Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 68

Vrydag 1 MAART 2019 Lees 1 Tessalonisense 4:13-18

Оглавление

’n Enigste troos

Troos mekaar dan met hierdie woorde (v. 18).

Dit is die gelowiges se enigste troos, sê die ou kerkvaders, dat ons aan Christus behoort. Of ons lewe en of ons reeds dood is, ons is sy eiendom. Hier vertel Paulus aan die gemeente in Tessalonika hoe dit werk, dié soort “behoort”. Veral nadat jy gesterf het.

Dit was sekerlik nodig, want hulle het dit klaarblyklik nie ver­staan nie. Ons verstaan dit ook nie te goed nie, en daarom kan ons gerus maar die ore spits. Maar, lyk dit my, as ons vir ’n gedetailleerde uiteensetting van die sterfproses wag, sal ons lank wag. Want Paulus sê maar wat hy weet – en wié weet nou eintlik wát oor doodgaan?

Paulus weet wel van Jesus. En hy weet wat hy van Hom glo: “… dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het”. Hy ken God, en hy weet wat hy van Hom glo: “… dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem” (v. 14).

Nou gebruik hy groot woorde en duiselingwekkende begrippe om te verduidelik hoe God te werk sal gaan om dit alles te bereik. Ag, maar dit klink so … onwerklik, soos ’n fantasie. Hedendaagse mense, ook gelowiges, vat maar langtand hieraan.

Dit maak nie regtig saak nie. Wat alles beeldspraak is en wat die helder werklikheid is – wel, dit sal ons maar moet sien, eendag. Waaroor daar gelukkig nie geredeneer hoef te word nie, is Paulus se klokhelder gevolgtrekking: “En so sal ons altyd by die Here wees” (v. 17).

Hiérmee, sê Paulus, kan ons mekaar troos. Om by die Here te wees omdat ons aan Hom behoort, hierdie kant én anderkant die graf – dit is ons enigste troos.

____________________

Ek behoort aan U, Here. Niks sal my ooit van U kan skei nie.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх