Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 78

Maandag 11 MAART 2019 Lees Psalm 17

Оглавление

Onskuldig!

Luister tog, Here, na my regverdige saak … (v. 1).

Hy is hartlik oortuig van sy onskuld. Die Here kan dit mos met sy eie oë sien (vgl. v. 2); Hy kan hom selfs in sy slaap ondersoek, as Hy wil! (vgl. v. 3). Hier is niks verkeerd gesê nie (vgl. v. 4) en nie ’n aks van die goeie afgedwaal nie (vgl. v. 5). Onskuldig. Onbesproke na woord en daad én gedagte.

Hierdie reinheid weerhou hom nie van nogal sterk wraakge­dagtes nie. Hoor dan: “Laat hulle ontydig omkom, sny hulle lewens af …” (v. 14). En laat die ellende wat oor hulle gaan kom, genoeg wees om ook hul kinders en kleinkinders te tref (vgl. v. 14).

Dit is sekerlik verstaanbaar, dié woede. As jy onskuldig is, is jy onskuldig. As daar uit pure kwaadwilligheid op jou jag gemaak word, dan verdedig jy jouself. Al is jou beste verdediging om die kwaaddoeners by jou Here te gaan verkla, en Hom op die koop toe ’n klompie wenke te gee oor wat Hy alles met hulle kan aanvang.

Maar dit bly darem harde woorde van iemand wat hom op sy opregtheid roem (vgl. v. 1). Ag, en ons kan seker ook wonder oor daardie luid verklaarde onskuld …

Ja, juis ons en mense soos ons, wat waarskynlik goed onthou hoe omgekrap ons was oor die onreg wat ons al aangedoen is, oor al die venyn wat ons getref het. En met hoeveel heftigheid óns ons toe verdedig het.

Dit is sekerlik die beste wat ons in sulke situasies kan doen: om ons, soos hierdie onskuldige, op die Here se trou te werp (vgl. v. 7).

Ons moet wel in gedagte hou dat Hy ons in die oë kyk, en tot in die hart. Hy weet alles.

____________________

Ek hoef my nie voor U te regverdig nie, o Regverdige! U ken my, my Beskermer.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх