Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 4
Robert
Оглавление“Rus in vrede, Ma.” Hy streel oor die koue marmer van die grafsteen. Sy is nou al nege jaar by liewe Jesus. Hy glo met sy hele hart dat sy in die hemel is. Hy glo min ander dinge wat sy pa van die preekstoel af kwytraak, Sondag na Sondag. Maar hy glo in God en alles wat sy ma hom geleer het. Hy glo soms byna paniekerig aan sy ma se saligheid.
“Ek gaan vir ’n rukkie weg, ek moet. Soos ek nou aangaan, sal ek my eie vrou na haar graf dryf en sal ek nooit by Ma in die hemel kom nie. Ma is in die hemel, Ma ís. Dit glo ek met my hele hart.” Hy sluk die lastige trane weg.
“Ek dink ek het eers geleer om Ma in die eerste maande na Ma se dood te waardeer.” Hy vee die traan af wat oor sy wang loop. “Ek weet nie of ek Ma ooit in die lewe waardeer het nie. Dinge was maar moeilik, Ma weet mos.”
Hy snuif. “Ek moet nou ry. Dalk as ek weggaan, sal my mense my ook leer waardeer. Ek het niks vir Pa gesê nie, ek dink nie eens hy sal omgee dat ek weggaan nie. Dis Dianè wat moet leer wat ek vir haar werd is.” Hy dink ’n bietjie oor sy woorde. “Ai, Ma, hoekom is alles so verdomp moelik? Ek moet my kop gaan skoonkry. Wanneer sal ek leer om meer van ’n man te wees? Ek is my vrou nie meer werd nie, ek is nie … Ek wil verander, ek weet Ma sal verstaan hoe moeilik dinge nou is.”
Sy hartseer voel so intens soos die dag toe hy en sy pa saam met ’n paar familie- en gemeentelede hier langs die oop graf gestaan het. Hy snuif weer, haal sy sakdoek uit en vee oor sy gesig. Dan staan hy op en stap doelgerig na sy Fortuner. Dis tyd vir ’n nuwe fase in sy lewe. Dit het hy gisteraand aan Johan belowe.
Hy het vanoggend soos ’n hond gevoel toe hy by die huis weg is, lank voor Dianè wakker sou word. Hy het gehoor toe sy in die nag badkamer toe gegaan het. Vir ’n oomblik het hy vir die ergste gevrees: dat sy weer op haar ou weë sal terugval. En dié keer sal dit sy skuld wees.
“As Ma nog gelewe het, was dinge nou soveel anders. Ma sou my raad kon gee oor hoe om te maak met die lewe wat my so versmoor. Ma sou my help sonder om my te oordeel, ek weet Ma sou. En Ma sou geweet het wat om met Johan te maak.” Iets soos ’n snik ruk deur sy bors. Sy oudste seuntjie, met sy tenger lyfie en ernstige gesig, het hom uitdrukkingloos aangestaar toe hy gesê het dat hy vir ’n paar dae moet weggaan. Dringende werk, het hy gelieg. En gehoop Johan sal dit vir Dianè so oordra. Wat ’n lafaard het hy nie geword nie!
Hy kyk vir oulaas om na die grafstene met die netjiese rye lang bome voordat hy in die Fortuner klim. Dis nog halfdonker en hy kan homself nie sover kry om net die sleutel te draai en weg te ry nie.
“Ek moes na Ma geluister het, dan sou hierdie ding nooit begin het nie.” Hy val vooroor en rus met sy kop op die stuurwiel. “Ek was so jonk, hoe moes ek weet?” Dit was tydens sy nagklubdae dat sy ma sleg begin voel het. Sy was nie siek genoeg dat hy geweet het hy gaan haar verloor nie. Gekla van laerugpyn, en soms as sy dapper genoeg was, haar hormone die skuld gegee vir haar knieserigheid.
“Gewone vrouekwale, kind,” was sy pa se verduideliking wanneer hy die slag by die pastorie ingeloer en sy pa oor sy ma se gesondheid uitgevra het. Sy pa het nie veel empatie met sy ma gehad nie, so hoe moes hy geweet het dat hulle haar kort na haar operasie hier sou kom neerlê?
Dit was net sy ma wat geweet het hy werk oor naweke by ’n nagklub. Hy was die bouncer en die geld het baie handig te pas gekom om vir sy nagraadse studies te help betaal. Hy was toe al groot gebou, en met sy sterk spiere het hy min moeite gehad om onstuimige klante te beheer. Daar het hy gesien hoe drank mense kan vernietig en heeltemal buite beheer laat optree. Hy het gesweer hy laat die goed nooit oor sy lippe kom nie. Die smaak van bier was te bitter vir hom, en hy het nie van die benewelende effek van ander drank gehou nie. Beheer oor homself ten alle tye is sy behoud.
Die nagklub was meestal die uithangplek vir jongmense en soms selfs skoolgaande tieners. Die volwassenes wat hulle soos kinders gedra en ook daar uitgehang het, het hom gefassineer; grootmense wat by hulle huise moes gewees het, met blink klere op die dansvloer. Almal altyd gesuip, en as ’n mens hulle agterna tydens besigheidsure sien, is hulle ander mense. Nee wat, drank maak monsters van mense.
Voordat sy teater toe is vir haar histerektomie het sy ma hom gebel. Hoe innig wens hy nie hy kon nou haar stem hoor nie.
“Boeta, Ma dink nie daai plek is reg vir jou nie. Jy het darem seker nie geld so nodig dat jy jou siel moet verkoop nie? En sê nou een van daai dronkies rand jou aan?”
