Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 90

Saterdag 23 MAART 2019 Lees Lukas 6:43-45

Оглавление

Vrugte

“Elke boom word aan sy eie vrugte geken” (v. 44).

Jesus se gelykenisse, die langes én die kortes, vra dikwels grondige dinkwerk om uit te pluis. Daar word lank daaroor geredeneer en boeke en boekdele daaroor geskryf.

Maar soms is die betekenis daarvan so voor die hand liggend dat selfs jy in jou stiksienigheid nie anders kan nie as om dit feitlik onmiddellik te snap. Soos hierdie een oor die boom en die vrugte, oor die mond wat oorloop waarvan die hart vol is. Dit is trouens oorbekend – en daarom glip ons getroue Bybellees-oog gemaklik daaroor. Ons dink lankal nie meer oor dié een nie; daar staan mos wat daar staan, en dit is eenvoudig en waar en ’n vingerwysing. En ’n ernstige vermaning vir al daardie mense met ’n hart vol verrotting en ’n lorrievrag goor gedagtes.

Dit waarsku ook vir my, vroom gelowige. Ek met die rein hart en die silwerskoon gewete. Ek wat nooit meer oplet na die soort vrugte wat ek dra nie. Wat nooit meer in die spieël kyk en sien hoe oorgroei die boom geraak het nie. Hoeveel nuttelose takke, hoeveel geil blare die wêreld vol hang. En hoe armoedig, hoe niksbedui­dend, die vruggies is.

Nee, ek lees hierdie klein gelykenis en sy knallende slot met ’n meewarige glimlag en maak ’n nota in my gedagtes om ’n ander een se vuil praatjies aan ’n hart vol morsigheid toe te skryf. Ek vergeet skoon van die soort vrugte wat ek, Godskind, behoort te dra.

En ek wonder nie meer hoe op aarde dit gebeur het dat ’n ge­koesterde vyeboom soveel skerp dorings voortbring nie …

____________________

Ek skaam my, Here, dat ander mense hulle misreken met my vrugte. Dat hulle nie weet hoe hulle dit met my het nie. Maak my anders, Here!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх