

Hulle volgende kliënt kom eers oor so vyftien minute. Sy moet dink, besluit wat sy gaan doen.

“Ek lê jou … ek lê jou by Jesus se voete neeeeerrrr,” tref die woorde haar hier buite op die sypaadjie. Dis sweerlik waar sy nou sou wou wees. Figuurlik. By Jesus se voete, maar ai. Sy byt op haar tande en sluk die trane terug.

Soms speel Lara gospelmusiek in die salon en neurie sag saam, en van die kliënte vind dit aangenaam. Maar as hier vandag ’n kliënt inkom wie se siel so seer is soos hare, dink Dianè, gaan hulle almal op ’n streep begin huil.

Om haar kop besig te hou, gaan Dianè in en slaan die afspraakboek oop. Dit lyk maar beroerd: een gereelde kliënt vanoggend en ’n onbekende naam vir vanmiddag. Sy sug. Ook hier sal sy ’n ingrypende verandering moet aanbring.

Die kompetisie in die dorp raak al hoe strawwer, veral met salonne wat ’n eenstopdiens aanbied waar mense hulle naels en vel ook kan laat behandel.

Lara glo haar liedjies is profeties. Soms sing sy liedjies wat sy self aanmekaargeflans het. Boodskappe waarin die Here tot haar spreek. As sy wat Dianè is, eerlik wil wees, moet sy erken dis soms spot on.

Robert het Saterdagaand gedreig hy sal sy kinders vat en haar los om alleen op te snork toe sy greep byna alle lewe uit haar gewurg het. Sy sidder as sy dink wat sou gebeur het as Johan nie op hulle afgekom het nie.

Hy sal nie ’n dag alleen regkom met Johan nie, laat staan nog die twee saam. ’n Mens sou dink Robert sou meer begrip hê omdat hulle albei so swaar kry met hierdie vreemde oudste seun van hulle, maar hy voel sy vrou skeep hom af: in die bed en in die kombuis. Dis haar groot sonde. As hy maar net weet hoe moeg sy is, sou hy nie sulke onredelike eise aan haar stel nie.

Haar mooi man met sy mooi lyf langs wie sy heelnag snaarstyf van spanning gelê het, moet dalk net uit hul lewe verdwyn. So kwaad soos hy Saterdagaand was, het sy nie verwag hy sou terugkom nie. Maar nou is hy al ’n hele twee dae vort, sonder om eens te groet. Soos ’n lafaard het hy op die vlug geslaan toe sy die eerste keer in maande met die seuns kerk toe was.

Haar seuns is nog klein, hulle is nog maklik beïnvloedbaar. Is Johan dalk besig om Robert se voorbeeld te volg met sy tantrums? Tussen haar oudste seun en haar man smag sy na kalmte, maar deesdae gebeur dit bitter selde dat sy ’n normale dag saam met haar gesin kan deurbring sonder dat een van dié twee iets probeer breek om sy sin te kry. Dis net haar Berto-kind, haar babakind met sy sagte glimlag, wat tevrede is met die lewe. Asof hy weet hy kan nie ook nog veeleisend wees nie.

Sy woel aan die serpie om haar nek. Bid innig dat dit en die dik onderlaag haar sonder vrae deur hierdie warm dag sal dra. Met gister se koeler weer kon sy wegkom met ’n rolkraag-langmoubloes.

Toe sy vanoggend by die salon instap, het alles haar heeltemal oorweldig. Sy het weer so magteloos gevoel. Sy wou weghardloop.

Hoe gaan sy oorleef met net haar wisselende inkomste as Robert haar regtig los?

Sy het Robert gisteroggend in die kerk so voor Jesus se voete neergelê soos Lara nou sing; geglo as sy ophou baklei, ophou om hom te probeer verander, sal die Here intree en hom red. Sy glo hy sal tot sy sinne kom, die leisels oorneem en sy plek as hoof van die huis inneem. Die kinders van die kerk en geloof leer. Hy kom tog uit ’n gelowige agtergrond.

Is dit hoe dit voel as jou man jou gelos het? So leeg? Het hy nou besluit om pad te gee en haar aan haar eie genade oor te laat? Robert, wat alles beheer, wat alles volgens die boek doen, kan homself nie beheer nie?

Nou is dit net sy en die seuns.

“Dianè?” Sy kyk gesteurd op toe Lara praat: “Mevrou Nieuwoudt vir jou op die lyn.” Sy het nie eens die foon hoor lui nie.

“Sal jy asseblief hoor wat sy wil hê.” Dianè wil nie nou met haar buurvrou praat nie.

“Sy wil nie ’n afspraak maak nie. Sy soek jou.”

Dianè sug en en vat die foon by Lara.

“Dianè McClean?”

“Haai, hartjie. Ek wonder sommer hoe dit met jou gaan. Ek het heelnaweek so baie aan jou gedink. Onthou tog, as jy hulp met daai bulle nodig het, kan jy hulle enige tyd by my kom los.”

“Dankie, Mevrou, maar dis nie nodig nie.” So goedig soos sy klink, so aanstellerig is hierdie buurvrou van haar. Dring daarop aan dat sy net as Mevrou aangespreek word.

“Ek het julle glad nie buite gesien die naweek nie, is almal oukei? Seuns van joune se ouderdom kan nie so binnenshuis gehou word nie. Ek sien jy het hulle darem Sondag kerk toe gevat, maar die stilsittery kan ook maar vir sulke kinders frustrerend wees. Daai twee gaan vir jou ore aansit as hulle nie van al hulle energie ontslae raak nie. Veral die oudste een wat ek so baie hoor skree; ek sal hom vir jou onder hande neem as jy wil. Ek het jare se ervaring in laerskoolonderwys, veral met kinders wat spesiale aandag nodig het. Jy moet net praat, ek sal hom vir jou vasvat as jy hulp soek.”

Dianè haal stadig asem en tel tot tien in haar kop. Hoeveel van Robert se harde woorde het mevrou Nieuwoudt Saterdagaand gehoor?

“Ek is oukei, regtig, Mevrou. Ek waardeer die oproep, maar moet nou gaan. My volgende afspraak wag vir my.” Dianè voel hoe haar polsslag toeneem en kners op haar tande toe die dowwe pyn langs haar slape begin klop. Enkele woorde wat die nuuskierige ou vrou genoem het, steek by haar vas. Hoeveel keer moes sy dit nie al aanhoor nie? “Sulke kinders” en “spesiale aandag …”

“Is julle dan baie besig vandag?” Die vrou gee net nie bes nie. “Het mense nog sowaar geld vir sulke onnodige goed wat hulle vir hulleself kan doen?”

“Ja, Mevrou, vroue het dit broodnodig om hulleself soms te bederf. Ek moet nou gaan, ek … kom ons gesels rustig wanneer ek tuis is.” Sy byt dadelik haar onderlip, die Vader weet sy is moeg vir baklei. Vir konflik.

Haar gesig is vuurwarm. Sy het haar dosis gehad van mense wat dink hulle weet hoe sy haar kinders moet opvoed. Dis een van die redes hoekom sy meestal die kerk vermy, Robert se pa inkluis. Almal is skielik kundiges wanneer dit by Johan kom. Dis net sy wat onnosel bly, wat nie weet hoe om haar eie kind te hanteer nie. Sy en die dokter wat haar gedurig probeer oortuig Johan is spesiaal.

Sy moet vlug. Sy storm agtertoe waar hulle ’n klein kombuis ingerig het. Ketel, yskas en mikrogolfoond. In die yskas kry sy net melk, jogurt en Lara se pak toebroodjies. Sy gryp eers Lara se broodjies, bedink haarself. Haal diep asem en sit dit terug op die rak. Sy is nie nou honger nie. Sy hoef nie te eet nie. Sy hoor die deur na die salon oopgaan en weer toeklap. Haal diep asem, tower haar mooiste glimlag op en gaan terug na die sjampoe-afdeling van die salon.

“Môre, tannie Wiese, Tannie is net betyds,” groet Lara se vrolike stem. “Kom sommer dadelik wasbak toe. Kleur ons vandag?” Tannie Wiese is Diane se gunstelingkliënt, die naaste wat sy het aan ’n vriendin.

“Nee wat, net sny en blaas. Hallo, Dianè,” groet tannie Wiese met ’n hartlike glimlag. “Jou hare lyk mooi, die kort, ligte styl pas jou elegante gesig perfek.”

Dianè glimlag en knik dankbaar. Hoe goed doen die kompliment nie haar gemoed nie!

“Maak jy vir ons ’n lekker espresso, asseblief, Lara. Ek sal tannie Wiese vandag sjampoe.” Sy sien hoe Lara haar verbaas aankyk. Dianè haat dit om te sjampoe, dit herinner haar te veel aan haar sukkeljare toe sy haarself nog moes bewys en gedink het haar droom om haar eie salon te besit sal nooit waar word nie. Sy het Lara geleer om net so goed te sjampoe, met ’n kopmassering en al. En soms, as die kliënt moet wag vir ’n kleurbehandeling, voeg sy ’n voetmassering by.

“Goed. As jy so sê,” stem Lara nietemin in.

“Dankie.” Dis beter om nou besig te bly. Anders storm sy dalk uit en gaan kry vir haar ’n Coke, slaptjips en sjokolade by die kafee oorkant die pad. En dit sal die laaste strooi wees.

“Luister Dianè-lief, my seunskind is in die dorp vir besigheid. Klink of hy vir ’n paar maande hier gaan bly.”

“O, ek het nog nie Tannie se seun ontmoet nie,” reageer Dianè afgetrokke terwyl sy die tannie se kop sagkens masseer. Dit laat sommer die spanning uit haar eie lyf vloei. Vandag kan sy nie soos ’n klompie jare gelede haar hart teenoor tannie Wiese uitstort nie. Sy is nie meer ’n jong, naïewe meisiekind nie; sy het intussen grootgeword.

“Ja. Mooi seun van my, maar hy voer mos ’n anderster bestaan, so ’n afgesonderde lewe, kompleet soos een wat wegvlug vir die gejaagdheid van die lewe. Ai, man.”

Dianè glimlag. Tannie Wiese sal nooit te koop loop met al haar geld nie. Al kan sy eintlik uit die duurste boetieks aantrek as sy wil, verkies sy die eenvoud van haar eenvoudige grys bob en beskeie broekpakkies.

“Hy dra sy hare in ’n vreeslike boskasie. Sien omtrent nooit die binnekant van ’n salon nie. Ek het vir hom gesê ek sal hoor of jy kans sien vir hom. Om sy hare bietjie by te kom, jy weet?”

Dianè knik. Sy is tannie Wiese soveel verskuldig, sy sien selfs vir haar verslonste seun kans, as dit moet.

“Ek sny soms mans se hare, Tannie. Die meeste van hulle verkies mos maar ’n manshaarkapper, maar hy is welkom om by my ’n afspraak te maak.”

“Dankie tog dat jy kans sien! Kom ons kyk in daai boek van jou voordat ek loop en maak sommer die datum en tyd vas. Anders kry ek hom nooit hier nie. Hy hoef mos nie so te lyk nie. En dit oor ’n meisiemens. Weet jy, darem.”

Sy knik. Ja nee, sy weet.

“Ek wou lankal al ’n ouma gewees het; my ou man het ook so uitgesien na kleingoed, maar ai, die Grant van my wil net nie dinge op die normale manier doen nie. Hy sal so goed wees met kleintjies, en die vroutjie wat hom nou so rondfoeter, sal self nie ’n slegte ma wees nie. Maar ai, ek weet tog nie.”

Dianè glimlag ingedagte. Dis die eerste keer dat sy tannie Wiese so oor haar seun hoor praat. Die tannie is al diep in die sestigs, maar haar lewe wentel om haar sakebelange. Sy besit meer eiendom as enigiemand wat Dianè ken.

“Ai, Tannie, ’n ma kan net bid. Dis maar ’n storie om die regte een te kry.”

“Praat jy! Dis nie of daar ’n tekort aan aanbod is nie. Maar ek dink soms die seunskind van my het ’n dwarsklap weg, hy raak op die verkeerdes verlief. Ek hoor die vrou van hom is nou weer op pad … haar familie is haar alles en het haar mos nodiger as haar man.”

Sy praat skielik ’n bietjie sagter. “Ek dink dis sy wat hom in so ’n hippie-bestaan laat beland het – loop kaalvoet en skilder en speel kitaar, en so. Kop-in-die-wolke soort mens, sing baie mooi. Of sy dié keer vir goed weg is, weet ek nie. Grant praat mos nie met my oor haar nie; ek moet mos by ander mense hoor. Maar ek is bekommerd. Kyk nou hoe het my Grant homself laat gaan. Lang, slordige hare en ongeskeerde baard en alles …”

Dianè loer na waar Lara by die kombuisafskorting uitkom met die skinkbord waarop drie espressobekers netjies gerangskik is. Lara sal dalk oor hierdie seun van tannie Wiese opgewonde kan raak.

“En Grant? Sing hy ook?” vra sy en knipoog vir Lara oor die tannie se kop.

“Soos ’n engel, my kind. Hy kan ook elke denkbare instrument onder die son bespeel. So talentvol.”

Lara maak nog steeds asof sy niks hoor nie, al Dianè se oogknippery ten spyt. Sy plaas die skinkbord op die tafeltjie voor die kliënte en wag dat hulle hulself help.

“Hm, dankie Lara. Hoor jy? Tannie Wiese se seun kom sy hare by ons sny. En hy kan goed sing, iets wat julle twee in gemeen het.”

Dianè glimlag toe sy die uitdrukking op Lara se gesig sien. Sy wonder wanneer laas het sy behoorlik gelag. Tannie Wiese en Lara is net wat sy vandag nodig het.

“Ek hoor, maar ek stel nie in ’n ander man belang nie, dankie.”

“Hm.” Dianè fokus weer op haar kliënt. Sy verstaan presies hoekom Lara so reageer. Die heel veiligste, flits dit deur haar kop.

Reënboogmelodie

Подняться наверх