Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 87

Woensdag 20 Maart 2019 Lees Lukas 13:22-31

Оглавление

Om in te pas

Toe vra iemand Hom: “Here, is dié wat gered word, maar min?” (v. 23).

Die deur na die koninkryk van God is smal, sê Jesus. “Baie … sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie” (v. 24).

En die ontstellende is dít: Baie van dié wat tevergeefs probeer inkom, is nie woeste heidene of klipharde ateïste nie. Inteendeel. Hulle ken die deur, hulle ken die Naam. Hulle sal sê: “Here, maak vir ons oop!” (v. 25).

Maar Hy sal antwoord: Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.

Hulle sal begin verduidelik dat hulle gesien het hoe Hy die mense in hul dorp leer. Dat hulle selfs saam met Hom geëet en gedrink het.

Dan sal Hy sy onheilspellende oordeel vel: “Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom” (v. 27).

Hulle moes dit mos geweet het! Het Hy nie reg aan die begin gesê die geseëndes is dié wat honger en dors na wat reg is nie? (vgl. Matt 5:6). Hulle is tog geleer dat God van jou vra dat jy “reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8).

Daar is nóg ’n komplikasie: Om by die feesmaal in die koninkryk van God aan te sit, vereis onder meer ook om tuis te wees met die ander tafelgaste wat uit alle windrigtings gekom het, onder wie dié wat maklik as die laastes aangesien is (vgl. v. 29-30).

Geen wonder dat die deur na die koninkryk na sommige se oor­deel gans te wyd oop is nie …

Só wys hulle dat hulle inderdaad nie die Deurwag ken nie. Sy voorwaardes pas hulle nie, en daarom pas hulle nie in nie.

____________________

Here, ek wil by U pas. By U: die weg, die waarheid, die lewe.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх