Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 86

Dinsdag 19 MAART 2019 Lees Numeri 14:10-24

Оглавление

Voortdurende vergifnis

“Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!” (v. 19).

Die klaende woestyntrekkers en hul God … Hoe sal Hy op die aan­houdende ontevredenheid reageer?

Met ’n hartseer wat ons verstand te bowe gaan: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou …?” (v. 11).

Met woede. Ek gaan hulle uitroei! sê die Here. Ek sal ’n nuwe volk skep!

Maar toe tree Moses vir hulle in. Waag hy dit om, van alle dinge, met die Here te redeneer. Om Hom eintlik trompop teë te gaan. Haai, Here, sê hy, U kan dit mos nie doen nie! U het hierdie mense dan so lank gelei – bedags in ’n wolk, snags in ’n vuur. En almal het dit gesien. As U dan nou die trekkers voor die voet uitroei, sal die mense sê U was onsuksesvol in u bemoeienis. Hulle sal sê: Hierdie Here kon nie regkry wat Hy beloof het nie.

En dit kán mos nie. Of hoe, Here?

Toe gebeur die onbegryplike: Moses praat die Here om. En die Here vergewe die neulende, immerontevrede klomp mense, dié wat Hom nie ag nie. Hulle wat Hom vergeet het, én alles wat Hy al vir hulle gedoen het.

Vandag wonder ek steeds oor gelowiges, woestyntrekkers soos ons, se vrot geheue. Hoe ons gereed staan om by ’n geweeklaag in te val. Hoe dit dikwels óns is wat die klaaglied insit. En dan is ek bitter bly vir Hom wat vir ons intree. Nog meer: Hy wat die straf vir ons ongeloof gedra het. Wat aan sy Vader sê: U moet dit asseblief nie doen nie! Vergewe hulle! Nog ’n keer.

____________________

Ons het ons lewe aan U te danke, Here. En aan u vergifnis.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх