Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 6
Robert
ОглавлениеDis tyd om sy lewe uit te sorteer, dink Robert toe hy die deur van Jacques se woonstel agter hom sluit. Hy sou net een aand in Klerksdorp oorgeslaap en gister al Kaap toe vertrek het, maar nou kan hy die prokureur eers Donderdag sien. Die twee ledige dae het hy gebruik om op te vang met leeswerk; sy neef het ’n uitgebreide versameling boeke in sy boekrak, onder andere John Maxwell, Joel Osteen, Caroline Leaf, Eckhart Tolle …
Eers wou hy sommer net vlugtig deur die boeke blaai, maar dit het hom gou tot diepe selfondersoek gedwing. Na hierdie twee dae glo hy hy kan die allesverterende drange wat hom so bedwelm, die hoof bied.
Hy skud sy kop. Dit het ook sy gedagtes laat dwaal na die verlede, na waar alles begin het. Hy verlang deesdae so innig na sy ma.
Natuurlike oorsake. Dis wat op sy ma se doodsertifikaat staan. ’n Onvoorsiene komplikasie wat ingetree het na haar histerektomie, die ginekoloog se brouwerk netjies toegesmeer met ingewikkelde mediese jargon.
Sy ma was op die kruin van haar lewe, en menopouse net ’n lastigheid, het sy hom laggend vertel die oggend voordat sy teater toe sou gaan. Na die operasie sou sy weer soos ’n splinternuwe V8-enjin deur die lewe jaag, het sy gespot. Hy vee weer ’n lastige traan van sy wang af, sit die Fortuner oor in vierde rat en tel spoed op. Sy pa het nie lank gewag na sy ma se begrafnis voordat hy met die jong Kim kansel toe is nie. Kim kon sy sussie gewees het; sy is maar so drie jaar ouer as hy.
Robert frons toe hy aan sy pa dink. Aan hoe hy nie eens sy troue met Kim probeer regverdig het nie. Sy vroom predikantpa het toe self al oor die draad geloer, en ’n predikant kan mos nie sonder ’n pastoriemoeder wees nie. Ga!
God haat egskeiding, het sy pa dit by hom ingedril toe hy oor Dianè en hul troue begin praat het.
Na sy ma se dood het die gaping tussen hom en sy pa al hoe groter geword; hy het bitter weinig pastorie toe gegaan en was glad nie eens by die troue nie. Maar toe hy Dianè ontmoet, wou hy alles regmaak, sy hele lewe. Hy het gedink sy sal dalk die breuk tussen hom en sy pa kan herstel.
Hy kon dadelik sien sy pa het nie juis ooghare vir Dianè nie, en hy was heeltemal gekant teen sy oorhaastige trouplanne. Sy pa hou van gedienstige vroue, maar Dianè was die spreekwoordelike dinamiet in ’n klein pakkie.
Dalk het dit hom juis aangevuur om so vinnig met haar te trou. Dianè het hom en die idee van ’n goeie vrou wat sy pa by hom ingeprent het, uitgedaag. En dan was daar die feit dat hy sy eie potjie wou krap. Dit was sy kans om alles te herstel wat stukkend was in sy lewe. Hy en Dianè teen die wêreld.
Hoe graag het sy pa nie oor die huwelik gepreek in die paar weke voor sy troue met Dianè nie! Maar hier sit hy nou en planne maak om van sy vrou te skei. Robert McClean gaan van sy vrou skei, daar’s nie ’n ander uitweg nie. Dit sal die liewe Vader daar bo sekerlik verstaan. Sy geheime lewe is besig om sy tol te eis. Sy vrou en seuns is beter af sonder die bedreiging wat hy en sy onderduimse bedrywighede vir hulle inhou.
God haat egskeiding. Hy wonder soms of sy ma nie dikwels met God hieroor baklei het nie. Sou sy ma van sy pa geskei het as sy ’n ander heenkome gehad het? Of was dit haar uitkoms toe sy kort na haar operasie sterf? Hy het nooit sy pa sy hand sien lig vir sy vrou nie, anders as hy, maar tog weet hy hoe sy pa haar kon verkleineer met sy woorde. Soms selfs aanhalings uit die Bybel gebruik om haar so klein soos ’n mier te laat voel.
