Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 9
Dianè
ОглавлениеHaar hande voel bewerig die volgende oggend toe sy by die salon kom. Nie eens die sterk koppie koffie help haar om te kalmeer nie.
Die oomblik toe alles gisteraand om haar rustig was, het sy Robert probeer bel. Tevergeefs. Hy moet vir haar verduidelik wat aangaan, het sy gedink. Sy miserabele voicenote, iets wat hy in elk geval nooit gebruik nie, want dis volgens hom te onpersoonlik, was nie genoeg om haar woede en vernedering te laat bedaar nie. Sy weet nie hoe sy ooit weer vir mevrou Nieuwoudt in die oë sal kan kyk nie.
Sy het later die aand ’n paar boodskappe op WhatsApp gestuur. Steeds sonder enige reaksie; hy het dit nie eens oopgemaak nie.
Heelwat later het sy besef dit gaan haar nie help om Robert aan te vat nie. Sy kan hom ook nie konfronteer oor ’n kind wat moontlik syne kan wees as hy reeds besluit het om die pad te vat nie. Dit sal hom net kwaad maak en verder van haar vervreem.
Gelukkig bied WhatsApp die opsie om boodskappe uit te vee voordat dit gelees is. Dit was die sinvolle ding om te doen. Sy hoor die salondeur toeklap, gevolg deur Lara se vrolike stem. Steeds vals, maar baie vrolik.
Vandag sou sy eerder iewers wou wegkruip. Sy voel weer soos toe sy klein was en haar ma haar hare met die elektriese skeermes bygedam het. Sy wou vir altyd in die donker wegkruip, skaam dat die res van die wêreld haar so moes sien.
“Môre, liefste Dianè, is jy ook ’n happy chappy vandag?”
“Haai, Lara. Hoe laat kom ons eerste afspraak in vanoggend?”
“Oee, geen antwoord is ook ’n goeie antwoord. Het jy sleg geslaap?”
“Nee. Ek het nie juis geslaap nie. Ek het jou ook ’n vraag gevra?” Sy krap aan haar hals en trek aan die kraag van die katoenrok wat haar so laat jeuk. Dis vroegoggend al warm en die verdomde blou merke het nog nie vervaag sodat sy iets koelers kan aantrek nie.
“Wat is dit?” Lara spring vorentoe. “Dianè, hoekom het jy blou merke om jou nek?”
“Dis niks. Dis in elk geval nie wat jy dink nie.”
“Dis nooit wat ’n mens dink nie, dis altyd erger. Het dit gisteraand gebeur?”
“Saterdagaand al.” Dianè sug. Dit gaan nie help om dit verder vir Lara weg te steek nie. “Alles oor rooivleis. Hy was kwaad oor my nuwe oorbelle ook, maar ek dink veral oor die kos. Of iets met proteïene te doen. Robert gym die laaste ruk soos ’n besetene en sy dieet moet tot in die fynste besonderhede gevolg word. Ek was net te besig, en hierdie keer was dit ongelukkig die soveelste keer dat ek vergeet het. Jy weet ek leef van blare …”
“Het hy jou oor rooivleis geslaan? Was hy gesuip?”
“Jy weet Robert drink nie. En nee, hy het my nie regtig geslaan nie. Net nogal rof rondgepluk en … ’n mens kan dit seker wurg noem. Hy het my gewurg, ja. Hy het ’n hengse greep, dit kan ek jou belowe.” Sy maak die boonste knope van haar bloes los en druk die mou oor haar skouer sodat Lara die res kan sien.
“Jinne, Dianè. Ek verstaan nie die sjarmante Robert wat altyd so gaaf en vriendelik teenoor almal optree nie. Wat gaan aan?”
Dis of iets in haar knak. Die vorige kere dat hy wel handgemeen geraak het, het Robert haar nie met soveel blou merke gelaat nie.
“Dis nie al nie.”
Lara trek haar asem hoorbaar in.
“Wat?”
“Lara, daar was gister ’n vrou met haar dogter wat na Robert kom soek het. Die vrou beweer die kind, wel … sy sê dis Robert se kind.”
Lara sak op die naaste stoel neer.
“En wat het Robert vir homself te sê? En hoe oud is die kind? Ek hoop nie dit het gebeur toe julle al getroud was nie?”
Dianè skud haar kop. Die kind is vir seker ouer as haar kinders, so sy moes gebore gewees het lank voordat hulle getroud is.
“Sy’s seker so elf, twaalf jaar oud. En Robert is missing. ’n Paar stukkies klere gepak en verdwyn toe ons in die kerk was. Ek weet nie eens waar hy rondflenter nie, net ’n stemboodskap gestuur dat hy sy lewe wil uitsorteer. Dis net vir Johan wat hy gesê het hy moet vir ’n ruk weggaan, maar die kind het sy pa gewelddadig sien optree en nou is hy erger as ooit.”
Lara lag skielik hard.
“Robert is natuurlik skaam oor hy jou rondgepluk het en moes eers iewers gaan afkoel. Of …” Lara raak skielik weer ernstig. “Of hy weet die vrou met sy kind is op soek na hom en hy’t gevlug.”
“Lara, ek glo die vrou nie.” Dianè maak keel skoon. “Ek en Robert het nooit by mekaar geslaap voor ons huwelik nie. Robert was … Robert is baie beginselvas. Hy sit nie sy mond aan drank nie, en buite-egtelike seks is vir hom taboe. Anders sou hy dit mos met my probeer het voor ons troue.”
“O jittetjie, ek weet darem nie so mooi nie.” Lara hou haar hande op toe Dianè haar mond oopmaak. “Toemaar, dis jou man. Jy ken hom die beste. Ek glo net waar ’n rokie draai, is daar ’n vuurtjie. Maar los dit nou liewer. Wat gaan jy maak om Robert op te spoor? Jy moet hom kry sodat hy homself kan explain, veral as die seuns vrae begin vra.”
“Hulle wonder wat aangaan, ja. Gelukkig gaan hy baie weg, hoewel hy dit nie normaalweg doen sonder om hulle ordentlik te groet nie. Ek hoop hy maak gou kontak. Ek kan nie glo hy vat sommerso die pad nie.”
“Wat gaan jy doen?”
Lara se stem hou soveel moontlikhede in. Asof sy met hierdie vraag vir Dianè ’n magdom opsies bied.
“Ek weet nie. Wat sou jý doen?”
“Ek het nie meer ’n man nie en daarom seker ook minder probleme as jy. Behalwe dat ek myne so mis.” Sy raak vir ’n oomblik afgetrokke.
“Anyway, ek sou dit vir seker nie net so los nie. Ek sou heel eerste wou uitvind hoekom Robert so beduiweld is, en dan sou ek wou uitvind hoeveel waarheid daar in die vrou en dogter se storie steek.”
“Maar …” Sy wil vir Lara sê Robert is al so wispelturig vandat sy hom ken, maar Lara hou haar hand op.
“Ek weet wat jy pas gesê het oor sy kastige beginsels. Dit wat jy glo, is een ding, maar die waarheid is dalk heeltemal iets anders. Jy is dit aan jouself verskuldig om te weet. Ek bedoel, wie gee hom die reg om jou so aan te rand? En jy sê dis oor rooivleis en proteïene? Ek glo dit nie. Daai man steek iets weg, en toe die wêreld vir hom te klein raak, het hy die hasepad gekies.”
“Jy is seker reg.” Toe die klokkie ’n besoeker aandui, pluk Dianè haar mou terug oor haar skouer en knoop haar bloes toe. Die serp drapeer sy weer behendig om haar nek. “Ek dink ek weet wat ek eerste moet doen. Iets wat ek al lankal moes gedoen het.”
“Sterkte,” sê Lara en los haar om tot verhaal te kom terwyl sy aan die kliënt wat so pas ingekom het, gaan aandag gee.