Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 66
Donderdag 28 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 92:1-4, 12-15
ОглавлениеKerkmense
Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God (v. 14).
Dit is ’n tipiese lofpsalm dié. Die musiekinstrumente word uitgehaal; die woorde kom maklik, soggens en saans. God se liefde is sigbaar.
Dan gaan die psalmskrywer oor tot die besonderhede van God se goedheid vir hom, die dankbare sanger. En vir hulle, sy geesgenote. Hul krag kom van Hom af, sê hy, van altyd af en vir altyd.
Die Godshuis is hul woning, sing hy, hul grootwordplek. En daarom hou die jare wat verbyvlieg en die aansluipende ouderdom vir hulle geen bedreiging in nie. Inteendeel: “Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag” (v. 15).
Dit, hierdie heuglikheid, is die gevolg van hul teenwoordigheid in “die huis van die Here”. Mooi, nè?
Hoeveel mense deur die eeue kan nie hier saampraat nie! Dit is hulle wat graag sê: “Ek het in die kerk grootgeword.” Hulle na wie daar met agting verwys word as “kerkmense”. Hulle het nog altyd die kerk as ’n tuiste gekoester. Veral ’n geestelike tuiste, ja, maar ook as ’n sosiale omgewing waarby hulle naatloos inskakel. ’n Plek waar hulle leer (en hulle laat leer) om leiding te neem, om voor ander te praat, om hardop te bid. Om voete én skottelgoed te was. Om mens te wees tussen ander mense. Om tot hul oudag steeds te groei in geloof. En genadebesef. En vergifnis. En vrede.
Hoe jammer dus vir diegene wat dit alles ontbeer – buite én, helaas, ook binne die kerk. Veral laasgenoemdes wat in die kerk oud word, maar steeds deur kinderagtigheid regeer word. Wat nog nooit gesnap het dat ’n erediens toe nooit ’n diens aan hulleself is nie.
____________________
Leer my, kerkmens-deur-u-genade, om juis hier ’n tuiste vir almal te skep, Here!