Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 55
Sondag 17 FEBRUARIE 2019 Lees Jeremia 17:5-10
ОглавлениеHartsake
Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (v. 9).
Wat ’n merkwaardige klompie Jeremiaverse. Boonop ent-ent woordeliks dieselfde as dié in Psalm 1. Iemand het deeglik gelees en goed verstaan …
In die “ongeneeslike hart”-uitspraak word die spyker boonop op die kop geslaan: Die mens se misdade word regstreeks met sy hart verbind. Geen “vreemde invloede”, “omstandighede buite my beheer”, “houvas van die bose” hier nie. Die oorsaak van ongehoorsaamheid word vierkant op die mens se eie skouers gelaai. “Jý is die man!” soos Natan vir Dawid gesê het (2 Sam 12:7).
Tereg so. Té lank kom mense – gelowiges, die Here se kinders, óns – met selfbedrog weg. Verskoon ons onsself, spreek ons onsself vry. Trek ons ons skouers op en sê: Dit is nou maar so …
In ons vromer oomblikke sal ons wel sê: Ek is maar net ’n mens. Of ons stof dié ou gunsteling af: Is ons nie maar almal in sonde ontvang en gebore nie?
Ag, watter groteske bedrog word daar nie in die mens se hart gehuisves nie. Soveel vrome verdraaiing. Soveel selfmisleiding.
Die alternatief is heel eenvoudig: “Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is …” (v. 7). Die mens wat Fort Ek agterlaat en by die ware Beskermer gaan skuil. Wat nie terugkyk nie. Wat nie ander se raad soek nie, omdat hy weet in watter woestyne dit hom al laat beland het. Hy onthou goed hoe daardie droogtes voel, en hoeveel vals hoop in lugspieëlings lê.
Hy skaam hom dat hy dit alles geglo het. Omdat dit gerieflik was, omdat dit hom gewild gemaak het. Omdat “vertroue in die Here” so outyds is.
____________________
Ek is moeg, Here, vir die bedrog in my hart. Verlos my!