Sy pa sou hom summier afskryf as hy dit moes weet, en hoewel sy ma dit nie goedgekeur het nie, het sy hom nie veroordeel nie. Sy was meer oor sy veiligheid bekommerd.
“Ek staan by die ingang, Ma, en ek hou die ouens dop wat amok wil maak. Ek doen niks verkeerds nie. Ek drink nie en ek dans nie en ek is sterk. Dis nie sommer net vir aanrand nie,” het hy haar verseker.
Hy het gelag oor haar kommer, maar kon sy ma swaar hoor sug. Hy was pas klaar met sy nagraadse studies en wou sy eie potjie krap. Hy wou sy eie geld verdien, meer as genoeg daarvan, sodat hy nooit na sy pa hoef te gaan vir hulp nie.
“Dis nie die plek vir ’n predikant se seun nie. Jou pa het ’n gerespekteerde naam en reputasie in hierdie dorp van ons. Wat sal die gemeente sê as hulle moet hoor waar jy naweke tot laatnag uithang?”
Hy onthou hoe ontsteld sy was toe hy weer saggies lag. Hy vee die lastige traan van sy wang af. Waar kom hierdie wipplank-emosies van hom vandaan?
“Die gemeente sal net weet as hulle ook in die club uithang. Maar word Ma dan nie vandag geopereer nie? Ma het tog ander dinge om op te fokus as op my doen en late. Ek is mooi groot, regtig. Ek belowe ek sal julle nie in die skande steek nie.”
Hoeveel keer daarna het hy nie al dié belofte verbreek nie? As sy langer geleef het, sou hy die kans gehad het om sy belofte gestand te probeer doen. Die lewe is so onregverdig teenoor hom! Om sy ma se onthalwe sou hy beter keuses gemaak het.
Daar was dae dat hy sy pa verwens het. Wat veronderstel was om “net vrouekwale” te wees, het sy ma se lewe gekos. As sy pa net meer aandag aan haar gegee het.
“Belowe my jy sal ophou werk by daai plek.”
“Nee, Ma. Ag tog, ek kan Ma mos nie vir geld vra nie. Ek het studieskuld om af te betaal en ek wil op my eie voete staan. Ontspan Ma nou, asseblief, en dan praat ons vanaand met besoektyd.”
Daar was nie die aand geleentheid om tydens besoektyd met haar te gesels nie. Sy was in ’n diep slaap, maar die dokters het hulle verseker die histerektomie was suksesvol en dat sy binnekort weer op die been sou wees. Sy moes haar net vir ses weke rustig gedra. Die komplikasies wat haar lewe sou eis, het hulle te laat ontdek.
Hy was die volgende aand weer op sy pos by die nagklub. Dit was warm en hy was sweterig en redelik kort van draad. Die slegte vibes tussen die twee studente kon mens van ’n afstand sien, die besitlike hand van die jong man op die meisie se lae rug en die meisie wat heeltyd probeer wegdeins. Hy het hulle dopgehou, en toe die ou aan die meisie begin klap na te veel drankies, het hy ingegryp. Dit het nie veel inspanning geverg om die mannetjie uit te sit nie, hoewel “uitsmyt” ’n meer gepaste woord was.
Die meisie self was ook goed aangeklam en baie dankbaar toe hy sy hulp aanbied. Sy skof was klaar en hy wou nog bietjie gaan slaap voor hy by sy ma sou gaan inloer die volgende dag. Maar die meisie was hartseer en het iemand nodig gehad om mee te praat. Sy was so broos en kon maklik die prooi word van die een of ander sadis daarbuite. Hy kon haar nie op haar eie laat nie; sy het ook nie vervoer gehad of geld vir ’n taxi huis toe nie. Hy was haar enigste hoop, het sy hom oortuig.
Die herinnering aan daardie nag oorweldig hom en hy kap sy kop oor en oor teen die Fortuner se stuurwiel. In sy beige Datsun SSS het die meisie feitlik op sy skoot gesit op pad na die krotbuurt waar sy gewoon het. Hy was jammer vir haar en sy was taamlik gewillig om hom te bedank vir sy weldaad. Daar in die kar, reg voor haar huis in die stikdonker nag.
Alles haar skuld, besef hy nou. Hy sou ’n maagd bly totdat hy die regte vrou kry. Dis immers hoe hulle in die kerk geleer het, hoe sy ma hom geleer het. Respekteer vroue en respekteer jouself.
Hy het die meisie nooit weer gesien nie. Hy weet nie eens wat haar naam was nie. Maar hy onthou die skuldgevoelens. Hierdie skuldgevoel wat hom deesdae al hoe meer begin verteer.
Want daar, die aand kort nadat sy ma gesterf het sonder dat hy haar kon groet, het hy vir die eerste keer te doen gekry met die ekstase van ’n lyflikheid wat jou laat vergeet wie jy is en waar jy vandaan kom. Daai aand het hy ’n anderster soort beheer leer ken: ’n houvas oor die lyf, joune en ander s’n, want as jy die ding nie kan beheer nie, beheer hy jou … hierdie ding sonder naam. Hierdie lyflike wat besig is om sy lewe oor te neem.
Die naweek ná sy ma se begrafnis was hy weer op sy pos by die nagklub. Hy het gehoop om die meisie weer te sien, dat sy hóm dié keer kon troos. ’n Rilling kriewel teen sy rug af toe hy onthou hoe maklik dit was om daardie aand iemand anders te kry. ’n Ander gewillige meisie, iemand by wie hy sy wonde kon lek.