Die dinge wat hy van sy pa haat, is die dinge wat hy aan Dianè doen. Sy is deesdae so mooi en sterk, en hy is diep in sy binneste selfs ’n bietjie trots op hoe mooi sy herstel het. Deesdae is sy oorheersende gevoel teenoor haar egter dié van jaloesie. Soms verlang hy na die dae toe sy nog haar hare langer gedra het en dit in ’n poniestert kon vasvang – die ongekompliseerdheid wat dit verteenwoordig het.
Saam met haar nuwe voorkoms het Dianè ontpop in die perfekte sakevrou. En hy? Sy geldsake, danksy sy eie toedoen, begin al hoe meer beroerd lyk.
Die afgelope week en ’n half het hy weer soos ’n besetene begin oefen, gehoop dit sal hom help om koers te hou. Noudat ’n sekere vrou daarbuite die lewe vir hom moeilik maak, weet hy hy sal moet verander. Hy het in dié tyd meer as een keer tot Dianè toenadering gesoek. Hy weet hoe Johan haar uitput, die Vader weet, hy verstaan.
Maar hy is ’n man. Hoe kon sy hom so verwerp? As sy maar net weet!
Hy sug toe hy Johan se gesiggie voor sy geestesoog sien. Johan, wat bitter weinig emosie toon, se gesig het ’n duisend beskuldigings na hom uitgestraal. Hy het Johan ’n kant van hom gewys wat hy vir homself wou wegsteek. Ai, Dianè, hoe het ons hier beland?
As hy heeltemal eerlik moet wees, het hy soms verwag dat sy ’n terugslag sou hê. Net een keer weer haar vinger in haar keel sal steek. Maar die kans daarvoor het al hoe skraler geraak nadat die tandarts haar tande splinternuut en wit gemaak het. Dianè word net al hoe mooier. So in beheer, blykbaar vir ewig van haar siekte genees.
Hy het aanvanklik nie besef dis ’n siekte nie. Hierdie bulimia nervosa, waarvan hy haar met eindelose geduld help genees het.
Toe hulle begin uitgaan, het hy hom altyd verwonder aan die mooi, skraal vrou wat kos net soveel soos hy kon waardeer. Sy het haar nie deur ’n steak laat onderkry nie. Sy kon ’n bier wegsluk en het haar nie aan die gevolge gesteur nie. Dit was vir hom vanselfsprekend dat sy direk na ete badkamer toe gaan; hy het nooit onraad gemerk nie.
Hy het gedink sy het ’n besonderse metabolisme, want anders as hy, het sy nooit die binnekant van ’n gym gesien nie. Nooit het hy geweet hy is besig om haar oor die afgrond te help nie. Hy kon bygedra het tot haar dood as hy nie betyds uitgevind het wat aangaan nie.
As sy eers aan hom behoort, sou hy die bierdrinkery stopsit, het hy die eerste keer gedink toe hy haar daaroor uitvra.
“Jy is so skraal, maar eet en drink soos ’n man.” Hy onthou hoe hy sy mooiste glimlag opgetower het.
“Pla dit jou?” Sy het onseker die bier op die tafel neergesit en toe na sy botteltjie Appletizer gekyk. Haar besonderse aptyt het hom al hoe meer begin opval.
“Glad nie. Ek vind ’n gesonde eetlus baie sexy. Boonop hou jy jou figuur so mooi, dis al wat saak maak.” Hy weet hy het deur sy tande gelieg. Die reuk van bier het na ete om haar gehang en hy het haar daardie eerste keer nie gesoen nie. Stelselmatig het hy haar laat afsien van die bier sonder om een keer sy humeur met haar te verloor.
Soms kan hy nie glo dat sy haar eetversteuring so goed weggesteek het totdat hy haar die eerste keer uitgevang het nie.
Eers was hy woedend. Hy kon nie glo dat sy vir jare met die geheim saamgeleef het nie. Hoe kon haar ma so dom wees en nie die gevaartekens raaksien nie? En hy? Hy is nie onnosel nie. Hy moes vroeër al die tekens gesien het. Gelukkig kon hy haar betyds help. Iets waarvoor sy hom ewig dankbaar behoort te wees. Maar nou …
“Ai, Dianè,” fluister hy toe hy terugdink aan daardie dag. “Ek was so kwaad oor die skade wat jy jouself aangedoen het. En kyk waar sit ons vandag, kyk wat het ék aangevang die afgelope paar jaar.”
Hy skud sy kop toe die skuldgevoelens aan hom begin knaag. As sy maar net kon verstaan dat hy die nuwe Dianè onweerstaanbaar vind, en dat hy altyd kry wat hy wil hê. Verdomp, hy het haar gehelp! Nagte waarin hy soms gefantaseer het, haar sterker en mooier voorgestel het in sy verbeelding, meer waaghalsig. Hy moes soveel geluk ontbeer tydens haar herstelproses. Sy skuld hom ’n bietjie plesier. Maar sy soeke daarna buite hulle huwelik het begin hand uitruk, die adrenalien wat daarmee saamgegaan het. Soms was die internet goed genoeg, maar die ware Jakob – elke keer meer intens, met meer seksmaats – dit is wat hom op ’n high gehou het die paar jaar van getroude lewe.
Op die passasiersitplek begin sy selfoon lui. Hy herken dadelik die nommer toe hy dit met sy linkerhand optel. Verminder eers spoed omdat hy die oproep wil neem, maar dan besluit hy daarteen en snel voort.
As hy ’n verandering wil maak, sal hy uit die versoeking moet bly. Hyself sal genesing moet kry. Hy gaan die ding wen, op sy eie, sonder dat Dianè ooit hoef uit te vind.
Hy verminder spoed en bring die Fortuner tot stilstand in die bossies langs die pad. Vryf deur sy hare en sug toe die stilte van die veld ’n roering in sy onderlyf veroorsaak. Die perfekte plek en tyd om nou …
Liewe Here in die hemel, wees my net genadig, bid hy toe hy weer die voertuig in beweging bring. Hier moet hy liewer wegkom. Hy moet alles vermy wat hom aan seks laat dink. Dis bykans onmoontlik, besef hy toe hy na ’n hoër rat oorskakel, want alles – vroue, plekke, sy selfoon, álles – is ’n trigger.
“Hierdie ding is besig om my op te vreet, om my baas te word, en ek is besig om myself vir die gek te hou. Dis nie van Dianè wat ek weghardloop nie. Dis van myself.”
Hy skrik toe sy selfoon weer lui. Jacques se naam verskyn op die skerm.
Hierdie oproep sal hy moet vat. Hy sal Jacques bedank vir sy woonstel en hom vertel van sy besluit; hy is klaar met die ou lewe. Hy het hierdie twee dae aan homself bewys hy kan sy drange beheer. Dis natuurlik makliker as ’n mens so in afsondering bly. Een dag op ’n slag sal hy die versoekings kan weerstaan.
“Neef?” Hy probeer doelbewus opgeruimd klink.
“Ou Robbie, het jy lekker in my plek gebly en die alleenwees darem ten volle benut?” Hy sug toe hy hoor waarop Jacques sinspeel.
“Is jy op pad terug Potch toe? Victor sê jy het nou uitgecheck en jy was heeltyd alleen, niks rondgeloop nie. Wat gaan aan met jou, of het jy hom net goed geflous? Ek het lekker aksie vir ons opgeline vir ná gym vanmiddag. Hoe laat is jy hier?” Jacques snorklag en klink skoon kortasem by die vooruitsig.
“Jacques, ek kan nie, ek het die pad gevat. Ek is op pad Kaap toe. Ek sal jou alles vertel sodra ek daar my sake gereël het. Ek kan nie meer so aangaan nie. Dianè …”
“Jou vrou sal nooit uitvind nie, wat vreet vandag aan jou? Ek belowe jou, jy gaan die tyd van jou lewe hê ná die droogte van die afgelope paar dae. Dis gewillige cherries hierdie wat ek vir ons gekry het, drie van hulle net vir ons twee. Ek het klaar met hulle reggemaak, as dit geld is wat jou pla. Hulle is nuut ook, jonk … moontlik studente, sê ek jou.”
“Ek kan nie meer nie.” Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om die Fortuner om te draai en terug te gaan Potch toe; die jong studente klink vir hom baie aanloklik. Hy kon nog nooit enige van die versoekings weerstaan wat Jacques stel nie. Die ander opsie is om die selfoon in Jacques se oor dood te druk.
“Ek het Dianè weer rondgestamp, dit gebeur al hoe meer. Ek het haar seergemaak en die ding ruk nou hand uit. Dit grens aan waansin, Jacques. Ek moet wegkom en ek moet hulp kry.” Jacques hoef nie nou al te weet van die simpel vrou wat hom deesdae probeer afpers nie. Sodra hy dit self uitsorteer het, sal hy sy neef daarvan vertel. Aan die ander kant is hy skaam …
“Jy lieg seker, jy maak nie sin nie. Watse gewetenswroegings het jy deesdae, en van wanneer af moet mans soos ons hulp soek? Dianè sal oukei wees, ek kan jou dit belowe. Sy kan haar sterre dank om ’n man soos jy te hê. Alle vroue word maar so nou en dan deur hulle mans opgepolish, dit hou hulle op hulle plek.” Jacques snorklag weer. Word dan skielik ernstig. “Gaan jy weghol, my ou? Dit begin nou eers lekker word, en solank jy nie jou gesin afskeep nie, is als mos oukei.”
“Ek … ek bestuur nou, Jacques, ek praat later weer met jou.” Hy druk die foon dood, smyt dit op die sitplek langs hom neer en klou met beide hande aan die stuurwiel vas.
Jy gaan dit nie so maklik regkry nie, koggel ’n stemmetjie in sy binneste. Jy’s nie sterk genoeg nie, jy’s nie ’n man se dinges nie …
Hy slaan hard met sy hand op die stuurwiel en trek dan eerder van die pad af. Die kar is nie Dianè nie, hy gaan homself verongeluk. Hoe de hel gaan hy van homself en sy drange ontsnap?
Toe hy die woede in hom voel bedaar, trek hy weer sy selfoon nader en kry sy nuuskierige buurvrou se nommer op die skerm. Sy antwoord byna dadelik.
“Mevrou Nieuwoudt, hoe gaan dit?” Hy glimlag vir homself in die truspieëltjie. Hierdie truuk help altyd om sy ewewig te herwin en vriendelik te klink, al voel hy nie so nie.
“Goed, hartjie. Is jy al weer uitstedig? Hoe kan ek help?”
“Ag, Mevrou. Ja, ek is weer vir ’n paar dae weg, ek moet aan belangrike besigheid aandag gee. Ek worry mos maar altyd oor my vrou as ek so weggaan. Veral met die seuns wat so moeilik is.”
“Ek kan jou glo. Jy is so ’n bedagsame pa. Ek was juis bekommerd omdat die ma hulle heelnaweek binne die woonstel gehou het.” Robert rol sy oë vir haar opmerking. As sy maar net weet dat dit Johan se eie keuse is, en arme Berto moet maar saam inkleur, of hy nou wil of nie. Sy oudste boetie beheer die hele huishouding. Maar hy durf nie nou die vrou teëgaan nie.
“Ja, dis sleg dat hulle net by die skool kan speel. ’n Woonstel is nie ideaal vir sulke woelige seuns nie, dis hoekom ek so hard werk. Ek wil bitter graag vir hulle ’n huis met ’n lekker ruim erf koop.”
Hy wil dit bitter graag doen, dié deel is die waarheid. En hy werk hard, dis ook glad nie ’n leuen nie. Om die geld wat hy verdien reg aan te wend, is egter ’n ander uitdaging, maar dit kan hy ook nie vir enigiemand sê nie. Dis eintlik net Jacques wat dit verstaan.
“Dis so dierbaar van jou. Ek sal julle so mis as julle moet trek. Maar waarmee kan ek help, hartjie?”
“Ek kry nie vir Dianè op haar selfoon nie. Ek sal dit waardeer as Mevrou later, wanneer hulle tuis is, gaan loer hoe dit met haar en die kinders gaan. As die seuns haar eers besig hou, vergeet sy om my te bel.”
“Ag, hartjie, ek doen dit met liefde. Jy weet mos hoe lief ek vir kinders is.”
“Ek weet. En ek waardeer dit opreg. Maar Mevrou …”
“Ja?”
“Moet maar nie vir Dianè sê ek het gevra nie. Sy is vreeslik trots en wil mos graag superma speel. Liewe vrou van my …”
“Ek sal nie ’n woord rep nie. Sorg jy net dat jy veilig ry.”