Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 81

Donderdag 14 MAART 2019 Lees Genesis 13:1-7, 14-18

Оглавление

Altare

Abram het … gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou (v. 18).

Dit kom al ver, van die begin van Abram se reise, die ding dat hy so altare vir die Here bou. Twee daarvan: een in Sigem, een oos van Bet-El (vgl. Gen 12:7-8).

En hier is dit weer. Dié altaarbouery was nie om dowe neute nie. Elkeen van hulle merk ’n plek waar Abram en sy mense tot stilstand gekom het en kon asemskep. Kon terugkyk op die pad waarlangs hulle tot daar gevorder het.

Want die pad-tot-daar word nie altyd in dagreise gemeet nie. Daar is deurentyd ook die hardepad van emosies en eiebelang, van val en probeer opstaan. Van bely en weer opgehelp word. Van self­ondersoek en herbesinning.

Daar was mos die hartseer episode van Abram se leuen aan die Egiptiese farao, daardie ompad wat vir seker nie in die Here se roete­kaart vir hom opgeneem is nie.

Boonop die relletjie tussen Abram se veewagters en Lot s’n oor die beste weiveld. Abram wat uiteindelik terugstaan en vir Lot aansê om eerste te kies. Laasgenoemde wat, na sy eie én Abram se oordeel, die beste deel vir homself vat. Die hele Jordaanstreek – Sodom inkluis.

Hoe moes die uitbundige Lot geweet het dat dit ’n noodlottige keuse was? Hy sou dit eers uitvind toe dit te laat was.

En Abram? Hý sou deur die Here getroos word. By Hom sou Abram verneem dat die aanvanklike Godsbelofte, die rede vir daar­die eerste klompie altare, uitgebrei word.

Toe bou hy weer ’n altaar. Die groot bome van Mamre by Hebron sou die getuies wees van ’n begenadigde se aanbidding van die groot Gewer.

____________________

Liewe Heer, ook my lewensreis het volop plekke soos dié. Dankie.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх