Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 54

Saterdag 16 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 1

Оглавление

Alles die Here se werk

Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad … (v. 6).

’n Mens kan ook hier tereg vra: Wat was eerste – die hoender of die eier? Oftewel: Het die “regverdiges” nie maar regverdig geword omdat die Here hulle op hul pad lei nie?

Dit kan seker nie anders nie, of hoe? Mense – juis ook gelowiges, Godskinders – vermy nie die kwaad omdat hulle so oulik (of so gelowig) is nie; hulle bly van die spotterskring af weg omdat die Here hulle daar verbylei. Omdat Hy hulle voorheen al daar kom haal het, hulle uit daardie giftige geselskap gered het.

Dit is Hy wat hulle geleer het om in die Here se woord hul vreugde te vind. Om nie in mense se goedkoop geklets en bitterbek kwaadstokery te belê nie. Hul voorspoed kom dus nie vanweë hul eie inspanning, goeie keuses en onberispelike werketiek nie. Die Here is, soos altyd, die goeie Gewer daarvan.

Daarom is dit so jammer dat daar mense is wat kies om hul rug vir Hom te draai. Hulle speel met hul lewe, hul toekoms kom in die gedrang. As hierdie wêreld se winde begin opsteek, waai hulle weg. Word hulle soos kaf verstrooi. En al die sogenaamde wyshede waarmee hulle hul aanhangers vermaak (en verlei) het, word ont­bloot as die goedkoop niksseggendhede wat dit nog altyd was.

Die alternatief, die ander kring, is soveel beter. Dáár is soveel meer vreugde, vastigheid, werklike voorspoed. En die Here, die Gewer van dit alles, het al soveel rondsitters op die regte pad gebring dat niemand kan sê hulle is daarvan uitgesluit nie.

Hulle moet net hul ore spits. En hul hande gereed hou vir wan­neer daardie Here-hande hulle kom vát.

____________________

Hier is ek, Here, die welgeluksalige voorbeeld van u bemoeienis. Halleluja!

Uit die Beek 2019

Подняться наверх