Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 80

Woensdag 13 MAART 2019 Lees Lukas 21:34–22:6

Оглавление

God se volk

In die môre vroeg het die hele volk … na Hom kom luister (21:38).

Vandag se stukkie – tussen die laaste deel van Jesus se waarskuwings oor die eindtyd en die begin van Judas se planne om van Hom ont­slae te raak – word gekenmerk deur herhaalde verwysings na ’n stille teenwoordigheid: die mense wat na Jesus luister.

Dié mense – wat hier twee keer “die volk”(v. 2, 6) genoem word en ’n keer selfs “die hele volk” (v. 38) – speel klaarblyklik ’n belangrike rol. Nie net kom luister hulle getrou na Jesus se preke in die tempel nie, maar die godsdiensleiers én Judas is bang vir hulle. Die tergende vrae vir die konkelaars is: Hoeveel bewonderaars het Jesus? Hoe groot is hul agting vir Hom? Én: Hoe gaan die bewonderaars optree as dié-met-die-planne van Hom ontslae gaan raak?

Vandag weet ons hoe alles geëindig het: Boosheid het geseëvier, die volk het “verdwyn”. Toe alles op die spits gedryf word, het hulle die hasepad gekies. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel van hulle wat so ernstig na Hom geluister het onder dié was wat later sou skreeu: “Kruisig, kruisig Hom!” (Luk 23:21).

Maar is dit regtig so? Het die Satan wat in Judas “ingevaar” het, werklik die laaste sê gehad?

Nee, nee. Ons weet dít ook: Die boosheid wat op ’n heuwel naby Jerusalem koning gekraai het, het stert tussen die bene van ’n leë, geopende graf weggevlug. Tot die dood toe beangs – maar te laat, want die boosheid is gevang en vasgeketting en word sedert­dien in Christus se triomftog aan God se volk vertoon (vgl. Kol 2:15).

Vandag is die tergende vrae óns s’n. Onder meer: Weet ons dat die duiwel nie los is nie? En: Weet ons dat God se volk vas aan Hom verbind is?

____________________

Ek behoort aan U, Here. Ek het my teen u liefde vasgeloop. Halleluja!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх