Читать книгу Skarlakenkinders - Anzil Kulsen - Страница 5
Frankie
Оглавление“Jy weet jy’s los Frankie. Net goed vir een ding en ons altwee weet wat dit is, ou Frankie.”
Frankie skud haar kop asof sy die woorde op dié manier uit haar gedagtes wil verdryf. Sy baklei met haarself. Amper soos iemand wat op ’n kombuisvloer staan, met een voet op die swart teël en die ander op die wit een. Dan slaan sy terug.
“Jy’s nie los nie Frankie. Jy is onskuldig en ’n slagoffer van ’n siek mens en verdien liefde,” sê sy skaars hoorbaar en loer versigtig in die truspieëltjie na die mense wat op die agtersitplek sit en slaap.
Nog mense oor wie Joe hom ontferm het. Die ma en dogter lyk maar vir haar ewe lewensmoeg. Seker daarom dat hulle skaars duskant Piketberg uitgepass het.
Jy’s ’n mens, met ’n hart en ’n siel, probeer sy weer die stem in haar kop stilmaak – die stem van die man wat haar hele wese kom steel het. Sy stuur doelbewus haar gedagtes na wat in die pad voor haar aangaan.
Dis ’n splinternuwe dag. Vol belofte.
Die mooi om haar laat haar vir ’n oomblik ontspan. Sy kyk na die ruigtes. Die bossies en klippe en gate. En sy wonder wat kruip alles hier rond weg …
Krimpvarkies fassineer haar al van kleintyd af. Sy het onlangs op Berg van Hoop se webwerf gelees van die rehabilitasiewerk wat die personeel van die sentrum onder dié diertjies doen. Dit het haar juis aangespoor om te kom. Sy sien uit daarna om die krimpies van nader te leer ken.
Frankie trap die petrolpedaal ’n bietjie dieper in sodat die Toyota Hilux gehoorsaam vorentoe skiet op die N7.
Sy’s dankbaar dat Joe vir haar die double cab geleen het vir die tydjie wat sy weg sou wees. Goeie ou Joe. Eers gee hy vir haar werk, en nou die geleentheid om haarself weer heel te kry. Veral emosioneel, het hy gesê toe hy haar oorreed het om vir ’n rukkie na Berg van Hoop toe te gaan.
Miskien moet sy stop vir ’n sigaret. Dit sal haar kalmeer. Sy onthou van die twee passasiers op die agtersitplek. Ai tog. Sy gaan hulle seker nou wakker maak as sy stop.
Joe se hart is mos so groot soos ’n hotel. Hy’s ’n ongelooflik goeie projekbestuurder. Hy’s ook deel van ’n uitreikprogram wat mense help om weer op die been te kom nadat hulle groot trauma in hulle lewe ervaar het.
Joe het haar gevra om twee passasiers saam te neem na die retreat waarna sy vir die volgende week sou gaan. Die ou vrou wat die jonger twee op die wynplaas waar sy werk kom aflaai het, het baie gretig gelyk om van hulle ontslae te raak. Frankie kan nie help om te wonder wat nou eintlik die storie agter die storie is nie. Dit moet die jong meisie se ouma gewees het.
Onverwags kruip die angs weer stadig in haar op. Sy kyk in haar truspieëltjie om seker te maak niemand agtervolg haar nie. Frankie wonder wanneer die vrees ooit sal weggaan. Die bang dat hulle haar weer sal vind. Sy verstel die truspieëltjie effens en merk op haar hande bewe.
Ontspan, Frankie. Niks gaan gebeur nie.
Frankie sien in die spieël hoe die ma met haar skraal rug teen haar mollige dogter sitlê. Beide het dieselfde blonde hare. Die ouer vrou s’n is in ’n netjiese bolla vasgebind. Die dogter s’n lyk effens slordig, dalk selfs vuil.
Hulle kan nie naastenby iets weet van die dinge waardeur sy is nie. Haar hartklop versnel by die blote gedagte daaraan. Sy haal dieper asem soos die traumaterapeut haar geleer het. In vir tien tellings, uit vir twaalf. Lank en stadig.
“Rustig, Frankie. Rustig nou,” fluisterpraat sy met haarself. Sy fokus weer op die natuur daar buite om haar aandag van haar angsgevoel af te lei. Sy merk hoe die son hoër oor die bergrante opklim.
Voor haar lê lande in skakerings van geel, bruin en groen uitgestrek. Dit laat haar dink aan ’n lappieskombers. Sy hou van ’n lappieskombers. Al die interessante kleure en verskillende patrone. Niks pas bymekaar nie, maar tog maak dit die mooiste geheel.
Frankie wou nog altyd graag haar eie lappieskombers hê. So ’n bont een met rooi en geel blokke vol sonneblomme. Een waarin ’n mens jou hele lyf styf kan toevou.
Vir haar lyf kort sy net ’n kleintjie. Solank dit net hare is.
Mense is eintlik baie soos lappieskomberse, dink sy. Almal word aanmekaargeweef deur donker storms en helder sonskyn. Seisoene vol tekstuur. Sy het al goed geleer: Hoe meer pyn, hoe mooier die hart.
Dan hoor sy weer sy stem. Die persoon wat sy met haar lewe vertrou het omdat sy geglo het hy is werklik lief vir haar. Die man wat haar die een oomblik nog vasgehou en belowe het hy sal haar altyd beskerm, en haar die volgende oomblik verkoop aan honderde mans. Soms tot twintig keer per dag. Sy ril.
Deon Wasserfal.
’n Saamgeflanste lappieskombers, Frankie. ’n Stuk lap wat niemand wou hê nie. Dis wat jy is. En die heel beste deel hiervan is dat niemand jou sal kom soek nie, Frankie. Want niemand gee genoeg om nie.
Dit was elke keer die hardste hou. Vir lank was daardie woorde haar werklikheid. Sy het altyd geglo sy is maar net ’n weggooilap.
Maar toe kom Sylvie. Die vrou met die silwer hare wat haar ’n druk kom gee het in die straat. Frankie het haar ’n hele paar keer daarna gesien. Soms het sy sommer uit die bloute opgedaag. Dan het sy Frankie weer vir ’n hele ruk lank kom vashou.
Mettertyd het Frankie haar begin vertrou.
“Die Here gaan jou nog gebruik in mense se lewe, Frankie,” was haar woorde altyd.
Frankie het aanvanklik gedink die vrou rook seker iets voor sy strate toe kom om met hulle te praat. Hoe op aarde sou sy ooit, met al haar stukkend, mense se lewe kan verander? Later eers het sy besef daar is Iemand groter in die vrou se lewe aan die werk.
Die vrou het gepraat van God en sy planne vir haar. Later het sy vir Frankie die vers geleer wat sê: “Ek weet wat my planne vir jou is, planne van voorspoed en nie teëspoed nie, en hoop vir ’n beter toekoms.”
Daardie vers sal Frankie nooit vergeet nie. Dit was die een sin wat haar lewe verander het. Sy sien weer hoe die lappiesland voor haar oopvou.
Dalk moet ek ’n lappieskombers maak, van al die goeters wat nog in my vassit, dink sy. ’n Lappie vir elke stuk seer, maar ook vir elke oorwinning. Die helderste lappie sal sy hou vir die wegkom. Die vrykom.
Vryheid. Dis wat sy haar kombers sal noem.
Frankie hoor haar selfoon lui.
“Hey, Joe,” antwoord sy saggies om nie die ander twee agterin die bakkie te steur nie. Joe se stem kom en gaan.
“Frankie? Kan jy my hoor? Hallo?”
“Ek hoor jou, ja. Praat maar.” Dié keer praat sy harder, so asof dit sal help met die swak selfoonopvangs.
“Hoe vorder julle? Alles nog oukei?”
Jy kan probeer weghardloop, Frankie. Ons sal jou altyd weer kry. Ons het oral oë.
Vrees klem om haar keel.
“Frankie? Hallo? Is jy nog daar?”
Sy kom tot haar sinne. “’Skies, man, jammer. Ja, alles is een honderd persent dié kant. My twee passasiers slaap rustig. Hierdie Hilux ry omtrent soos ’n droom.” Sy hoop nie haar stem verraai hoe angstig sy voel nie.
“Oukei, cool,” sê hy dan. “Onthou, my foon is aan. Moenie vergeet om my te laat weet wanneer julle veilig daar aangekom het nie, asseblief.”
“Dis reg so, ek sal onthou. Dankie dat jy ingecheck het, Joe. Ek waardeer dit.”
Joe bly eers stil, maar dan sê hy: “Frankie, jy is nou deel van die Bergsig-familie. Ons sal altyd incheck.”
Vir ’n oomblik bring die onverwagse besorgdheid Frankie van stryk. Sy sluk aan die knop in haar keel en vee nog vinnig die lastige klammigheid van haar oë af, toe die vrou op die agtersitplek traag regop sit.
“Ek is ’n groot meisie, ek kan mooi na myself kyk,” sê sy maar flou.
Joe se lag weerklink aan die ander kant.
“Ja, ja, laat weet ons maar nogtans wanneer jy veilig is. En hou jou oë op die pad. Daai grondpad is nie speletjies nie. Ons praat weer later.”
Hy druk die foon dood.
Frankie gee ’n diep sug. Familie. Mense wat opcheck op haar, seker maak sy is veilig. Sommer net omdat hulle omgee. Dis iets wat sy nog haar hele lewe lank begeer. Sy wil liefgehê word. Onvoorwaardelik lief. Deur mense op wie sy kan vertrou.
Vertroue is nou die een ding waarmee sy die meeste sukkel. Hoe leer sy om weer ander te vertrou? Sy loer na die vrou agterin die motor wat nou by die venster uitkyk.
Jy kan mans nie vertrou nie, Frankie, dink sy by haarself. Leer jy dan nooit? Mans vat wat hulle wil hê, hoe hulle dit wil hê, wanneer hulle dit wil hê.
Sy trek haar hand deur haar hare. Hierdie twee vroue moet nou maar sterk staan. Sy smag na ’n sigaret.
Sy lig haar voet effens van die petrolpedaal en ry stadiger.
Net duskant Clanwilliam bring sy die Hilux tot stilstand. Sy hoor hoe kreun die tienermeisie op die agtersitplek. Die ouer vrou lê weer met haar oë gesluit.
Hulle het deur die meeste van haar gesprek met Joe geslaap. Hulle sal seker nie eens agterkom as sy vir ’n rukkie stop nie, dink sy en trek die motor onder een van die groot skadubome langs die pad in.
“Ek wil net gou gaan rook. Slaap maar verder,” sê sy vir ingeval.
Toe sy haar rugsakkie op die sitplek vat, val ’n bruin beertjie uit. Sy druk dit vinnig terug in die sakkie en klim uit.
Flippen coping mechanisms oral om haar! Frankie sit haar rugsak op die Hilux se kap neer en krap daarin. Tussen ’n pak pille, die beertjie en deodorant, vat haar hand die pakkie sigarette raak. Sy gaan staan met haar rug teen die deur by die kantspieëltjie en steek ’n sigaret aan. Trek die nikotien diep in haar longe en wag vir die kalm gevoel om oor haar te spoel. Sy kyk oor haar skouer deur die venster en sien die ma en dogter is steeds lights out. Dankie tog. No small talk needed. Sy kyk weer voor haar uit.
Tevrede dat daar niemand is wat haar kan dophou of veroordeel nie, haal sy haar bruin beertjie uit en sit dit op die motor se bak neer. Die terapeut het dié sagte beertjie vir haar gegee om haar tydens hulle eerste traumaterapiesessie te troos. Bella Beertjie, is haar naam.
“Ons gaan oukei wees, Bellatjie. Ons gaan oukei wees.”