Читать книгу Skarlakenkinders - Anzil Kulsen - Страница 8
Frankie
Оглавление“Ek is nou wel heavy omgekrap oor die Wi-Fi, maar ek moet sê ek’s baie bly ek en my ma hoef nie in dieselfde chalet te bly nie. Dis actually ’n miracle.”
Frankie kyk na Bianca waar sy oorkant haar op die bank sit. Foon in die een hand en koffiebeker in die ander. Sy weet nie of sy bly of spyt moet wees oor die feit dat sy vir ’n week lank ’n chalet moet deel met twee mense wat sy van g’n kant af ken nie. Een daarvan boonop nog maar eintlik ’n blote kind. Sy het ’n sterk vermoede Bianca gaan haar, wat Frankie is, se besluit om nooit kinders te hê nie net versterk.
Haar gedagtes spring terug na die feit dat sy ’n chalet moet deel. Niks gebeur tog sonder ’n rede nie. Dit weet sy. Dalk moet sy net probeer om hulle nie so hard te oordeel op grond van hoe hulle lyk nie. Anlea, met haar kort kleertjies wat eerder lyk of dit in ’n nagklub hoort, mag haar dalk nog verras. Sy praat ook nie veel nie en Frankie het haar ook nog nie weer gesien nie. Sy fokus weer op Bianca.
“Miskien is dit goed dat jy en jou ma ’n bietjie afstand kry. Jou ma lyk of sy baie dinge op haar skouers dra.”
Bianca lag. “My ma? Ag, nee wat. Sy’s net uptight, dis al. Al wat vir haar saak maak, is haar werk. Sy sou seker lankal al in haar kantoor ingetrek het as sy kon. Alles anders is ’n bysaak.”
As Bianca se gehawende voorkoms ’n maatstaf is van die ma se prioriteite, dink Frankie, is Bianca seker nie ver verkeerd nie. Die meisie is nou nie wat sy uitermatig vet sou noem nie, maar sy is vir seker ook nie goed versorg nie. Sy is effens aan die growwe kant. Met koddige klere wat nie by haar groterige lyf pas nie.
“Ek kan nou nog nie glo hier’s nie Wi-Fi of selfoonopvangs nie. Dis net rêrig belaglik,” kla sy weer.
Dit val Frankie skielik by. Joe. Sy het met al die opwinding totaal vergeet om hom te laat weet sy’t veilig aangekom!
“Ek wonder wanneer sy uit die kamer gaan kom,” fluister Bianca en beduie in die rigting van Anlea se kamer. “Het jy haar outfit gesien? Sy lyk soos iets uit ’n Hollywood-movie.” Bianca giggel. “En daai make-up?”
Frankie hou haar in. Sy moet self die begeerte onderdruk om al daai make-up met ’n waslap by te dam, maar sy weier om Anlea met Bianca te bespreek.
“Dalk is sy net baie moeg. Dis nogal ’n ent se ry hiernatoe. Onthou, jy’t lekker gelê en slaap in die kar. Sy sal seker nou-nou kom gesig wys.”
Die kamerdeur gaan oop. Anlea stap kombuis toe en skakel doodluiters die ketel aan.
Frankie wonder wat sy by Berg van Hoop maak. Dalk het sy net nodig gehad om ’n bietjie weg te kom. En hoekom het sy so ’n klein tassie by haar? Waar is al haar klere? En daai rokkie! Miskien moet sy haar een van haar jeans leen. Dis te sê as dit gaan pas. Sy’s vreeslik maer. Frankie wonder of sy gesond is.
“Weet julle dalk of hier Wi-Fi is?” praat Anlea skielik.
“Dankie tog! Nog iemand wat soos ek voel!” sê Bianca met ’n gilstem.
“Miskien moet ons maar gou stap en ’n sein gaan soek. Ek het ’n WhatsApp om te stuur,” sê Frankie en stap kamer toe om haar selfoon, sigarette en baadjie te gaan haal. Sy gryp sommer in die verbygaan nog ’n paar jeans en tekkies en ’n langmou-top.
Toe sy terugkom, is Anlea steeds in die kombuis besig om kaste oop en toe te maak.
“Sal ons loop?” sê Frankie en hou die klere na Anlea uit. “Jy kan hierdie leen as jy wil.”
Anlea kyk haar verbaas aan.
“Ek dink nie dis veilig hier rond nie. Slange, weet jy?” sê Bianca van die bank af.
Frankie haal haar skouers op voor sy by die deur uitstap. “Nes jy wil. Sien ’n bietjie later.”
“Wag … ek kom saam,” sê Anlea. “Ek moet ook ’n oproep of twee maak. Ek … trek net gou hierdie aan.”
“Jinne, julle twee is bang vir niks, lyk dit my. Die son gaan nou-nou sak.” Bianca staan op en trek haar tekkies aan.
Frankie stap buitentoe om in die laaste bietjie son te staan. As Bianca maar net geweet het hoe bang sy eintlik is. Vrees het deel van haar daaglikse bestaan geword. Iets waarteen sy elke dag moet stry. Sy vryf oor die littekens op haar regterhand. ’n Bitter herinnering aan die een dag waarop sy probeer ontsnap het.
Sy onthou dit goed. Sy het lank gewag voor sy ’n kans gewaag het. Sy was so seker sy het dit tot in die fynste besonderhede uitgewerk. Maar toe verklik een van die jonger meisies haar.
Die oomblik dat sy die skreeuende bande om die hoek agter haar hoor aankom het, het alles in haar lam geword. Sy kon nie hardloop of skreeu nie. Soos in ’n droom waarin jy probeer wegkom, maar nie kan nie.
Ai, Frankie, hoe dom kan ’n mens nou wees. Jy weet mos jy kan nie wegkom van Big D af nie.
Een van die ander traffickers het haar vasgedruk terwyl Deon, of “Big D” soos hulle hom altyd genoem het, die stuk staal met die blowtorch warm gemaak het.
Die pimps het ’n mens ’n keuse gegee. Hoe ironies. Asof sy ooit werklik ’n keuse gehad het oor enigiets.
Lyfstraf of vlamme. Lyfstraf het beteken elkeen van die vier pimps kry ’n beurt met jou. Soms het jy al twee gekry.
Frankie, Frankie. So jammer ons moet nou hierdie handjie van jou seermaak.
Sy het die hitte voel nader kom aan die sagte vel van haar regterpols. Die volgende oomblik het die pyn deur haar hele lyf geskiet en sy’t haarself hoor gil.
Die reuk van haar gebrande vel. Die pyn was ondraaglik. Die pimps om haar het soos barbare gelag terwyl haar lyf saamtrek van pyn.
Miskien moet ons jou maar ’n goeie les leer hierdie keer, Frankie. Wie nie hoor nie, moet voel. Wil jy nog van die vlamme hê?
Haar hele lyf het weer inmekaargetrek van die vlam wat die vel op haar maag geskroei het.
“Vasbyt, Frankie. Wegloop is nie vir sissies nie,” was die laaste woorde wat sy Big D hoor sê het voor sy haar bewussyn verloor het.
“Is jy reg om te stap?” Frankie ruk soos sy skrik. Sy hoor iets val. Haar selfoon. Anlea buk vinnig en tel dit op.
“Is jy oukei, Frankie? Jy lyk bleek.” Bianca kyk haar fronsend aan.
“Ek is, ja. Ek’s oukei.” Sy sal moet wakker wees. Sy kan nie sommerso in haar gedagtes wegraak nie. “Ek het net baie dinge om oor te dink. Niks ernstigs nie,” probeer sy dit vinnig afmaak.
“Nou toe. Kom ons stap voor dit donker word,” sê Anlea en neem die voortou.
Frankie sukkel om haarself tot kalmte te dwing. As sy net die helder beelde uit haar geheue kan vee. Posttraumatiese stresversteuring, noem die traumaterapeut dit. Sy wens daar was ’n makliker pad. ’n Vinniger manier om gesond te word.
“Sal ons op die koppie probeer?” vra Anlea terwyl sy haar hande in die jean se sakke steek.
“Ek dink so, ja,” sê Frankie.
“Sjoe, dis koud. Ek moes ’n trui aangetrek het onder my baadjie.” Bianca vryf haar arms ritmies om die koue te probeer afweer.
“Toemaar, jy gaan nou warm word, glo my. Dit lyk na ’n stywe klim wat voor ons lê.”
“My asem jaag al klaar,” sê Anlea. “Maar dis dalk goed dat ek ’n bietjie oefening kry. Ek het lui geword. Baie gedraf in my jonger jare.”
“Dan is dit hoekom jy so goed gebou is,” antwoord Bianca. “Ek haat oefening, enige oefening. Dis rêrig harde werk.” Haar asem jaag.
Frankie se gedagtes is elders. Sy wonder of Joe al bekommerd is omdat hy niks van haar hoor nie. Hy ken darem die mense van Berg van Hoop. Dalk sal hy sommer Ontvangs toe bel om seker te maak sy’s veilig.
Iemand se foon bliep. “Jay!” Bianca ruk haar selfoon uit haar broek se sak om haar boodskappe te lees.
“By watter selfoonnetwerk is jy? Vodacom?” vra Anlea.
“Jip.”
“Oukei, dan sal my foon ook seker nou bykom.”
Vir Frankie klink die twee ewe opgewonde oor ’n selfoonsein.
Bianca gaan maak haar gemaklik op ’n groot klip. “Ek wag sommer hier.”
Frankie hoor hoe Anlea se foon in haar hand bliep.
“Ek gaan ’n bietjie hoër op stap, julle twee. Ek moet gou ’n oproep maak en my foon sukkel nog.” Frankie loop sonder meer vooruit en los die twee om hulle boodskappe te lees.
“Dis goed so, ek wag hier by Bianca!” hoor sy Anlea roep.
Frankie klim die koppie nog ’n ent verder uit. Dankie tog, dink sy. Alleentyd. Sy haal haar selfoon uit haar sak om te kyk of sy al ’n sein het en sien op haar skerm hoe die boodskappe een vir een deurkom.
Jy veilig? Net seker maak.
Dis van Joe. Sy tik terug.
Jip, jammer, ek moes eers ’n ent stap om ’n sein te kry.
Sy kliek op die stuurknoppie en wag vir ’n rukkie. Die boodskap wil nie deurgaan nie. Sy besluit om eerder te bel.
Die foon lui net twee keer voor Joe antwoord. “Jy’t my lekker bekommerd dié kant, hoor.”
“Jammer, Joe, dit het so rof gegaan hier en jy weet mos hoe draai ons girls. Ek kon nou eers kom stap om ’n sein te kry.”
“Dis oukei, Frankie. Net bly jy’s veilig. Geniet dit daar en sê groete vir Kirabo. Sy’s een van die mooiste mense wat ek ken.”
“Dankie, Joe, ons gesels weer wanneer ek terug is in die land van die lewendes.” Met haar selfoon nog teen haar oor gedruk, draai sy stadig in die rondte en neem die omgewing om haar in. Die son wat sak agter die berge. Die vallei daar onder. Dis hoe vryheid lyk. Dit is die land van die lewendes dié. Dan praat Joe onverwags verder.
“Ek hoor graag hoe dit verder met jou gaan, Frankie. Stuur vir ons nuus so af en toe. Dis nou as jy kans sien vir koppies uitklim!”
Frankie glimlag bly. “Dis gelukkig mooi hier bo, Joe, ek dink ek sal gereeld so maak.”
Sy druk die foon dood en lees verder deur haar boodskappe. Daar is niks belangriks nie. Geen dreigende boodskappe nie. Geen missed calls van Big D of een van die ander pimps nie. Dankie tog vir ’n nuwe foon en ’n nuwe nommer. Frankie knyp haar oë styf toe. Dalk het hulle opgegee om haar te vind. Sy kan net bid.
Vrede. Dis wat sy hier kom soek het op Berg van Hoop. Vrede en hoop. Sy druk haar foon terug in haar sak en begin terugstap na waar sy Bianca en Anlea agtergelaat het.
Sy dink aan Bianca. Op die oog af lyk sy vir haar nes ’n gewone tiener. Besig om haarself te ontdek en beter te verstaan. Vir Frankie is haar ma Ragel se gespanne energie egter opvallend. Wat gaan daar aan? Iets pla, maar wat weet sy nie.
Frankie voel vry en lig. Ek is dankbaar, Here. Dankbaar vir mense in my lewe wat omgee. Here, ek wil iets werd wees vir U. Ek wil ’n verskil maak. Gebruik my, asseblief. Kan ons sommer nou begin, Here, as dit reg is met U? Ek wil vra dat U my bewus sal maak van elkeen van hierdie vroue se hartseer, Here. Selfs Bianca s’n.
Vaagweg kom Anlea en Bianca se stemme na haar toe aan. Dis interessant. Waaroor sal die twee so lekker gesels? Sy wonder oor Anlea. Wat kruip weg in haar binneste?
Here, wys my wat dit is wat Anlea wegsteek, Here. Daardie muur wat sy om haar hart gebou het. Maak my geestesore oop asseblief, my Dad …
“Jy was nie lank weg nie?” sê Anlea van waar sy langs Bianca op die groot klip sit.
“Ek het net een oproep gemaak.”
“Het jy met jou ou gepraat?” vra Bianca met ’n glimlag.
Frankie frons. “My wat?”
“Jou óú.”
“Ek stel in g’n man belang nie, Bianca.”
“Hoekom nie? Jy’s dan so cool en baie mooi ook. Jy’t seker rye ouens wat jou wil date.” Bianca se stem is tergend, haar oë nuuskierig op haar gerig.
Frankie dink voordat sy antwoord. “Ek waardeer die kompliment, Bianca. Dit het my ’n lang ruk geneem om te leer nie alles wat blink is van goud gemaak nie.”
Bianca frons. “Wat beteken dit?”
“Dit beteken dat nie alle ouens wat ’n mens die son, maan en sterre belowe vertrou kan word nie, Bianca.” Anlea staan op en vee die stof van haar denim af. “Nou ja, sal ons aanstap?”
“Uhm … ek gaan nog so ’n rukkie hier bly. Ek chat met een van my vriende. Ek kry julle by die chalet, oukei?” antwoord Bianca vinnig en fokus op haar foon.
“Ek’s glad nie seker of dit so ’n goeie idee is nie. Wat dink jy, Anlea?”
“Ag, los haar maar so ’n bietjie. Sy het dalk nodig om met haar buddies te chat,” antwoord Anlea ongeërg terwyl sy reeds met die voetpaadjie aanstap ondertoe.
Frankie talm nog vir ’n rukkie. Sy wil nie soos ’n ou vrou klink nie, maar wat as die meisie iets oorkom? “Onthou net ons selfone het nie opvangs onder nie, hoor, so as iets gebeur weet ek nie hoe ons jou gaan kom help nie.”
“Moenie kommer nie, Frankie, ek gaan net nog so ’n paar minute Facebook Message, dan’s ek by julle. Ek sal julle sommer inhaal nog voor julle onder is,” verseker sy haar.
“Oukei dan. Maar nie te lank nie, hoor. Dit word laat.”
Frankie draai om en haal Anlea vinnig van agter af in. Haar hart voel nie rustig nie. Vrek, tog. Hoe gemaak met ’n tiener? Sy onthou haar eie tienerjare. Sy wou net uitgelos wees. Alleen – waar niemand haar kon pla nie. Of kon seermaak nie.
“Jy bekommer jou verniet,” merk Anlea op. “Ons was maar almal so braaf op ’n tyd. Netnou-netnou begin die jakkalse tjank en dan sien jy hoe wikkel daai bene hier teen die koppie af.”
Frankie lag. Sy begin al hoe meer van Anlea hou.