Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 79

Dinsdag 12 MAART 2019 Lees Sagaria 3:1-10

Оглавление

’n Nuwe begin

“Trek uit dié liederlike vuil klere … Ek gaan vir jou skoon klere aantrek” (v. 4).

Die Here wys aan die profeet Sagaria ’n reeks gesigte, maar ons, hedendaagse lesers, verstaan daar bloedweinig van. Daardie tyd en omstandighede is vir ons vreemd, die beeldspraak nogal duister – tensy jy jou eie afleidings wil maak of jou aan allerlei slimjanne en húl verklarings wil steur.

Maar daar is heelwat waarvan ons tog iets begryp: die Here, by­voorbeeld. Hy wat die aanklaer bestraf, die opportunistiese Satan, wat kans sien om die Here se kind by Hom aan te kla en wat toe deeglik pak kry. En verder geïgnoreer word.

Die Here is te besig om sy vernielde kind te versorg om Hom aan kansvatters te steur. Hoe anders is Hy as ons! Ons wat die Satan met soveel dodelike erns bejeën. Ons wat soveel ontsag vir daardie ou skepsel se laaste stuiptrekkings het.

Die kollig in hierdie stukkie geskiedenis behoort, soos altyd en in elke stuk geskiedenis, aan die Een wat met sy mense telkens voor begin. Wat daarin spesialiseer om die liederlikheid, vuilheid en ver­sletenheid wat aan hulle kleef met iets gans anders te vervang. Hy wat, bo alles, vir hulle ’n nuwe opdrag het en só bewys dat Hy hulle steeds vertrou, ten spyte van alles.

Hierdie bevoorregte kinders moet weer kennis neem van die Almagtige se heiligheid. Hulle moet weet om hulle nie daaraan te vergryp nie. Hulle moet te alle tye hul plek voor Hom ken.

Dan kan hulle hulle klaarmaak om met die allerheerlikste be­loftes saam te leef. Met die prentjie van mense wat rustig sit en gesels in die koelte van hul Here se teenwoordigheid.

____________________

O Here, gee ons tog nou reeds iets van daardie rus. En leer ons hoe om die salige skadu’s te geniet.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх