Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 85

Maandag 18 MAART 2019 Lees Psalm 105:1-15

Оглавление

Onthou!

Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade … (v. 5).

Tipies, dié oproep van ’n geestelike voorganger, nie waar nie? Die bevel om God te loof, om terug te dink aan sy daadwerklike goed­heid, aan die kere toe Hy hulle gered het. Daar is mos baie sulke geleenthede; hulle behoort nie te sukkel om te onthou nie.

Hoekom is dit dan hoegenaamd nodig dat die psalmdigter sy mense moet aanmoedig om dit te doen? Is hulle bloot, soos alle gelowiges, traag om dankie te sê nadat hulle haastig was om asse­blief te vra? Waarskynlik, ja.

Daar is dalk ook iets anders: Mense, juis ook gelowige mense, mense soos ons, sien nie die Here se hand vanselfsprekend raak nie. Ook ons word opgeneem en meegesleur in die spreektaal van ons tyd. “Soos dit moet wees,” sê ons. En “toevallig”. En “per ongeluk”. Ja, en dalk selfs “soos die duiwel dit wou hê”.

Ons moet dus geleer word, soos kinders “dankie” en “asseblief” leer, om ons taalgebruik te verander. Om te sê: “Die Here se hand was oor ons.” En: “Dank God! Ons het deur dit alles anderkant uitgekom.”

Dit behels natuurlik veel meer as woorde en sinne; dit vra ook die ABC van mooi kyk, van góéd sien, van agter die oënskynlike die Verborgene raaksien. Ja, om God se hand in alles wat goed is, te herken. Om voor en ná al die name wat ons so graag voor mense noem as ons dankie sê, aan die groot Naam die erkenning te gee wat Hom toekom.

Hiervoor het ons dié soort psalm se hulp nodig. Al is dit net om nogmaals te verneem: Dink ’n bietjie verder, Godskind! Dink aan waar alles vandaan kom.

____________________

U is die Here van môre en vandag, en goddank ook van gister. Halleluja!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх