Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 76

Saterdag 9 MAART 2019 Lees Prediker 3:1-8

Оглавление

Ons tye

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … (v. 1).

Wat ’n wonderlike gedig! Skerp, reguit. Elke woord – selfs in vertaling duidelik hoorbaar – is geweeg. Boonop word dit graag aangehaal. Ja-nee, die gelowige Bybelleser het hiér ’n kosbare geskenk gekry.

As dit net nie vir die gepaardgaande bygeloof was nie … Want sien, vele lesers en gebruikers van hierdie teks wil dit só interpreteer: Omdat die tyd bepaal is, is alles afgemeet. Elke minuut in ons dag, elke dag van ons lewe. Ons, en die res van die skepping, beweeg dus in die boksie wat reg aan die begin vir ons uitgedeel is. Hamsters in ’n hok. Uiteindelik rotte in ’n val.

Miskien maak hierdie gerieflike wanopvatting sommige mense rustig. Tevrede met hul lot. Hulle sal dalk sê: Ons kan tog niks daaraan doen nie. Ons moet eenvoudig berus, dit is al. Só leer die Woord ons mos …

Dalk leer die Bybel ons berusting, ja – maar beslis nie hier nie. Hierdie geliefde Predikergedig het eintlik presies die teenoorge­stelde op die oog: Dit kla, dit baklei, dit vermaan, dit sug. Dit roep die hoorders hiervan op om die tyd waarin hulle hulle bevind, te gebruik. Om te dans terwyl hulle die kans het. Om te omhels terwyl die geliefde in die omtrek is. Om te vergewe terwyl die skuldenaar voor hulle staan.

Kortweg: Gryp die dag! Ja, hierdie dag wat jy gekry het toe jy jou oë vanoggend oopgemaak het. Doen nóú wat jy moet, voordat die tyd daarvoor ook verbygaan. Voordat jy begin kla, lamlendig en vol selfbejammering: “Ek moet seker maar berus, die tyd daarvoor was nie ryp nie …”

Jy sal weet dit is ’n leuen. En Hy, jou Tydgewer, ook.

____________________

My tye is in u hand, Here, en U maak dit wyd oop. Dankie!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх