Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 91

Sondag 24 MAART 2019 Lees Jesaja 55:1-9

Оглавление

Wanneer kinders kenners word …

My gedagtes is nie julle gedagtes nie … (v. 8).

Dit is ook maar goed so, nie waar nie? Dié dat God se denke en dade van ’n ander orde en aard as ons s’n is. Want dit weerhou ons van ’n oormoedige paradering met ons gewaande Godkennis, ’n breedsprakige uitstalling van alles wat ons kamma by Hom gehoor het. Wanneer Hy wát vir ons sou gesê het.

Of hoe?

Dit is tog vanselfsprekend dat ons ons grootoog oor sy roeke­lose vrygewigheid sal verwonder. Oor die onbegryplikheid van sy wydoop hande (vgl. v. 1). Sy naby­heid aan mense soos ons wat na Hom roep, wat Hom soek (vgl. v. 6). Sy herhaalde vergifnis (vgl. v. 7).

Dit alles is ’n ongekende houding, ’n verbluffende werkwyse, by enige god, in alle tye. En dit dwing ons, die ontvangers van hierdie “genade, onbeskryflik groot”, tot uitbundige dank en/of ’n eerbie­dige swye wanneer ons met soveel goedheid gekonfronteer word.

Of hoe?

Nou: Hoe gebeur dit dan dat gelowiges so tuis geword het in God se teenwoordigheid dat hulle die geselskap begin oorneem het? Dat hulle, soos stout kinders, die aandag opeis wat God toe­kom? Dat hulle so volledig ingelig is oor God se saak, sy wil, sy doen en late? Dat hulle tot elke prys as Godkenners gesien en gehoor en bewonder wil word? Dat hulle so onafgebroke oor Hom praat dat hulle lankal opgehou het om mét Hom te praat? Dat hul­le, kinders van die grote God, hulle aanmatig om die vernaamste verdedigers van sy saak te word, die beskermers van sy Naam?

Asof Hy nie is wat Hy is nie. En dit altyd sal wees nie, ten spyte van ons.

____________________

Ag, Here, help my dat ek my plek sal ken wanneer ek voor U kniel.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх