Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 7
Dianè
ОглавлениеSy sluit die traliehek agter haar en gooi haar handsak op die stoel neer. Om te dink hulle sou net nog ’n paar maande hier bly en dan hulle eie huis koop. Sy het al haar droomhuis in haar verbeelding gesien, begin rondkyk en met eiendomsagente gepraat. Dit was net ’n kwessie van tyd, het Robert belowe, maar hy wil darem eers net ’n ordentlike deposito bymekaarmaak.
Sy het stelselmatig die laaste paar jaar die rol van ’n suksesvolle vrou begin aanneem, heel dikwels haar haarstyl verander en selfs vir ’n nuwe kar begin spaar. Een wat sy met haar eie geld wil koop sodra hulle weet watter effek die huiskoop op hul finansies gaan hê. Vir nou moet haar ou Jetta maar eers die ding doen, al brand sy om ’n nuwe kar te kry wat by haar nuwe voorkoms pas. Sy maak soveel opofferings; daarom het sy nie gedink die oorbelle sou hom so omkrap nie.
Robert het ’n goeie inkomste, daarvan is sy seker, hoewel sy nooit sien wat presies hy met sy geld maak nie. Sy verwag ook nie meer van hom as die kinders se skoolgeld en die dak oor hulle kop nie. Vir al wat sy weet, wil hy haar droomhuis vir haar kontant koop. Hy plaas in ieder geval soveel druk op homself; dalk is dit die rede vir sy humeurigheid die laaste ruk. Sy sug. As sy eerlik moet wees, was sy humeur al van die begin af maar redelik onvoorspelbaar.
Sy kyk vinnig na haar horlosie. Sy’t ’n halfuur om kos op die stoof te kry; die nasorgbussie kom nou-nou die kinders aflaai. Die verdomde serp wat die vingermerke om haar nek moes verbloem, gooi sy oor ’n stoel en pluk die yskas oop.
Die inhoud is nog dieselfde as die naweek. Sy verstaan nie presies waaroor Robert Saterdag so buite homself kwaad geword het nie. Was dit oor sy vir Johan ’n hamburger met sesamsade daarop gegee het, of was dit net omdat sy nie vir hom rooivleis voorberei het nie? Die sesamsade kan noodlottige gevolge hê, dit weet sy goed. Maar dis nie eens waaroor hy woedend was nie. Dit was eers toe sy vir hom die salmslaai gee dat hy skoor gesoek het. Of was dit omdat sy sy attensies voor ete probeer systap het? Hy was taamlik vatterig toe hy by die huis kom, maar ná Johan se uitbarsting en haar oorvol dag, kon sy net nie op daai oomblik saamspeel nie. Die kinders was voor die TV, wat het hy gedink? Moes sy haar “plig” daar en dan doen?
Sy sug. As sy nou mooi dink, besef sy dis seker maar alles wat hy oor ’n tyd opkrop wat dan skielik tot ’n uitbarsting lei. Hy kon soos enige regdenkende mens net vir haar gevra het om in die vervolg vir hom rooivleis voor te berei. Proteïene, het hy gesê. Eerder as om haar daaroor rond te klap? Wat was sy woorde nou weer?
Kan jy nie net jou plek behoorlik volstaan nie, vroumens?
So ’n omvattende verwyt voor hy haar aan die keel beetgekry het. Hoe laat, en of Robert hoegenaamd vandag huis toe gaan kom, weet sy nie. As hy steeds buierig is, kan dit eers lank na nege wees. Robert hou van roetine; hy sal oor ’n halfuur sy kantoordeur sluit en dan eers gym toe gaan. Sy sien hom gewoonlik weeksaande na sewe. As hy in ’n goeie bui is. As hy beduiweld is, weet sy tog nie.
Sy skrik toe iemand agter haar keel skoonmaak.
“Meisiekind?” Die tannie se hand waai deur die traliehek om haar aandag te trek. “Hoe is jy so ingedagte dat jy my nie eens hier by jou deur sien nie? Ek dag nou rêrig ek moet klop.”
“Mevrou Nieuwoudt,” sug sy. Wat soek die nuuskierige ou vrou tog?
“Kyk, ek het gedink ek kom solank terwyl die kleintjies nog by die skooltjie is. Is als oukei hier by julle?”
“Hoekom dink Mevrou dit is nie?” vra Dianè. Sy wens sy kon haar eerder net as Tannie aanspreek. In baie opsigte laat mevrou Nieuwoudt haar aan haar ma dink. Hierdie vrou se enigste waardigheid is opgesluit in haar aanspreekvorm.
“Weet jy, vanweë my destydse beroep weet ek baie van mense af. En ek het nou wel afgetree, maar moenie ’n fout maak nie, ek ken van mense. En … ek sweer ek het jou en Robert Saterdagaand hoor rusie maak. Wat gaan aan, my kind?”
Sonder dat sy haarself kan keer, sluit Dianè die sekuriteitshek oop. Sy kan dit maar teenoor haarself erken. Dit vreet haar op om niemand te hê om mee te praat nie. Maak nie saak wat die verhouding tussen haar en haar ma is nie, sy mis ’n ma in haar lewe.
“Ek wens ek het geweet,” sug sy toe mevrou Nieuwoudt verby haar binnetoe tree. Dalk moes sy moeite gedoen het om uit te vind presies watse soort kos sy vir Robert moes maak. Hy gym deesdae soos ’n besetene en het seker meer voedingstowwe as normaalweg nodig.
“Ek wil nie inmeng nie, maar die harde woorde tussen julle is partykeer moeilik om te ignoreer. So iets soos ’n kind wat knaend neul, is maar stremmend op ’n mens, my kind. Jou man het meer ondersteuning nodig, en dis goed as hy ’n bietjie wegkom.”
Sy snak na haar asem. Waarop sinspeel die vrou? Robert het nie laat blyk dat die rusie erg genoeg was om die pad te vat nie. Sy het ook nog nie gesien dat Robert al sy goed gepak het nie.
“Dalk sal dit nie so ’n slegte idee wees as hy maar eers wegbly nie, Tannie … Mevrou. Ons baklei deesdae oor die geringste goed. Dit het alles vererger toe hy so kwaai begin gym het.”
Die lig in die vrou se oë tref haar onkant. Eers toe mevrou Nieuwoudt haar hand lig en Dianè se ken tussen haar duim en voorvinger vasvat, besef sy haar flater.
“Slaan hy aan jou?”
Dianè retireer vinnig. Maar dis te laat, sy weet die nuuskierige vrou het dit gesien en klaar haar eie afleidings gemaak.
“Ek kry maklik blou kolle, hy het my net rondge-…” Haar woorde stol in haar keel toe die woonstelklokkie by die groot sekuriteitshek aandui sy’t besoekers. Dis te vroeg vir die kinders.
“Gaan jy nie oopmaak nie?”
“Ek verwag nie nou gaste nie. Dalk het hulle die verkeerde woonstel se klokkie gedruk.” Sy sluk droog.
“Sit die serp terug om jou nek en maak oop,” beveel die ouer vrou.
Meganies gehoorsaam Dianè en druk die knoppie op die afstandbeheer nadat sy die serp om haar nek en skouers drapeer het. Op ’n vreemde manier troos die teenwoordigheid van haar jare lange nuuskierige buurvrou haar tog.
In die oprit na hulle deel van die woonstelblok kom ’n blonde vrou en ’n meisie met los ligbruin hare aangestap. Die kind se voete sleep en sy bly agter die ander vrou skuil. Seker ma en dogter, lei Dianè af. Iemand van haar kinders se skool dalk? Hoewel die kind ouer as haar kinders lyk.
“Middag. Vir wie soek julle?” Dis mevrou Nieuwoudt wat vorentoe staan en die twee buite die deur inwag. Dianè kom agter haar staan, soos Johan altyd maak.
“Is jy Robert McClean se ma? Is hy hier?”
“Nee, maar sy vrou is hier. Dianè.” Mevrou Nieuwoudt tree terug sodat Dianè met die vrou kan praat. Mooi vrou, lank en skraal, met lang bottelblonde hare, te veel grimering en ’n kunsleer-langbroek met spykerhakke. Die soort vrou wat moeite doen met haar voorkoms, maar nie goeie smaak het om haar natuurlike skoonheid te komplementeer nie. Die hare kan doen met ’n ordentlike salonbehandeling, flits dit deur Dianè se gedagtes.
Maar dis die meisie wat haar aandag trek. Die ogies wat onseker rondflits, die skugter houding, die afwagting, byna gespanne. En die verslonste voorkoms, hare totaal onversorg, met puisietjies op die ken.
“Ek was by sy werk en moes sukkel om die adres in die hande te kry. As ek nie ’n scene gemaak het nie … Waar is Robert?” vra die vrou uitdagend.
“Is my pa se naam Robert?” vra die kind vir die vrou by haar. En dan vir Dianè: “Tannie, is jy my pa se vrou? Is dit waar my pa bly?”
Dianè sluk droog, deeglik bewus van mevrou Nieuwoudt wat hier neffens haar die petalje staan en dophou.
“Ek … uhm … Hoekom soek julle na hom?” Sy kies doelbewus om die kind se vraag te ignoreer. Die hamerslae van haar hart wat oorverdowend teen haar ribbes begin klop, kan sy egter ignoreer nie.
“Robert ignoreer my en sy dogter soos ’n stopteken. Hy maak of die kind nie bestaan nie. Ek het net gedink ek bring ’n slag sy kind vir hom.” Die vrou tree vorentoe asof sy haarself wil innooi, maar mevrou Nieuwoudt kom terselfdertyd soos ’n skild tussen haar en Dianè staan.
“Luister, dame, as daar enige waarheid in jou aantygings steek, sal jy die regte prosedure moet volg en die saak met Robert opneem. Nie so uit die bloute met sulke snert by sy vrou opdaag nie.”
Dianè sukkel om haar ewewig te behou. Haar wêreld soos sy dit ken, word deur ’n aardbewing geskud. Robert se naam en die woorde wat by hierdie vrou se mond uitkom, pas nie by mekaar nie.
“As die man nie wil pa staan nie, dan moet die vrou maar …”
Robert se wurggreep om haar nek was ’n vulletjie teen die benoudheid wat sy nou ervaar.
Sy maak haar mond oop in ’n dapper poging om vir die vrou te sê sy praat nonsens, sy moet skoert, maar toe die sekuriteitshek weer oopgaan en die wit Quantum-bussie vol kinders by die oprit inry, is sy haastig om van beide vroue ontslae te raak.
“Los jou nommer hier,” hoor Dianè haarself in ’n hees stem sê. “Ek sal Robert vra om jou te bel. Maar dan moet jy nou gaan, asseblief.” Haar hande bewe onbeheersd toe sy ’n pen en ou kontantstrokie uit haar handsak haal, waarop die vrou haar naam en nommer neerskryf.
Vir ’n vlietende oomblik ontmoet haar oë en die blonde vrou s’n mekaar.
“Ek is ook net ’n ma,” sê die vrou in ’n sagter stemtoon. “My dogter soek ook net haar pa se liefde.”
“Ek weet.”
Dianè sug dankbaar toe mevrou Nieuwoudt die vrou en haar dogter by die woonstelkompleks uitboender. Alles in haar bewe, besef sy. Haar seuns klim uit die lawaaierige bussie. Berto, met sy prent wat hy na haar uithou; Johan duidelik in ’n slegte bui.
Help my, hemelse Vader, pleit sy.