Читать книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos - Страница 61

Saterdag 23 FEBRUARIE 2019 Lees Genesis 44:18-34

Оглавление

Juda

“Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so ’n smart hom tref nie” (v. 34).

Soos hulle sê: “The plot thickens.” Dit gebeur in alle verhale wat so goed oorvertel word soos dié een. Stukkie vir stukkie, paragraaf na paragraaf, neem die spanning toe. Die leser wil weet: Wanneer gaan Josef met die sak patats vorendag kom?

Nog nie. Josef luister geduldig hoe Juda verduidelik, hoe hy om­slagtig vertel van sy vader se broosheid oor Benjamin. Daar was mos reeds die ellende met die ander broertjie, van wie die pa moes aanvaar “dat ’n roofdier hom opgevreet het” (v. 28). Daarom het hy wat Juda is persoonlik aanspreeklikheid vir Benjamin se veiligheid aanvaar. (Wat die ou vader natuurlik nie weet nie, is hoe swaar Juda aan sy gewete dra. Daardie roofdierstorie …)

Wat Josef hoor, is wat elke leser van hierdie verhaal hoor: die erns waarmee ’n seun sy pa se saak bepleit. Boonop ten koste van homself: “Hou my daarom dan nou hier …” (v. 33). Daar ís dus iets soos grondige besinning, ’n bekering van die hart. Juda se optrede bewys dit.

Vir die res van Juda se storie kan die Bybelleser gerus eers verder blaai, ver vorentoe, tot by die eerste boek in die Nuwe Testament. Tot hier: “Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar …” (Matt 1:3). Juda is dus een van Jesus van Nasaret se voorsate.

Daar is dus ook iets soos genade, daardie verbysterende daad van God. Ja, daar is maar Een soos Hy wat onverdienstelike mense in sy diens neem.

Dit alles wys natuurlik ook dat hierdie dagstukkie se titel foutief is. Dit moet “God” heet. Hý is die onderwerp van elke storie, elke dag van ons lewe. En daarna.

____________________

Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer.

Uit die Beek 2019

Подняться наверх