Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 83

Saterdag 16 MAART 2019 Lees Matteus 23:37-39

Оглавление

Boodskappers

“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is …” (v. 37).

Dit is geen wonder dat die volksleiers, wat sommer ook die gods­diensvoormanne was, Jesus uit die weg wou ruim nie. Hy draai geen doekies om wanneer Hy hulle kortvat nie; Hy sê ’n ding soos dit is. En Hy skroom nie om sy net wyd uit te gooi nie – tot by die allerheiligste herinnerings: dié oor die verlede, oor die voorvaders, oor die “goeie ou dae”.

Hier kreet Hy sy klagte oor Jerusalem uit, die eeue oue setel van die Joodse godsdiens. Oor die leiers wat van altyd af, en juis nou weer in die Jesustyd, van die profete ontslae raak wat daarheen ge­stuur word. Hulle, die boodskappers van Bo, wat die godsdienstige elite se waardes kom bevraagteken. Wat die “waarhede” uitdaag en hulle só die argwaan van die hoës en die vernames op die hals haal.

Stenig hulle! was die opdrag uit daardie kringe. Kruisig Hom! sou dit aanstons opklink.

Bybellesers moet tog nie Jesus se trane hier miskyk nie. Sy diep hartseer oor die plek wat vir alle Jode kosbaar is en wat nou aan plundering en verwoesting oorgegee word omdat die leiers doen wat hulle doen.

En juis hedendaagse gelowiges, mense soos ons, moet kennis neem van Jesus se snydende veroordeling van gevestigde belange wat vroom agter verstokte sienings versteek word. Oor die profete wat deur óns onder die klippe gesteek word en die gestuurdes wie se boodskap deur óns verdag gemaak word. Omdat hul eerlikheid ons ongemaklik laat, en selfs bedreig.

____________________

U ken my hart, Here, en ook my ore wat net wil hoor wat hulle wil hoor. Reinig my, van kop tot tone! Laat my hoor wat die Gees vir die gemeente sê.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх