Читать книгу Skarlakenkinders - Anzil Kulsen - Страница 3

Anlea

Оглавление

Alles is stikdonker binne. Haar ouerhuis lyk verlate as sy so na die tuin kyk. Die gras is kniehoogte en die onkruid het alles oorgeneem. Dis nie hoe sy haar ma ken nie. Haar ma was altyd so erg oor haar blomme.

Nadat sy twee keer om die huis geloop het, aan die voor- en agterdeur en elke venster geklop het, bekruip ’n anderster soort benoudheid Anlea. Niemand is hier nie.

Ná meer as ’n maand van swerf kom sy voor dooiemansdeur te staan. Sy wou vlug van haar ou lewe. En hier is sy nou. By die enigste plek waar sy gedink het sy kon skuiling vind.

’n Minagtende geluid glip oor haar lippe. Het sy gedink dit sou so maklik wees? Om uit die bloute na hoeveel jare by haar ouerhuis op te daag en met ope arms verwelkom te word? Sy vloek gefrustreerd.

Op elke dorp tussen Johannesburg en Kaapstad moes sy dieselfde ding hoor. Hulle soek mense met kwalifikasies. Ondervinding. Beslis nie dié soort ondervinding wat sy het nie. Haar spykerhakke en rooi lippe het haar ook niks gehelp nie. Die motor ook nie. Die beste wat sy kon kry, was rakke pak by ’n agterlike winkeltjie op Bothaville. Sy het darem blyplek en kos gekry as betaling.

Sy hamer nog een laaste keer desperaat aan die voordeur. Draai moedeloos om na waar haar rooi Audi staan en wag. Die motortjie is ook lankal nie meer nuut nie, maar dit het haar darem tot hier gebring. En sy moes al dikwels daarin slaap.

Dié motor ruil sy vir niks in die wêreld nie. Sy leef eerder van skyfies en brood as om hom te verkoop. Dis buitendien al wat sy het om te wys van die spaargeld wat sy vir Leila bymekaar wou maak. Die motor en ’n paar stukkies klere.

Sy voel so moeg. Waarheen nou?

Haar polshorlosie oortuig haar dis nie nou ’n goeie tyd om in die pad te val nie. Sy gaan sit moedeloos op die sypaadjie voor die huis en rus haar voorkop op haar opgetrekte bene.

Sy’t tyd nodig om te dink. Miskien moet sy maar na die plek toe gaan wat sy nog heeltyd probeer vermy. Die Berg. Net tot sy beter weet hoe nou verder.

Toe sy die afdraai na haar ouers se huis gevat het, het sy iewers in haar agterkop besluit om haar bespreking by Berg van Hoop te ignoreer. Sy sal net nie opdaag nie. Niemand sou haar tog mis nie. Sy’s nie lus vir nuuskierige mense wat kastig besorg is oor al die afvlerkies van die wêreld nie, het sy haarself vertel.

Hoeveel hoop daar nou eintlik vir haar op dié plek wag, weet sy nie. Maar dis nou haar enigste opsie.

Sy wip regop toe ’n deur by die huis langsaan oopgaan.

“Wat raas jy so? Wie soek jy?” Die vrou staan kaalvoet in haar nagrok. Sy’s te jonk om die tannie, wat Anlea nog vaagweg onthou, te wees.

“Ek dog die mense bly nog hier. Ek het jare gelede by hulle gekuier en wou hulle verras.” Sy wil nie nou onnodige vrae beantwoord nie. Dankie tog dis nie iemand wat sy ken nie. Of wat haar ken nie.

“Nee, hier bly lankal nie meer permanente mense nie. Jy moes gebel het.”

“Oukei. Moenie worry nie. Ek sal net vir ’n rukkie in my kar rus. Dan ry ek weer.”

Die vrou tree terug in haar huis, maar Anlea gaan nader. “Weet jy dalk hoe lank staan die huis al leeg? Wanneer het die mense getrek?”

“Ek bly al vyf jaar hier en sien maar hoe mense gedurig kom en gaan. Die plek word deur agente aan kontrakwerkers verhuur. Net ’n lastigheid, as jy my vra.” Sy bly vir ’n rukkie stil. “Wie presies soek jy?” Sy klink op haar hoede.

“Nee, ek soek nie moeilikheid nie. Ek soek net die Willemses wat voorheen hier gebly het.” Anlea sug innerlik. Sy het nooit kon raai dat sy so verlate sou voel nie. Hulle is weg. Die enigste mense by wie sy dalk veilig kon wees, is weg.

“Oukei. Nee, van hulle weet ek nie.” Die vrou talm nog vir ’n rukkie, draai dan om en klap die deur agter haar toe.

Wat het geword van outydse, plattelandse gasvryheid? Dis seker weer haar voorkoms se skuld. Vroue met te veel grimering en skitterblink, hemelhoë hakke word nie ingenooi en slaapplek aangebied nie. Nie deur ordentlike mense soos dié nie. Sy ruk die motordeur oop en val op die sitplek neer. Na sy die sitplek agteroor gestel het, maak sy haar oë toe.

Skarlakenkinders

Подняться наверх