Читать книгу Skarlakenkinders - Anzil Kulsen - Страница 4

Kirabo

Оглавление

Die laat winterreën het die oord goed gedoen, maar Berg van Hoop, eintlik die hele Wes-Kaap, kort nog heelwat reën. Die jaar en die reënseisoen is amper verby en tog bly dit droog, loop Kirabo en dink tot sy op die hoë bergpaadjie tot stilstand kom.

Haar asem jaag effens toe sy terugkyk oor die landskap voor haar. Rooibos is inheems tot die streek en tot doer ver, waar die son se gloed oor die berge kom, sien sy rooiboslande en wingerde. Dit maak ’n mooi prentjie, dié mengsel van geel en groen.

Dis nou haar derde jaar op Berg van Hoop. Elke keer wanneer sy met die bergpaadjie opstap, verwonder sy haar aan hoe ongelooflik mooi dit hier is. Veral die berge met hulle rotsformasies. Asof God elkeen van hulle uniek uitgebeitel het.

Dis vroegoggend, en van waar sy staan kan Kirabo beswaarlik die wit geboue van Berg van Hoop se kantore of die spa uitmaak.

Sonsopkoms was nog altyd vir haar ’n spesiale tyd van die dag. Haar stiltetyd. Vandag het sy dit veral nodig.

Kirabo haal ’n slag diep asem en probeer so haar gedagtes bymekaarkry. Dis vir seker nie van onfiksheid dat haar hart so onstuimig klop nie. Dis ook nie die lieflike natuurskoon wat haar asem wegslaan nie.

Dis eerder die agtergrondinligting van die nuwe groep deelnemers wat haar kortasem maak. Sy voel skoon lighoofdig as sy net daaraan dink.

Haar ooreenkoms met Ferdi, die uitvoerende direkteur van die nieregeringsorganisasie waar sy werk, was dat sy hier op Berg van Hoop hoofsaaklik sou fokus op mense met een of ander verslawing.

Dit het só goed gegaan. Dit gaan nog steeds goed. Die laaste groep was meestal jongmense. Kirabo sug tevrede. Met húlle was sy suksesvol. En dit nogal sonder om te diep in haar eie verlede te delf.

Sy en Ferdi kom al ’n lang pad saam. Dis hy wat dit vir haar moontlik gemaak het om haar ten volle te kwalifiseer toe sy in die gevangenis was. Sy sidder. Aan daardie koue hool wat vir so lank haar blyplek was, wil sy beslis nie nou dink nie.

Haar impak op die laaste groep was van die eerste dag af opvallend. Hulle het aan haar lippe gehang. Dis juis hierdie reaksie wat haar die moed gegee het om in te stem toe Ferdi haar oor die volgende groep deelnemers ingelig het.

Sy sou aanvanklik die week net help met enkele berading- en groepsessies. Dinge het egter skielik verander toe Ferdi inderhaas Kaap toe moes gaan nadat sy pa ’n beroerte gehad het, en sy aan haar eie genade oorgelaat is.

Haar gedagtes dwaal na die inhoud van die lêer op haar rekenaar. Om haarself te oriënteer, het sy ’n kort beskrywing van elk van die vroue gemaak. Sy het ook mooi beplan hoe sy elkeen gaan benader. Op dié manier kon sy sistematies te werk gaan, sonder om toe te laat dat haar emosies met haar weghardloop.

Maar vanoggend moes sy haar op ’n ander manier voorberei. Haar kop skoonkry voor die groep later die dag daar sou opdaag.

Dis Frankie se agtergrond wat Kirabo die meeste kwel. Frankie is ook die enigste een van wie sy ekstra inligting ontvang het. Dalk meer as wat goed is vir haar wat Kirabo is. Maar Ferdi reken dat sy ’n positiewe invloed op Frankie se lewe kan hê vanweë haar eie agtergrond en die ooreenkoms tussen haar lewe en Frankie s’n.

Wat Ferdi egter nie besef nie, is dat sy nie graag oor haar verlede wil praat nie. Dit lê diep begrawe. Natuurlik wil sy mense help. Maar sy kan nie, durf nie haar verlede in die proses blootlê nie. Sy is net te bang sy’s dalk nog hopeloos te broos daarvoor.

Eintlik hoop Kirabo Frankie is nie een van daardie aandagsoekende mense wat oordryf en maar net vertroetel wil word nie. Hoekom anders sou sy so openhartig oor haar agtergrond gewees het in haar aansoek?

Op haar foto kon ’n mens skaars die tekens sien. Dit was ook nie ’n tipiese foto met ’n Instagram-filter wat iets probeer wegsteek nie. Frankie het maar gelyk soos ’n gewone vrou wat nie veel sin het daarin om tyd voor die spieël deur te bring nie. Lang hare en prominente kakebeen. Geen grimering en geen fieterjasies nie.

Vir die ma en dogter sien sy egter kans. Volgens die inligting wat sy oor hulle ontvang het, blyk dit dat die pa diep emosionele letsels op beide van hulle gelaat het. Hiervan lei Kirabo af dat die ma, Ragel, toegeskulp is in haar eie seer. Sy het ’n harde dop om haar gevorm waarmee sy almal uithou. Haar dogter Bianca ook. Dit het baie duidelik oorgekom in die e-pos en gepaardgaande vorm wat sy van Ragel ontvang het.

Sy hou daarvan om met tieners te werk. Op ’n tyd het sy gewens sy kan self ’n ma word. Nou speel sy maar vir kort rukkies ma vir ander mense se kinders. Sy het lankal haar droom laat vaar om kinders van haar eie te hê.

Sy draai om en begin met vasbeslote treë terugstap. Vanaand, wanneer almal ingesettle is, sal sy weer haar boek vat en lees. Toe sy nog in die gevangenis was, het sy op versamelde werke van ’n Ugandese skrywer afgekom. Dít, saam met haar studies, het haar gehelp om te probeer vergeet.

Die pastorale werker wat hulle dáár kom besoek het, het aanbeveel dat sy haar eie kultuur beter leer ken. ’n Kultuur, dink sy nou, waaraan sy nooit werklik deel gehad het nie.

Haar ma was swanger met haar toe hulle uit Uganda na Suid-Afrika gekom het. Ná haar geboorte het haar ma vir die Nel-gesin begin werk. Hulle was goed vir hulle. Selfs ná haar ouers se dood het die familie hulle oor haar ontferm en het sy by hulle in die huis aangebly. Later het hulle haar as hulle eie dogter aangeneem. Sy het geliefd en veilig gevoel. Tot …

Sy skrik toe haar foon skielik lui. Natuurlik, besef sy vies, en grawe geïrriteerd daarna in haar broeksak. Telkom werk weer aan die lyne vandag, daarom dat die telefoon in die kantoor af is. Dié dat sy oral met haar selfoon rondloop. Nie dat dit juis iets beteken nie. Dis eintlik net hier bo waar daar regtig ’n sein is.

Sy glimlag toe sy sien wie dit is en haal diep asem voor sy antwoord. “My liewe Ferdi, ek het nou net aan jou staan en dink.”

“So is jy reg vir die groepie wat op pad is?” Ferdi se stem klink altyd vrolik. Sy skryf dit toe aan sy amper kinderlike geloof en sy geweldige liefde vir die lewe en sy medemens.

“Jy gooi my lekker by die diep kant in met hierdie groep. Maar dis reg, ek sal swem.” Sy bly vir ’n rukkie stil, asof sy haar woorde moet tel.

“Ek het vroeg vanoggend weer deur die vroue se inligting gelees. Iets van hulle persoonlikheid op hulle foto’s probeer peil. Dit maak my nie minder bang nie. Ek stap nou juis om kalmte te vind.”

“Ai, Kirabo, ek is jammer ek is nie daar nie. Dit is seker maklik om te praat, maar dit help om nie té betrokke te raak nie. Aan die ander kant, is dit juis jou goeie hart en jou ervaring van seer wat jou so geskik maak vir die taak. Hulle het seer, Kira. En net jy sal kan help met daardie genesing. Jy sal weet hoe –”

Sy stem raak weg.

“Ferdi?”

“Ek glo in jou, en duidelik glo jou vriende van die uitreikprogram ook in jou. Anders sou hulle nie soveel moeite gedoen het om vir die vroue borgskappe te kry nie. Jy sal oukei wees. Ek weet dit.”

Sy maak haar mond oop om te protesteer, maar hap net na lug. Die besettoon wat in haar ore fluit, wys sy het nie meer ’n sein nie. Sy wou nog so graag vir Ferdi vra hoe dit nou met sy pa gaan.

Kirabo bêre haar foon in haar sak en stap stadig terug kantoor toe.

In haar hart bid sy vurig. Nie net vir die groep wat vanoggend aankom nie, maar ook vir Amos en Nina wat haar moet bystaan. Sy bid vir Ferdi, haar mentor, met sy hart van goud. Hy het sy werk in Kaapstad gelos om hier in die Sederberge gewonde siele te kom help genesing vind. Maar hy is ook maar net mens. Kirabo het met sy pa se onverwagse beroerte gesien hoe broos hy eintlik is. Sy bewonder die band tussen hulle. Al sou sy hom eerder hier wou hê, weet sy hoe belangrik dit vir hom is om nou by sy pa te wees.

Skarlakenkinders

Подняться наверх