Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 65

Woensdag 27 FEBRUARIE 2019 Lees Lukas 17:1-4

Оглавление

Onvermydelik

“Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is” (v. 1).

Bekende Jesusuitsprake in ’n effens anderster baadjie: Die waar­skuwing om nie “een van hierdie kleintjies” (v. 2) te laat struikel nie, want ’n seegraf met ’n groot klip om die nek is dan jou voorland. O, en dan die oorvloedige vergifnis.

Opvallend, dus, die effense verskille. Dié dinge wat Lukas ge­hoor het en wat ons nie by Matteus en Markus verneem nie. Soos die “onvermydelik” in vers 1.

Jesus verkondig nie ’n aardskuddende waarheid nie; enigiemand wat maar ’n bietjie gelewe het, sal weet hoe geneig mense soos ons is om te struikel. Dit is nie dat jy uit jou pad hoef te gaan om sulke struikelblokke teë te kom nie; hulle meld hulle sommer self aan, hulle doem voor jou op. En dikwels wanneer jy dit skaars verwag of die minste daarop voorbereid is.

Jesus se opmerking oor hierdie vanselfsprekendheid lei tot sy waarskuwing aan hulle wat daarvoor verantwoordelik is. Aan dié wat kleintjies op so ’n manier laat val. Hiér flits die rooi ligte, want ons weet reeds wie Jesus met “kleintjies” bedoel: nie (net) kinders nie, maar almal wat weerloos is teen gemene aanslae, wat uit­ge­lewer is ander se deernis. Hulle is sonder twyfel onder God se sorg. En wanneer iemand hulle pootjie of dwarsboom, word God se woede losgelaat.

Dit is seker ook dié dat die voorskrif oor vergifnis hierna volg. En dalk is dit aan die kleintjies gerig, sodat hulle die néérkykers, die struikelbloklêers, sewentig maal sewe keer sal vergewe.

Doen dit maar, julle kleintjies. Vergewe hulle. God self sal, on­vermydelik, oor hulle oordeel.

____________________

Ek is steeds u kindjie klein, Here Jesus. Maak my hartjie rein!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх