Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 46

Vrydag 8 FEBRUARIE 2019 Lees Numeri 27:12-23

Оглавление

Só werk dit

“Maar hy moet altyd die priester Eleasar raadpleeg dat dié vir hom … die beslissing van die Here vra” (v. 21).

Toe was dit Moses se beurt. Hy moes Josua seun van Nun die hande oplê en hom in sy plek as trekleier aanwys. Moses sou die beloofde land slegs sien; Josua sou sy mense daar inlei.

Só eindig die ou orde. Nou is daar ’n nuwe priester en ’n nuwe trekleier. En deurentyd klink dié refrein op: Voordat Josua en Eleasar optree, moet daar eers na die Here se wil gevra word.

Bekend, nè? Vra na die Here … Soek allereers die koninkryk van God …

Hopelik sou hulle, die twee nuwelinge, in hierdie opsig beter vaar as hul veelgeroemde voorgangers. Hopelik sal hulle hulle nie teen die Here se bevele verset nie, sal hulle Hom nie voor almal teëgaan nie (vgl. v. 14).

Want dit is mos die ou, ou probleem met leiers: Hulle ken later nie meer die einde van hul krag nie. Hulle raak so reddeloos verlief op hulleself dat hulle vergeet waar hulle vandaan kom én, belangrik, hoe hulle gekom het tot waar hulle nou is. Wie hulle tot daar gebring het. In wie se krag hulle is wie hulle is.

Daarom sal dit leiers van alle tye en plekke baat om die Here, die Leier van die leiers, se werkwyse in dié verhaal goed te bekyk: Hy rus die nuwe leier behoorlik toe, en dan beskik Hy ’n raadgewer vir hom, iemand wat goed kan hoor wat die Here sê (vgl. v. 20-21).

Eers dán mag die nuwelinge diens aanvaar. Eers wanneer hulle weet hoe die Here werk, mag hulle begin werk. Dit is soos dit in sy koninkryk werk.

____________________

Here, u is die Hoof van u huis. Ons is u kinders. Ons luister as U praat.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх