Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 69

Saterdag 2 MAART 2019 Lees Johannes 16:1-4

Оглавление

Waarskuwing

“Hierdie dinge sê ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie” (v. 1).

Wat maak gelowiges afvallig? Ondankbaarheid? Gemaksug? Eie­ge­regtigheid? ’n Oortuiging van hul selfgenoegsaamheid (“ek kom goed reg, dankie”)?

Sekerlik, ja. Daar kan ook vele ander redes bygevoeg word vir gelowiges wie se geesdrif vir Jesus verflou. Hier waarsku Jesus sy volgelinge teen die ellende wat vervolging meebring. Dat dít, die vrees oor jou eie goed en bloed, jou laat wonder of dit die moeite werd is om agter Hom aan te gaan.

So sê Jesus. En Hy sal weet. Is Hy nie feitlik lewenslank vervolg nie? Was daar dan nie van die begin af diegene wat sy bloed ge­soek en dit toe wel gekry het nie? Is dit nie Hy wat gevra het dat die lydensbeker van Hom af weggeneem sal word nie?

Die hele voorafgaande Johannes 15 loop uit op hierdie waar­sku­wing oor afvalligheid, wanneer Hy sy volgelinge vertel dat hulle aan Hom verbind is soos lote aan ’n wingerdstok (vgl. Joh 15:1-6). Dat Hy húlle gekies het en nie andersom nie (vgl. Joh 15:16). Dat dit beteken dat hulle met Hom geassosieer word – aan jou Vriend word jy geken! (vgl. Joh 15:18-20). So stel Hy hulle by voorbaat in kennis van die Gees wat sy intrek by hulle gaan neem (vgl. Joh 15:26).

Daarom waarsku Hy hulle teen sogenaamde kerkmense wat hulle uit die aanbiddingsplekke sal smyt omdat hulle Hom aanbid aan wie hulle verbind is. Mense wat reken hulle bewys God ’n guns deur Jesus se uitverkore kinders te verjaag en selfs te vermoor.

Ek weet waardeur julle gaan, sê Jesus. Moenie moed verloor nie. “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20). Ál die dae.

____________________

Ek is broos, Here. En só bang! Ek het net vir U.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх