Читать книгу Reënboogmelodie - Anzil Kulsen - Страница 8
Robert
ОглавлениеDie kamer in die klein Karoo-dorpie waar hy ingeboek het om te oornag, beskik net oor die basiese geriewe. Geen wi-fi of DStv of iets waarmee hy hom vir die nag kan vermaak nie. Drie dae sonder enige plesier gaan hom tot waansin dryf. Hy kan ook net soveel fantaseer.
As die skuldgevoelens hom net nie so opgekeil het nie, as hy net rustig in sy eie geselskap kon wees, sonder dat sy pa se stem hom gedurig treiter. Hy is ’n predikantskind, verdomp! Hoe het hy hier beland?
Iewers in die dorpie moet seker ’n kroeg wees waar hy hom kan verlustig in mooi vroue; hy sal net kyk terwyl hy aan ’n koeldrank suig en sy gedagtes vrye teuels gee. Tog niks daarmee verkeerd nie.
Die meer wenslike sal ’n kroeg wees met ’n verveelde huisvrou of twee wat gewillig sal wees om hom geselskap te hou. Dis nog vroeg genoeg, hy sal vir seker nie nou al in die kooi klim en slaap nie. Dis alles Dianè se skuld; sy besef nie wat sy aan hom doen nie.
Hy draai die stortkrane wyd oop en vat die wasbak vas terwyl hy na sy spieëlbeeld kyk. Nie te aardig vir sy jare nie. Dis wat nog altyd vir hom sy voorsprong in die lewe gegee het, hierdie mooi voorkoms van hom. Voeg daarby ’n klomp goed gedefinieerde spiere en die lewe is ’n lied.
Die laaities se gesiggies doem voor hom op. Die liewe Vader moet help dat hulle hierdie hel gespaar word. Hoeveel keer moes hy nie al vir klein Johan stories opdis oor hoekom hy hom nie kan saamneem gym toe nie. Iets wat hy sekerlik met sy seuntjie sou kon doen. Hy probeer soveel tyd moontlik saam met hulle deurbring, maar net nie die gym nie. Dis waar hy homself kan wees, waar hy en Jacques hul geheime lewe kan uitleef.
Onder die stort sukkel hy om sy emosies onder beheer te kry. As hy nou nog in Potch was, het hy soos gewoonlik klaar gegym en heel moontlik saam met sy neef ’n los gelukkie gaan opsoek. ’n Mooi verveelde vrou of twee wat maar te gewillig in sy skoot val. Daar is ’n hele paar van hulle in Potch. En as sjarme nie op die gewone vroue werk waarmee hy soms te doen kry nie, moet ’n mens maar betaal vir jou plesiertjies. Getroude vroue is die beste; hulle gebruik die skelm oomblikke ten volle, asof hulle nooit weer soveel ekstase sal beleef nie.
Hy spoel verwoed water oor sy gesig. Die effek wat die gedagte aan vroue op hom het, raak duidelik sigbaar. Dianè doen dit nie meer vir hom nie. Toe sy nog broos was, het hy haar soos ’n papierpop hanteer en was hy tevrede met roetineseks. Nou wens hy sy was minder moeg, dat sy net soms met hom eksperimenteer, soos sy met haar hare doen.
Hy laat gly sy hand oor sy naeltjie, streel laer af en roep die beeld op van die laaste twee meisies met wie hy gelyktydig ’n bed gedeel het. Dis wat hom laat besef het hy moet hulp kry. Sy behoeftes raak net al hoe moeiliker om te bevredig. Hy het elke keer meer nodig, raak meer gewaagd. As hy sy geld daarop uitgee soos hy al dikwels moes, grens dit aan misdaad. Hy is nie ’n verdomde misdadiger nie!
Hy laat vaar sy poging om homself te bevredig en slaan hard met sy vuis teen die stort se muur.
Dis die een ding waaroor hy nie beheer het nie, hierdie brandende begeerte van hom. Hoe het hy in hierdie strik vasgevang geraak? Sal hy wragtig op sy eie regkom deur van Dianè af te vlug? Dis immers nie sy wat hom na die ander vroue dryf nie. Dis sy eie drange.
Toe sy selfoon ’n tweede keer op die bed lui, draai hy die krane toe en klim uit die stort. Met vinnige hale vryf hy hom droog, haastig om uit die kamer te kom. Die mure druk hom vas. Hy wil ook sien wie hom so dringend soek.
Sy selfoon lui ’n derde keer.
Dianè. Hy grinnik. Hierdie vrou van hom weet hoe om hardekwas te speel. Maar hy het geweet sy sal mettertyd bykom, sy sal swak raak en hom soek. Dit is tog deur sy toedoen dat sy is wie sy vandag is.
Hy sal vir ’n paar dae nie haar oproepe neem nie. Hy wag totdat die gelui ophou en dan blaai hy deur die oproepe wat hy gemis het. Dieselfde vreemde nommer het hom twee keer gebel. Die eerste keer net voor vyf en die tweede keer net na vyf. Dan is daar die oproep van Dianè. Twee oproepe van sy kantoor vroeër vandag terwyl hy op die pad was. As ’n reël antwoord hy nie sy selfoon terwyl hy bestuur nie. Behalwe as Jacques bel.
Almal by die kantoor weet hy wil ’n paar dae vir homself neem, hoekom dan die oproepe?
Dis in elk geval nou te laat om te bel en te hoor wie hom so dringend soek. Dan maar net die vreemde nommer terugbel. Dalk hou dit verband met die kantooroproepe. Dalk een van sy kliënte.
Hy druk die groen knoppie om die nommer te skakel. Hy verander egter van plan toe hy die koelte van die klam druppels oor sy rug voel, en gooi weer sy foon op die bed. Hy is nog nat en het net ’n handdoek om sy heupe. Dis in elk geval ná kantoorure. Hy kan eers klere aan sy lyf kry en dan bel.
Nadat hy aangetrek het, besef hy hoe honger hy is. Hy kan nog nie met Dianè praat nie, besef hy. Dit maak nie saak hoe hy hom daarin verlekker dat sy hom ’n paar keer probeer bel het nie, hy voel skaam …
Hy maak sy selfoon oop en doen iets wat heeltemal teen sy aard is:
Ek het tyd nodig om my kop skoon te kry, gun my dit, asb?
Voordat sy moed hom begewe, druk hy die knoppie en wag dat die stemboodskap deurgaan. Vandag sal een van die min dae wees dat hy nie gaan gym nie. Hy beter nou ’n ordentlike bord kos gaan kry. En hy beter minder tob, berispe hy homself toe hy by sy kamer uitloop.
“Het julle enige ordentlike restaurante in die dorp?” vra hy vir die man by ontvangs. En toe hy besef hoe bot hy klink, leun hy vooroor en steek sy hand uit. “Robert McClean, aangenaam.”
“Aangename kennis, meneer McClean, ek is Fikile.” Die ou het ’n selfversekerde handdruk. “As Meneer vroeg bespreek het, kon ons hier vir Meneer aandete voorberei het. Hier is wel ’n steakhouse naby, dis nou in die winkelkompleks soos mens inkom in die dorp. Dan is daar ’n Pub en Grill, maar as ek nou vir Meneer so kyk, weet ek nie of dit Meneer se smaak sal wees nie.”
“Dankie. Ek het darem twee opsies, klink dit my.” Hy tower ’n glimlag op. Hy sal eerder nie vir Fikile vertel hoe vol fiemies hy eintlik is as dit by kos kom nie.
“Lyk my Meneer bly net een aand. Dis nou jammer. Ek maak nogal lekker kos.”
“Ek is op pad Kaap toe, kon eintlik deurgery het. Dalk ’n volgende keer.”
“Ek sien. Geniet die aandete, Meneer.”
’n Steak sal oukei wees, dink hy toe hy na die Fortuner stap, en dan sal ’n slaai daarby die ding moet doen. Hy kan nie hierdie tipe plekke se groente eet nie; dis vol suiker en waarskynlik vol goedkoop olie.
In die eetplek blaai hy deur sy Facebookvoer terwyl hy op die kelner wag. Sy selfoon is nou sy enigste geselskap, hier is nie een mooi vrou in sig nie. Dit help dat hy iets het om op te konsentreer, al is hy net op die blad om vroue uit te kyk terwyl sy verbeelding met hom die loop neem. Dit het al tweede natuur geword, hierdie fantasieë … Wat hy darem nie nou alles met hierdie vroue sou wou aanvang nie. Dis soveel beter om net te fantaseer, dit doen geen skade nie, so anders as die ware Jakob waaroor hy later in elk geval net skuldig voel.
In ’n sosiale opset het dit al tweede natuur geword om te sien wie beskikbaar is, wie ook aan hierdie onvervulde honger ly. Asof daar ’n kodetaal tussen hulle is: net een keer oogkontak maak en jy weet … Dis net jammer sulke sosiale funksies in Potch is min. Die plek is hopeloos te klein; daarom kry hy altyd ’n rede dat sy werk hom Johannesburg toe stuur.
Maar nie nou meer nie. Teen hierdie tempo gaan hy bankrot wees, en Dianè sal agterdogtig raak omdat hy finansieel agteruitgaan. By haar sien hy net vooruitgang, nog iets wat hom opvreet. Hy gaan ophou met hierdie speletjies, dit moet onskuldig bly, net in sy verbeelding.
Op Facebook is niks meer wat sy aandag hou nie. Dan voel hy hoe die selfoon in sy hand vibreer. Dieselfde onbekende nommer as vroeër. Die persoon moet baie desperaat wees, maar hy sal hierdie oproep ook nie vat nie. Na ’n paar sekondes sien hy hoe sy selfoon ’n stemboodskap ontvang. Sy nuuskierigheid kry die oorhand. Hy en vreemde nommers is nie maats nie.
Koue sweet slaan teen sy rug uit terwyl hy na die boodskap luister:
“Wil jy hê ek moet jou vrou en kinders en sommer jou werksmense ook van jou dogtertjie vertel? Haar naam is Shana, in case jy wil weet. Worry jy ooit oor ons? Of wag, kom ek vertel sommer jou vrou en kinders van al jou eskepades met vroumense! Huh?”
Hy druk die foon dood. Hy sal hiervan korte mette moet maak en gou ook. Irma raak nou ’n oorlas.
Impulsief begin hy weer deur Facebook blaai. Dalk moet hy tog vanaand vir hom ’n ou filmpie aflaai, een met vroue sonder kleertjies, iets om hom mee te vermaak.
“Is ons die enigste mense in die plek vanaand?” Hy het haar nie sien inkom nie.
“Wie wil weet?” Vreemd hoe maklik dit is, hoe sy stem sommer vanself ’n lae toon aanneem en verleidelik klink. Nes sy lyf wat dadelik reageer. Dalk is alles nie verlore op die godverlate dorpie nie, en dalk kan hy nog net hierdie een keer ’n vreemde vrou geselskap hou. Alles Irma en haar vieslike boodskap se skuld.
“Gespierd, aantreklik, donker … en dan nog snaaks ook?” Die vrou kom oorkant hom sit, die selfversekerde, gesofistikeerde soort.
“Het ek jou gevra om te sit?” Sy stem is steeds laag, speels. Hy het nie ’n gelukkie in hierdie klein plekkie verwag nie, en dit nadat hy besluit het om sy ou weë agter te laat. Ai.
Boonop is die lang donkerkop en haar rooi lippe nie te sleg op die oog nie.
“Wel, jy het nie, maar hoekom sal twee warmbloedige mense nou alleen eet vanaand? Laat ek raai: jou werk het jou na hierdie plek gestuur. Jy is oorwerk, op jou selfoon moet jy vrede by die huis tussen vroulief, die kiddies en die honde bewerkstellig, en tussenin moet jy mooi na jouself en jou behoeftes omsien – en veral werk om daai lyf te hou soos dit tans daar uitsien.” Sy knipoog vir hom.
Sy slaan só die spyker op die kop. Behalwe dat hy nie nou met Dianè besig was op sy foon nie. Hy praat eintlik weinig met Dianè op die foon wanneer hy weggaan. Hy laat weet wel altyd dat hy veilig is en stuur stemboodskappe vir die seunjies, dink hy skuldig. Vir enigiets meer as dit is hy net te besig.
“Dalk is jy reg, dalk is jy verkeerd. Wat gee jou die idee daar is ’n vrou, kinders en honde by die huis? Wie sê ek hét ’n huis?”
“Wat ek wel weet, is dat jy ’n humorsin het. Ek is Maggie, aangenaam.” Sy steek ’n goed versorgde hand uit. Haar naels is ’n sagte grys geverf, die twee ringvingers het goue strepies op. Keurige vrou, dink hy.
“Ek is Steve, aangenaam.” Hy hou haar hand vir ’n ruk te lank vas voordat sy dit wegtrek. Steeds selfversekerd, glad nie ongemaklik nie. “En wat doen Maggie op hierdie plek?”
“Werk, wat anders?”
“Dan is jy oor een ding reg: Twee warmbloedige mense wat mekaar ver van die huis af raakloop, durf nie alleen eet nie. Dis sleg genoeg om alleen te moet slaap …” Hy laat hang die woord suggestief in die lug. Voel die warm gevoel in sy bekken toe sy sy blik uitdagend gevange hou.
“Absoluut. Ons praat dieselfde taal. So wat doen Steve vir ’n lewe?”
“Ag nee, jy wil seker nie oor werk praat terwyl ons eet nie. Dis sleg vir ’n mens se spysvertering.”
“Goed.” Sy blaai deur die spyskaart wat die kelner voor haar neersit. “Kom ons bestel en dan vertel jy my van jou stokperdjies. Aan daai spiere wat onder jou hemp bult, neem ek aan oefening in die gym neem die meeste van jou vrye tyd in beslag?”
“Jy neem reg aan.” Dis altyd lekker as vroue sy spiere opmerk. Sy lyf is sy beste bate, en die een ding waarop hy bitter trots is. ’n Mens kan geld en rykdom erf, maar vir spiere moet jy hard werk. “Wat doen jy vir oefening?” Sy oë streel oor haar nek en borslyn. Die plat magie en res van haar word deur die tafel verberg.
“Wel …” Sy lek suggestief oor haar bolip. “Ek moet baie kreatief wees om fiks te bly. Die binnekant van ’n gym is dalk goed vir visuele stimulasie vir mans, maar glad nie vir ’n vrou wat hou van uitdagings nie.”
“Uitdagings?”
Sy bars uit van die lag. “O, maar jy’s nuuskierig.”
Hy sit terug in sy sitplek en vou sy arms oor sy bors. Hou haar ’n rukkie lank dop sonder om iets te sê. Sy geniet duidelik die speletjie, want daar’s ’n slinkse glimlag om haar mond terwyl sy kastig die spyskaart sit en bestudeer. Met haar sal hy kan toor …
“Kan ek solank vir die dame iets kry om te drink?” vra die kelner wat uit die niet verskyn en sy verbeeldingsvlug onderbreek.
“’n Glas rooiwyn, asseblief. Of sal ons ’n bottel bestel?” vra sy vir Robert.
“Nee, kry gerus vir jou. Ek gebruik nie alkohol nie.” Hy sien die vinnige wip van haar wenkbrou.
“Nie eens een glasie nie? Ek ruik ’n storie – vertel?”
“Dis ’n lang, vervelige storie, glo my. Die kort weergawe: ek wil altyd in beheer wees. Drank laat ’n mens beheer verloor.” Hy leun vorentoe. Dis die eerste eerlike ding wat hy tot dusver vir haar gesê het.
“Bring vir ons ’n bottel droë rooiwyn, asseblief. En jou twee mooiste wynglase,” sê sy vir die kelner.
Sy knipoog in Robert se rigting. En glimlag vir hom. Hy laat sak sy kop in sy hand en blaas stadig sy asem uit. Een glas rooiwyn, net een. Dalk is dit al wat hy nodig het om van hierdie dekselse verterende skuldgevoelens ontslae te raak.