Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 72

Dinsdag 5 MAART 2019 Lees 1 Korintiërs 16:13-24

Оглавление

Al die name

Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus … (v. 17).

Die laaste vermaning en die laaste groete – en die brief is reg om afgelewer te word. Soos in die geval van minstens drie ander Paulus­briewe (kyk Romeine 16, Kolossense 4 en 2 Timoteus 4), word in die laaste klompie verse ’n rits name genoem: medewerkers, mense wat spesiale vermelding verdien en, les bes, almal wat groete stuur of aan wie groete gestuur word.

Vir die Bybelleser lui sommige van hierdie name iewers ’n klokkie; die meeste nie. Plek-plek word die name ’n moeilike oefening in uitspraak en spelling. Daarom word dit dikwels oorge­slaan, ook deur predikers en ander geestelike voorgangers, omdat dit regtig nie ’n voor die hand liggende “boodskap” bevat nie.

Maar dit is die Bybel dié, en die leser moet maar versigtig lees. Daar staan dikwels nie wat daar op die oog af staan nie. Soms staan daar dinge wat jou oog gemis het – soos met al die name in die genoemde Paulusbriewe.

Die eerste wat die leser hier tog moet raaksien, is … ja, die name. Elkeen verteenwoordig veel meer as bloot die letters waarmee dit gespel is. Agter elke naam is daar ’n gesig en ’n geskiedenis, ’n bidder en ’n doener, ’n leier of ’n lydende. Soms verteenwoordig so ’n naam ’n hele familie, ’n netwerk, ’n groep wat by daardie persoon se huis byeenkom om te aanbid. Hierdie name is dikwels niks minder nie as ’n register van die vroeë kerk se voorlopers.

Dit was nog altyd so: Die Here-van-die-kerk gebruik mense, vlees en bloed, om in sy kerk te dien. Geen engele nie. Geen heiliges.

____________________

Nee, Here, U het mense in u diens – swak, dom, feilbare mense soos ek. Dankie vir dié voorreg.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх