Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 70

Sondag 3 MAART 2019 Lees Jesaja 55:10-13

Оглавление

Wonderwoord

… dit sal doen wat Ek gedoen wil hê … (v. 11).

Met ’n eenvoudige en tog logiese prentjie wys die Here deur sy pro­feet hoe kosbaar sy woord is: Die water kom uit die hemel en maak die aarde nat. Só kom my woord, sê Hy, na hulle vir wie Ek dit gee, en dit bereik sy doel. Soos die nattigheid ’n deurslaggewende uitwerking op die aarde het, so ook my woord. Die deurdrenkte grond bring ’n oes voort; met my woord gebeur dieselfde.

Eenvoudig, ja. Logies, sonder twyfel. O, en ’n mooi prentjie!

Maar soos die meeste mooi dinge is dit ook broos, dié prentjie.

Veral die Godswoord-gedeelte van hierdie vergelyking ly onder ons verwagtingloosheid. Juis deesdae. Ons sukkel om daaroor op­gewonde te raak. Kyk, daar is mos mense – ons? – wat aan ’n oor­daad van hierdie woord blootgestel is. Van kleins af het hulle – ons? – hierdie woord (en allerlei interpretasies daarvan, sommige erg vergesog) gehoor. Nou raak dit hulle – ons? – nie meer nie. Ons hoor dit nie eintlik nie. Dit het geen invloed meer op ons lewe nie. Dit weet ons – al bêre ons hierdie wete diep in ons hart.

Interessant, dan, dat die Here oor hierdie woord sê dit sal doen wat Hy gedoen wil hê. Ons sogenaamde oorversadiging ten spyt. Ons bygeloof en sinisme en verveling het toe nooit die laaste sê nie.

Hy, die Spreker van dié woord, sê ons hoef ons regtig nie te be­kommer of dit ontkiem en vrug dra nie. Die Wonder­woord is Syne, en dit sal “tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het” (v. 11).

Ons weet wel dat sy vernaamste bouwerk by ons begin. Ons, die alleswetende onwilliges, die hardhorende baiepraters, die hoogs ingeligte niksdoeners.

____________________

Spreek net die woord, Here! En leer my dan om te doen wat U vra.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх