Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 49
Maandag 11 FEBRUARIE 2019 Lees Psalm 115
ОглавлениеVerbeel jou: afgode!
Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word (v. 8).
Die Bybelse psalms verras ons dikwels. Ook vir ons wat reken dat ons hierdie geliefde leesgoed ken. Hoor dan nou hier: ’n uitgebreide gespot met afgode.
Dit herinner ons nogal aan Elia se woorde aan die desperate Baälaanbidders wat geen reaksie van hul god gekry het nie: “Roep harder! Hy is mos ’n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” (1 Kon 18:27).
In hierdie psalm word daar, soos dit feitlik deurgaans die gebruik in hierdie liedere is, oor die Here se goedheid gesing. Aan sy Naam kom alle eer toe. Sy liefde en trou is vir sy kinders tot oneindige seën.
Aan die ander kant van die godespektrum is daar die afgode. Dié met al die uiterlike trekke van bruikbaarheid, maar wat in hul stomme nutteloosheid eintlik ’n enorme verleentheid vir hul aanhangers is. ’n Oog wat nie sien en ’n oor wat nie hoor en ’n neus wat nie kan ruik nie. Dom handjies, lam voetjies. Net bek, g’n binnegoed.
Ja, ’n spotprenttekenaar se droom, ’n eindelose bron van satire.
As die hele spul net nie so tragies was nie. Want, so sê die psalmdigter en dit weet ook ons maar te goed, afgode is mensgemaak. Selfvervaardig. Hulle is produkte van die verbeelding.
Hoe verdorwe is sulke mense nie, hoe verrot hul gees! Gelukkig is daar geen Godskinders wat so laf is om voor selfgeprakseerde gode te buig nie. Of hoe?
Nee, geen gelowige aanbid sy eie handewerk nie. Of die opdroomsel van sy persoonlike begeertes nie. Of sy geliefde spieëlbeeld nie. Of hoe?
____________________
Here, Here, red my van myself. Verlos my van my selfliefde!