Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 88

Donderdag 21 Maart 2019 Lees Psalm 63:1-9

Оглавление

’n Dor land

Ek soek U, o God, my God … (v. 2).

“ ’n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Juda­woestyn.”

Só lui die opskrif van hierdie psalm. Daarmee kry ons ook die verklaring vir die beeldspraak hierin. Vir die sterk werkwoorde waarmee dit begin: “… ek dors na U; ek smag na U …” (v. 2).

Dit is nie seker of Dawid steeds in dié woestyn skuil wanneer hy hier skryf en of hy dit terugskouend doen nie. Dit maak in elk geval nie saak nie – die vaste waarheid hierin spring soos ’n helder fontein uit die dorre klippe: “Ek bly altyd naby U …” (v. 9).

Ja, of hy deur die genade weer terug is in die tempel en of hy steeds in die wildernis wegkruip, hy weet sy Here is by hom. Daar­om kom dit vir hom natuurlik om sy hande op te hef om Hom te prys (vgl. v. 5). Om sy mond oop te maak om Hom te loof (vgl. v. 6).

Hy kry dit reg om snags op sy bed, te midde van ander bekom­mernisse wat hom waaksaam en straks ook uit die slaap hou, aan sy Here te dink. Om sy goedheid voor oë te hou, juis ook in daardie mees weerlose tyd, dié tussen sononder en dagbreek.

Dit bly gelowiges se groot troos: hul Here is nie ver nie. Israel se Bewaarder sluimer of slaap nie. Hy is die God van die kerk én die woestyn. Hy hoor luidkeelse jubeling (vgl. v. 6) en diepe nadenke (vgl. v. 7) ewe goed.

Én, spesiaal vir woestyndwalers en Godsoekers deur die eeue wat dit nou nog nie weet nie: Hy laat Hom vind. Maklik, maklik. Hy is tog ook die oop-en-bloot-God.

____________________

Here, ek is die wegkruiper, die verdwaler. U het my gevind. Ek prys u Naam!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх