Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 77
Sondag 10 MAART 2019 Lees Deuteronomium 27:1-10
ОглавлениеMonumente
“Nadat jy deur die Jordaan getrek het, moet jy die klippe … op Ebalberg opstapel en moet jy hulle met kalk afwit” (v. 4).
Daar is ook ander klippe as dié waarmee die Here se kinders gegooi word. Dit is dié waarmee Hy vereer word. Ons sien dit soms by huise, maar veral in dorpe en voorstede, en dikwels iewers teen ’n koppie of ’n berg waar dit uitgepak is, en meestal wit geverf. Goed sigbaar.
Verbyryers kan dit maklik lees. JESUS RED, staan dit daar. Of: GOD IS GOED. Elkeen van hierdie boodskappe het ’n storie. Iewers was daar ’n mens (en meestal ’n groep mense) wat gereken het dit is die beste manier om hul storie te onthou én aan die wye wêreld te verkondig.
Dié openbare, sigbare herinnering kom van ver af: Wie onthou Abram wat so altare gebou het? (vgl. Gen 12:7, 8). En hier het ons dit weer: Moses gee opdrag aan sy mense om wit klippe te stapel. Ter herinnering aan die Here se beskerming en sy beloftes. En, voeg Moses by, hulle moet die wet wat hy hulle gegee het “duidelik leesbaar skryf op die klippe” (v. 8). Die klippe sal hulle dus ook vermaan, hulle die regte pad aanwys.
Dit is seker wat monumente uiteindelik ook is: wegwysers. Dit vertel iets van waar die klipstapelaars vandaan kom, ja, maar ook van hul vaste voorneme om op dié goeie weg te volhard.
Dit is noodsaaklik dat hierdie hoop klippe behoorlik sigbaar sal wees, want mense kyk goeie dinge maklik mis. Dikwels aspris ook – netnou vereis die wegwyser ’n koersaanpassing.
En om van plan of van roete te verander, kom nie maklik nie. Ons karring dan so lekker aan …
____________________
Ons hou ons doof vir u stem, Here. Maar, goddank, dan roep die klippe dit uit!