Читать книгу Skarlakenkinders - Anzil Kulsen - Страница 12
Anlea
Оглавление“Dis ’n leuen. Sy lieg! My pa sal nooit so iets doen nie!” Bianca se oë is rooi gehuil waar sy op die bank in hulle chalet sit. Haar woorde klink hard, maar dis duidelik dat die kind verslae is. Haar skouers hang en haar maskara streep oor haar wange.
Anlea voel hulpeloos. Kirabo het haar gevra om na Bianca te kyk terwyl sy besig is met ’n privaat sessie met Ragel. Sy het geen idee hoe gemaak met ’n tiener nie. Plaas vra Kirabo vir Frankie. Maar dié het ook heeltemal uitgefreak ná die hele gedoente tydens hulle oggendsessie.
Bianca blaas haar neus so hard dat Anlea skrik. Sy moet dalk iets sê om haar te troos.
“Ek dink jou ma het maar net in ’n oomblik van woede gepraat, Bianca. Elkeen van ons kry maar soms ’n dag wat ons –”
“Jy kom op vir haar, verdedig haar. Hoekom doen jy dit, Anlea? Het sy jou nou ook teen my gedraai?”
Anlea bedink haarself. Sy voel vir Bianca, maar sy verstaan ook Ragel se situasie. Soveel keer in haar eie lewe moes sy baklei. Vir haarself veg. Heeltemal alleen.
“Nee Bianca, dis glad nie so nie. Ek sê maar net, want ek weet die lewe kan ’n mens maar partykeer wild rondklap. Ek dink jou ma het ’n paar rowwe houe agter die blad. Maar die dinge wat sy vir jou gesê het en hoe sy dit vir jou gesê het, is nie reg nie. Ek verstaan jou woede.”
Bianca vee onder haar oë met die tissue wat reeds vol maskara is. “Ek dink regtig sy haat my. Dis of sy kwaad is vir my. Dis alles my skuld. Asof ek haar lewe kom steel het of iets.” Bianca se lip begin weer bewe.
Anlea wens sy het geweet hoe om die situasie beter te maak, maar sy weet nie. Miskien sal ’n koppie soet tee werk. Dit help altyd vir haar. “Kan ek vir jou ’n bietjie tee maak?” Eers dink sy dit was ’n simpel voorstel, maar Bianca reageer onmiddellik.
“’Seblief.” Sy vee weer trane af. “Dankie dat jy aanbied, Anlea. Dis gaaf van jou.”
Anlea is verras oor die meisie se reaksie. Sy staan op en stap ketel toe.
“Vat jy suiker?” vra Anlea.
“Jip, twee asseblief,” antwoord Bianca afgetrokke.
Sy voel Bianca se oë op haar waar sy in die kombuis besig is.
“Jy het baie mooi hare, Anlea. Ek wens my hare was al so lank. Maar ek gee elke keer moed op wanneer dit my begin irriteer. Ek is ook bly jy dra nou ’n bietjie ander klere. Dit pas jou. Anyway. Jy lyk vir my sommer heeltemal … normaal.”
Anlea talm. Sy’s versigtig om mense te na aan haar toe te laat. Sy’t ’n baie duur prys betaal toe sy dit wel gedoen het. Sy is bly Bianca weet nie die waarheid nie.
“Dankie,” is al wat sy uitkry.
Anlea sit die beker tee voor Bianca op die koffietafel neer en roer dit.
Bianca haal haar selfoon uit haar sak. “Ek mis vir Jono so baie. As hy nou hier was, sou niks van hierdie goed gebeur het nie. Hy sê altyd my ma-hulle waardeer my nie.”
“Wie’s Jono?” vra Anlea.
“Hy’s my ou. Wil jy sien?” Bianca sit haar selfoon aan en tik haar pin in.
“Ja, laat ek sien hoe hy lyk.” Anlea is dankbaar daar’s iets wat Bianca se aandag van haar ma aflei. Sy gaan sit langs Bianca op die bank om na die foto’s op haar selfoon te kyk.
“Sjoe, hy’s handsome!”
’n Glimlag breek oor Bianca se gesig.
“Hy is. Hy’s drie-en-twintig.”
“Hoe het julle ontmoet?” vra Anlea geïnteresseerd. Dankie tog Bianca huil nie meer nie. Dit maak haar altyd so ongemaklik. Syself het nie weer gehuil sedert … Sy onderdruk die gedagte.
“Op social media. Hy is vriende met iemand wat ek ken, en toe begin hy my posts like.”
“En toe?” vra Anlea.
“Hy’t my ge-inbox en ons het net dadelik gekliek. Hy dink ek is die mooiste girl in die hele wêreld, Anlea. Hy sê ek is slim en goud werd, en ek verdien baie beter as hoe my ouers my behandel.”
“Wow, lyk my die man like jou baie. Hy klink baie cool.”
“Hy is. Hy’s slim ook. Hy leer my baie.” Bianca is gelukkig nou in ’n ligter bui.
“Soos in?” vra Anlea gemaak belangstellend. Haar gedagtes dwaal af terwyl Bianca verder babbel. Sy hoop nie Kirabo en Ragel praat meer vir baie lank nie. Sy wil vir Spider gaan bel, hy klink of hy na haar soek as sy die voice notes van netnou reg gehoor het.